Showing posts with label Blindes. Show all posts
Showing posts with label Blindes. Show all posts

Thursday, 1 July 2021

Vandag is 'n pragtige dag ...

‘n Blinde seuntjie sit op die trappie van die groot gebou met sy hoed by sy voete. Hy het ‘n kartonbaniertjie waarop geskryf staan: “Ek is blind, help asseblief.” Daar was slegs ‘n paar muntstukkies in sy hoed.

‘n Man het by die seun verby gestap. Hy het so oomblik stilgestaan en ‘n paar munte uit sy sak gehaal en in die hoed gegooi. Hy neem toe die kartonbaniertjie by die seuntjie en skryf ‘n paar woorde agterop die karton. Hy plaas die baniertjie terug in die seuntjie se hande met die nuwe boodskap wat hy geskryf het, aan die voorkant, sodat die verbygangers dit kan lees.

Kort voor lank begin die seuntjie se hoed sommer vinnig vol raak. Baie meer mense het nou geld vir die seuntjie gegee.

Daardie middag kom die man wat sy kartonbordjie herskryf het, terug om te sien hoe dit nou gaan met die seuntjie. Die seuntjie herken die man se voetstappe en vra aan hom,

“Was jy die man wat vanoggend my banier herskryf het?”

“Wat het jy op my banier geskryf?”

Die man antwoord, “Ek het slegs die waarheid geskryf. Ek het presies gesê wat jy gesê het, maar slegs op ‘n ander manier.”

Wat hy geskryf het, was: “Vandag is ‘n pragtige dag en ek kan dit nie sien nie.”

Dink jy die eerste en die tweede banier het dieselfde gesê?

Natuurlike het beide tekens gesê die seuntjie is blind. Maar die eerste teken het eenvoudig gesê die seun is blind. Die tweede teken het mense vertel dat hulle hulself gelukkig kan ag dat hulle nie blind is nie.

Soms is dit slegs ‘n kwessie van hoe ons na ‘n saak kyk, van albei kante af.

Die mooiste is om iemand te sien glimlag! En nog mooier, is om te weet jy is die rede daarvoor !

Sunday, 28 October 2018

Dade spreek harder as woorde ...

In Derde Laan staan ‘n klein huisie met 'n pragtige roostuin en 'n groot populierboom. Dit is hier waar Theo en sy pa gebly het. Hulle het alleen daar gebly, want sy ma is jare gelede al oorlede.

Almal in die dorp het dié twee se verhouding bewonder. Theo se pa het nie een van sy rugbywedstryde misgeloop nie. Of dit nou mooiweer of stormweer was, jy kon verseker weet, Theo se pa was daar. Hy was sy seun se grootste aanhanger.

Ironies, Theo het nooit in ‘n wedstryd gespeel nie; hy was altyd die reserwe. Ná elke wedstryd was sy pa se woorde: “Miskien speel jy volgende keer.” Dan het sy pa altyd met sy arm om Theo se skouer daar weggestap.Sonder enige druk van sy pa se kant, het Theo aangehou oefen en het hy altyd sy beste by elke oefening gegee. Hy het egter deur sy hele hoërskoolloopbaan die reserwebank vol gesit, want - omdat die skool klein was - het hulle net een span in sy ouderdomsgroep gehad.

Maar sy pa het steeds getrou al die wedstryde bygewoon.Dit was voor een van die laaste wedstryde in sy matriekjaar dat ‘n tragedie Theo tref. Sy pa is skielik dood. Dit was vir hom ‘n baie groot skok. Hy het die afrigter gevra om dié week van die oefeninge verskoon te word. Die afrigter het vir hom gesê: “Theo, neem soveel tyd as wat jy wil, want dis ‘n groot verlies wat jou getref het.”

Die Saterdag met die wedstryd daag Theo in sy rugbyklere by die wedstryd op. Hy gaan staan voor die afrigter en pleit-vra: “Meneer, kan ek asseblief vandag speel?” Die afrigter het gevoel dat hy met so ‘n belangrike wedstryd nie kon bekostig om ‘n swak speler in te span nie, maar besluit toe tog om hom te laat speel. Hy het geredeneer: Hoeveel jare lank oefen hy nou al getrou sonder om te speel en boonop is sy pa dood. Ek sal hom ‘n kans gee.

Theo speel fantasties en druk selfs die wendrie. Na die tyd stap die afrigter na Theo: “Waar het jy al die tyd hierdie talent gebêre? Jy was briljant.” Theo het met trane in sy oë gesê: “Meneer, my pa is in die hemel. Meneer weet hy het getrou al die wedstryde bygewoon, al was hy blind. Wel, vandag was die eerste keer dat hy my kon sien speel. Ek wou vir hom wys … ek kán speel!”

Sunday, 17 June 2018

Nasionale biddag vir die blindes...

Blindheid is een van die mees uitdagende gestremdhede om te hanteer. Om blind te wees in die "normale" lewe is moeilik, maar moontlik.

Dink aan die besonder aan elkeen wat hierdie ekstra lewenshekkie moet trotseer.