Saturday 30 July 2022

Die waarde van goeie vriende

"Ek het nooit op 'n bank gesit en met my Pa gesels nie ... toe ek trou, is ek uit die huis uit en ek het hom agtergelaat ...

Jare later, nadat ek getroud is, sit ek eendag saam met hom op sy rusbank met 'n koue koeldrank in die hand op 'n baie warm dag. Terwyl ons gesels oor die volwasse lewe, die huwelik, verantwoordelikhede en verpligtinge, is my Pa baie ingedagte en hy kyk na my met 'n ernstige uitdrukking.

'Moet nooit jou vriende vergeet nie' sê hy, 'hulle sal al hoe belangriker word, hoe ouer jy word.' 
'Ongeag hoe lief jy jou familie, jou vrou en jou kinders het, jy sal altyd vriende nodig hê.'
'Onthou om af en toe met hulle uit te gaan en te kuier, dinge saam met hulle te doen en hulle te bel ...'

Watse vreemde advies, het ek gedink! Ek is 'n getroude volwasse man, ons eersteling is op pad en sekerlik sal ons gesin en familie alles wees wat sin aan my lewe gee!

Ek het egter sy advies ter harte geneem, met my vriende kontak gehou en jaarliks het daardie getal stadig toegeneem! Oor die jare het ek besef my Pa het presies geweet waarvan hy praat!

Na 50 jaar van lewe, is dit wat ek geleer het:
  • Tyd gaan verby.
  • Die lewe gaan verby.
  • Afstand vergroot.
  • Kinders word groot, word onafhanklik en breek ons harte, want hulle beweeg aan in die lewe.
  • Werk kom en gaan.
  • Illusies, drange, aantrekkingskrag, seks ... word swakker.
  • Mense doen wat hulle nie veronderstel is om te doen nie.
  • Ouers sterf.
  • Kollegas vergeet gunste wat jy hulle gedoen het.
  • Die wedloop kom geleidelik tot 'n einde.
Maar ware vriende is altyd daar, ongeag hoe lank of hoeveel myle hulle van jou af is.

'n Vriend is nooit verder as 'n telefoonoproep nie, en hulle wag gewoonlik vir jou met oop arms, 'n glimlag op die gesig of 'n seënspreking vir jou lewe!

Toe ons hierdie avontuur begin het wat ons die LEWE noem, het ons nooit geweet van al die ongelooflike vreugde en hartseer wat dit op ons pad sal bring nie!

Ons het nie besef hoeveel ons van mekaar nodig sal hê nie.
Wees baie lief vir jou ouers, sorg vir jou kinders, maar behou 'n klomp goeie, dierbare vriende!

Opgedra aan al my vriende. Mag God julle elke dag seën en koester!

[Geleen vir internasionale vriendskapdag vandag]

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Dokter aan pasiënt wat baie slegte rokershoes het en ooglopende tekens van te veel drank toon: Hoeveel sigarette rook jy per dag?
Pasient: So 40 dokter. Dokter: 
Dink jy jy sal dit kan opstoot na 80 per dag? 
Pasient (wat gemeen het hy gaan aangespreek word oor sy 40): Seker dokter, maar hoe dan so?
Dokter: Miskien val een van jou longe plat en dan is daar meer plek vir jou lewer!

[Nog genotjies HIER

Wednesday 27 July 2022

Woensdag-wysheid

Geluk is die resultaat van liefde en diens.
Wees man in die lewe, kind in die natuur
[Reenick]

Tuesday 26 July 2022

'n Warm winterbasaar

 

ACVV-basaar: 29 Julie by Diamantveld Kerk.

Jy is uitgenooi - bring jou gesin, jou bure en skoonfamilie saam. Kom ondersteun die ACVV Maatskaplike Dienste en Ons Huis se winterbasaar!

Hope pret en eetgoed vir die hele gesin. Mickey Mouse gaan die kinders in persoon vermaak. Sorg dat jy daar is om saam met hom te sing en te dans. Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie.


SIEN JOU DAAR!!

Monday 25 July 2022

Ons Huis - agtergrond

Ons Huis
 is die breinkind van die ACVV-tak in Beaconsfield o.l.v. die destydse presidente, mev. N Powell. Hulle was slegs 'n handjievol lede, maar met ongekende ywer, het hulle die besef dat daar 'n dringende behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes is, 'n werklikheid gemaak.

Die deure van Ons Huis, wat op die hoek van Rosestraat en Dyerplek geleë was, word in 1943 oopgesluit. Dutoitspan Kerk was baie nou betrokke by die ouetehuis wat op daardie stadium regoor die kerk geleë was. Die gebou het egter spoedig te klein geword en in 1957 het die inwoners na die gebou in Ariadnelaan verhuis. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene.

Die waglys het bly groei, sodat daar vroeg in die sestigerjare weer 'n vertoë gerig moes word om uit te brei. Hierdie uitbreidings is in 1966 voltooi, Nog later is die vleuel vir die verswakte bejaardes aangebou.

Die ACVV is 'n nie-winsgewende organisasie wat o.a. dienste lewer aan ouer persone. Ten einde volhoubaarheid te verseker is hulle hoofsaaklik afhanklik van goedgunstige donasies. Verskillende kerke, besighede en individue in Kimberley en omstreke is die rede dat Ons Huis se deure ten spyte van bitter moeilike ekonomiese tye, nog oop kan bly. Langs hierdie weg wil die ACVV Ons Huis hulle opregte dank en waardering uitspreek. Dis hierdie donateurs wat die finansiële las van die tehuis ligter maak.

Ons Huis skenk aandag aan die versorging van ouer persone, asook die versorgingsbehoeftes van mense wat leef met Alzheimers en Dementia. 

Ons Huis se gekwalifiseerde personeel is 24 uur beskikbaar om hulp te verleen met daaglikse behoeftes en tydens die Covid-19-tyd is die ekstra myl geloop. Hulle eerste prioriteit is ons inwoners en hul behoeftes. Hulle bied sekuriteit, hoop, lewenskwaliteit en ‘n menswaardigheid aan elke inwoner. 'n Inhuis-biblioteek en -haarsalon is van die geriewe wat beskikbaar is. 

Ons Huis is bekend in die Noord-Kaap en volgende jaar vier dié instansie sy 80ste jaar van diens aan die gemeenskap. In mensjare is dit reeds 'n gevorderde ouderdom, maar saam met die ouderdomspyne, (dit sluit ook die groeipyne in die beginjare in), het wysheid, insig en kennis van die digitale era ook gegroei.

[Klik HIER om verder te lees.]

Vandag se internetgebed vir jou

Saturday 23 July 2022

Wat Verander as Ons Bid?


“Gebed verander alles”. Dit is ʼn mooi uitspraak wat ek êrens op ʼn bord gelees het. Maar is dit werklik waar? Watter verskil maak my gebed nou presies? Ons sê dat God ons gebede verhoor, maar hoe beleef jy dit? Maak my gebed rêrig ’n verskil ? Word jy werklik genees van die siekte, omdat jy daarvoor gebid het? Of is dit die medisyne wat maar net hulle werk doen – ook al sou jy nie vir genesing bid nie? Daarby kan ’n mens ook vir jouself die vraag vra: “Wat beteken gebed vir my?”

Klik HIER vir die res.

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Die Belg hoor hy is verplaas na Suid-Afrika en is baie ontsteld daaroor, want hy het gehoor van al die moorde, diefstal en skakings. Toe hy agterkom die ou wat langs hom in die kroeg sit, is 'n Suid-Afrikaner, vra hy hom dadelik uit.
'Nee, man, ou pel,' sê die Suid-Afrikaner, 'Suid-Afrika is 'n lekker plek om te bly. Jy kan
gratis vir jou 'n huis enige plek gaan opslaan, jy hoef nie te kan lees en skryf om matriek te slaag nie, en as jy jou werk verloor sluit jy aan by die ANC en word 'n parlementslid.'
'En,' vra die Belg, 'wat voor werk doe je?' 
'O, ek?' sê die Suid-Afrikaner, 'Ek is die rear gunner op 'n broodafleweringswa.' 

[Nog genotjies HIER]

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Waarhede of naarhede?

  • Siekefondse is nes 'n hospitaaljurk : jy dink maar net jy's ten volle gedek.
  • 'n Skinderstorie is nes 'n eier - as hy eers uitgebroei het, kry hy vlerkies.
  • As 'n man rats spring om die motordeur vir 'n vrou oop te maak, kan jy maar weet dis of 'n nuwe vrou of 'n nuwe motor.
[Nog genotjies HIER]

Thursday 21 July 2022

Hoe lyk die lewe van ’n ware dissipel van Jesus?

Theo Geyser gee die beste samevatting van wat 'n ware dissipel is. Maak hierdie samevatting jou eie in jou lewe as dissipel van Jesus.

– Dissipels laat toe dat ander hulle blinde kolle aan die lig bring.

– Dissipels weet wie hulle vandag liefgehad het.

– Dissipels leef met die regte vrae, nie met die regte antwoorde nie.

– Dissipels ken stilte voor woorde.

– Dissipels weet die koninkryk van God is binne-in hulle.

– Dissipels weet hoe om elke dag dood te gaan.

– Dissipels is gedurig besig om balke te saag sodat die splinters hulle nie pla nie.

– Dissipels kies transformasie bo informasie.

– Dissipels offer nie net gebede aan God nie, maar wórd die gebede.

– Dissipels weet dat elke goeie somer deur ’n goeie winter moontlik gemaak word.

– Dissipels leef vanuit die oorvloed van eenvoud.

Here Jesus, dankie dat ek u dissipel kan wees. Maak my gewillig in my diens aan U, sodat ander ook u liefde en genade deur my kan ervaar. Dankie dat ek voluit kan leef omdat ek weet U is altyd by my. Amen. 

Wednesday 20 July 2022

Onthou: 29 Julie - die basaardatum!

Woensdag-wysheid

“Woorde is u verfkwas, en u lewe is die doek. Jy kan verf wat jy ook al wil verf. ”
[Miguel Ruiz] 

Tuesday 19 July 2022

Dinsdag-denke: Sukses

Die jong man ontmoet die wyse ou man wat langs die pad sit. Die jongman vra die wyse ou man, “Watter rigting is die pad na sukses?”

Die wyse ou man met die groot grys baard praat nie ’n woord nie, maar beduie net met sy vinger na ’n plek wat ’n ent daarvandaan is.

Die jongman, baie opgewonde oor die moontlikheid van vinnige en maklike sukses, trek op ’n drafstappie daar weg in die rigting wat die wyse ou man beduie het. Skielik, is daar net ’n luide “KADOEF” hoorbaar. Uiteindelik, kom die jongman kruppel, vol skrape en effens bedwelmd by die wyse ou man aan. Hy neem aan dat hy dalk die wyse ou man se boodskap verkeerd verstaan het. Hy herhaal sy vraag aan die wyse ou man, wat weereens in stilte in die dieselfde rigting beduie.

Gehoorsaam stap die jongman weereens in die aangewese rigting. Hierdie keer is die KADOEF oorverdowend soos die jongman homself disnis val. Toe die jongman terug kruip is hy bebloed, sy klere geskeur, vol blou en pers kolle en baie geïrriteerd. “Ek het jou gevra watter rigting is die pad na sukses!” skreeu hy op die wyse ou man “ek het die rigting gevolg soos jy beduie het en al wat ek daarvoor gekry het, was KADOEF soos ek val! Niks meer van hierdie beduiery nie! Praat!”

Slegs toe begin die wyse ou man te spreek en sê die volgende aan die jongman, “Sukses IS in die rigting wat ek jou beduie het. Dis net ’n klein entjie anderkant KADOEF. Jy moes net opstaan en aangehou het na die val.”

[Geleen]

Monday 18 July 2022

Winterbasaar

ACVV-basaar: 29 Julie by Diamantveld Kerk.

Jy is uitgenooi - bring jou gesin, jou bure en skoonfamilie saam. Kom ondersteun die ACVV Maatskaplike Dienste en Ons Huis se winterbasaar! 

Hope pret en eetgoed vir die hele gesin. Mickey Mouse gaan daar wees om saam met julle te sing en te dans. Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie.

SIEN JOU DAAR!!

Vandag se internetgebed vir jou


 

Saturday 16 July 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Daar's net 3 maniere om huistakies te verrig :
Soos 'n BEJAARDE: stadig.
Soos 'n VOLWASSENE: deeglik.
Soos 'n TIENER: glad nie.

[Nog genotjies HIER]

Wednesday 13 July 2022

ACVV-winterbasaar

ACVV-basaar: 29 Julie by Diamantveld Kerk.

Jy is uitgenooi - bring jou gesin, jou bure en skoonfamilie saam. Kom ondersteun die ACVV Maatskaplike Dienste en Ons Huis se winterbasaar!

Hope pret en eetgoed vir die hele gesin. Mickey Mouse gaan die kinders in persoon vermaak. Sorg dat jy daar is om saam met hom te sing en te dans. Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie.

SIEN JOU DAAR!!

Woensdag-wysheid

"Die nederlaag kan sowel as 'n oorwinning dien om die siel te skud." - Edwin Markham 

Monday 11 July 2022

Vandag se internetgebed vir jou

Jesus, maak ons oë oop, 
sodat ons U werke kan sien, 
in ons en om ons. 
Maak ons harte oop 
en vul dit met U liefde. 
Here, maak ons sterk in U krag, 
sodat ons vreesloos kan voortgaan op ons pad van lig. 
Ons kan maar net rondom ons kyk om die werke van U Hande te sien en vas te glo U is dáár en steeds in beheer, te midde van wat in ons lewe gebeur! 
Daarom ... as ek opkyk na die sterrespikkels teen die tentdak van die Heelal ... As ek onthou dat die dagbreek slegs sal kom as God dit so gebied ... Dan wil ek kniel, 
dan wil ek met my lippe teen die grond vir Hom fluister ...
U is Wonderbaar, U is magtig ... 
U is in elke nuwe dag se breek. 
Amen!

Resep: lemonade

Suurlemoene is volop en baie van hierdie goue vrugte propvol vit. C gaan verlore. Hier is 'n vinnige resep om die dors te les en die vrugte se "lewe" te verleng.

Rasper 4 suurlemoene se skil op die fynkant van die rasper en gooi dit  in ‘n kastrol saam met 4 k suurlemoensap.
¼ t sout
4 k suiker

METODE:
Roer oor matige hitte met houtlepel tot suiker gesmelt is.
Moenie kook nie.
Koel af en gooi in bottels en bêre in yskas.
Gebruik 1 deel stroop met 6 dele yskoue water of sodawater.
Bedien in glase met ysblokkies (in die somer).

[Stuur gerus vir ons nog resepte, veral maklike resepte wat nie baie tyd verg om te maak nie. Klink intussen 'n glasie lemonade op die heerlike vrugte wat so ongesiens hulle kant in ons tuine bring.]

Sunday 10 July 2022

Die lewe is soos visvang

Die lewe is soos visvang ... ons is soos 'n visstok*
party dae gooi die lewe jou hard,
ander dae staan jy alleen in n hoek,
party dae breek jou lyn,
ander dae sit jy vas op moeilike plekke.
Alles hang net af van die persoon wat jou vashou,
jou beheer en in wie se hande jy geplaas is.
Vertrou op die Here
en terwyl Hy jou beheer
sal Sy hand altyd daar wees vir jou en jou steun!!

[Dankie, Lynette!]

Saturday 9 July 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Klein Jannie en sy gesin eet Sondagmiddag by Ouma. Net toe almal aan tafel is, begin Ouma die kos opskep.
Toe Jannie sy bord kos ontvang, begin hy dadelik eet.
"Jannie, asseblief!!" sê sy ma. "Wag asseblief tot ons gebid het."
"Ek hoef nie," sê hy dadelik.
"Natuurlik moet jy!" antwoord sy ma. "Ons bid altyd voor ons by die huis eet."
"Ja, maar dit is by ons huis" verduidelik Jannie. "Maar hierdie is Ouma se huis, en sy weet hoe om te kook."

Wednesday 6 July 2022

Ek sê die volgende elke dag vir myself ...

Wanneer ek wakker word, sê ek: "Ek is lief vir U, Jesus."
Wanneer ek die huis verlaat, sê ek: "Jesus, kom saam met my."
Wanneer ek hartseer is, sê ek: "Jesus, vertroos my."
Wanneer ek blymoedig voel, sê ek: "Jesus, ek aanbid U."
Wanneer ek iets aanpak, sê ek: "Jesus, help my."
Wanneer ek 'n fout maak, sê ek: "Jesus, vergewe my."
Wanneer ek gaan slaap, sê ek: "Dankie, Jesus. Bedek my met U heilige mantel."
Ek is so dankbaar dat Jesus my altyd liefhet en deur al my moeilikheid dra.

[Audrey Morty - Juig Februarie/Maart 2022 bl.79]

Woensdag-wysheid

“Die lewe gaan nie oor jouself nie. Die lewe gaan daaroor om jouself te skep.” -George Bernard Shaw
 

Tuesday 5 July 2022

Die seën van verstaan ...

Geseënd is jy as jy verstaan dat my hande bewe en my voete stadig geword het.
Geseënd is jy as jy daaraan dink dat my ore nie meer goed hoor nie en dat ek nie meer alles verstaan nie.

Geseënd is jy as jy weet dat my oë nie meer goed sien nie, as jy nie kwaad word wanneer ek die mooiste koppie laat val of omdat ek vir die soveelste maal dieselfde storie vertel nie.

Geseënd is jy as jy my toelag en my vra na die dae van my jeug.
Geseënd is jy as jy sagkuns met my omgaan, my stille traan begryp en my laat voel dat iemand vir my omgee.

Geseënd is jy as jy langer by my bly wanneer dit orals donker word en my hand vashou wanneer ek alleen die nag moet in; die nag van die dood.

Geseënd is jy.
Wanneer ek in die hemel kom, sal ek die sterre vir jou aansteek.

[Uit: Neem tyd om gelukkig te wees - Phil Bosman] 

Dankie, Meisie, dat jy Phil Bosman se waarhede met ons deel.

Dinsdag-denke: Laste Gee Ons Vlerke

Daar is ‘n baie ou legende wat vertel dat lank gelede het God baie laste gehad wat hy wou verskuif van een plek na ‘n ander plek op aarde. Hy het al die diere gevra om Hom te help.

Maar almal van hulle het een of ander verskoning gehad hoekom hulle nie die laste kon dra nie. Die olifant het gedink hy is te waardig vir die taak, die leeu te trots en so het elke dier ‘n ander verskoning gehad.

Eindelik kom die voëls na God en sê: “As U die laste in klein bondeltjies maak sal dit vir ons ‘n baie groot eer wees om die laste te verskuif vir U. Ons is nou wel klein en tingerig, maar wil graag help.”

God het die laste in klein bondeltjies verdeel en dit vasgebind op die rug van elke voëltjie en hulle het begin stap na die bestemming wat bedoel was vir die laste. Hulle het vrolik gesing terwyl hulle stap en dit het glad nie gelyk of die gewig van die laste vir hulle in die minste te swaar was nie.

Elke dag het die laste vir hulle ligter en ligter gevoel totdat dit later gelyk het asof die laste die voëls dra en nie die voëls die laste nie.

Toe hulle by hul bestemming arriveer ontdek hulle, nadat die laste afgehaal is, dat daar vlerke op hul rûe is waar die laste eens was. Vlerke wat hulle in staat stel om die lug in te vlieg tot by die hoogste boomtoppe.

Hulle het geleer hoe om hul laste te dra en hul laste het vlerke geword wat hulle nader gedra het tot God.

Laste wat ons vir ander dra, word vlerke van Geloof wat ons ophef in blydskap soos ons nog nooit ervaar het nie.

-Aangestuur-

Monday 4 July 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Na jou droogte

Groete en Vrede!!! 

Daar lê meer as ‘n handvol droogtes en amper heel te veel Kalahari-somers in die bejaarde Kalahari-boer se gisterdae. Hy is blou jare gelede hier op hierdie spesifieke plaas gebore. Sy pa was een van die dapperes wat die Kalahari kom inbreek het. En hier, net hier op hierdie Kalahari-plaas, het hy opgegroei, sy Skepper ontmoet en ook sy verstaan gekry, verlief geraak, lateraan getrou. En hier op hierdie selfde plaas word hy en sy eg saam-saam oud.   

Vandag word water gery. Net ons twee - ek en hierdie gryse Kalahari-boer met sy etsblou oë en son geskroeide vel wat nes ou leer lyk. Vandag ry ons van windpomp tot windpomp en suipkrip en suipkrip al met die swart waterpyp langs. Windpompe en suipkrippe wat hy blou jare gelede as skoolseun vir sy pa help oprig en bou het. Die verwinterde Kalahari-boer se praat is maar min vandag. Twee etsblou oë wat onder ‘n vaalbruin laphoedjie uitloer staar moedeloos ver oor die droë duinewêreld, want die vrag op sy skouers is swaar. 

Die Kalahari is droog ... diep droog en droogte maak lelik. Droogte speel nooit volgens die reëls nie omrede hy nie gunstelinge het nie. Veral hier in die Kalahari waar ‘n sigbare droogtespoor nooit ooit mooi is nie. Nie mooi op die veld, die diere of op diegene wat hier in die Kalahari ‘n bestaan probeer los leef nie. 

Hy loer hoopvol na die liggrys wolkbank bokant die verste sien terwyl hy die stilte saggies breek. “Ek kan nie meer mooi onthou wanneer laas die genadewater van bo ons wêreld behoorlik nat gemaak het nie.” Hy maak sy longe vol asof hy nog iets wil sê, maar gee homself oor aan die stilte. Geduldig wag ek vir hom want sy gemoed is vol. “Iewers in die vorentoetyd sal dit weer reën want geen droogte hou vir altyd aan nie. Êrens sal hierdie droogte breek. Dit is hoekom die liewe Here ons in die Kalahari neergesit het. Ons is hier vir die mooi na die lelike," beduie die oom ‘n paar minute later. 

My oë en dinkdinge kry kans om wyd oor die vaal vlak te loop. Sommer tot daar waar die vlak in die verste sien wegraak. Stomstil snak ek na my asem. Hierdie gryse Kalahari boer is reg. Hy is verseker reg. Dit sal weer reën hier in die Kalahari en dit is waarlik waar iets om te aanskou en oor liries te raak. So verander onse woestynwêreld amper oornag in ‘n paradys vir die oog vanweë dankbaarheid, hoop en verwagting. Dit is wat die Kalahari omskryf en mooi maak ... oorvloedige dankbaarheid, onbeskryflike hoop en betekenisvolle belofte. 

Steeds dawer die verwinterde Kalahari-boer se sagte woorde in my ore. “... geen droogte hou vir altyd en altyd aan nie, want êrens sal die droogte breek ... ” en “ ... Ons is hier vir die mooi na die lelike.”  Onwillekeurig dink ek dadelik aan die groot verskeidenheid van lewensdroogtes wat ons as mensegoed se lewens sedert oom Adam en tannie Eva se tyd versuur. Dodelike droogtes wat so maklik adres in ons verhoudinge, ons gesondheid of in ons finansies maak en ons brose binnevoerings verrinnewoes, verniel en vermink. 

Maar ... genadiglik duur lewensdroogtes nie vir ewig nie. Iewers in die tyd wat kom, sal ons hemelse Vader ‘n bepaalde lewensdroogte breek. Ons is egter nie veronderstel om op hierdie seëninge te fokus, dit na te jaag of daaroor liries te raak nie. Nee, ons is eerder hier vir die gevolg ... die mooi daarna. Ons is hier vir ‘n leefstyl na ‘n droogte. ‘n Leefstyl vol oorvloedige dankbaarheid, onbeskryflike hoop en ‘n betekenisvolle belofte. Net soos die Samaritaanse vrou van Sigar wie se lewensdroogte by die put met lewende water gebreek is. 

Joh 4 vers 39 (a) (NLV) = “Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: ..." 

Sandkorrel baie seëninge.

Los jou 👣 as jy wil by: 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, dat jy gereeld hierdie waarheid met ons deel. Ons het almal nodig om net weer die versekering te kry dat droogtes nie vir ewig aanhou nie. Besoek gerus Divine Life Bediening]  

Vandag se internetgebed vir jou


 

Saturday 2 July 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

A 6-year-old was asked where his grandma lived. "Oh," he said, "she lives at the airport, and when we want her, we just go get her. Then, when we're done, we take her back to the airport."

Friday 1 July 2022

Die veranderde behoefte van die senior persoon ...

Die lewe soos ons dit vandag ken, verskil ingrypend van die lewe in die middel van die vorige eeu toe die meeste van die ouetehuise tot stand gekom het. En as vandag se jongmense inwoners van Ons Huis word, is wat vandag as luukses beskou word, 'n absolute noodsaaklikheid ... of erger nog, reeds verouderd.

Die leefwêreld en die behoeftes van die senior persoon verskil vandag drasties van 50 jaar terug.

'n Paar van die belangrikste verskille is:

* Die senior persoon word heelwat ouer.

* Selfone het die ou munthokkie vervang.

* Elke senior persoon het sy/haar eie TV in die kamer.

* Internettoegang (WiFi), e-posgeriewe en rekenaars is 'n noodsaaklikheid. (Veral as daar met die kinders oorsee geskype moet word.)

* Senior persone is nog werksaam op 'n hoë ouderdom, nie noodwendig voltyds nie, maar wel deeltyds (en wil graag in 'n oord bly, maar met meer buigbare reëls.)

* Mense behoort aan verenigings, groepe en klubs. Hulle toer ook graag.

Dus is dit baie belangrik vir 'n aftree-oord/ouetehuis om voortdurend by die nuwe uitdagings aan te pas.

Positiewe bydraes van die inwoners is altyd welkom.