Showing posts with label Krag. Show all posts
Showing posts with label Krag. Show all posts

Wednesday, 3 June 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Hartsmoegheid

Daar is dae wat jy net eenvoudig moeg is - nie net liggaamlik nie, maar in jou hart. Dis 'n moeg wat jy nie vir iemand kan beskryf nie. Dis juis in daardie oomblikke wat God sag fluister: “Ek gee jou nuwe krag.”

Hy sien jou trane, hoor jou gebede en weet waardeur jy gaan. Hy kan sien dat die opdraandes te veel word en dat jy nie altyd vastrapplek kry voor jou volgende tree nie. Hy los jou nie waar jy is nie. Hy lei jou weer op die regte pad, stap saam met jou, en vul jou met moed waar jy moed verloor het.

Jy is nie alleen nie… God is besig om jou hart weer sterk te maak.

Gebed:
Here, dankie dat U my altyd hoor wanneer ek roep.
Dankie dat U my nuwe krag gee wanneer ek nie meer kan nie.
Lei my vandag op U pad van vrede en hoop, en herinner my dat U nooit moeg word om my te dra nie. Amen

Friday, 10 October 2025

Vrydag-flits: 4 dinge om te onthou wanneer mense sleg van jou praat

1. Hul woorde sê meer van hulle as van jou!
Mense praat dikwels uit hul eie seer, jaloesie of onsekerheid. Wat hulle sê, weerspieël hul hart, nie jou waarde nie. 
“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” - Matteus 12:34

2. God ken die waarheid!
Jy hoef nie elke valse woord te probeer regverdig nie. God sien jou hart en Hy sal jou karakter beskerm. Laat Hom jou verdediger wees.
Geen wapen wat teen jou gevorm word, sal voorspoedig wees nie, en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy veroordeel.” - Jesaja 54:17

3. Stilte is soms krag! 
Jy hoef nie op elke kritiek te reageer nie. Stilbly beteken nie jy is swak nie, dit wys dikwels wysheid en dat jy seker is van wie jy is.
Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” - Eksodus 14:14

4. Hou aan loop in liefde!
Moenie toelaat dat bitterheid jou hart besmet nie. Vergewe, wees ’n seën en gaan aan met jou lewe. Jou reaksie is jou getuienis.
Moenie jou deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” - Romeine 12:21

Laat jou lewe harder praat as hul woorde. 

[Geleen]

Wednesday, 17 September 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: As jy fout soek, sal jy fout vind ...

... maar as jy kyk om die mooi te sien, sal die detail van God skepping en die noukeurigheid waarmee Hy werk, jou meer en meer verras in die mees gewone ontmoetings, 
plekke en prentjies langs jou pad ...
Al wat ons moet doen, is om die mooi in die lewe raak te sien.
Dit sal ons lewenskwaliteit verbeter!

Wednesday, 10 September 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Lewe een dag op ‘n slag

God het Sy hand op die rat
en Sy oog op die verste draai in die pad.
Daar is twee dae in elke week 
waaroor ons ons nie behoort te bekommer nie. 
Die een is gister, met al sy foute en kwellings, 
sy versuim en kwale, sy flaters en seerkry. 
Gister is verewig verby. 
Dit is buite ons beheer. 
Al die geld in die wêreld kan gister 
nie na ons terugbring nie. 
Ons kan niks wat ons gister gedoen het, 
ongedaan maak nie. 
Ons kan nie ‘n enkele woord wat ons gister kwytgeraak het, 
nou weer terugtrek nie. 
Gister is verby. 
Vir ewig verby.
Die ander dag waaroor ons ons nie hoef te bekommer nie, 
is môre met al sy moontlikhede, 
al sy laste en groot belofte 
en swak prestasies. 
Môre is buite ons onmiddellike beheer. 
Môre sal die son stralend 
of agter ‘n bank wolke opkom. 
Bekommer jou nie oor môre nie, 
want môre bring sy eie bekommernis of vreugde. 
Dan bly daar nog ‘n dag oor - 
Vandag ... 
Dis wanneer ons die laste en seer van gister afgooi, 
en die vrese en bekommernis van môre afgooi, 
na God uitreik en sê: " Here, hier is ek, sondaarmens. Heel my,"
dan het ons genoeg krag vir vandag. 
Dan sien ons kans om vandag voluit te leef. 
Dis nie die doen en late van vandag 
wat ‘n mens oor die afgrond dryf nie,
dis die bitterheid, onvergewengesindheid, seer
en laste van gister, wat ons alweer oordra na môre.
Lewe een dag op ‘n slag, 
dan lewe jy vandag. 

[Geleen]

Wednesday, 3 September 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Onthou die ses geheime van geluk

1. Maak jou hart skoon van haat.
2. Werp al jou bekommernis op Hom, want Hy sorg vir jou.
3. Leef eenvoudig.
4. Gee meer.
5. Verwag minder
6. Geniet elke dag ten volle - in Jesus-liefde.

Gebed: O Here, U is so getrou. Van die dag van my geboorte af, kyk U na my.  Alles wat ek het, het ek van U ontvang, en dit is ontelbaar! Ek sien, hoor, kan dink en redeneer, gesels en lag. En as daar 'n traan is, is U daar om te troos. U is groot en magtig. Here, U is my lewe, U sorg vir my. U het die aarde gemaak en alles daarop en 'n pragtige deel is vir my afgemeet. Dankie Vader, elke dag is vol van U genade; en dit is alles onverdiend. Bly by my, o Heer - nou en altyd. Amen.

Wednesday, 27 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Skud dit af en trap daarop!

'n Boer se ou donkie het eendag in die put ingeval. Die ou dier het ure lank gebalk, terwyl die boer probeer het om 'n plan te maak. Uiteindelik besluit hy toe dat die ou dier reeds te oud is, en die put het in elk geval nie meer water in nie en moet dus maar toegegooi word. Toe nooi hy al sy bure om hom te help om die put op te vul. Elkeen het 'n graaf gebring en begin om grond in te gooi. Die ou dier besef wat aangaan, en protesteer luidkeels. 

Maar, tot almal se verbasing, word dit skielik stil. 'n Rukkie later loer die boer oor die kant van die put en sien wat gebeur. Die donkie skud elke graafvol grond wat op sy rug val, af en trap dit vas. Terwyl die span manne die grond ingooi om die put op te vul, skud hy die grond af en klim elke keer 'n tree hoër.

Uiteindelik tree die donkie oor die kant van die put en draf weg! As die lewe jou probeer onderkry deur alles wat op jou val, moenie moedeloos word nie. Skud dit af en gebruik dit vir 'n trappie boontoe. Moet net nie opgee nie. Skud dit af en trap daarop!

Wednesday, 20 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Sinlose lewe

Vir baie lyk dit asof die lewe geen sin en betekenis het nie.
Oor die verlede voel hulle net selfverwyt.
In die hede bind hulle geen lewensblyheid nie,
en oor die toekoms is hulle onseker en angstig.
Dag na dag,
maand na maand,
jaar na jaar
is die lewe vir hulle 'n eentonige trapmeul
van opstaan, gaan werk en slaap.
Selfs 'n rustige tydjie
verbreek nie hierdie kleurlose roetine nie,
want wanneer hulle nie slaap of werk nie,
het hulle niks positiefs of opwindends om die tyd mee te vul nie.
Die waarheid is dat hierdie tragiese toestand
absolute onnodig en afbrekend is.
Nogtans laat mense hulle lewe ten prooi val
deur hierdie onverskillige en nutelose benadering tot hulle bestaan.
Hulle weier om 'n koersaanpassing te maak
wat aanleiding sal gee tot 'n konstruktiewe lewenstyl.
Wie jy ook al is en wat jy ook al doen,
as jy wil lewe en nie net bestaan nie,
is dit noodsaaklik dat jy geloof sal hê in Jesus Christus.
Dit is nodig dat jy 'n intieme en persoonlike verhouding met Hom sal ontwikkel.
Hy is immers die bron van alle lewens.
In alles wat jy doen of onderneem,
moet jy seker maak dat jy binne die wil van God handel.
Gee jou lewe onvoorwaardelik oor aan Hom.
Laat Sy Heilige Gees toe om jou te inspireer
tot 'n nuwe, produktiewe lewe.
Deel met Hom jou vreugde en jou droefheid,
jou ideale en frustrasies.
Praat gereeld met Jesus
en vra Hom om jou Leidsman
en Begeleier te wees deur elke dag.
Hemelse Vader, dankie dat Ek U belofte het dat U met my sal wees, dat ek in U kan leef met alles en elke oomblik wat U my gun. Vader, dat ek dan sal weet dat my lewe nie meet 'n doodloopstraat sal wees nie, maar 'n triomftog tot eer van U wat aan my die lewe in oorvloed gee. Amen.

Wednesday, 13 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Dit maak alles die moeite werd

Dis die DIEP WATERS
wat ons leer SWEM.
Dis die OPDRAENDES
wat ons FIKS maak!
Dis die VASKLOU
wat ons STERK maak!
Dis die UITHOU
wat ons WENNERS maak!
Dis ons GELOOF
in die Almagtige Wonderlik GOD
wat ALLES die moeite werd maak!!

Wednesday, 6 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Goddelike Rykdom

• Jesus het aan die kruis vir ons arm geword, sodat ons deur sy armoede ryk kan word. Hy is verneder, op Hom is gespoeg, die Romeinse soldate het selfs gedobbel vir sy klere.
• Jesus, die Een wat meer as 5000 mense gevoed het, vissers se nette amper laat skeur het van die groot vrag vis.
• Die Een wat goud, diamante en robyne in die aarde geskep het, het jou plek van armoede aan die kruis geneem, sodat jy Sy plek van oorvloed kan neem.
• 'n Goddelike ruil het plaasgevind op Golgota - jou sonde vir Sy geregtigheid en jou armoede vir Sy voorsiening.

Gebed: Ek is geseën met die volheid van die seëninge van die evangelie van Christus. Ek is geseënd in die stad en in die veld; geseënd in my uitgaan en binnekom. Op my pad is lewe en vrede; heerlikheid, oorvloed en ewigdurende vreugde; nou en vir altyd, in Jesus se Naam. Amen.

Wednesday, 30 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Oordeel

Mense sê soms hulle is bly die Here oordeel nie die uiterlike nie, maar wat in die hart aangaan.
Dit is die meeste van die tyd 'n erger maatstaf.
Hy sien wat niemand anders sien nie en toets wat in jou gedagtes en emosies aangaan.
Daardie rou, rowwe jy wat nêrens kan wegkruip nie. 
Die mens wat tantrums gooi; 
wat in sy hart moord pleeg, 
wat oordeel, 
wat haat, 
wat vloek 
en skree
wanneer geen mens in die omtrek is nie.
Soms is die uiterlike mooier
en meer aanneemlik
met al sy valsheid
as die waarheid
wat in jou hart heers.

Wednesday, 23 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Moenie oordeel nie

Moet my NIE oordeel
op die HOOFSTUK van my lewe 
waarop jy instap 
en my beter leer ken nie.
Hierdie is nie wie ek is nie,
want Jesus is nog nie
klaar met my NIE. 

Wednesday, 16 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Negatiewe nuus ...

Negatiewe berigte
is indringerbosse
wat welig groei
om die Wegwyser
te verdring.

Wednesday, 9 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Pensioentyd

Jou lewensdoel wanneer jy oud is,

is om vrug te dra,
nie om uit te rus nie.
Later sal daar genoeg tyd wees vir rus.
- Dr JH Gunning J Hz (1858 – 1940)  

Wednesday, 2 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Die hart is veiliger as 'n kluis

Ons het u naam in die sand geskryf, 
maar die golwe het dit weggespoel. 
Toe skryf ons dit in die lug, 
maar die wind het dit weggewaai. 
Ons het dit dus in ons harte geskryf
en dit sal altyd daar bly.
Bêre dit wat belangrik is,
in die veiligste plek waaraan jy kan dink - jou hart!

Wednesday, 7 May 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: God se liefde

Het jy al ooit daaraan gedink hoe lief GOD vir jou is?
HY stuur vir jou blomme elke lente ...
HY stuur vir jou sonskyn elke oggend ...
Wanneer jy ookal wil gesels, luister HY na jou ...
HY kan in enige plek op die aarde bly, 
maar HY het JOU hart verkies ...
HY is so lief vir jou ...
GOD belowe nie dae sonder pyn nie ...
HY belowe nie lag sonder hartseer nie ...
HY belowe nie son sonder reën nie ...
Maar HY belowe krag en bystand vir elke dag ...
HY belowe troos wanneer daar trane is ... 
En HY belowe lig op die pad.

Friday, 20 December 2024

Terugflits: God gee altyd krag

Daar het ons in die pastorie nou ook 'n gasstoof en natuurlik 'n gaslamp of twee, 'n pak kerse en ons braai baie meer as gewoonlik vleis.

Dit is net tiek dan hoor jy die kinders in 'n koor uit hul verskillende ruimtes sugtend sê: "Agge nee, nie al weer nie." 

Tog raak 'n mens aan alles gewoond. Selfs aan beurtkrag.

Die aanpasbaarheid van die mens is eintlik wonderlik. Selfs vir die jongste in die pastorie is dit nou nie meer vreemd nie.

Die eerste keer het sy geskrik en was bang vir die skielike stikdonkerte, veral in die bad en dit word skielik pikdonker. Deesdae roep sy net: "Bring 'n kers, krag is al weer af."

Nou word die kerse in die huis al 'n speletjie. Rondom 'n kers kan 'n mens regtig ook lekker saamkuier en min ander dinge doen. Dit is wonderlik indien die skootrekenaar en die tablette en selfone se batterye pap is, dan moet almal maar doodgewoon sit en saamkuier of lees.

Ek hoor die kinders sin 'n spotliedjie, na analogie van 'n liedjie van Laurika Rauch: "Gee ons net so 'n bietjie krag ..."

In die laaste Twyfelhoekie van die jaar bid ek julle almal krag toe.

Nie elektrisiteitskrag nie - dit ook, ja - maar krag vir 'n nuwe jaar en nuwe uitdagings. Dit wat ons nou in die dagboeke skryf en dit wat in praktyk gebeur, verskil dikwels baie. Kyk ons terug oor die jaar was die krag daar wanneer ons dit nodig gehad het. Kyk ons vorentoe sal die krag vir elke dag se dagaak weer daar wees.

Intussen, rus goed uit, beplan lekker, geniet die etes en kuier by gesinne en familie, ry veilig na vakansiebestemmings en bou krag op vir 'n nuwe jaar. Wanneer jy kragteloos en moedeloos voel, onthou om te vra en te pleit: "Gee my krag vir die dag."

En onthou: God werk nie met beurtkrag nie. Hy het genoeg vir almal van ons.

Ons hoef nie met 'n kers ons binnekant te verlig nie. Sy Lig het na die wêreld gekom, en in die Kerstyd dink ons weer daaraan.

Krag vir julle almal toegebied, groete tot in die nuwe jaar.     

Sunday, 8 September 2024

Oomblik van stilte: Jes. 64:2(b)

Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

Die Here wil net in die beste van jou belange optree en aan jou voorsien.
Die Here luister en Hy hoor jou voordat jy nog roep; terwyl jy nog spreek verhoor God jou (Jes. 65:24).
Die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is (Matt. 18:11).
Hy sal alles los en jou kom soek wat verlore is (verg. Matt. 18:12).

O Here, Vredevors, Herder van my siel, U sal ek verkies. In hierdie oggend, lig ek u Naam en wil my hart 'n nuwe lied tot U verhef. U sal my red, en U sal op almal let wat verslae van gees en arm is. U arm is nie te kort om te help nie. U let op almal wat bevrees is vir U, dis waar ware wysheid begin. Laat U grootheid aan almal bekend word vandag in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]

Sunday, 4 August 2024

Oomblik van stilte: Efesiërs 6:10

Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.


Dit is wonderlik om te weet dat ons daagliks Sy sterkte en krag kan ondervind. Uiteindelik, het ons Sy krag in ons lewens uiters nodig. Mag Hy jou met krag en sterkte vul en jou sterk maak. As ons Sy krag as ‘n realiteit in ons lewens ken, kan ons enige uitdaging trotseer.

Gebed: Vader, ek ontvang U sterkte en magtige krag vandag in my lewe. Ek kies om te lewe in U krag en om nie op my eie krag staat te maak nie. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Monday, 1 January 2024

Vandag se internetgebed vir jou: Gee my krag om elke dag aan te pak.

Liefdevolle Vader, U was my rots in tye van benoudheid, my vrede in tye van nood en my skuiling teen die storms van die lewe. Maar Here, soos ek ouer word, vind ek dat ek soms moeg en uitgeput raak met die lewe en ek het U nodig om my goeie en genadige Herder te wees. Gee my krag om elke dag aan te pak.

Here, U was my getroue Vriend deur soveel van my lewe. U het my deur my kinderjare gelei en was daar tydens my sorgvrye jeug. En nou in die skemerjare van my lewe is ek so dankbaar dat U my kosbare Verlosser is wat my so liefhet. Hoe kan ek U ooit genoeg dank, my Here en my God?

Ek het U so lief. Wees by my vir die jare wat voorlê en mag ek gebruik word as ‘n kanaal waardeur U liefde na ander uitstroom. Dankie, Vader, dat ek met vrymoedigheid na U troon van genade kan kom.

Ek bid hierdie in die wonderlike naam van my Here en Verlosser, Jesus Christus.
Amen

[Dankie, Ria, vir die deel van hierdie gebed.]

Wednesday, 20 December 2023

God is altyd by ons ...

Ons het vanoggend opgestaan met:

GOD se krag wat ons dra ...
GOD se mag wat ons vashou ...
GOD se hand wat ons bewaar ...
GOD se liefde wat ons omvou ...
GOD se wysheid wat ons rig ...
GOD se vrede wat ons omring ...

En met ...

GOD se genade wat elke môre nuut en vars is!