Showing posts with label CJ Langenhoven. Show all posts
Showing posts with label CJ Langenhoven. Show all posts

Friday, 26 June 2026

Gedig: Siembamba

Woorde: Tradisioneel en C.J. LANGENHOVEN: Vers 1, 2, 3, 4, 5
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1978

Siembamba, mama se kindjie,
Siembamba, mama se kindjie
--draai sy nek om, gooi hom in die sloot;
trap op sy kop dan is hy dood.

[C.J. Langenhoven]

Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Vou maar jou handjies saam, my kind:
Hoor tog hoe huil die noordewind!
Hier in die kamp is alles stil,
Net maar die wind waai soos hy wil;
Net maar jy self kan kreun en steun:
Niemand sal hoor nie, niemand, seun!
Almal is besig! Oor die land
Drywe 'n wolk van die noordekant -
Swart soos die rook uit die skoorsteen puil,
Swart soos die nag, en nes roet so vuil:
Vou maar jou handjies dig tesame
Sluit maar jou ogies, en se ame!

Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Jy, wat die hoop van ons nasie is;
Jy, wat ons volk so min kan mis;
Jy, wat moet opgroei tot 'n man;
Jy, wat moet plig doen, as jy kan:
Jy, wat geen deel aan die oorlog het;
Jy, wat moet sing uit pure pret -
Jy moet verkwyn in 'n kinderkamp,
Jy moet vir vrede word uitgestamp:
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en se ame!

Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Kinkhoes en tering, sonder melk:
Bitter vir jou is die lewenskelk!
Daar is jou plek, by die graffies daar -
Twee in een kussie, 'n bruilofspaar!
Alles vir ons wat die oorlog hou -
Alles vir ons, en niks vir jou:
Jy het van ons jou plig geërwe -
Plig om as kind vir ons land te sterwe!
Al wat jy wen, is dat ons onthou:
Meer was die vryheid as kind of vrou!
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en se - ame!

[C. Louis Leipoldt [1880-1947]

[Klik HIER vir meer inligting.]

Saturday, 26 August 2023

Sonde met die bure

[Ansie Janse van Rensburg]

Gister lees ek van `n man wat so kwaad geword het vir sy bure, dat hy `n lewensgrote beeld van `n vuis met `n uitgestrekte middelvinger op sy grasperk staangemaak het. Die beeld spreek `n duisend woorde en nie een is baie vleiend nie! Deur die jare het ek `n paar keer verhuis en het met rare karakters `n straat gedeel. Die stukkie in die Bybel wat handel oor 70 maal 7 keer vergewe, het duidelik sonde met die bure in gedagte gehad. Daar is `n Engelse spreekwoord wat lui: ” Good fences make good neighbours." Vir party het jy meer nodig as hoë mure en senuwees van staal ...

Bure no.1 is albei doof soos mossies. Hulle honde blaf die hele nag en dag vir die maan, bome, gras en mekaar, terwyl mnr. en mev. rustig slaap. Probeer jy hulle skakel, lui die foon net. Nou bombardeer ek hulle posbus met advertensies vir gehoorapparate en kommunikeer in ongemagtigde vingertaal indien ek by hulle in die straat verbyry.

Bure no.2 was kandidate vir die Jerry Springer Show. Elke Saterdagaand het ek `n groot bak springmielies gemaak, my sielkunde 101 handboek gegryp en op die stoep gaan wag. Darwin se moses! Ek begin twyfel of sommige takke van ons Homo Sapiens-spesie nie tog maar van ape afstam nie? Die hele straat ken elke detail van mnr. X en mev. Y se lewe. Teen die tyd dat mnr. X se ongehude dogter by hulle kom inwoon en swanger raak met mev. Y se Aura-terapeut en mnr. X vir mev. Y agter die deur vang, terwyl hy self daar staan met `n eks-eksotiese danseres van Nigel, trek hulle weg. Saterdae-aande was nooit meer dieselfde sonder mnr. X en mev. Y nie!

Dan kry jy die sportmalbure. Die ingang van hulle oprit lyk soos Loftus. Vlae en plakkate net waar jy kyk. Buurman het meer rugbytruie as die hele Bloubulspan saam en vroulief dra biltong en bier aan, terwyl die kommentator van die jaar homself posisioneer voor die groot skerm. Dan begin die sports: Die skeidsregter se brein word vergelyk met 'n Amoeba in `n oseaan, die spelers word gereduseer tot amateurs met voete van klei en kokosneutbreine en elkeen kry `n bynaam wat ek nie op hierdie blog mag noem nie. Buurman is darem `n ekspert wat 20 jaar gelede derdespan rugby op skool gespeel het!

Bure no.4 is herdoop tot die Boerebure. Vroegdag kraai hulle Judas-haan jou wakker: Maandag tot Sondag. Nie lank daarna nie, hoor jy die gebrul van buurman se mini-trekker cum grassnyer wat klokslag 6 uur elke Saterdagoggend aangeskakel word. Die grasperk is net 6×6 meter, maar buurman neem `n volle uur om dit te sny, want hy ry tog te lekker op en af op sy trekkertjie met `n koppie boeretroos in sy hande. Mamma leef nog in die metafisiese ruimte van hulle 10 hektaar plaas naby Potch en gil bevele op die tuinjong wat gedwee twee meter van haar af staan.

Laastens, maar met spesiale verwysing, is daar die partytjiebure. Vrydagaande begin die motors jou straat vol parkeer en die karakters wat uitklim herinner jou aan Poeksie en Worsie van Orkney snork nie. Die musiek begin mak met `n paar Bles-ballades en bou stelselmatig genoeg desibels op om jou wynglas te laat kraak. Soos die rooiwyn en Valiums inskop, koester ek allerhande wraakplanne: betree die vyand se vesting en bestel 100 reuse pizzas vanaf hulle telefoon, gooi `n sigaretaansteker in elke motor se uitlaatpyp en wag vir Guy Fawkes-dag om aan te breek (moet dit liefs nie by die huis probeer nie) Teen ligdag wanneer die laaste note van Going back West wegsterf, het ons 8 keer ge-De-la-ry-ry-ry en ek ken Baby Tjoklits tot by die laaste komma en spoegspatsel. Tussen partytjiebure en boerebure, het ek darem `n uur kon slaap, dit is as die dowe bure se honde nie blaf vir die sportmal bure se vlae wat in die windjie wapper nie!

[Geleen by Solidariteit Blog - besoek hulle gerus HIER]

Gaan lees ook HIER van Langenhoven se Sonde met die bure. Beter nog, skaf gerus hierdie Afrikaanse juweel HIER aan.