Showing posts with label Pienkboekie. Show all posts
Showing posts with label Pienkboekie. Show all posts

Wednesday, 2 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Vrede

'n Vrouelidmaat van Philipstown skrywe ...

"Vrede laat Ek julle na; My vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie." (Joh. 14:27) 

Ek lees die teks en dit voel soos gister ...

Ek sou myself as 'n Christen kon beskryf 'n jaar gelede. 'n Christen wat bid, kerk toe gaan en my tiende gee, maar nie die soort Christen wat in 'n tyd van nood of vreugde teksverse uit my kop kon opsê nie. My man beland skielik in die hospitaal. Dis chaos. Selfoon hou nie op met lui nie. Ek probeer my bes om antwoorde te hê en kalm te lyk as my kinders met trane na my kyk. Ontmoet dokter nommer drie en kan nie een se naam of titel onthou nie. Wag, die een is 'n o...loog en die ander 'n ietsie-ietsie ook met 'n loog of so iets. Teater toe. Dis half drie in die môre. Daar is niemand saam met my in die gang nie. Ek sit op 'n bank. Moeg, maar niks binne my gemoed wil tot rus kom nie. Ek berei my voor vir die ergste, hoe sal ek die situasie hanteer. Ek werk uit wat ek op die plaas moet doen: wanneer moet ek lone betaal, watter kampe het nou weer die lammerooie in, hoe lank dink ek (met my mediese kennis) sal hy in die hospitaal wees. Moenie huil nie ... ek voel deurmekaar. Die kinders ... Here! Ek begin met die tweehonderd en eerste gebed.

Skielik hoor ek 'n stem binne my. "Wees stil en weet, Ek is die Heer ..." Dis asof alles binne my se handrem opgetrek raak en tot 'n stilstand kom. Dit was duidelik, baie duidelik. Die gang is stil ... my gemoed is stil. Ek is amper te bang om asem te haal. Het ek reg gehoor? "Here, sê asseblief net nog een sin," vra ek. Stilte. Vrede. 'n Vrede wat nie van die wêreld af kom nie. Vir die volgende paar weke ervaar ek die nabyheid van Hom asof ek my hand kan uitsteek en aan Hom kan vat. Ek leef asof ek toegevou is in Sy hande. Die dokters bring goeie en slegte tyding - ek hoor dit, voel dit, en weet dadelik met vrede hoe om elke situasie te hanteer.

Dis 'n jaar later en ek staan op my knieë met Bybelstudie voor ek gaan slaap. My teksvers: Joh. 14:27. Ek voel 'n warmte oor my. Ek weet hoe daardie vrede voel. Die soort vrede wat nie van die wêreld kom nie. Moet erken; ek kan nog nie baie teksverse uit my kop aanhaal nie, maar Hy is so naby dat Hy dit in my oor kon fluister.

My bede vir almal is vrede wat jou verstand te bowe gaan. Hande wat jou toevou wanneer jy dit die nodigste het, en die wete dat Hy in jou oor fluister. Jy moet net luister.  

[Die Pienk boekie, Vrouelidmate - NG Kerk in Noordkaap, Nuusbriefnr. 93]

Tuesday, 9 January 2024

Dinsdag-denke: Maak 'n verskil

[Carina Benadé: Die Pienk Boekie Nuusbrief nr. 93 Maart 2011]

Die jaar met sy hoogte- en laatepunte, het die Here dit op my hart gedruk om 'n verskil te maak. "Hoe Here," het ek gevra.

"Wees jy die verskil wat jy wil sien ..."

Ons het almal drome en verwagtinge, maar is ons droom en verwagting die identiese plan wat God vir ons het? Elkeen van ons het 'n verantwoordelikheid om by God te hoor wat Sy plan met ons lewens is. God het die antwoord nog voordat ons die vraag vra, en Hy sal ons antwoord. As ons gehoorsaam is en dit doen wat God van ons verwag, sal Hy vir ons seën!

As die jaar meer laagtepunte as hoogtepunte gehad het, kan jy maar weet - God het groot planne vir jou!! Met elke eina in ons lewe het God 'n plan. Hy maak ons sterker om nuwe en groter uitdagings te kan aanpak deur Sy genade. Ons moet egter weet - uit ons eie kan ons niksdoen nie, ons krag lê in stil wees en vertroue in God.

Die jaar nuwe jaar kan 'n verskil in jou lewe maak, omdat jy 'n verskil in iemand anders se lewe kan maak. As jy voel jy kan nie 'n verskil maak nie, want jy is maar net jy, is dit juis vir jou wat die Here wil en kan gebruik. God wil ons vrymaak van al ons negatiewe gedagtes oor onsself. Ons is soms ons eie grootte vyand omdat ons onsself afkraak en nie besef wie ons in God is nie. Besef ons, ons is na die beeld van God geskep ...?

God sê ons moet ons losmaak van die verlede en ons uitstrek na dit wat voorlê. Ons verlede beteken vir God niks, dit is oor ons toekoms wat Hy begaan is. As ons God se salwing in ons lewe wil ervaar moet ons onsself ondergeskik ste aan Sy heerskappy.

Ons kan die verskil wees wat die wêreld nodig het. As ons 'n verskil in een persoon se lewe maak, word God verheerlik.

Is ek en jy bereid om die verskil te wees? Bid en vra God om jou geestesoog oop te maak, sodat jy Sy plan vir jou kan sien. Vra God om jou geestesoog oop te maak, sodat jy Sy stem kan hoor, Hy sal jou antwoord as jy vra wat Sy wil is.

Jy kan 'n verskil in iemand se lewe maak deur bv. net vriendelik te groet, 'n WA te stuur of die skouer wees vir die persoon as hy/sy wil huil.

Hierdie is nie 'n SIELKUNDIGE SESSIE nie, maar 'n OMGEESESSIE. Wie kan iemand beter verstaan as die person wat al self deur min of meer dieselfde krisis moes werk?! Ek is nie 'n sielkundige nie, maar ek sal bv. baie begrip met 'n vrou hê wat deur die pyn van miskrame worstel ... want ek kan uit ondervinding praat, twee miskrame en twee buisswangerskappe verder is nie iets wat jy sommer so agter jou kan sit nie ... Die seer wat ons soms in die lewe ervaar, is dalk die salf vir iemand anders se seer.

God is lief vir jou en my, ons moet dit glo. Ons moenie toelaat dat ons omstandighede ons gevoelens bepaal nie. Ons moet uit God se genade ons oorwinning leef. Moenie toelaat dat ander mense se opinies jou van jou potensiaal of gesond word beroof nie!!

Ons bepaal in 'n mate ons eie toekoms en as dit vir jou voel dat jou lewe saai is en jy soek na iets, is dit miskien vir jou wat God wil gebruik om iets vrugbaars in iemand anders se lewe te saai. Ek kan jare lank net sit en droom ... of ek kan opstaan en die eerste tree in die geloof gee. Al persoon wat die keuse kan maak, is jyself.

Of die omgee-aksie suksesvol gaan wees, dit weet ek nie, maar as dit tot God se eer is, en dit maak 'n verskil in een persoon se lewe was dit suksesvol. Die liefde genees mense - die wat dit ontvang, maar veral dié wat dit onvoorwaardelik gee. (Karl Menninger)

God se barmhartigheid teenoor die wêreld staan nooit los van sy kinders se dade van barmhartigheid nie, God se liefde kry sigbare hande wanneer sy kinders soos sy kinders lewe - deur omgee.

Here Jesus, gee vir my dieselfde omgeeliefde wat U aan die kruis openbaar het. Help my om ander opreg lief te hê. Here, dankie vir mense wat daar is vir my, wat my liefhet en ondersteun en my help al het ek geval. Dankie dat hulle bereid is om na my te luister.
Amen.