Heer van my hart, hóé bly maak dit my om te weet dat U léwe, en dat Ú liefde en blydskap áltyd daar is vir my. Dit is bínne-ín my - 'n nimmereindigende fontein om net uit-te-skep én nogmaals uit-te-skep.
Ú maak my hart vrólik en blý, Heer, en in my gesprekke met andere, deur my woorde en in my dade gaan ek Ú blýdskap so diep in my hart, oordra aan élkeen met wie ek te doen mag kry. Met woorde wat ophéf en seën, Ú woorde Heer, gaan ek vandag 'n báken van lig wees so ver ek gaan. Vandag is ek 'n advertensie van u koninkryk.
Maar, dierbare Heer, ek weet daar gáán tye kom wat ek nie só gelukkig gaan wees oor iets wat mag gebeur nie, en vir 'n rukkie mag dit dan voel asof die lied in my hart stil geword het. Maar dan word ek stil voor U. Stil gaan ek my díépste héíligdom van krág binne, en dáár gee ek álles wat die vrolikheid in my demp nét so oor aan Ú, my Hémelse Vader, en ek sal dáár bly tot my hart wéér 'n vrólike lied begin sing om U prágtige Naam gróót te maak.
Já, kosbare Heer, ek het 'n vrólike hart wat deur álles heen sing. 'n Vrolike hart omdat ek vir U kén op ÁL my weë - en dit maak my aangesig onbeskryflik bly!
.
Gebed: Dánkie, liefdevolle Heer, dat Ú in my hart woon, want dít is die rede waarom ek 'n vrolike hart het wat net gedúrig vir U wil psálmsing. Dánkie dat U my uitverkies het en dankie dat ek weet dat U reeds die pad vir my voorberei het, Jesus. Amen.
[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]
No comments:
Post a Comment