Showing posts with label Ou vriende. Show all posts
Showing posts with label Ou vriende. Show all posts

Saturday, 9 December 2023

Inwonernuus: Nico du Toit - 'n jong aktiewe senior burger

Jacolette van Tonder het by geleentheid as gasspreker by 'n aftreeoord in Heidelberg opgetree en het onder andere die volgende gesê: "Ons almal hou daarvan om te ontvang, maar wanneer dit by gee kom is almal van ons skuldig daaraan om nie te wil gee nie.”

“Ons het almal liefde, tyd, ondervinding, raad, wysheid, empatie, bystand, glimlag en omgee wat ons aan ons medemens kan gee.”

Al bogenoemde kos niks, nietemin sit ons eerder in die kamers van 'n aftreeoord en bejammer onsself. Gaan uit en helder iemand se dag op wat dit nodig het. Omgee, empatie en liefde is mos deel van menswees. 
 
Een van Ons Huis se inwoners wat sy dae aktief deurbring, is Nico du Toit. Synde dat hy in sy eie woonstel bly, is kosmaak en aan die kant maak, deel van sy daaglikse bestaan, maar dit is ook hier waar die roetinedeel van sy lewe ophou. Nico is gebore in Dewetsdorp en matrikuleer te Paul Erasmus in Senekal. Hierdie inwoner wat die afgelope jaar Ons Huis sy tuiste noem, voel 18 jaar oud en dit is met hierdie positiewe uitkyk wat hy die lewe aanpak.
Sy oupa was 13 jaar oud, toe hy in Magersfontein tydens die Anglo-Boereoorlog teen die Engelse geveg het. Hierdie besondere verhaal is Nico besig om te boekstaaf, sodat die feite vir die nageslag behoue kan bly. Elke oggend na ontbyt klim hy in sy kar en doen hy die rondte van Vader Cloete en elke aand gesels hy en 18 vriende op sosiale media en ruil hulle die dag se nuusgebeure uit.   

Nico se pad was nie net maanskyn en rose nie en op 23-jarige ouderdom hoor hy dat sy been geamputeer moet word, maar deur groot genade staan hy vandag nog op sy twee bene. 'n Beroerte het hom nie verbygegaan nie, maar ook daar is hy geseënd.

Voor aandete sit hy op die stoep en kuier saam met die inwoners. Met 'n vonkel in die oog, 'n skerp brein en 'n heerlike humorsin, korswel en gesels hulle die wagtyd korter. As die inwoners se skredes eetsaal toe gaan, verdwyn hy met flinke treë in die rigting van sy  woonstel om ook sy innerlike te versterk.

Saturday, 30 July 2022

Die waarde van goeie vriende

"Ek het nooit op 'n bank gesit en met my Pa gesels nie ... toe ek trou, is ek uit die huis uit en ek het hom agtergelaat ...

Jare later, nadat ek getroud is, sit ek eendag saam met hom op sy rusbank met 'n koue koeldrank in die hand op 'n baie warm dag. Terwyl ons gesels oor die volwasse lewe, die huwelik, verantwoordelikhede en verpligtinge, is my Pa baie ingedagte en hy kyk na my met 'n ernstige uitdrukking.

'Moet nooit jou vriende vergeet nie' sê hy, 'hulle sal al hoe belangriker word, hoe ouer jy word.' 
'Ongeag hoe lief jy jou familie, jou vrou en jou kinders het, jy sal altyd vriende nodig hê.'
'Onthou om af en toe met hulle uit te gaan en te kuier, dinge saam met hulle te doen en hulle te bel ...'

Watse vreemde advies, het ek gedink! Ek is 'n getroude volwasse man, ons eersteling is op pad en sekerlik sal ons gesin en familie alles wees wat sin aan my lewe gee!

Ek het egter sy advies ter harte geneem, met my vriende kontak gehou en jaarliks het daardie getal stadig toegeneem! Oor die jare het ek besef my Pa het presies geweet waarvan hy praat!

Na 50 jaar van lewe, is dit wat ek geleer het:
  • Tyd gaan verby.
  • Die lewe gaan verby.
  • Afstand vergroot.
  • Kinders word groot, word onafhanklik en breek ons harte, want hulle beweeg aan in die lewe.
  • Werk kom en gaan.
  • Illusies, drange, aantrekkingskrag, seks ... word swakker.
  • Mense doen wat hulle nie veronderstel is om te doen nie.
  • Ouers sterf.
  • Kollegas vergeet gunste wat jy hulle gedoen het.
  • Die wedloop kom geleidelik tot 'n einde.
Maar ware vriende is altyd daar, ongeag hoe lank of hoeveel myle hulle van jou af is.

'n Vriend is nooit verder as 'n telefoonoproep nie, en hulle wag gewoonlik vir jou met oop arms, 'n glimlag op die gesig of 'n seënspreking vir jou lewe!

Toe ons hierdie avontuur begin het wat ons die LEWE noem, het ons nooit geweet van al die ongelooflike vreugde en hartseer wat dit op ons pad sal bring nie!

Ons het nie besef hoeveel ons van mekaar nodig sal hê nie.
Wees baie lief vir jou ouers, sorg vir jou kinders, maar behou 'n klomp goeie, dierbare vriende!

Opgedra aan al my vriende. Mag God julle elke dag seën en koester!

[Geleen vir internasionale vriendskapdag vandag]

Saturday, 5 June 2021

TOE IS DIT WINTER ...

Ek het dit eers vinnig gelees, tot ek by die derde sin gekom het ... Ek het opgehou en weer voor begin lees, maar dié keer stadiger - dit laat jou regtig stop en dink ... 

Jy weet ... tyd het 'n manier om vinnig te loop en jou onverhoeds te betrap sonder dat jy aan die verbygaande jare dink. Dit voel soos net gister wat ek jonk was. Tog, op 'n manier, voel dit soos 'n leeftyd gelede en ek wonder waar al die jare heen is. Ek weet dat ek almal geleef het, ek kry terugflitse van hoe dit tóé was, en ook van al my hoop en drome.

Maar hier is dit ... die winter van my lewe, en ek is verras ... hoe het ek so gou hier gekom? Waar is die jare heen, en wat het van my jeug geword? Ek onthou so goed hoe ek deur die jare na ouer mense gekyk en gedink het dat ek baie jare agter daardie ouer mense is, ... en dat die winter so ver weg was ... dat ek myself nie kon indink hoe dit moes wees nie.

Maar ... hier is dit ... my vriende word grys, en tree af ... hulle beweeg stadiger ... en ek sien nou ouer mense. Sommige lyk beter en ander slegter as ek ... maar, ek sien die groot verandering. Nie meer dié wat ek onthou wat jonk en lewenslustig was nie ... maar, soos ek, begin hulle ouderdom wys en óns is nou daardie ouer mense wat ek gesien, maar nooit gedink het ek ook sal word nie. Nou vind ek dat net om in die stort te klim 'n regte prestasie vir die dag is. En 'n middagslapie is nie meer 'n bederfie nie, maar 'n vereiste! Want as ek dit nie uit my eie vrye wil doen nie ... raak ek bloot aan die slaap net daar waar ek sit!

En so betree ek n nuwe seisoen van my lewe ... onvoorbereid op al die skete en kwale, en die verlies van krag en die vermoë om te gaan doen wat ek nog altyd wou, maar nooit het nie! Maar ten minste weet ek, hoewel my winter gekom het, ek nie seker is hoe lank dit sal duur nie ... weet ek dat, wanneer dit hier op aarde verby is, is dit verby ... 'n nuwe avontuur sal begin!

Ja, ek het verwyte, en ek is jammer oor dinge wat ek wens ek nie gedoen het nie, dinge wat ek moes gedoen het, en baie dinge wat ek gedoen het waaroor ek bly is. Dit is alles deel van 'n leeftyd.

So, as jy nog nie in die winter van jou lewe is nie, laat ek jou herinner dat dit vinniger hier sal wees as wat jy dink. So, wat jy ookal graag in jou lewe wil bereik, doen dit asseblief gou! Moenie dinge te lank uitstel nie! Die lewe gaan gou verby. Doen vandag wat jy kan, want jy kan nooit seker wees of hierdie jou winter is of nie! Jy het geen belofte dat jy al die seisoene van jou lewe gaan sien nie, so leef vir vandag en sê vir jou geliefdes al die dinge wat jy wil hê hulle moet onthou ... en hoop dat hulle jou waardeer en liefhet vir al die dinge wat jy vir hulle in jou leeftyd gedoen het!

Die lewe is 'n geskenk aan jou, en die manier waarop jy jou lewe leef, is 'n geskenk aan dié met wie jy dit deel. Leef goed! Leef voluit! Geniet vandag, élke dag! Doen iets wat jy geniet! Wees lief vir ander! Déél wat jy het, moenie net daarmee "brag" nie.

Goeie gesóndheid is ware rykdom, nie goud en silwer nie.

Vriendskap met familie en vriende is rykdom. As julle om watter rede ookal uitmekaar gedryf het, vergewe en vergeet ... leef vorentoe en nie in die verlede nie, want môre mag dalk nooit aanbreek nie!

Vandag is die oudste wat jy  nóg was en tog ook die jongste wat jy ooit sal wees - so, geniet hierdie dag vir solank dit duur!

Jou kinders is goed ... maar jou kleinkinders is volmaak!

Om uit te gaan is goed, maar om by die huis terug te kom is beter!

Jy vergeet name ... maar dis okay, want daar is mense wat vergeet dat hulle jou ooit geken het!

Die dinge wat jy altyd graag gedoen het, doen jy nie meer nie, maar jy dink nogal daaraan dat jy nie regtig meer omgee dat jy dit nie meer doen nie ...

Jy slaap beter in n leunstoel voor die blêrende TV as in jou bed ...

Jy mis daardie dae toe alles met net 'n AAN- of AF-skakelaar gewerk het ...

Jy is geneig om meer kort woordsinne te gebruik soos "waar?" "hoesê?" ...

Noudat jy duur juwele kan bekostig, is dit nie veilig om dit enigiewers te dra nie ...

Jy merk dat alles wat in winkels verkoop word, is "mouloos" ...

Wat altyd sproetjies was, is nou "lewervlekke" ...

Jy het 3 groottes klere in jou hangkas ... 2 waarvan jy nooit sal dra nie ...

Maar OUD is goed in sommige dinge: OU liedjies, OU flieks, en beste van alles ... OU VRIENDE!!!

Mooi bly, my OU VRIEND(IN)...!

Stuur hierdie aan OU VRIENDE ... dit is nie dit wat jy bymekaarmaak nie, maar dit wat jy uitdeel wat vertel van die soort lewe wat jy geleef het!

[Dankie, Babsie Swanepoel wat hierdie ongelooflike stukkie met ons deel.]