Showing posts with label Wonderwerk. Show all posts
Showing posts with label Wonderwerk. Show all posts

Friday, 28 June 2024

Terugblik: Oudword (uittreksel)

Aftree-oord ... oudwordplek ... doodgaanplek? Dis wat ek gedink het toe ek en my man ouetehuis toe is. Dit was regtig vir my 'n krisis in my lewe. Ek het moedeloos, lusteloos en depressief geword. Waarom Here? Waarom moet ek afstand doen van soveel van my goed? Gaan my kinders vir my kom kuier of gaan ek nou vereensaam?

Maar toe het ek om my begin rondkyk en die mooi rondom my raakgesien. Nou weet ek om jonk te wees, het niks met jare te doen nie. Jonkwees is 'n gemoedstoestand, 'n wilsbesluit. Jare rimpel die vel, maar 'n gebrek aan hoop en entoesiasme laat rimpels in die gemoed.

So kyk ek na my buurman oorkant my ('n Altzheimer-geval), wat 'n paar keer op 'n dag met sy loopraam na sy voorhekkie loop, op en af in die pad kyk ... "Wanneer kom kuier my kinders dan?" Ek, daarenteen, kan in my kar klim en na my kinders en kleinkinders ry as ek na hulle verlang. Dankbaar!

'n Vriendin wat 'n geamputeerde been het, se dogter kom kuier elke middag vir haar en stoot haar deur die oord om na almal se pronktuine te kyk. Ek, weer, geniet my eie tuintjie met al sy kleure en geure waar ekself my vingers in die grond kan druk. Dankbaar!

'n Ander vriendin het 'n pragtige huis en tuin gehad. Nou lê sy in 'n kamer en staar om haar heen. Sy gryp elke besoeker se hand vas: "Moenie nou loop nie - bly hier by my." Ek kan vrylik rondbeweeg en gaan kuier wanneer en waar ek wil. Dankbaar!

Ek kan nog soveel vir ander beteken - drukkies uitdeel - vir sommige mense is dit die enigste drukkie wat hulle ooit kry. Ek kan vir ander bid. Dankbaar!

Dankbaar vir lewe, dankbaar vir liefde, dankbaar vir genade!

[Anoniem]  

Koop gerus hierdie boekie God maak stukkende mense heel, 2018/2019, met stories van hoop by Dutoitspan Kerkkantoor - 053 842 1100 @ 'n bekostigbare R50,00.

Friday, 13 October 2023

So mooi en waar

Wonderwerke gebeur daagliks rondom ons. Ons moet net ingestel wees om dit raak te sien.

"As jy net sou terugkyk op die pad wat jy al gestap het tot hier, sal jy elke wonderwerk sien wat Ek in jou midde gedoen het. Hou vas aan My, al vat die wonderwerk lank, onthou dit: Ek werk nog aan jou, My kind. Het jy agtergekom dat die aanslae en storms wat jou getref het, jou nader en nader aan My laat beweeg het? Die Here sê omdat jy My genader het, sal Ek na jou nader.

Dalk voel jy asof jy teen 'n muur vasbid, vra jy vir hulp, maar jy kry nie antwoord nie ... God sê: My skatkamers in die hemele is oop vir jou, Ek hou niks van jou terug nie. Hou op om te twyfel, en vat wat Ek vir jou wil gee. Ek stort oor jou uit: My salwing, My heerlikheid en My goedheid. Ek oorlaai jou met oorvloed, guns, voorspoed en beskerming ... vat wat jy nodig het, my kind.

[Dankie, Anoniem, vir hierdie gedagtes.]

Sunday, 6 June 2021

Om op water te loop (3)


Petrus het ontdek dat om te sink nie beteken dat jy al verdrink het nie. Hier volg twee redes vir die stelling. Eerstens, om nie te slaag nie, maak nie van jou 'n mislukking nie, tou opgooi wel. Misluk is deel van die leerproses.

Sir Edmund Hillary het vele mislukte pogings aangewend voordat hy uiteindelik daarin geslaag het om Berg Everest uit te klim. Na een mislukte poging het hy volgens oorlewering aan die voet van die berg sy vuis uitdagend gebal en geskreeu, 'Ek sal jou uiteindelik oorwin! Jy kan nie groter word nie, maar ek groei steeds!' Hy het uit elke mislukte poging geleer totdat hy suksesvol was.

Winston Churchill se mening was: 'Ek het nog nooit met enigiets misluk nie. Ek het eenvoudig nog 'n kans gekry om dit reg te kry.' Dit is 'n oorwinnaarsgees!

Tweedens, die eintlike mislukkings was diegene wat in die skuit agtergebly het. Hulle mislukking is nie raakgesien of gekritiseer nie. Hoewel Petrus openlik gefaal het, het hy ook die euforie om op die water te loop, ervaar. Slegs hy kon weet hoe dit voel om deur God se bemagtiging iets te doen wat jy nooit op jou eie sou regkry nie. As jy een maal op die water geloop het, is jy nooit weer dieselfde nie.

Petrus het die vreugde gesmaak om in 'n wanhoopsoomblik deur Jesus gegryp te word. Petrus het geweet dat Jesus hom sou red, sou hy sink. Hy het 'n oomblik gedeel, 'n verbintenis, 'n vertroue wat die ander nie beskore was nie - hulle het in die skuit gebly! Sink is nie gelyk aan mislukking nie, jou vrees toelaat om jou te kelder, is wel.

Sunday, 30 May 2021

Om op water te loop (2)


Toe Petrus seker was dit is Jesus wat hom roep, het hy die veiligheid van die skuit verlaat en homself aan die krag van God toevertrou. 'Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: "Here, red my!" (Matteus 14:30).

Fokus tydens jou storms eerder op die Here, en nie die storm nie.

Ons weet almal hoe dit voel om 'die hoë golwe te sien'.

Jy pak 'n nuwe uitdaging - 'n ander betrekking, verhouding, geestelike groeipad - vol moed aan, net om deur storms en terugslae gestuit te word. Jesus het gesê: 'In die wêreld sal julle swaarkry beleef ...' (Johannes 16:33). Wees bedag daarop; dis deel van die geloofsreis. Jy moet ten spyte van jou vrees voortgaan. Groei vereis dat jy nuwe uitdagings aanpak. Jy sal elke keer bang wees, want groei en vrees loop hand aan hand. Elke keer wat jy dit egter waag om uit die skuit te klim, sal jy 'n groter kans hê om dit weer te doen. Elke keer wat jy dit op die water waag sonder om te sink, sal jy besef dat vrees jou nie langer gevange hou nie.

Bowendien, om in die skuit te bly, kan ook nie jou veiligheid verseker nie. Die teenvoeter vir vrees is om elke dag bietjie meer uit die skuit te kom, totdat vrees uiteindelik geen houvas op jou meer het nie.

Bron: Radiokansel (Inhoud aangepas)

Sunday, 23 May 2021

Om op water te loop (1)


Die dissipels was een nag besig om vis te vang toe 'n storm opsteek. Teen drie-uur het hulle 'n figuur op die water na hulle sien aankom. '...Jesus het dadelik...gesê: "Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek." Petrus sê toe..."Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom." "Kom dan," het Jesus gesê." Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop.' (verse 27-29). Hierdie verhaal leer ons eerstens dat as die opdrag nie van God kom nie, ons dit nie moet doen nie.

Daar is 'n verhaaltjie van 'n man by die poorte van die hemel. Petrus sê: 'Noem een groot daad van jou.' Die man antwoord, 'Wel, ek het 'n vrou gehelp wat deur 'n groep skobbejakke aangeval is.' Hoogs beïndruk vra Petrus: 'Wanneer het dit gebeur?' Die man antwoord: 'Ongeveer 30 sekondes gelede!' Ten einde op die water te kan loop, moet jy onderskei tussen God se stem en jou eie impulse.

Tweedens, dit leer dat om wonderwerke te belewe, dit nodig is om uit ons gemaksone te beweeg. Verbeel jou jy is Petrus. Die storm woed en jy is bang. Die skuit is veilig en gemaklik. Jy sou ook net daar wou bly. Jy mag egter nie, want God het jou geskape om meer te bereik; Hy roep jou om in vertroue te waag en wonders te laat gebeur. Wat is jou skuit?' Enigiets waarop jy vertrou wanneer die storm woed, enigiets wat jou in jou gemaksone hou. Die vreesaanjaendste, maar mees lonende stap wat jy ooit sal neem, is om uit te klim.