Showing posts with label Vadersdag. Show all posts
Showing posts with label Vadersdag. Show all posts

Sunday, 21 June 2026

Gelukkige Vadersdag, Oupa!

Oupa, mag jou Vadersdag net so wonderlik wees soos jy! Dankie dat Oupa altyd so 'n rots in ons lewe is! Oupa se lewenslesse en sagte raad het my gevorm. En ek weet as Oupa dit nie kan regmaak nie, kan niemand nie. Dankie dat Oupa altyd 'n plan het! Geniet Oupa se spesiale dag!

Sunday, 16 June 2024

Dankie vir jou, pa ...


Ek wil vandag vir jou vertel, Pa
waarom jy vir my so spesiaal is.
Jy het 'n warm hart, Pa.
Jy is 'n omgee-mens.
Jy maak tyd om te luister. Jy praat reguit.
Jy leef wyd en oop en eerlik.
Jy sien die goeie in ander raak.
Hoe kan ons anders as om jou lief te hê!
Ons kan lekker lag en gesels, ek en Pa.
Ons weet hoe om saam te werk,
en alte dikwels saam te sukkel.
Dan hoor ek Pa sê: "Aanhou, moedhou, kophou!"
en ek weet: ons twee sal uiteindelik bo uitkom.
Jy, Pa, is 'n wyse man. Jy lê reëls neer
wat my veilig op koers hou.
Maar jy gun my ook die ruimte om te leef,
te droom, my gawes en talente te ontdek, te ontwikkel.
Ek waardeer jou oneindige geduld
met my planne en projekte.
Ek sien jou vreugde en trots
wanneer ek sukses behaal.
En loop sake skeef, kan ek op jou reken:
om my op te help, reg te help en my styf vas te hou.
Daarom sê ek dankie vir jou, Pa.
Jy het my lief. Jy loop voor my uit.
Jy is dáár vir my. Jy is vir my 'n voorbeeld.
Jy is ... mý pa!

[Judy Venter]

Wat is 'n Pa?

(Deur die oë van 'n kind)

Pa's werk baie hart en het baie papier gelt.
Pa's hou baie van teevee kyk op Saterdag.
Pa's wil slaap op Sondag.
Pa's maak braaivlys vir kos en is sterk en sê hille is die baas.
Pa's het visstokke, grawe en baie anner goet in die graatsh en hille vee nie uit en stof af nie.
Pa's lees as hille kamer verlaat.
Pa's hou van tannies wat nie gelt het vir kleere nie en wat net kostjums dra.
Pa's gee hart pak as ma so sê.
Pa's gaan op vikansie en vat ma's en kinners altyt saam.
Hille krap hille gesigte skoon want dit wort vol hare as hule slaap.
Pa's werk altyt as kinners iets wil doen, en het baie werk vir kinners Ma's het ook baie werk vir pa's.
Pa's is kwaai maar hille is bang vir ma's.

[Ingestuur deur Anoniem.]

Sunday, 9 June 2024

Wat om in geskenksakkies vir Vadersdag te sit

Geskenksakkies is 'n fantastiese manier om jou senior pa te bederf. Hy is al verby die stadium van dasse, sakdoeke, sokkies of gereedskap. Dink nuut ... dink nou!

Om die perfekte items op te spoor en te vind, is waar die geheim lê. Jy ken jou pa, jy weet waarin hy belangstel, wat sy passie is noudat hy tyd het en rustiger is. Hierdie is slegs 'n paar idees om jou aan die dink te sit en om jou te help met die geskenksakkie.

Volgende week is mos Vadersdag - jy het 'n week oor om te dink, te snuffel en 'n verrassing of twee by die voorspelbare pakkie in te sit.

Sommige mense se behoeftes en voorkeure verander soos hul ouer word. Is jou pa dalk een van hulle? 

Wanneer dit by geskenksakkies vir senior burgers kom en in hierdie geval jou pa vir Vadersdag, is dit belangrik om hul huidige behoeftes en belangstellings in ag te neem. 

1. Persoonlike sorg
In die reis om ouer te word, word persoonlike sorg toenemend belangrik. Sluit items soos bevogtigende handroom, lipsalf en sagte seep in wat sag op hul vel is. Moenie vergeet om items vir mondversorging by te voeg nie, soos tandepasta en tandeborsels wat spesiaal vir seniors ontwerp is. Mondspoelmiddel is ook handig vir 'n vars-asem-gevoel. Hierdie is noodsaaklikhede wat hul gemak en welstand verseker. (Dink ook aan 'n smeerdingetjie vir pyn en seer gewrigte of pleisters om op daardie lastige stampplekke te plak.) 

2. Ontspanning
Alhoewel senior burgers oomblikke van ontspanning verdien, trakteer hulle hulself dalk nie altyd met hierdie luukshede nie. Gee vir hulle knus warm sokkies vir die koue winteraande, sagte komberse of selfs 'n oogmasker om hul ontspanningservaring te verbeter. ’n Stresbal of ’n handmasseerder kan ook gemak verskaf en spanning verlig. Onthou, 'n bietjie bederf gaan 'n lang pad!

3. Geestelike stimulasie
Om die verstand skerp en aktief te hou, sluit legkaartboeke soos blokkiesraaisels, Sudoku of woordsoektogte in om hul brein te betrek en ure se vermaak te verskaf. Alternatiewelik kan jy breinstimulerende speletjies  oorweeg. Hierdie items is nie net pret nie, maar help om kognitiewe vermoëns te handhaaf. Laai speletjies af op hul slimfoon of tablet om hul hand-oog-koördinasie geoefen te hou.

4. Lekkernye
Wie hou nie van 'n lekker bederf in hul geskenksak nie? Kies eetgoed wat maklik koubaar is, soos sagte koekies of lekkergoed met 'n vrugtegegeur. As jy 'n gesonde kinkel wil byvoeg, sluit 'n verskeidenheid neute of gedroogde vrugte in. (Biltong en droë wors klink lekker, maar dit is moeilik koubaar. Daardie geskenkies word maklik weggegee vir kuiergaste wat nog skerp tande het.) Vir die wintermaande is Milo of Cup of Soup 'n welkome plaasvervanger vir die gebruiklike tee of koffie.

5. Vermaak en stokperdjies
Maak seker dat hul geskenksak aangename aktiwiteite insluit wat by hul belangstellings pas. Oorweeg dit om 'n boek deur hul gunstelingskrywer by te voeg, 'n tydskrif of selfs inkleurboeke (vir die kunssinnige man is dit goeie oefening en hoef nie net tot die vroulike geslag beperk te wees nie.) Help hulle om vreugde in hul vrye tyd te vind. (Twee bejaarde bure het agtergekom dat hulle altwee vir hulle onderskeie skole se skaakspanne gespeel het ... so 65 jaar terug en net daar besluit die twee om elke oggend na ontbyt en elke middag na middagete - hulle het nie gaan skuinslê soos die ander inwoners nie - hul brein oefening te gee deur 'n goeie potjie skaak te speel. Dit het soveel belangstelling gelok, dat die aftreeoord 'n skaakklub het ... speletjies wat senior burgers as kinders gespeel het, is dalk net die regte medisyne vir lang dae.  

6. Praktiese toebehore
Praktiese items word altyd waardeer. Sluit nuttige bykomstighede in soos vergrootglase vir lees, pilorganiseerders om medikasie in orde te hou, of selfs 'n leeslamp wat aanknip. 'n Kopliggie vir lees wat 'n mens kan gebruik terwyl jy in die bed lê en lees, is die ideale geskenk vir 'n leesverslaafde. Hierdie funksionele geskenke wys dat jy omgee vir hul gerief en daaglikse behoeftes.

7. Bedagsame gebaar
Ten slotte, moenie die krag van 'n persoonlike foto (uit hulle prille jeug) onderskat nie. Voeg 'n persoonlike boodskap by om dit selfs meer betekenisvol en spesiaal te maak.

En nou kan jy jou verbeelding vrye teuels gee. 'n Landkaart of wêreldkaart teen die muur (geraam) vir die oupa wat graag in sy gedagtes saam met sy kinders of kleinkinders reis. Of 'n kaart van die nuwe blyplek van die kinders oorsee. 'n Geraamde stamboom of stamregister, 'n digitale fotoalbum, of sommer net genoeg sjokolade sodat bietjies-bietjies eet nie nodig is om die lekker langer te rek nie. My buurvrou se pa is baie lief vir 'n serp in die winter en elke nuwe serp wat pas by sy onderbaadjie of baadjie word goed ingewy. Hou maar die oë en ore oop vir 'n wenk of 'n behoefte.

Geniet die soek na artikels om hierdie 'n minigelukspakkie te maak!
Laat lewer 'n bord eetgoed vir die personeel van 'n ouetehuis of kerk af. Dis altyd lekker om dankie gesê te word en 'n bietjie bederf te word.

Sunday, 18 June 2023

Angels: Father's Day Quotes


Angels: Vadersdag

Die omgee-engele het 'n meer as welkome draai by Ons Huis gemaak en Vadersdag sommer kleurvol ingekleur. Elkeen is bederf met 'n heerlike handgemaakte kniekombersie wat sommer ook oor die skouers gegooi kan word vir 'n bietjie ekstra hitte tussen die blaaie. 

Versnaperings in die vorm van lekkers, sjokolade, kolwyntjies, springmielies en so 'n ekstra bederfie vir die vaders van Ons Huis (dit is mos darem Vadersdag) is aan die inwoners uitgedeel.  

Klik HIER vir die ander foto's saam met die inwoners.

Die groepie mensengele wat vir Vadersdag gewerk het, is ...
  • Cherine Senekal (aan roer van sake)
  • Annette Cameron
  • Betsie du Plessis
  • Christa Jaquire
  • Forbie Klindt
  • Jacoba du Plessis
  • Jolande de Wet
  • Millie Mouton
  • Percy Bell
  • Talana van Wyk 
 (Inligting: Millie Mouton)

Friday, 2 June 2023

Angels: Verrassing vir Vadersdag


Agter die gordyn word daar ywerig beplan en gewerk vir Vadersdag 2023. Ons Huis Angels beplan om hierdie een van die onthoudae vir die inwoners te maak. Die redaksie van Ons Huis e-nuus het in die wandelgange gehoor van onder andere kniekombersies ... die res is deel van die verrassing.    

Hieronder is foto's van die kniekombersies in wording. Millie het al 11 kombersies met liefde klaar gehekel ... die een mooier as die ander. Hou gerus die blog dop vir verdere nuus.


Saturday, 18 June 2022

Happy Father’s Day ...

"I dedicate to you all my successes
and all my smiles ...
I dedicate to you all my joys
and all my dreams ...
Happy Father’s Day to my loving dad."

Sunday, 20 June 2021

Vadersdag: Wat is 'n pa?

Uit: NND/Kitsnuus 30 April 1999
Wat is 'n pa? 'n Onmisbare ding - iemand om gewaardeer te word.

Eendag was daar 'n seuntjie.
Die tweede woord wat hy kon sê, was "Pappa."
So teen twee jaar oud, was iemand gereeld nodig om 'n bal van die dak af te haal, of 'n kwaai hond te verdryf. Dan het hy hard geroep: "Pappa!"
Teen vier jaar het maats hom begin boelie, maar hy kon iemand roep om hom te help. Dit was: "Pappa!"
So op ses of sewe het ek hom hoor sê: "My pa is sterker as Tarzan."
So twaalf-dertien was sy getrouste ondersteuner langs die sportveld: "My pa is my beste pêl."
Teen sestien, het die hakskene begin rooi kleur. As hy 'n bietjie raad of 'n sakgeldjie nodig gehad het, het hy gesê: "Laat ek die Outoppie 'n bietjie scheme."
Teen een en twintig, derdejaar op universiteit, het hy by verskeie geleenthede vir die tjommies gesê: "Ek verstaan nie die Ouballie nie. G'n mens kan met hom 'n diskussie voer nie."
Op ses en twintig het hy vir die bruidjie gesê: "Moenie worrie nie, my pa sal ons miskien, net miskien kan help."
Op dertig het hy vir vroulief gesê: "Kom ons gaan vra my pa."
Op ses en dertig, toe die lewe begin taai raak en die kinders begin veeleisend raak, het hy by geleentheid vir sy vroutjie gesê: "As my pa nog geleef het, was die oplossings naby." 

Happy Father's Day!


Tuesday, 25 June 2019

Vadersdagbederf ...

Baie dankie aan Helping Hand Care wat die inwoners kom bederf  het vir Vadersdag. Die inwoners van Ons Huis het dit so geniet en sou nie omgegee het as elke Sondag Vadersdag was nie.