Saturday, 18 July 2026

Saterdaglagmedisyne - Nagmaalnaweek

Daar is van ons inwoners wat hulle sal kan vereenselwig met genoemde naweekgebeure.   

Op 'n sekere Karoodorpie was daar tot nie lank terug nie, nog tydens nagmaalnaweke "groot kerk" gehou. Dan word daar gedurende so 'n naweek vanaf Saterdagaand se voorbereidingsdiens tot Sondagaand se nabetragting nie minder as vyf dienste gehou nie.

Daar was nuwe intrekkers in die dorp en gedurende die eerste "groot kerknaweek" het die vroutjie haar hande vol gehad met haar vyfjarige seuntjie. Tydens die kinderdiens die Sondagmiddag, vlug sy uit radeloosheid na die moederskamer, want die mannetjie wil toe van stilsit en kerk toe gaan, niks meer weet nie.

Toe die diaken omkom met die kollektebord, het hy met groot belangstelling gesit en kyk hoe al die moeders geld ingooi. Toe die diaken uitstap, sê die mannetjie kliphard: "Hemel, Ma, dis dié dat hulle so baie kerk hou! Kyk net hoe baie geld maak hulle!"

No comments:

Post a Comment