Showing posts with label Gewoonte. Show all posts
Showing posts with label Gewoonte. Show all posts

Thursday, 26 March 2026

Ouma se wenke: Skep gesonde gewoontes

* Gereelde oefening

* Gesonde kos

* Leef voluit

* Aanvaar nog steeds uitdagings

* Geniet die lewe

[Idioom: 'n Appel 'n dag laat die dokter wag.]

Friday, 20 June 2025

Klakouse word nie gebore nie, maar gemaak

ʼn Ou regte knorpot het altyd fout gevind met alles. Niks was ooit reg nie. Sy vrou besluit toe om te kyk of sy darem iets reg kan doen. Sy besluit om vir hom twee eiers vir ontbyt te maak - die een gebak en die een geroer, net om seker te maak hy het nie iets om oor te kla nie. Maar so maklik uitoorlê jy nie ʼn klakous nie. Toe die bord voor hom land, sê hy: "Ja-nee, nes ek gedink het, jy’t al weer die verkeerde eier gebak en die verkeerde een geroer." 

Foutvinders en klakouse sal ʼn mens nooit regtig tevrede kan stel nie.

Klakouse word nie gebore nie, maar gemaak! 

Dit gaan oor die manier waarop jy na die lewe kyk en wat jy graag wil raaksien. Iemand wat op ʼn pad ry, kan die hele tyd na die gate, hobbels of knikke in die pad staar. As jy hom vra wat hy gesien het, sal jy jou gou vertel: gate, hobbels en knikke! Dit is waaruit sy hele reis bestaan het. Die ander persoon wat dieselfde pad gery het, maar na die klowe en berge en blou lug en wolke en bome gekyk het, sal vir jou iets anders vertel ... van klowe, blou berge, pragtige bome. Dit hang dus af hoe jy kyk ... en dit is dan hoe die lewe vir jou is.

Die manier van kyk na die lewe leer ʼn mens vir jouself aan. Dit word ʼn soort gewoonte. 

As jy die hele tyd net fout wil soek, sal jy eintlik net foute kry. Dit sal al word waarna jy in die lewe kyk en al waaruit die lewe vir jou bestaan. Jy sal later niks meer kan doen sonder om te kerm en te kla nie. Jy sal selfs fout vind waar daar niks is om mee fout te vind nie, soos met ʼn gebakte en 'n roereier. As jy so word, het jy as knorpot en kritikaster gegradeer. Jy moes immers hard oefen om so te word.

Dit is so anders as wat die Here wil hê Christene moet wees. Daar is soveel meer in die lewe om raak te sien en te geniet. Daarom moet ons ons bes doen om sulke negatiewe lewenspatrone met alles wat ons het, te vermy. Kyk by ander se foute verby. Ons almal maak mos maar foute. Moenie te skerp kyk of te kwaai oordeel nie.

Maar ewe belangrik: Moenie te kwaai met jouself wees oor jóú eie foute nie. As jy nie in vrede met jouself leef nie, sal jy ook nie in vrede met ander kan leef nie. Aanvaar wie en wat jy is en vergewe ook jouself. Probeer net volgende keer om nie dieselfde foute te maak nie.

Kweek ʼn positiewe lewenshouding aan: een wat die eier met dankbaarheid eet soos dit kom.

[Geleen]

Tuesday, 8 August 2023

Dinsdag-denke: Wie is ek?

Jou beste vriend of grootste vyand, ek, is jou grootste metgesel. Ek is jou grootste helper of jou swaarste las. Ek sal jou op die pad vorentoe deurdra of jou aftrek tot op die bodem van mislukking. Ek is geheel en al onder jou bevel.

Die helfte van die dinge wat jy doen, kan jy net sowel aan my oordra en ek sal dit vinnig en effektief afhandel. Ek word baie maklik bestuur, maar jy moet streng wees met my. Wys my presies hoe jy ’n ding gedoen wil hê en na ’n paar lesse sal ek dit outomaties verrig. Ek is die dienskneg van alle vername manne, maar helaas, van die grootste mislukkings ook.

Dié wat vernaam is, het ek vernaam gemaak. Die wat mislukkings is, het ek mislukkings gemaak. Ek werk met die presisie van ’n wetenskaplike en met die passie van ’n patriot. Jy kan my gebruik vir profyt of vir mislukking, dit maak glad nie aan my saak nie.

Neem my, leer my, wees streng met my en ek sal die wêreld aan jou voete plaas. Maar wees ongeërg met my en ek sal jou vernietig.

Wie is ek?

Ek is gewoonte!