Sunday 31 March 2019

Monday 25 March 2019

Die "katterige inwoners" van Ons Huis ...

"Katterige inwoners" is 'n wêreldwye verskynsel. Hulle boek hulself by skoolkoshuise, fabrieke, hospitale en selfs ouetehuise in, ongeag of hulle enige vorms ingevul het, of hulle oud genoeg is vir die aftreeoorde en of hulle aan enige ander vereistes voldoen. Hulle wurm hulle in en alhoewel jy dit nie weet nie, kan `n kat 'n direkte impak op jou lewe hê, met baie spesifieke voordele.

Katte is nie moeilik om te versorg in teenstelling met ander diere nie. Verder is hierdie diere is baie intelligent. Katte kan op emosionele, sosiale en fisieke vlak ‘n baie belangrike ondersteunende rol speel in die lewens van hul menslike eienaars.

Katte bied vriendskap aan die eensames, onvoorwaardelike aanvaarding aan dié wat verwerp voel, en oefening en ontspanning aan die wat ‘n behoefte daaraan het.

Gaan lees meer van katte by hierdie webwerf en ook hier.





Klein Liza-Marie se oupa ...


Sunday 24 March 2019

Friday 22 March 2019

'n Welkome kuiertjie ...

'n Paar Moslem-bejaardes het die inwoners van Ons Huis op 1 Maart 2019 besoek. Hulle het liedjies gesing en na die tyd heerlike eetgoed aan die inwoners voorgesit. Hierdie omgee-gebaar het die inwoners baie geniet.

Nog foto's hier te sien.




How much love do you put in?


Thursday 21 March 2019

Die 8-5-engel van kamer 57 ...

Marie Moses
Daar is mense in die lewe wat ongesiens twee ekstra myle loop omdat hulle hartsmense is en werklik omgee. Een van daardie mense is Marie Moses. 'n Bekende en gerespekteerde vrou in haar gemeenskap wat weet dat die lewe soms soos 'n klipperige grondpad is, maar dat 'n mens met die krag van Bo weer by die teerpad uitkom, 

Ons het so 'n paar vrae vir haar gevra en dit het aanleiding gegee tot 'n heerlike middagkuier.

Vraag: Hoe lank bly jy al in Kimberley?
MM: Ek bly al 23 jaar in Kimberley. Ek het baie lank op Colleville naby Roodepan gebly.

Vraag: Hoeveel kinders het jy?
MM: Ek het vyf kinders gehad. Maar as ouer het ek die moeilike pad moes stap om vier kinders te begrawe. My dogter bly nou by my saam met haar kinders en ek is die trotse ouma van 11 kleinkinders en 6 agterkleinkinders. Hulle is almal baie lief vir my en besoek my gereeld.

Vraag: Wat is jou gunsteling kos?
MM: Ek is baie lief vir pap, vleis, kool en pampoen. Maar ek het 'n goeie hand as dit by vetkoek en roosterkoek kom. (Ons het gevra vir 'n lekker roosterkoekresep wat later geplaas gaan word.)

Vraag: Vertel 'n bietjie meer van jou kinderjare en wat julle gedoen het wat vandag se kinders glad nie sal ken nie.
MM: Ons het die doringboomgom gevat en in water gesit totdat dit sag is en dan het my ma suiker bygegooi en heerlik konfyt daarvan gekook. Om vir vandag se kinders te sê hoe dit gelyk en gesmaak het, kan ek dit met appelkooskonfyt vergelyk. Daar het ook so 'n vaal bossie, plat teenaan die grond gegroei en ons het daardie blare gepluk en tee daarvan getrek. Met 'n klein bietjie melk, was dit heerlik.

Vraag: Dit klink mos asof daar baie rate in daardie geheue gebêre word. Deel 'n bietjie van daardie rate met ons lesers.
MM: Vir verkoue is daar nie beter medisyne as wynruit en wildeals wat saam soos 'n tee getrek word nie. Vat so 'n paar blaartjies, spoel dit goed af, gooi in 'n beker en gooi dan kookwater daarop. Jy kan dit selfs in 'n potjie op die stoof trek.

Kankerbossie, dolosse van bene en 'n buiteoond
Kankerbossie het ons ook soos tee getrek en dit vir algemene gesondheid gedrink. Dit gee onder andere baie energie. En dan is daar die baie bekende raat vir 'n seer keel. Hierdie lang vygies wat orals op die sypaadjies in Kimberley groei, is eintlik medisyne. Druk die sap uit en drink dit. Dit smaak glad nie sleg nie. 

Vraag: Vertel 'n bietjie van jou kleintyd se onthoukos ... se nie-meer-vandag-se-kos nie.
MM: Ons het 'n grondoond langs die huis gebou. Dan maak ons vuur binne-in. Aan die agterkant van die oond is 'n gaatjie sodat die lug goed kan trek. As die vuur uitgebrand het, krap ons die kole uit en sit die broodpanne in. Die voorkant word met 'n sinkplaat toegemaak, wat ons dan met klei toesmeer om seker te maak dat die brode lekker bak. Soms is die oond nog warm genoeg vir 'n tweede rondte brode.   

'n Ander heerlikheid vir ons kinders was as ons ons eie kos gemaak het. Ons kinders het altyd die pampoenskille gevat as ouma klaar die pampoen geskil het en dan het ons dit in klein blokkies gesny en dit met melk op die vuur sag gekook. Hierdie lekkerny was die begin van ons koskooklesse.

Ek onthou ook hoe ons aartappels net so in die vuur gegooi het - tussen die kole. Dan het ons met 'n stokkie getoets om vas te stel hoe ver van gaar af die aartappel is. As die aartappel die stokkietoets geslaag het, het ons die skille afgetrek en dit met 'n bietjie sout geëet.

Skaapvet met stroop gemeng was heerlik op brood, maar dit moet die sagte skaapvet wees.

Ek sien dat 'n mens deesdae pampoenpitte in pakkies koop en dat dit as 'n gesonde happie bemark word. Ons het jare terug as klein kinders die pampoenpitte in 'n kastrolletjie geroerbraai totdat dit lekker bruin is. Daarna het ons dit afgedop, want die lekkerte het binne gesit. Ons hou almal van afval. Vandag se kinders trek hulle neuse daarvoor op. Die lekkerste deel van die afval is die sagte vleisie by die kakebeen. So af en toe koop ek nog vir my 'n afval en maak dit baie mooi skoon. 'n Mens kan afval op twee maniere kook - as jy die afval wil proe, kook jy dit net met sout. Anders kan jy kerrie bygooi, baie mense verkies kerrie-afval. Later sit jy aartappeltjies en uie by. Hierdie is koningskos.     

Vraag: En waarmee het julle kinders gespeel?
MM: Die seuns het draadkarre en draadfietse gebou. Ons het met dolosse gespeel. Ons meisiekinders het lappoppe gemaak en dit gestop met klein onbruikbare stukkies lap. Hierdie poppe het ons dan aangetrek met klere wat onsself gemaak het en met 'n pen het ons lewe aan ons poppe se gesigte gegee. Van die geronde wenkbroue tot by die vriendelike mond.

Vraag: Wat het jy die afgelope tyd waargeneem hier in die siekeboeg?
MM: Die personeel hier het baie liefde en baie geduld. Jy kan nie hier werk, as jy nie 'n omgeemens is nie. Hier raak mense soos familie. Maar hier is 'n tekort aan hande. Dis so jammer dat almal te besig is om uit te reik na plekke waar daar werklik nood is.

Monday 18 March 2019

Sunday 17 March 2019

Ons Huis: Kliniek se engele ...

Estelyn Coakley
Ons wil graag hierdie jaar 'n bietjie van die personeellede se gedagtes en gesprekke met die lesers deel. Op hierdie manier gaan ons mekaar ook beter leer ken en gaan Ons Huis werklik soos 'n tuiste voel.

Die eerste personeellid wat lukraak gekies is om 'n paar vragies te beantwoord, was Estelyn Coakley. Sy was juis op pad na 'n weeklange kursus in Bloemfontein, toe sy 'n vinnige paar minute afgeknyp het. Krediete wat hulle vir hierdie kursus kry, kan bydra tot verdere studiemoontlikhede

Vraag: Hoe lank werk jy al by Ons Huis?
EC: Ek is al 5 jaar hier.

Vraag: Wat is die lekkerste deel van jou werk by die kliniek?
EC: Ons lag elke dag by die werk. Ons hoor elke dag iets by die bejaardes wat ons dag opkikker.

Vraag: Wat is jou gunsteling kleur?
EC: Rooi, want ek dink dit pas baie goed by my gelaatskleur.

Vraag: Wat is jou gunsteling kos?
EC: Ek is nie iemand met fiemies nie, maar hoender is vir my heerlik. Ek is natuurlik baie lief vir kook.

Vraag: Het jy 'n boodskap vir die lesers en veral die plaaslike inwoners van Kimberley?
EC: Elke dag is 'n uitdaging, maar my werk is ook my passie. My hart gaan uit na só baie senior burgers wat fisies en finansieel mishandel word. Die verwaarlosing van die bejaardes in ons gemeenskap moet op almal se gewete rus. Ons gaan nog almal oud word. Bejaardes is baie blootgestel en só kwesbaar en tog vind ons dit goed om ons kop weg te draai, Kerke, die gemeenskap, maatskaplike werkers is maar enkele instansies en mense wat 'n helpende hand kan uitsteek. Die tuisversorgers kan soveel meer doen, as daar net meer hande is ...

Vrywilligers ons het julle regtig nodig. Kom kuier hier vir ons by Ons Huis en raak betrokke.

Saturday 16 March 2019

'n Bui reën kan 'n mens se perspektief verander ...

As 'n mens mooi na die agtergrond van hierdie prent kyk, lyk dit amper asof die see in die agtergrond lê of dalk 'n bergreeks!

Thursday 14 March 2019

Raak betrokke: skenk 'n matriekafskeidrok!

Die Gemeenskapsontwikkelingswerker van die maatskaplike kantoor van ACVV Kimberley help minderbevoorregte kinders van Soul City en Leratopark met uitrustings vir hul matriekafskeid. Ons doen hiermee ‘n beroep op enige iemand om ‘n aandrok/ke wat u nie meer gebruik nie aan die ACVV te skenk vir hierdie projek. Baie dankie byvoorbaat vir u bereidwilligheid om te help.

Tuesday 12 March 2019

Dankie vir die geseënde sangdiens ...

Lidmate van AP Kerk, Die Kruis, het Sondag, 24 Februarie 2019 Ons Huis besoek. Deel van hulle welkome besoek het 'n sangdiens ingesluit. 

Die inwoners het dit baie geniet. Dit is altyd lekker om besoeke van ander instansies te kry. Ons Huis se inwoners besef dat tyd 'n baie skaars kommoditeit is, iets wat jy nie het as jy jonk is nie, maar volop is in jou senior jare ... party dae kan nogal lank raak en daarom is sulke besoekies baie kosbaar. Kom kuier gerus weer!

Gaan loer hier vir nog foto's.



Wednesday 6 March 2019