Showing posts with label Wysheid. Show all posts
Showing posts with label Wysheid. Show all posts

Friday, 25 September 2026

Gedig: Die Goue Oes

Die pad was lank, die draaie baie,
deur somerhitte en wintervlae.
Elke rimpel vertel sy eie storie,
van klein oorwinnings en verbygaande glorie.

Ons soek nie meer na die wêreld se geraas,
of om die vinnigste wedloop te haas.
Die ware wysheid lê nou stil en diep,
in die drome wat ons sagkens aan die slaap gesus het.

Dis die kuns om met vrede terug te kyk,
om te weet die siel is ryk.
Nie aan goud of silwer of aardse besit,
maar aan liefde, genade, en die krag van bid.

So stap ons aan in die laatmiddaglig,
met 'n dankbare hart en 'n sagte gesig.
Want die aandwind bring 'n diep verstaan:
elke tree was die moeite werd gewees om te gaan.

[Geskryf deur 'n KI-assistent]

Friday, 18 September 2026

Gedig: Kyk in genade terug ...

Soms in stille tyd,
as die geraas van die lewe verdwyn,
kyk jy terug na die jare wat verbybly.
Die hande is gerimpel, maar die gees is sterk,
gevul met die wysheid van 'n leeftyd se werk.
Grys hare is 'n kroon van erfgoed en vreugd',
'n stille genade uit 'n vroeëre jeug.
[AI]

Saturday, 4 July 2026

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt

Koos het bakore gehad.
"Koos," vra 'n maat op 'n dag, "pla daardie ore jou nie?"
"Nooit," antwoord Koos, "behalwe wanneer ek 'n rondekraagtrui aantrek."

oooOOooo

Hoekom sit Koos elke aand 'n stukkie kaas langs sy rekenaar neer?
Hy is bang die muis word honger. 

oooOOooo

Koos is met 'n blondine getroud. By die werk is hy die enigste mens met 'n deurskynende kosblik. Toe sy een kollega hom daarna vra, antwoord hy as volg: My vrou reken dan kan ek weet of ek werk toe of huis toe moet gaan.

Thursday, 18 June 2026

Ouma se wenke: 'n Bietjie wysheid

Die mooiste glimlag verberg die grootste hartseer;
Die sagmoedigste mense is al die ergste verneder;
Die mooiste oë het al emmers trane gestort;
Die warmste harte het al die meeste pyn gevoel;
Die stilste mense het die diepste geheime;
Die wat die gouste oordeel, het die meeste geraamtes;
Die wat die hardste lag,verberg die minste selfvertroue;
Die mooiste sprokie is die een in jou drome;
Die beste plek om te wees, is in iemand se hart;
Die gelukkigste mense is die dankbaarste;
Die beste dokters is mammas; 
Die wonderlikste geskenk is die geskenk van die Lewe;
Die onmoontlikste dinge is moontlik as ons glo.

[Idioom: Wie laaste lag, lag die lekkerste.] 

Thursday, 19 March 2026

Die 8-5-engel van kamer 57 het Dinsdag, 17 Maart 2026, gegroet ...

Marie Moses se pad het vir 'n wyle met dié van Ons Huis gekruis toe sy meer as die ekstra myl geloop het. Lees gerus die artikel HIER wat op 21 Maart 2019 geskryf is.   

Marie was 'n stabiele en gerekende pilaar in die gemeenskap. Sy was iemand wat gesag uitgestraal het. Haar ingebore statigheid het onwillekeurig respek van haar medemens afgedwing. Sy was 'n voorbeeld vir diegene wat haar pad gekruis het. Op haar stil manier kon sy jou aan die dink sit. Wysheid en logiese insig was deel van haar samestelling.

Sy het altyd gesê dat 'n mens nooit moet gaan stilsit nie ... dan gaan 'n mens gou dood. 'n Mens moet besig bly en op hierdie manier het sy ook gegroet.

Ons eer haar nagedagtenis - mag sy nog lank lewe in die harte van hulle met wie haar lewenspad gekruis het. 

Foto's: Linda Moses

Saturday, 27 December 2025

Saterdaglagmedisyne - vinnige denke


* Die baie jolige snaar word voorgekeer en kry 'n kaartjie vir bestuur onder die invloed.
"Jy," sê die jolige snaar, "sal agterkom dat jy dit nie aan my kan doen nie. My pa noem die Staatspresident neef, my ma noem die Eerste Minister op die voornaam en my vrou soengroet minstens drie ministersvroue."
Die verkeerskonstabel neem die kaartjie, skeur dit op en kanselleer die teenblad.
Toe skryf hy 'n nuwe kaartjie uit - vir bestuur onder die invloed van invloed.

* Gehoor van die blommeverkoper wat 'n man op straat voorgekeer het met die voorstel om 'n bos blomme vir sy meisie te koop?
"Ek het nie 'n meisie nie," is sy reaksie.
"Maar koop dan 'n bos blomme vir jou vrou," antwoord die blommeverkoper.
"Ek het nie 'n vrou nie," is sy antwoord.
"Nou koop dan twee bosse blomme vir jou geluk."

* 'n Taxibestuurder vervoer eendag 'n jong man, die seun van 'n baie bekende ryk man. Die jong man gee hom 'n goeie fooitjie toe hy afklim.
'n Week later vervoer die taxibestuurder die jong man se pa, maar dié gee hom geen fooitjie nie. Die taxibestuurder het dadelik sy ontevredenheid laat blyk.
"Jou seun het my dan so 'n goeie fooitjie gegee," kla hy.
"Ja, maar hy het 'n ryk pa," antwoord die ryk man.

Saturday, 11 October 2025

Saterdaglagmedisyne - Ons moet almal eendag sterwe, maar elkeen sterf volgens sy beroep:


Reisigers gaan heen.
Parlementslede op die groen kussings gaan sag heen.
Die melkman en die posman kom om.
Jagters gaan bokveld toe.
Kokke steek lepel in die dak.
Die horlosiemaker se tyd het aangebreek.
Die valskermspringer ontval ons.
Die tuinier is van die gras af gemaak.
Die melkboer het die emmer geskop.
Die begrafnisondernemer sien sy gat.
Die dominee het die tydelike met die ewige verwissel.
Die ouderling is ontslape.
Die koerantman is direk hemel toe.
Die skeidsregter het sy laaste asem uitgeblaas.
Die dokter se hart het gaan staan.
Die elektrisiën se liggie is gedoof.
Die koster het die doodsklok hoor lui.
Die kleremaker se draad is geknip.
Die Springbokrugby-afrigter kom tot rus.

Met erkenning: Fanus Rautenbach

Saturday, 23 August 2025

Saterdaglagmedisyne - allerlei


* 'n Ou vabond van sestig jaar oud word tot twintig jaar tronkstraf gevonnis.
"Baie dankie, edelagbare," sê hy aan die regter, "ek het nie geweet ek het nog só lank om te lewe nie." 

* Hendrik klim doodmoeg op die stampvol bus en kom te staan langs 'n man met 'n tas op die sitplek langs hom sit.
"Sal u asseblief so vriendelik wees om die tas te verwyder sodat ek kan sit?" vra Hendrik vriendelik. Maar hy kry geen antwoord nie.
"Wat is jou plan met die tas?" vra Hendrik na 'n wyle ergerlik.
Toe hy weer g'n antwoord kry nie, gryp Hendrik die tas en smyt dit by die venster uit. "En wat sê jy nou?" vra hy dreigend.
"Niks nie," kom die antwoord, "dis nie my tas nie."

* Jou geheue onthou goed wat 
jy graag wil weet,
maar kom iets in die lewe
wat jou vul met leed,
vind jy op jou oudag jy kan
dit nie vergeet,
jou gewete het jou geheue
knaend beet.
[ABC Kroonstad]

Saturday, 16 August 2025

Saterdaglagmedisyne -


* Ek het my suster gevra of sy 'n koerant gesien het. Sy antwoord dat koerante outyds is en gee my haar iPad. Daardie vlieg het nie 'n kans gestaan nie ...

* Onderwyser: "Word wakker, Pule! Jy kan nie in die klas slaap nie!"
Pule: "Ek kon, Juffrou, maar toe word ek wakker, want Juffrou praat so hard."

* 'n Joernalis voer 'n onderhoud met die dorp se oudste inwoner, wat 103 jaar oud is. Die oom is maar taamlik sieklik.
"Dit kan nie te lekker wees om só oud te word nie," sê hy vir die oom.
"Jy weet nie waarvan jy praat nie, seun. As ek nie só oud geword het nie, was ek nou al dood!"

* Hoe weet jy wanneer 'n man oud is?
Wanneer hy meer aandag aan die kos gee as aan die kelnerin. 

Saturday, 9 August 2025

Saterdaglagmedisyne - allegaartjie


Dogter: "Ma, kan ek asseblief 'n kat of hond vir Kersfees kry?"
Ma: "Nee, Skat, jy kry kalkoen, soos elke Kersfees."

* Onderwyser: "Watter boek het jou al die meeste gehelp in jou lewe?
Kind: "My pa se tjekboek."

* My vriend sê hy het die lyf van 'n Griekse god. Ek moes vir hom verduidelik dat Boeddha nie Grieks is nie.

* 'n Eskimo bring sy vriend na sy huis toe om te kom kuier.
"Waar is jou igloe?" vra sy vriend uit die veld geslaan toe hulle daaraan kom.
"Ag nee, ek het seker die strykyster aan vergeet ..." 

Saturday, 26 July 2025

Saterdaglagmedisyne - dit laat 'n mens dink


* 'n Leser het 'n klein koffiebeker in Windhoek gekoop. Daar was 'n groot verskeidenheid bekers om van te kies, maar die volgende uitdrukkings het my bygebly. 

# Elke outjie maak 'n foutjie.
# Wat nie doodmaak nie, maak vet.
# Om van ou dinge ontslae te raak ... verf hulle nuut.
# Ek is so ontsteld, 'n slang kan my vang.

* "Seun, ek en jou ma is nie baie tevrede met die meisie wat jy het nie."
"Jammer, Pa. Dis die enigste meisie wat ek kon kry met die motor wat Pa ry."

Saturday, 19 July 2025

Saterdaglagmedisyne - allerlei waarhede


* Watter soort groente is 'n moet in enige dieet?
Wortelkoek, mieliebrood en pampoentert.

* Hoe langer jy leef, hoe gouer gaan jy dood ...

* Iemand vra in die supermark vir my of ek dan nooit 'n koerant koop nie. Toe sê ek op die ingewing van die oomblik: "Nee, ek lees nie móre se ou nuus nie."

* Gister gehoor op RSG-boekvoorlesing met verwysing na polisievoertuie op 'n misdaadtoneel. "Dit lyk soos 'n kersboom op Ritalin"

Saturday, 12 July 2025

Saterdaglagmedisyne - Dieregeite


 ** Die rol van 'n voorsitter van 'n maatskappy is soms maar 'n lastige een, maar veral in die oë van die bestuur.
Soos Koos gevind het toe hy 'n troeteldierwinkel besoek het.
Daar sit drie papegaaie op 'n ry.
Aan die eerste een se poot hang daar 'n prys van R5 000.
"Hoekom is hy so duur?" wil Koos weet.
"Hy kan drie tale vlot praat: Afrikaans, Engels en Xhosa. Dit is 'n voël vir die Nuwe Suid-Afrika."
"En hierdie middelste papegaai? Hy kos R10 000. Wat kan hy doen?"
"Hy kan Afrikaans, Engels, Zulu en Xhosa praat. Boonop kan hy skryf ook. Dit is werklik 'n wonderlike papegaai."
"As hy R10 000 kos, moet die derde papegaai seker enig in sy soort in die wêreld wees. Ek sien hy kos R30 000. Wat kan hy doen?"
"Ek weet nie eintlik nie," sê die eienaar. "Maar die ander twee noem hom 'Meneer, die voorsitter"."

** Leeujag, sê hulle, onderskei die manne van die seuns. Dit is glo onlangs weer bewys toe twee manne in leeuwêreld op die spoor van 'n leeumannetjie afkom. Toestande het 'n bietjie gevaarlik begin lyk toe dit blyk dit moet 'n yslike leeu wees.
Dit is toe dat die bangste van die jagters met raad vorendag kom: "Volg jy om te sien waar hy heen is. Ek sal gou op die spoor terugstap om te sien waar hy vandaan kom.

Saturday, 5 July 2025

Saterdaglagmedisyne - Blondinegrappe


Aan die eertydse blondines in Ons Huis wat nou almal getooi is met grysheid en gepaardgaande wysheid: geniet hierdie grappies ...

* Hoe ken 'n mens 'n blondine uit by 'n begrafnis?
Sy is die een wat die ruiker probeer vang.

* Die blondine besluit op die ingewing van die oomblik dat sy in die tuin wil gaan slaap.
Sy wou soos 'n klip slaap.

* Een blou Maandag sien 'n brunet dat haar blonde buurvrou kort-kort na haar posbus toe trippel en dan met 'n frons op haar voorkop die huis instap.
"Verwag jy 'n belangrike brief?" vra die brunet.
"Nee," sê die blondine, "Maar my rekenaar hou aan sê ek het pos."

* Een van die blondines in die ouetehuis (wat nog nie grys geword het nie) staan en spring op en af in haar kamer.
Suster aan diens: "Het jy enige probleme?"
Blondine: "Nee, Suster, ek het vergeet om die bottel te skud, voordat ek die twee lepels medisyne gedrink het."    

[Saam met die blondine-grappies het daar ook heelwat Koos van der Merwe-grappe op die tafel beland. Een leser reken dat Koos nou al 'n hele klompie jaar in die ouetehuis is en dat die nuwe geslag nie meer vir Koos sal ken nie. Nog een rondte blondine-grappies, dan kry Koos 'n beurt!]  

Saturday, 28 June 2025

Saterdaglagmedisyne - Dieregeite


 ** Twee koeie sit en hekel in 'n boom.
Skielik vlieg 'n perd verby met 'n klomp strooi in sy bek. Die een koei kyk verbaas op en gaan voort met haar hekelwerk. 
Vir die tweede keer vlieg die perd verby, dié keer met 'n taamlike groot tak in sy bek. Die eerste koei kan dit nie meer hou nie.
"Het jy gesien? Daardie perd het nou twee keer hier verby gevlieg. Eers met 'n klomp strooi en nou met 'n tak in sy bek."
"Ag, moet jou nie daaraan steur nie. Hy het seker 'n nes hier êrens," sê haar hekelmaat.

** Oom Koos het 'n bokram by die kerkbasaar met die lotery gewen.
Die tante was maar nukkerig toe hy besluit om die dier te hou en huis toe te neem.
"Waar gaan jy die dier laat slaap?" vra sy.
"In die kombuis," antwoord hy.
"En die reuk?" wil sy weet.
"Hy sal maar daaraan gewoond moet raak."

** Twee luislange seil oor die pad. Skielik vra die een vir die ander: "Is ons giftig?"
"Natuurlik nie," antwoord sy maat.
"Dankie tog. Ek het nou net my lip raakgebyt."

Saturday, 21 June 2025

Saterdaglagmedisyne - Dieregeite


** 'n Man laat sy kat regmaak. Twee dae later kom sy buurman by hom en vra of hy gesien het hoe vreemd die kat ná sy operasie optree. 
"Nee, wat doen hy?" wil die eienaar weet.
"Man, ek het op my stoep gesit en die hele ding dopgehou. Hy het eers van jou werf af oor die muur na die linkerkant van jou erf gespring. Hy was nie 'n minuut daar nie, toe spring hy terug, loop na die erf agter jou en spring ook daar oor die muur. Hy was weer nie 'n minuut weg nie, toe is hy terug, stap na die muur van die erf regs van jou en spring weer oor. Weer dieselfde storie. Toe doen hy boonop dieselfde met die drie erwe oorkant die straat. In nie een van die ses gevalle was jy meer as 'n minuut weg nie."
"O, dis maklik om te verklaar," sê die eienaar. "Hy het maar net sy afsprake vir die volgende paar nagte gaan kanselleer."

** Twee manne het saam ten duurste 'n resieshond aangeskaf. Hy het elke wedren verloor en hulle het toe besluit om hom een laaste kans te gee. Maar weer was hy laaste.
"Wat sal ons nou met die hond maak?" wou die een eienaar weet.
"Kom ons hardloop vir hom weg," antwoord die ander een.

** 'n Muis hardloop eendag vir die kat weg. Hy is onder 'n lysie in die muur in en sit daar in die donker en wag.
Ná 'n lang ruk hoor hy 'n hond buite blaf. Aha, dink die muis, die kat is seker nou weg.
Die muis stap toe uit sy skuilplek uit en daar vang die kat hom en vreet hom op.
Die les in die storie: Wees tweetalig.

Sunday, 15 June 2025

Terugblik: Kleindogter wen met roerende opstel oor oupa

Hy was al die jare 'n boer en het nooit 'n CV nodig gehad nie. Toe skryf sy kleindogter *Mari vir hom die beste CV in die hele wêreld, sê die afgetrede mnr. Japie van Rensburg van Philippolis.

Met haar roerende opstel oor haar oupa Japie, het Mari Beukes (12), dogter van mnr. Fanie en Marietjie Beukes van Theunissen, 'n prys van R1000 losgeskryf in die departement van welsyn se opstelkompetisie vir die Jaar van die Bejaarde.

In Ek is lief vir my oupa skryf Mari:

"Ek sien my oupa so voor my. Vandat my ouma dood is, sit hy altyd alleen op sy vaalgroen stoep. Pyp skeef in die mond, beker rooibostee in sy hand.

Hy kyk ver oor die kalerige bossieveld en sien dinge wat net sy moeë oë kan sien. Hy sien eintlik net met een oog, maar met daardie oog sien hy meer as wat die meeste mense ooit sal kan sien.

Sy woorde is eintlik filosofieë, maar net hy weet dit. Hy en ek, want ek en hy ken mekaar "inside out." Die dinge wat hy sê, is vir my so mooi soos Shakespeare, so waar soos Desmond Tutu, so aards soos Langenhoven. Dis pure oupa-wysheid. 

Sy stories neem my na ver plekke. Hulle gee lewe aan die naamlose gesigte op die ou foto's. Hulle is nie swart letters op wit papier nie, maar warm woorde wat in die lug ronddryf en hulle lê op my hart kom kry. Hulle gee meer as wat hulle vra ... net soos hý altyd altyd gee waar ander nie wil nie.

Hy waarsku oor dinge en ek dink soms dis sommer "nonsens," maar dan sien ek hy was reg. Hy sê altyd: "Onthou, jammerhartigheid vreet sy eie baas." Hy weet hy is reg, maar tog raak hy gou jammer en bly hy gee en gee.

My oupa is nie geleerd of slim of belangrik nie. Hy het nie om die wêreld gereis of rekords geslaan nie. Hy is doodgewoon. Maar hy ken my en almal om hom so diep, hy weet sommer wat ons dink.

Hy kan die grootste probleme oplos. Nie wiskundeprobleme nie. Hart- en voelprobleme. Dan praat hy sulke fyn trooswoorde en verf my hele wêreld vol mooi dinge. Hy laat my voel of ek 'n ster is. Asof ek die een of ander wonderlike krag in my het. Hy glo in my. Hy sê hy weet ek kan enigiets doen wat ek regtig wil doen.

My oupa laat dink my partykeer aan die wind. Hy dra my deur slegte tye. Soos wanneer ek sukkel of verlang, maar in goeie tye laat hy myself vlieg. "Gaan kind, geniet dit!" hoor ek hom sê. Hy is nie 'n storm- of seermaakwind nie. Soms fluister hy my in die regte rigting en soms as ek nie wil luister nie, wag hy om my te vang.

Ek kry altyd die laaste stukkie biltong en hy sê ja vir al my kleinkind-versoeke. Dit is asof sy liefde nooit ophou nie. Dit vou my so lekker toe soos 'n wolkombers in die winter.

Hy weet wat Pa en Ma nog nie weet nie. Dat ek net nóú gaan klein wees. Dat ek vinniger as 'n lappie boontjies gaan opskiet die wye wêreld in. Is dit hoekom hy my so fyntjies versorg?

Mens lees in boeke van allerhande wyse manne wat nie toelaat dat omstandighede hulle breek nie. Wat hulself nooit bejammer nie en nooit ophou bid en glo en hoop nie.

My oupa is só 'n wyse man."  

*Mari is 'n leerling aan die Hoërskool Theunissen waar haar pa, Fanie, hoof is en haar ma, Marietjie, 'n onderwyseres. Sy is 'n ywerige leser en skrywer. In 1997 het Mari as negejarige 'n opstelwedstryd gewen oor waarom Bloemfontein die hoofstad van Suid-Afrika moet wees.

Volksblad: Donderdag, 23 Desember 1999 

[Ingestuur deur Ann]

Saturday, 14 June 2025

Saterdaglagmedisyne - Dieregeite


**  'n Onnutsige aap en 'n hiëna het eendag geredeneer oor wie die dapperste is. Volgens die spoggery sou nie een hom selfs deur 'n leeu laat rondjaag nie.
Terwyl hulle nog so gesels, kom daar juis 'n befoeterde leeu aan. Toe hy hulle sien, storm hy. Die aap is in die boom op, maar die hiëna kon nie betyds wegkom nie en 'n hewige geveg ontstaan.
Die hiëna het die spulletjie net-net oorleef. Terwyl hy nog bebloed onder die boom lê, klim die aap af en stap nader.
"En toe," sê die hiëna, "ek dog jy is so dapper en jy kom help my nie eens toe die leeu my pak nie."
"Ek is jammer, man," sê die aap. "Ek het gewonder of ek jou moet kom help, maar ek het gehoor jy lag so lekker. Ek dog toe jy is aan die wen!"

** 'n Blinde haas en 'n blinde slang loop mekaar per toeval raak.
"Wat is jy?" vra die slang.
"Voel maar,  sê die haas.
Die slang doen dit. Ná 'n paar minute sê hy: "Jou vel is so wollerig. Jou agterbene is so sterk. Jou ore is so lank. Jy moet 'n haar wees."
"Jy is reg. Maar wat is jy?" vra die haas.
"Voel maar," sê die slan.
Die haas doen dit. Ná 'n paar minute sê hy:  "Jou vel is so glibberig. Jou tong is so skerp. Jy voel so koud. Jy moet 'n aksepbankier wees."

** Gehoor wat die een skaap aan die ander gesê het tydens die destydse vragmotorversperring by Mooirivier? 
"Hel, ou maat, as dit so aangaan, kom ons nooit lewendig by die slagpale uit nie!" 

Saturday, 7 June 2025

Saterdaglagmedisyne - Blondinegrappe


Aan die eertydse blondines in Ons Huis wat nou almal getooi is met grysheid en gepaardgaande wysheid: geniet hierdie grappies ...

* 'n Blondine stap by die boekwinkel in om leesstof vir die naweek te koop.
"Ek wil graag 'n paar boeke koop," sê sy.
"Ligte of swaar leesstof?" vra die winkelassistent.
"Dit maak nie saak nie. Ek het my motor hier."

* "Hoe oud is jy vandag?" vra die blondine se beste vriendin vir haar.
Blondine: "Vier en twintig."
"En hoe oud is jou jonger suster nou weer?"
"Dertig."

* Hoekom begrawe die blondine haar kar?
Omdat die kar gevrek het.

* Hoe maak 'n blodine 'n mol dood?
Sy begrawe die ou molletjie lewendig.  

[Dankie aan almal wat so ywerig aan die blondine-grappe deelgeneem het.] 

Saturday, 3 May 2025

Saterdaglagmedisyne - Blondinegrappe


Aan die eertydse blondines in Ons Huis wat nou almal getooi is met grysheid en gepaardgaande wysheid: geniet hierdie grappies ...

* Wat dink julle kan 'n blondine tref, sonder dat sy dit agterkom?
'n Gedagte.

* Hoeveel blondines is nodig om wegkruipertjie te speel?
Een.

* Hoekom het die blondine PE toe getrek?
Dis makliker om te spel as Pretoria.

* Hoekom kan die blondine nie die syfer 11 skryf nie?
Sy het nie geweet watter een om eerste nie.

[Word vervolg.]