Showing posts with label Engele. Show all posts
Showing posts with label Engele. Show all posts

Monday, 10 November 2025

Dankie, November-engele!!


'n Groot ONS HUIS-dankie vir elkeen van julle wat Saterdag BYGEDRA het tot die hoogtepunt in ons week. Dankie vir die lag, die bingo-pret, die heerlike pryse en versnapperings wat nie ongesiens verbygaan nie. Julle is vir ons KOSBAAR en ons sien uit na die volgende kuiertjie! 
VREUGDE vir julle week!

November-engelebesoek


Foto's: Millie Mouton

Sunday, 5 October 2025

Saturday, 4 October 2025

Dit is mos die mooiste maand: Oktober-engele-besoek


C Louis Leipoldt herinner ons elke jaar in sy gedig "Oktobermaand" dat hierdie die mooiste maand is. Die wêreld rondom ons is groen, blomme kleur die tuine bont en ons gemoed voel 'n bietjie ligter omdat die winter, die vaalheid en die koue verdwyn het.


Saterdag, 4 Oktober, was een van die mooiste Saterdae by Ons Huis. Met apologie aan Leipoldt se Oktobermaand verwerk ons dit 'n bietjie:

Lekker vrugte in die voorhuis –
Muffins op die tafels!
Bingo vir ontspanning en 
Kuier-engele oral in die gange,
Alles, ai, so mooi!



Foto's: Millie Mouton

Sunday, 20 July 2025

Die Julie-engele met 'n soetaktiwiteit


Die engele was Saterdag gewapen met versiersuiker en allerhande soetighede sodat die inwoners hul kolwyntjies na hartelus kon versier. Daarna is die tee nadergetrek en al geselsende is die kunstig versierde kolwyntjies aan die tong-tippie-toets onderwerp. 

Dankie, Ons Huis-engele, vir 'n lekker kuier rondom die teetafel, die heerlike geselsies en die liefde wat ons van julle ontvang. Ons waardeer julle uit ons hart en sien uit na 'n volgende kuier!  

Foto's: Millie Mouton

Sunday, 8 June 2025

DANKIE! In hoofletters!!

 Ons sien uit na 'n volgende kuier!!

Saturday, 7 June 2025

'n Warm Saterdag in 'n koue Junie


Heerlike eetgoed en snoepgoed was deel van vandag se engelpakkie. Koue dae aktiveer juis die knibbelwurm in elkeen van ons. Elke Ons Huis-knibbelaar het vanaand 'n soet vooruitsig voor die TV. En nie net is daar na die innerlike, maar ook aan die uiterlike gedink. 'n Warm kombers was die kersie op die koek! 

Koue wintersdae is net die regte tyd vir heerlike dik huissop. Vandag se kuier het ook heerlike sop en vetkoek op die spyskaart gehad. Die engele het so kuier-kuier van kamer tot kamer beweeg en al geselsend oor 'n koppie sop na elkeen se welstand verneem.


Na baie lag, gesels, eet en kuier moes die engele groet. Daar is darem die vooruitsig dat hierdie groet net tot 'n volgende keer is.


Foto's: Millie Mouton

Monday, 16 December 2024

Dankie, vir jou teenwoordigheid in my lewe


Soos 'n klein skulpie het jy eendag op my strand uitgespoel 
Ek het jou niksvermoedend opgetel, om van nader te beskou 
Min het ek die WAARDE daarvan besef ... 

Iets wat ek ALTYD in my HART wil hou ...
Vir ALLES wat jy vir my beteken, is die klein woord:
DANKIE eintlik te nietig ...

Jou skulpie is met 'n doel op my strand ... 
God het geweet dat ek jou nodig het ... 
Dankie vir jou teenwoordigheid, in my lewe ...

Terwyl ons in Desembermaand is, en die jaar einde se kant toe staan ...
besef ek dis tyd om dankie te sê vir iemand so spesiaal soos JY. 

JY wat deur elke maand van hierdie jaar ‘n verskil gemaak het in my lewe met jou boodskappe, liefde en omgee!  

[Dankie, Nerine, wat ons daaraan herinner om vir die mense langs ons lewenspad dankie te sê vir wat hulle vir ons beteken het. Dankie vir elke ouma en oupa en personeellid se bydrae hierdie jaar in die ouetehuise en aftreeoorde. Dankie vir ons donateurs en ons kuiergaste. Ons Huis wil spesiaal DANKIE SÊ vir ons 2024-engele wat een maal 'n maand ons Saterdag kom inkleur het met joviale kuiers, vrolikheid en baie lag. Julle is ons skulpies.]

Saturday, 14 December 2024

Afsluitingsfunksie: Ons Huis se engele gaan met vakansie


Ons Huis se engele besoek die inwoners op 'n gereelde basis en dan word daar sommer lekker gekuier, baie gesels en heerlik geëet aan al die snoepgoed wat saamgebring word. Dit bly mos maar die hoogtepunt van elke kuier as jou smaakkliere net so hard kan saamgesels.


Voeg daarby mededingende bingo, met verrassende pryse om te wen, en die Saterdag bars uit sy nate. Geniet Desembermaand met verskeie hoogtepunte. Die engele gaan DV volgende jaar na al die Desembervakansiestories kom luister.    


Foto's: Millie Mouton

Friday, 15 November 2024

Weekly message from the angels


 Worries end where faith begins!

Ek draai jou toe ...

EK draai JOU toe in die kombers van my LIEFDE, sê die Here.
Ek stel My ENGELE op tussen jou en die vyand.
Jy is BESKERMD onder die SAMBREEL van My GENADE.
Ek laat jou by My FEESMAAL aansit,
terwyl jou vyande moet toekyk (Ps. 23). 
Ek het die vyand reeds OORWIN aan die KRUIS.
Daarom sal jy nie VREES nie.
Jy is VRY.
Dis Ek wat jou pad VERLIG.
Jy vrees NIE die TOEKOMS nie.
EK SORG vir jou, sê die HERE,
jou Voorsiener en VOORSPRAAK.
Jou Raadgewer en HELPER.
Dankie JESUS.

[Aangestuur deur Rosetta.]

Monday, 4 November 2024

'n Uit-die-hart-dankie!


Aan ons Saterdag-engele
Dankie vir julle omgee, uitreik, liefde en heerlike bederfies.
Ons sien uit na julle besoeke en waardeer julle kuiers!
Vreugde en seën vir julle!
Ons Huis-inwoners!!

Saturday, 2 November 2024

'n Soet Saterdag in November


Wat 'n heerlike Saterdagoggend was dit nie? Die engele, gewapen met smaaklike kolwyntjies, het ons kunstalente weer beproef en sommer goeie oefening ook gegee. Daar was versierings te kus en te keur en ons kon ons kolwyntjies ryklik versier met 'n swaar hand!    

Dankie vir 'n heerlike kuier ... dankie dat ons ons naweek op 'n hoë soet noot kon begin en dankie vir die heerlike eetgoed. Ons waardeer julle!  

Foto's: Millie Mouton