Sunday 16 June 2024

Dankie vir jou, pa ...


Ek wil vandag vir jou vertel, Pa
waarom jy vir my so spesiaal is.
Jy het 'n warm hart, Pa.
Jy is 'n omgee-mens.
Jy maak tyd om te luister. Jy praat reguit.
Jy leef wyd en oop en eerlik.
Jy sien die goeie in ander raak.
Hoe kan ons anders as om jou lief te hê!
Ons kan lekker lag en gesels, ek en Pa.
Ons weet hoe om saam te werk,
en alte dikwels saam te sukkel.
Dan hoor ek Pa sê: "Aanhou, moedhou, kophou!"
en ek weet: ons twee sal uiteindelik bo uitkom.
Jy, Pa, is 'n wyse man. Jy lê reëls neer
wat my veilig op koers hou.
Maar jy gun my ook die ruimte om te leef,
te droom, my gawes en talente te ontdek, te ontwikkel.
Ek waardeer jou oneindige geduld
met my planne en projekte.
Ek sien jou vreugde en trots
wanneer ek sukses behaal.
En loop sake skeef, kan ek op jou reken:
om my op te help, reg te help en my styf vas te hou.
Daarom sê ek dankie vir jou, Pa.
Jy het my lief. Jy loop voor my uit.
Jy is dáár vir my. Jy is vir my 'n voorbeeld.
Jy is ... mý pa!

[Judy Venter]

No comments:

Post a Comment