Showing posts with label Gesondheid. Show all posts
Showing posts with label Gesondheid. Show all posts

Tuesday, 14 July 2026

Liewe Inwoner, wees gerus

1 Korintiërs 14:33 want God is nie n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.

Kom ons kyk na 'n legkaart wat uit sy boks op die tafel gegooi word. Alles lê deurmekaar, maar die bouer, die een wat dit bymekaar sit, weet wat hy doen as hy na die prentjie op die boks kyk.

Liewe Inwoner, jy voel dalk asof jy een van die legkaartstukkies is, in die deurmekaar hoop op die tafel. Daar is wanorde tans in jou lewe.
Dit wat bekend was, is versteur, die bekende het verander ...
Dalk gaan jy deur 'n moeilike fase met jou gesondheid. Jy het dalk 'n geliefde aan die dood afgestaan en jy voel op hierdie stadium soos iemand met 'n geamputeerde been.  
Dalk is daar ander uitdagings wat onsekerheid tot gevolg het.
Wanneer die lewe aanstap, gebeur dinge.
Skielik moet 'n blyplek dalk opgegee word, en na 'n kleiner plek verhuis word, jy word van die bekende na 'n onbekende situasie gevat, waarvan jy nie hou nie, wat ervaar ons as mens wanneer sulke dinge gebeur - onsekerheid, wanorde!!!

Wat sê God se woord - God is nie 'n God van wanorde nie ... maar van vrede.
'n God van orde.
Jy mag dalk wanorde ervaar a.g.v. gebeure in jou lewe, omstandighede wat verander ... dit laat onsekerheid, maar God wil jou vandag kom gerusstel.

Hy sal in elke behoefte van jou voorsien.  

[Internet]

Thursday, 9 July 2026

Ouma se wenke: 'n Dieetkundige se raad

Ek wil my as geen kenner uitgee nie, daarvoor is ek heeltemal te lief vir peusel. Maar elke keer as ek so lekker oortree, is daar so 'n waarskuwingstemmetjie wat my aanpraat. Dus is die volgende lysie vir myself en ek plaas dit hier, sodat ander my aanspreeklik kan hou oor my peuselgewoontes. 

* Die dieetkundige het my laat verstaan dat die meeste kosse in matigheid heel aanvaarbaar is.
* Ek mag nie maaltye oorslaan nie. Dis blykbaar 'n ou laai van ons wyse gryses om nie gereeld te eet nie en as jy boonop alleen bly, is dit te veel moeite om ordentlik kos te maak. (Gelukkig is die inwoners wat hulle nie oor kos hoef te bekommer nie.)
* Ontbyt is die belangrikste ete. (Hoeveel keer het ons dit nie vir ons kinders gesê nie?)
* Ontbyt speel 'n groot rol in energie en hoe ons gefokus deur die dag kan gaan.
* Gesonde peuselhappies kan goeie aanvullings tussen etes wees, maar dit vervang nie etes nie.
* Happies waaraan die dieetkundige gedink het, is vrugte, groente en neute.

Idioom: Moenie alles vir soetkoek opeet nie. 

Thursday, 2 July 2026

Ouma se wenke: Lief vir peusel? Maniere hoe om slimmer te peusel!

* Volgraanpeuselhappies kan jou van energie voorsien. 
Probeer volgraan-laesout-pretzels of tortilla-skyfies.
 
* Wat van laesuiker-granola as ʼn vinnige peuselhappie. 
Baie ontbytvoedsels kan later in die dag dien as ʼn voedsame peuselhappie. Kombineer ʼn klein hoeveelheid van iets met gesonde vet, soos grondboontjiebotter, met ʼn groter hoeveelheid van iets baie lig, soos appelskyfies.
 
* Neute en sade bevat baie goeie nutriënte en sal jou versadig laat voel. 
Ongesoute neute en sade is heerlike peuselhappies. Neute bevat egter baie kalorieë, so hou die porsies klein. Probeer om nie meer as een makro-nutriënt met elke peuselhappie te geniet nie. Byvoorbeeld, eet ʼn paar neute (proteïen en vet) en ʼn bietjie druiwe (koolhidrate).
 
* Moenie jou peuselhappie geniet, terwyl jy besig is met iets anders nie - soos om televisie te kyk, of by jou lessenaar te werk nie. Stop waarmee jy besig is vir ʼn paar minute en eet jou peuselhappie soos ʼn klein maaltyd.
 
* Dink vooruit en dra ʼn klein sakkie gesonde peuselhappies in jou sak sodat jy nie in desperaatheid jou toevlug neem na koekies of lekkergoedstafies in die winkel nie.
 
Gesonde peuselhappies kan jou gesondheid verbeter.
 
[Verwerk uit: 7 maniere om slimmer te peusel - WelstandWelstand (solidariteit.co.za)]

Thursday, 25 June 2026

Ouma se wenke: 'n Effektiewe dóg goedkoop raad om elektroliete terug te sit

'
n Eenvoudige, tuisgemaakte elektrolietmengsel (ook bekend as 'n rehidrasie-oplossing) vir 'n omgekrapte maag kan vinnig gemeng word om dehidrasie weens braking of diarre
e te voorkom. 

Bestanddele:
1 liter skoon, gekookte water (wat eers heeltemal afgekoel is)
6 tot 8 teelepels suiker
1 teelepel sout 

Metode:
Meng al die bestanddele in 'n skoon glas- of plastiekhouer en roer deeglik totdat die sout en suiker heeltemal opgelos is.

Wenke vir toediening:
Dosis: Neem klein slukkies van ongeveer 50 ml elke halfuur nadat jy gebraak het of 'n los stoelgang gehad het.
Berging: Bêre enige oorskietmengsel in die yskas en gooi dit na 24 uur weg.
Alternatiewe: As jy nie self wil meng nie, is kommersiële rehidrasiesakkies soos Rehydrate of Dioralyte by enige apteek in jou area beskikbaar.

Waarskuwing: Hierdie oplossing genees nie die oorsaak van die maagprobleem nie, maar help slegs met hidrasie. As simptome nie binne 24 tot 48 uur verbeter nie, moet jy 'n dokter raadpleeg.

[Idioom: Bitter in die mond, maak die maag gesond]

Thursday, 11 June 2026

Jogurt: Die wondervoedsel

[Dink hieroor: Kossoorte wat jare by mense se lewe toevoeg, verander net soos die modes.] 

Jogurt het geen magiese kragte wat jou 'n langer lewe kan besorg nie, maar dit is heilsaam genoeg en heerlik daarby!

Dit is vanweë die uitsprake wat 'n Russiese wetenskaplike, Mechnikoff, aan die begin van die eeu gemaak het dat daar soms magiese kragte aan jogurt toegeskryf word.   

Hy het die geheim van 'n lang, gesonde lewe in die Bulgaarse Alpe gaan soek, omdat baie mense van dié streek tot 100 jaar of ouer geword het. Tot sy verbasing het hy ontdek dat dié mense groot hoeveelhede van 'n sekere gefermenteerde melkdrank drink. Hy het dadelik - sonder enige verdere navorsing - bekend gemaak dat dit die geheim was.

Só het jogurt as wondervoedsel bekend geword en die ongegeurde soort word selfs vandag nog as Bulgaarse jogurt verkoop.

Ongelukkig was Mechnikoff se uitspraak nie geldig nie en die mense se lang lewens word nou ook eerder aan genetiese redes toegeskryf as aan die gereelde inname van jogurt.

Tog bevat jogurt voedingstowwe wat van groot belang is. Die gesondheidsvoordele van jogurt is dat dit baie proteïene, kalsium, vitamiene A en 'n bietjie van die vitamien B-kompleks bevat. Dit is besonder voordelig vir mense wat jogurt mag eet, maar nie ander produkte wat vitamien B-kompleks bevat nie soos volkoringbrood en vleis.

Mense met 'n laktose-onverdraagsaamheid - wat nie suiwelprodukte kan gebruik nie - se spysverteringstelsel kan wel jogurt verteer. Diarreelyers kan ook maar jogurt by hul dieet insluit aangesien dit lyk asof die mikro-organismes wat in die spysverteringstelsel nodig is, vermeerder met die inname van jogurt.

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991 - Sonja Jordt]

Thursday, 16 April 2026

Ouma se wenke: Gesondheidsvoordele van piesangs

* Piesangs bevat 'n goeie hoeveelheid voordelige vesel, antioksidante, minerale en vitamiene.

* Piesangs word gewoonlik aanbeveel vir kinders wat ondervoed is. Dit is ook 'n gunsteling happie onder atlete vir energie in 'n kits. Dink net wat dit vir ons op ons jare kan beteken!

* Die vrug kan ook hardlywigheid verminder.

* Piesangs is 'n goeie bron van vitamiene B6 asook vitamiene C.

* Hierdie nederige vrug bevat ook vlakke van minerale soos koper, magnesium en mangaan. Magnesium is noodsaaklik om bene sterker te maak, terwyl koper 'n noodsaaklike element is in die produksie van rooibloedselle.

* Piesangs is ook 'n baie ryk bron van kalium. Kalium is 'n belangrike komponent van sel- en liggaamsvloeistowwe wat help om hartklop en bloeddruk te reguleer en die skadelike gevolge van natrium teen te werk.

Piesangs in enige vorm is heerlik. Onthou om daagliks 'n piesang in te sluit by jou peuselhappies ... lekker kan ook gesond wees. Heerlik om in jou handsak of skooltas te gooi - dis klaar verpak in sy eie "bakkie."  

[Idioom: Moenie 'n piesang vlak kyk nie.]

Sunday, 27 October 2024

Gebed: Terwyl ons siek is ...

Here, wanneer ons siek is en vrae vra, is dit U wat ons hand neem en ons dra.
Wanneer ons swak is en soms só moeg voel weet ons met alles het U 'n perfekte plan en doel. 
Net U ken die begin en einde van ons lewe en in geen situasie sal U ons ooit, ooit  begewe nie.
Daarom sal ons in gesondheid en siekte u naam prys. U is ons Geneesheer en u sal die pad vir ons aanwys!

Thursday, 19 September 2024

DIE LAASTE SEISOEN VAN DIE LEWE !!!

Die meeste van ons is nou in die laaste kwart van ons lewe en behoort hierdie interessante stukkie raad te lees. Stof tot nadenke.

Jy weet, tyd het 'n manier om vinnig te beweeg en jou onbewustelik te vang. Jare gaan so vinnig verby.
Dit voel soos gister toe ek jonk was en my nuwe lewe aangepak het. Tog, op 'n manier, voel dit soos jare gelede, en ek wonder waarheen al die jare gegaan het.

Ek weet dat ek hulle almal geleef het. Ek het 'n blik op hoe dit destyds was en van al my hoop en drome.

Hier staan ek nou in die laaste kwart van my lewe en dit vang my onverwags!!!

Hoe het ek so vinnig hier uitgegekom?

Waar het die jare heen gegaan en waarheen het my jeug gegaan??

Ek onthou goed wat ek gedink het as ek ouer mense gesien het. Ek het onder andere gedink dat daardie ouer mense jare van my denkpatroon en planne verwyder is en dat ek in die eerste kwartaal van my lewe is en dat hulle in die vierde kwartaal was. Ek kon myself nie in hulle skoene plaas of my ten volle indink hoe ek sou optree as ek so oud is nie.

Tog, hier is dit!! My vriende is afgetree en word grys, hulle beweeg stadiger en ek sien 'n ouer persoon in die spieël na my terugkyk. Sommige vriende is in 'n beter en ander in 'n slegter situasie as ek, maar ek sien die groot verandering. Hulle is nie meer jonk en lewenslustig nie. Maar, soos ek, begin hul ouderdom wys en ons is nou daardie ouer mense wat ons vroeër gesien het en nooit gedink het ons sou word nie.

Nou ervaar ek amper elke dag dat net om te stort 'n ware teiken vir die dag is en om 'n middagslapie te neem, is nie meer 'n bederf nie!! Dit is verpligtend, want as ek dit nie uit vrye wil doen nie, raak ek aan die slaap waar ek sit.

En so, het ek hierdie nuwe seisoen van my lewe binnegegaan, onvoorbereid vir al die pyne en die verlies aan krag en vermoë om dinge te gaan doen wat ek wens ek gedoen het, maar nooit gedoen het nie. Ten minste weet ek dat, al is ek in die laaste kwartaal en ek nie seker is hoe lank dit sal duur nie, dat wanneer dit verby is op hierdie aarde, dit alles verby is. 'n Nuwe avontuur sal dan begin!!

Ja, ek is spyt. Daar is dinge wat ek wens ek nie gedoen nie; dinge wat ek moes gedoen het, maar daar is werklik baië dinge wat ek bly is dat ek dit gedoen het. Dit is alles in 'n leeftyd.

As jy nog nie in die laaste kwartaal is nie, laat ek jou herinner dat dit vinniger sal aanbreek as wat jy dink. Wat jy ook al in jou lewe wil bereik, doen dit sommer nou. Moenie dinge te lank uitstel nie. Die lewe gaan vinnig verby. Doen vandag wat jy kan, want jy kan nooit seker wees of jy alreeds in die laaste kwartaal is of nie.

Jy het geen belofte dat jy al die seisoene van die lewe sal sien nie. So, leef vir vandag en sê al die dinge wat jy wil hê jou geliefdes moet onthou - en hoop dat hulle jou waardeer en liefhet vir al die dinge wat jy vir hulle gedoen het in al die afgelope jare.

'Lewe' is 'n geskenk aan jou ...! Wees gelukkig!!

Onthou, dit is gesondheid wat ware rykdom is en nie goud, silwer of eiendom nie.

Jy mag dalk dink: Om uit te gaan, is goed - maar om terug te keer huis toe, is baie beter !!!

Jy vergeet name - maar dis ook reg so, want sommige mense het alreeds vergeet dat hulle jou ooit geken het!!!

Jy besef, jy gaan nooit regtig goed wees in iets soos gholf nie – maar jy hou van die buitelewe. So doen dit.

Die dinge wat vroeër vir jou belangrik was om te doen, stel jy nie meer belang in nie - maar jy gee regtig nie meer om dat jy nie soveel daarin belangstel nie.

Jy slaap beter op 'n sitkamerstoel met die TV aan as in die bed - jy noem dit 'voorslaap'!!! As jy dit geniet, doen dit.

Jy mis die dae toe alles gewerk het met net 'n aan- en af-skakelaar!!!

Jy het baie klere in jou klerekas, waarvan jy meer as die helfte nooit weer sal dra nie – maar jy hou dit net vir ingeval !!

* Oud is goed. 
* Oud is gemaklik.
* Oud is veilig.
* Ou liedjies.
* Ou flieks.
* en - die beste van alles,
* Vriende van ouds!!!

So, bly gesond, ou Vriend.
Geniet 'n fantastiese dag.
Geniet 'n wonderlike kwartaal, in watter een jy ook al is!!!
Kyk mooi na jouself.

Friday, 9 February 2024

Gesondheid: Drink gereeld water!

'n Vriendelik herinnering wat nie genoeg beklemtoon kan word nie.

Die winter lê voor en 'n mens wil nie moeg en siek voel as 'n mens skuldig is aan te min waterinname nie.
 
Inwoners van o.a. aftreeoorde, ouetehuise en ander sentrums moet meer aandag skenk aan die drink van voldoende water. Talle inwoners sukkel met herhaalde blaasinfeksies wat onder meer aan onvoldoende water inname te wyte is.

Van die simptome van te min water drink, sluit die volgende in: 
Dikwels moeg, lighoofdig en geïrriteerdheid. Ontwatering lei ook tot gereelde hoofpyn, droë vel en hardlywigheid.
(Hoeveel van hierdie simptome is daagliks deel van jou lewe? Verhoog die waterinname vlg. wat dokter of suster aanbeveel en raak ontslae van sommige van hierdie lastige simptome. Die temperature van hierdie somer is besonder hoog. Neem verantwoordelikheid vir jou eie waterinname.)

Die mens se liggaam bestaan uit sowat 60% water. Ons verloor vog deur die dag deur sweet, urine en selfs asemhaling. Dis uiters belangrik om hierdie verlies aan te vul. As die liggaam nie genoeg water het om sekere funksies te onderhou nie, stuur dit boodskappe in die vorm van dors, hoofpyn en moegheid aan die persoon. Leer om hierdie boodskappe raak te sien en reg te interpreteer.

Water speel ook ’n belangrike rol om die mens op ’n warm dag af te koel. Dit help met brein werking, dra suurstof deur die liggaam en help om van afvalprodukte ontslae te raak. Ontwatering oor ’n lang periode kan lei tot nierversaking, hittesteek, skade aan die senustelsel, hartversaking en ’n verswakte immuunstelsel. 

Ander voordele van die drink voldoende drink van water sluit in: Smering van gewrigte, steun aan spysvertering, voorkoming van nierskade, regulering van liggaamstemperatuur, die vel sag en strelend hou, om jou brein ’n hupstoot te gee en dis wetenskaplik bewys dat dit help met gewigsverlies.

Hoeveel water behoort ek per dag te drink? Dit is die vraag wat almal gewoonlik vra. Die riglyn is een glas (250 ml) vir elke 10 kg wat jy weeg. As jy sukkel om te onthou om water te drink, vul ’n houer met jou daaglikse kwota en sit dit op ’n plek wat jy nie kán miskyk nie. Stel jou selfoon om jou te herinner dis nou ‘drinktyd’ (water asb!). 

Dis ’n goeie gewoonte om voor of na elke maaltyd ten minste twee glase water te drink. Dis belangrik om elke oggend met opstaan water te drink. Onthou jou liggaam het vir 8 ure geen vog ingeneem nie.

Bron: Huisgenoot 20 Julie 2020 – Ingestuur deur Elsa v Zyl-Smit – Selrose

[Dankie, Anoniem, wat hierdie gesondheidswenke met die lesers deel.]

Friday, 19 January 2024

Gesondheid: Wenke van sr. Annabelle

Die afgelope tyd kry ons baie warmer as gewoonlik en gepaard daarmee probleme wat opduik.

Mense moet asseblief kyk na hul voginname. Drink ten minste 2 liter of meer koue/koel vog in die tyd.

'n Mens verloor ongeveer 500ml vog net om asem te haal. As jy nie genoeg vog inneem nie, dan kry jy allerhande probleme ... 
* jou bloeddruk daal wat jou duiselig en naar laat en jy kan val en bene breek,
* jou brein verloor vog en jy sukkel om te onthou en raak deurmekaar, 
* jy kry blaasontsteking en wonder waarom, 
* jou bene en voete swel, want ons  harte trek swaar en dan wonder ons hoekom gebeur dit.

Al bogenoemde kan toegekryf word aan 'n vogtekort.

Sit die elektroliete terug deur hierdie relatiewe goedkoop resep.
1 liter OROS met 5ml sout in. Drink 10h00 en 15h00 250ml daarvan.
OF
Koop REHYDRATE by die apteek en maak 10h00 en 15h00 vir jou 250ml aan en drink dit.

Hierdie voorstelle is om die elektroliete wat ons verloor deur die hitte en sweet te probeer vervang. 

Probeer ook om KOEL te bly. Vermy dit om in sulke warm weer (as jy kan) tussen 11h00 en 16h00 buite te wees. Vermy aktiwiteite soos tuinwerk en stap. 

Onthou jou hoed as jy uitgaan in die son. Pas julself op in hierdie somertyd. 

Mooi dag en somer vir almal.
Sr. Annebelle

[Dankie, Babsie, dat jy hierdie wenke met ons deel.]