Showing posts with label Handelinge. Show all posts
Showing posts with label Handelinge. Show all posts

Sunday, 29 March 2026

Oomblik van stilte: Sef. 3:18a

Die wat bedroef is, ver weg van die fees, versamel Ek;

Draai vanoggend jou gesig en gedagtes weg van dit wat droefheid bring.
Moenie weer praat oor die slegte dae nie.
Sê vir jouself: Ek word versamel deur my God, en glo dit.
God se goedheid en barmhartigheid sal jou deur al jou smart en droefheid dra.

Onse Vader wat in die hemele is, U sal my versamel en na u feesmaal toe bring deur u liefde en genade vir my. U bring my na waters waar rus is. U is met my in die dal van doodskaduwee. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders. Ja, U sal ek elke dag loof. Ek draai my aangesig na U, my Verlosser. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 30 November 2025

Oomblik van stilte: Hand. 2:21

(Petrus profeteer oor laaste dae vanaf vers 14 - 36)

En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Sonder om soos 'n doemprofeet te klink, wil ek die woorde van Petrus aanhaal vir die laaste dae. Petrus noem die wonders van die vorige profeet Joël op.
Petrus sê dan die belangrikste van alles; daar is verlossing vir elkeen in die aanroep van die Naam van Jesus.
Ook voeg hy by dat Dawid ook geprofeteer het van die opstanding van Christus.
Nou het ons die Heilige Gees, wat Christus oor ons uitgestort het nadat Hy verhef is deur die regterhand van God. (vers 33)
God het Hom, Here en Christus (Messias, Verlosser) gemaak (vers 36).

Here, u dag het aangebreek, wat U vir my en die hele wêreld se sondes betaal het. U is my Messias, my Verlosser. U het my sondes afgewas. U het my gereinig en geheilig, om in hemelse plekke te mag sit, saam met U en die Vader. U leer my steeds deur die Heilige Gees, ook vandag. Ek loof U my Verlosser en Here. U red my van die bose en reinig my en trek vir my 'n nuwe kleed aan. Amen.

Sunday, 2 November 2025

Oomblik van stilte: Hand. 17:28

Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, 

Hierdie woord is een waarop jy kan staatmaak en jou staan maak. Lewe is om in God te wees en die vryheid van Goddelike lewe te lei.
So beweeg jy in sy lewe en het die vryheid van beweging in die Naam en wil van God, want sy bloed het jou waarlik vrygemaak
God sê: "Ek is wat Ek is." In God IS jy, deur sy genade; Hy beskerm en behoed jou; in Hom is jou geregtigheid. 

Dankie, Here, dat ek in U kan lewe en die vryheid van beweging kan hê en net kan wees. U woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Ook word U nie met mensehande gedien asof U iets nodig het nie, omdat Uself aan almal lewe en asem gee. (vers 24 & 25). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 6 April 2025

Oomblik van stilte: Hand. 2:24

Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.

Jesus leef, Hy het opgestaan, Hy lê nie meer in die graf nie, die graf is leeg.
Daarna het Hy die hekke van die hel uitgeruk en die smarte van die dood ontbind.
Niks kan die Seun van God bind en vashou nie.
Nou het Christus, die opgestane Heer, vir jou dieselfde opstandingskrag gegee, deur sy genade en krag van geregtigheid.

Dankie Here, U het vir my na die hel neergedaal en die dood oorwin met u opstandingskrag in die Heilige Gees. U Gees wat Jesus uit die dode opgewek het woon in my. My oorwinning is in Christus wat in my is, die hoop op heerlikheid. En Dawid sê: U sal My vervul met vreugde by u aangesig. 'n Voorspelling van Christus wat uit die lendene van Dawid sou voortspring. Hy het ook voorspel dat Jesus se vlees nie verderwing sou sien nie. U het die Heilige Gees ook op my uitgestort, wat U van die Vader ontvang het. Amen.

Sunday, 9 June 2024

Oomblik van stilte: Hand. 3:16

En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal

Mense en jyself, ken jou met jou gebreke en tekortkominge; jy twyfel dat jy oorwinning kan behaal oor jou probleme. Dit is juis waar die krag van Jesus mense onkant betrap. Almal aanvaar dat sekere dinge normaal is en nie kan verander nie. Mense jaag Jesus weg as Hy Legio die varke laat invaar. Dit was by hulle 'n vaste instelling. Mense verwerp Hom as hy op die Sabbat mense gesond maak. Mense verwerp Hom as Hy verklaar Hy kom van sy Vader.

Jesus verander almal se gelowe en dit ontstel hulle. Jesus roep jou vandag en jaag alles uit wat onrein is. Hy heilig en reinig jou en was al jou sondes weg.

Dankie Here, U het my lewe kom verander. U het my tot bekering laat kom. U het al die vuil uit my lewe weggejaag. U het my in wedergeboorte ontvang. Ek is nuut in Jesus Naam. Ek het nou U Heilige Gees in my en ek aanbid U Seun van God. U naam reinig en heilig my. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]