Showing posts with label Donkie. Show all posts
Showing posts with label Donkie. Show all posts

Wednesday, 27 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Skud dit af en trap daarop!

'n Boer se ou donkie het eendag in die put ingeval. Die ou dier het ure lank gebalk, terwyl die boer probeer het om 'n plan te maak. Uiteindelik besluit hy toe dat die ou dier reeds te oud is, en die put het in elk geval nie meer water in nie en moet dus maar toegegooi word. Toe nooi hy al sy bure om hom te help om die put op te vul. Elkeen het 'n graaf gebring en begin om grond in te gooi. Die ou dier besef wat aangaan, en protesteer luidkeels. 

Maar, tot almal se verbasing, word dit skielik stil. 'n Rukkie later loer die boer oor die kant van die put en sien wat gebeur. Die donkie skud elke graafvol grond wat op sy rug val, af en trap dit vas. Terwyl die span manne die grond ingooi om die put op te vul, skud hy die grond af en klim elke keer 'n tree hoër.

Uiteindelik tree die donkie oor die kant van die put en draf weg! As die lewe jou probeer onderkry deur alles wat op jou val, moenie moedeloos word nie. Skud dit af en gebruik dit vir 'n trappie boontoe. Moet net nie opgee nie. Skud dit af en trap daarop!

Tuesday, 23 January 2024

Dinsdag-denke: Hewige rusie

Donkie en Tier is in ‘n hewige rusie oor watter kleur die gras is.

Donkie hou voet by stuk dat die gras blou is, en tier stry en sê dis groen. Na bykans ‘n uur se gestryery maak Donkie die voorstel: “Kom ons gaan na Koning Leeu - hy is die slimste en sal vir ons die antwoord gee.” 

By Koning Leeu aangekom, val Donkie sommer met die deur in die huis. “Koning Leeu, ek sê die gras is blou, maar tier hou aan stry dat dit groen is. Watter kleur is die gras?” 

Leeu kyk die twee stip aan, dan gluur hy vir Tier. “Donkie is heeltemal reg,” brul hy. “Die gras is blou! En Tier, vir jou onnoselheid, mag jy vir 5 dae lank niks sê nie!” Doodtevrede bulk en dans Donkie terug na sy grasland toe om verder te wei. Tier kyk geskok na Leeu en vra: “Mag ek iets sê voor ek stilbly vir 5 dae? Jy weet net so goed soos ek dat die gras groen is! Waarom sê jy vir Donkie dis blou??!!” “Omdat jy so dom was om met hom te stry oor iets wat ‘n voldonge feit was,” antwoord Leeu droog. “Jy het jou soos ‘n donkie gedra!” 

Daar is nog ‘n voldonge feit waaroor niemand mag stry nie - ons het meer as genoeg rede om die Here te loof en te prys! Psalm 149 roep ons weer op om ‘n nuwe lied vir God te sing - kom ons kyk gou na wat die Psalm sê:
  • Maak jou loflied elke dag nuut! Elke dag gebeur daar iets met ons wat nie gister gebeur het nie - gebruik dit om teenoor mense oor God te getuig (vers 1). Vind daardie nuwe ietsie elke dag.
  • En dit hoef nie net liedere te wees nie - dans voor die Here (verse 2-3)! Slaan ritme met jou borsel op die spieëlkas. Borsel jou tande met ‘n vrolike ritme! 
  • God geniet dit so as ons Hom loof en prys, dat Hy dan sommer namens ons veg en vir ons die oorwinnings behaal (verse 4-6). Dit alleen is al reeds meer as genoeg rede om Hom onophoudelik en met groot genot te prys!
  • Ons lofsange teenoor God bind kettings om ons vyande se enkels, vernietig ons omstandighede wat ons probeer onderdruk en tel ons op bokant alles sodat ons saam met Hom kan triomfeer (verse 7-9).
  • Moenie jou soos ‘n donkie gedra en probeer stry oor dinge wat jy rondom jou sien nie. Wéét wat die waarheid is: die Here leef en regeer! Maak nie saak watse twak die lewe vir jou probeer vertel nie - hou aan om die Here te loof, want Hy regeer! Moenie eens met die wêreld probeer redeneer nie - hou net aan om die Here te loof! As tier maar net die onderwerp verander het en God begin loof het ... maar toe wil hy sy punt bewys deur te stry. Daar is geen rede vir ons om ‘n punt te bewys nie – dis reeds vir ons aan die kruis gedoen. Al wat ons nou moet doen, is om net die Here te loof!

Wednesday, 17 January 2024

Heerlike donkiegedagtes om die onthou in trurat te sit


Groblershoop – ons gooi diesel in. Ek klim af om bene te rek, sien die donkiekarretjie raak en gryp my kamera.

‘n Donkie maak altyd so ‘n outydse, tydlose foto van rustigheid. Ek vra eers toestemming, gesels’n bietjie, vra name, ook van die donkies - dis Magdom en Strydom. Ek groet hul met goeie wense vir die nuwe jaar en ‘n donasie.

Weer op pad herkou ek aan die donkiename - besef dis eerder Mag-dom en Stry-dom - dis ook nie verniet nie!

Ja, baie interessant, veral as ek terugdink aan vroeëre kuierplaasdae. Ja-nee, kyk, ‘n donkie is 'n steeks ding, ‘n moeilike een om iets te laat doen, al lyk Vaaltyn so rustig! Saggeaard? Glad nie, hoor! Vandaar die spreekwoord, steeks soos ‘n donkie -  nie verniet nie! Hulle wil nie gery word nie, word ook nie maklik ingespan nie.

Natuurlik, daarvandaan die name:
Mag-dom - dom donkie wat nie verstaan nie, wat ook met mag en mening teëstaan om ingespan te word.
Stry-dom - nog ‘n dom donkie wat stry en baklei teen ingespan te word.

(Dom donkie - ook ‘n ou sêwyse - vandag beslis uitgedien!)

Nouja, dié dat hul die donkies nie uitspan nie, maar laat staan en wag met die karretjie totdat die manne klaar hul drankies vir Krismis gaan koop het.

Ek onthou nog hoe my Pa vertel het van die donkievangery en inspan, eers voor en dan weer na skool.

Hierdie donkies was mak genoeg dat ek hul op die neus en hul ore kon streel - ek hou steeds van donkies, hul is vir my mooi, pragtig, het elkeen 'n eie persoonlikheid en herinner my aan ou vervloeë kinderdae toe ons met hul gespeel 
en hul probeer ry het.

Geniet elkeen se donkie-herinneringe!

[Dankie, Marguerite, vir hierdie heerlike reisgedagtes wat jy met die lesers deel - verseker gaan elkeen sy eie onthou hierby voeg. Klik HIER om foto's van Magdom en Strydom en nog dierbare donkies te sien. Geniet!]

Monday, 14 November 2022

Wat 'n lewe

In die begin het die Skepper die donkie geskape en vir hom gesê: 'Jy sal sonder ophou werk, vir 50 jaar leef en 'n donkie genoem word.' Die donkie antwoord toe: 'Ek sal 'n donkie wees, maar 50 jaar is te lank. Gee my net 20 jaar.' Toe kry hy 20.

Daarna het die Skepper die hond geskape en vir hom gesê: 'Jy sal die mens se huise oppas, sy beste vriend wees, alles eet wat hy vir jou gee, 25 jaar leef en 'n hond wees. 'Toe antwoord die hond: ' Om 25 jaar te leef is te veel, gee my net 10 jaar.

Toe word die bobbejaan geskape en vir hom gesê: 'Jy sal van tak tot tak spring, snaakse goed doen, mense vermaak, vir 20 jaar leef en 'n bobbejaan wees.' Die bobbejaan antwoord: 'Om 20 jaar te leef is te veel. Gee my net 10 jaar.

Laastens is die mens gemaak en vir hom gesê: 'Jy sal 'n mens wees, die heelal se enigste regdenkende wese. Jy sal jou intellek gebruik om alle diere te oorheers, die wêreld regeer, en vir 20 jaar leef. Die mens antwoord toe: 'Ek sal 'n mens wees, maar om net 20 jaar te leef is te kort, hoekom gee U my nie die 30 jaar wat die donkie nie wil hê nie, die 15 jaar van die hond plus die 10 jaar van die bobbejaan nie?' Toe doen die Skepper dit. Van toe af leef die mens vir 20 jaar soos 'n mens. Daarna trou hy en werk vir 30 jaar soos 'n donkie. Noudat sy kinders uit die huis is, spandeer hy 15 jaar soos 'n hond deur - die huis op te pas en te eet wat hy kry. En nadat hy afgetree het, leef hy 10 jaar soos 'n bobbejaan deur van kind tot kind te trek en allerhande snaakse dinge te doen om sy kleinkinders te vermaak. Dit is 'n lewe wat 'n mens nie eers vir 'n donkie, hond of bobbejaan sal toewens nie!

(NND/Kitsnuus 22/09/2000)