Showing posts with label Voetspore. Show all posts
Showing posts with label Voetspore. Show all posts

Sunday, 18 May 2025

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Die hart se toegangshek

Groete en Vrede!!!

So teen die middel van Meimaand, sal vroegoggend temperature luidkeels vertel dat die winter aan die kom is. Wel, die spesifieke Woensdagoggend het ‘n geniepsige en ysige suidewindjie ‘n groepie vroue skuins na ontbyttyd ons kuierkombuis ingejaag. Daar het hulle al te snoesig so kuier-kuier, elkeen met 'n beker stomende koffie, stadig maar seker van die koue begin vergeet. My terloopse opmerking so in die verbyloop, veroorsaak dat ‘n iedere ene met groot wit oë, eers na die Mooiste Mooi en daarna na my kyk.

Skok en verbasing is duidelik in hoofletters asook uitroeptekens op hierdie groepie Kalahari-bewoners se gesigte geskryf. Opeens begin almal in die kuierkombuis praat terwyl die meeste se arms woes rondswaai. Hoe meer hulle beduie, hoe harder weerklink hulle stemme. Sommer dwarsdeur ons hele huis. Heel vergete is die vrede en rustigheid wat hulle kom opsoek het, want my terloopse opmerking ‘n jakkals in hulle skaapkraal losgelaat. Niemand kan ‘n woord uitmaak van wat gesê word nie omrede elkeen van die kuiergaste het dit op haar geneem om my van plan te verander.

Met haar streng Graad 1-dissiplinêre stem dring die Mooiste Mooi aan op stilte. Skielik raak dit stil om die kuierkombuis se tafel. Dit ten spyte van elkeen se woer-woer emosies. Marja en Engeltjie probeer nog om ‘n laaste woord in te kry maar die kyk in die Mooiste Mooi se oog maak dat hulle opslag hulle woorde insluk. Soos net ‘n goeie onderwyseres kan, verduidelik die Mooiste Mooi baie rustig dat ek - soos gewoonlik - hulle alweer gekoggel het. My terloopse opmerking dat ons dit ernstig oorweeg om ‘n beroep na ‘n voorwêreld gemeente te aanvaar, was net ‘n grap.

Stadig maar seker raak dit weer rustig om die kuierkombuis se tafel maar die klompie woestynbewoners kyk my wantrouig aan. Weer verduidelik die Mooiste Mooi dat ons nêrens heen gaan nie. Ons gaan net hier bly. Hier op Noenieput. “Ai pastoor,” sê Ousa lateraan terwyl sy haar beker versigtig vir Koba aangee, “ek het nou my koffie koud geskrik.” Koba soek die Mooiste Mooi se oog vir toestemming op en staan dan stadig op om die fluitketeltjie weer vol reënwater te maak. Daarna steek sy die gasstoof brand.

Terwyl almal vir die keteltjie wag om te fluit, gesels en vertel die klompie vrouens spontaan hoe hulle lewens verander het vandat ek en die Mooiste Mooi in die Kalahari is. "Julle mag nie weggaan nie, mevrou,” beduie Vytjie wie se woordeskat gewoonlik ‘n groot droogte beleef, “onse lewens is dan so geseënd vandat julle hier by ons op Noenieput kom adres gemaak het.” Vytjie se woorde is skaars ons ore in toe Ousa saggies sê: “Ja, en dit is hoekom pastoor en mevrou nie mag weggaan nie. Niemand het ons nog ooit met die Skeppergod se liefde raak geleef soos julle nie.”

Opeens besef ek dat Vytjie en Ousa se woorde weerspieël iets wat Laban van ouds saam met Jakob (dis nou Isak se seun en Abraham se kleinseun) beleef het. As iemand wat nie 'n verhouding met die Here gehad het nie, het Laban in ‘n oomblik van rou eerlikheid erken en verklaar dat hy geseën word as gevolg van Jakob. Hierdeur getuig Laban onwillekeurig van die Skepper se goedheid en almag. Hy besef dat as Jakob en sy gesin gaan aanskuif soos wat Jakob te kenne gegee het, gaan hy wat Laban is, se seëninge opdroog.

Terselfdertyd besef ek dat ons as mensegoed diep in ons harte ‘n groot stuk hoop het dat daar in ons lewens ook êrens 'n Jakob is. Iemand wie se verhouding met die Skeppergod my en jou tot voordeel sal strek. Iemand wat God se toegangshek na ons harte is. En tog ... tog wil ek en jy mos nie maklik iemand anders se toegangshek wees nie. Dit is mos nie hoe ons dink se drade aan mekaar gekoppel is nie. Inteendeel, ons jaag eerder ons eie seëninge want daarin is satisfaksie en genoegdoening opgesluit.
 
As lojale en pligsgetroue dienskneg, het Jakob vir 14 jaar - sonder materiële vergoeding - gewerk, geswoeg en gevare trotseer. Hierdeur het hy het meer van 'n verhouding met die Here gedemonstreer as wat 'n swetterjoel woorde ooit kan doen. Hy het nie gepreek, gebid, gesalf of duiwels en demone rondgejaag nie. Inteendeel, Jakob het bloot net vir Laban raak geleef. Hy het gedoen wat van hom verwag was ... dag vir dag, maand vir maand, vir 14 jaar aaneen. Jakob was God se toegangshek na Laban se hart sodat hy wat Laban is, daaroor kon getuig.

‘n Rukkie later sak ‘n vredevolle stilte in die kuierkombuis neer toe Ousa die kombuisdeur agter die klompie vroue toetrek. Steeds eggo Vytjie en Ousa se woorde in my hart. En so besef ek hoe kosbaar en spesiaal dit is om die Skepper van hemelgoed en stofaarde se toegangshek na iemand se hart te wees. ‘n Toegangshek sodat Hy ander kan seën.

Gen 30 vers 27 (Afr20) = “Laban het hom geantwoord: “As jy my asseblief net goedgesind sal wees! Ek het uit die voortekens te wete gekom dat die Here my geseën het om jou ontwil.”

Sandkorrel baie seëninge.

Los jou voetspore as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

Klik HIER om meer van Divine Life Bediening se doen en late te lees. Kontak hulle gerus en sit hulle op jou gebedslysie, asb.

['n Spesiale dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons lesers deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]

Sunday, 2 March 2025

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Die resep

Groete en Vrede!!!

Dit was Vrydagoggend laat toe die Genadewa onder Lemoenkolk se oop stoor staning gemaak het. Lemoenkolk, is ‘n Kalahari-plaas wat so stukkie oos van die potloodstreepgrensdraad tussen Suid-Afrika en Namibië lê.

Kort ná die vriendelik groet is ons sagte stoele toe en is die gasstoof brand gesteek. Maar dié oggend was daar veel meer as net drinkgoed. Saam met die koffiebekers en natuurlik 'n tee koppie vir die Mooiste Mooi word kleinbordjies en koekvurkies ook heel deftig uitgepak. Vandag is spesiaal want vandag eet ons wortelkoek vir die heel eerste keer op Lemoenkolk.

Ek sal die smaak van daardie wortelkoek nie gou kan of wíl vergeet nie … selfs tot in my kierieloopdae. Die enigste woord om hierdie smaaksensasie te beskryf is “perfek!” Alles omtrent hierdie wortelkoek was perfek. Versigtig steek ek so ’n klein hoekie af en sit dit in my mond. Met skilpadspoed smelt die stukkie wortelkoek weg. Dis sekerlik hoe die Hemel moet proe, dink ek by myselwers, want die smaak is hemels. Ek kan nie besluit of die stukkie hemelgeskenk bekyk, geruik of geëet moet word nie. Die aroma, die tekstuur, die vogbalans, die versiering asook die aanbieding was onverbeterlik. Vir ‘n tweede keer sit ek weer ‘n klein stukkie in my mond en vir ‘n tweede keer smelt die wortelkoek bietjie vir bietjies weg.

Die resep; ek moet hierdie wortelkoek se resep kry. Alles draai tog mos maar om die resep. Van die vroegste tye af word resepte al gedeel, uitgeruil en oor en weer gestuur. Dit verseker dat die lekkerte wyd oor die vlak kan loop.

Selfs die Skeppergod het ’n resep uitgedeel. Hy het vir die 99-jarige Abram ’n resep vir voorspoed, beskerming en guns gegee. ’n Resep met net twee bestanddele wat in bykans enige verhouding gemeng kan word. Die eerste is om voor Hom te leef en die tweede om onberispelik te wees Net dit. Niks meer en niks minder nie.

Goddelike voorspoed, beskerming en guns vra geen formule, geen reëls, geen wette, geen ordonnansies of regulasies wat nagekom moet word nie. Al wat nodig is vir hierdie Godgegewe lekkerte, is om voor Hom of in Sy teenwoordigheid te leef en om onberispelik te wees. So maklik soos dit. Vir Hom is dit genoeg, meer as genoeg, want Hy weet alles en Hy verstaan alles.

Deesdae probeer ek nie eers Lemoenkolk se wortelkoek bak nie. Nee wat, ek bêre daardie smaaksensasie vir elke keer as ek en die Mooiste Mooi die voorreg het om op Lemoenkolk wortelkoek te kan eet. En klokslag as ons op Lemoenkolk oorstaan en bederf word met wortelkoek, dink ek aan die bejaarde Abram se resep wat die Skeppergod vir die mensegoed gegee het. ’n Resep vir voorspoed, beskerming en guns met slegs twee bestanddele. Leef voor Hom en wees onberispelik.

Gen 17 vers 1 (Afr 20) = "Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik!”

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou voetspore as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

Klik HIER om meer van ons doen en late te lees. Kontak ons gerus en sit ons op jou gebedslysie, asb.

[Dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]

Sunday, 22 December 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = ‘n Maand vol dankbaarheid

Groete en Vrede!!!

Desember is spesiaal. Desember is baie spesiaal want Desember is ‘n maand vol dankbaarheid.

‘n Maand om jou te verbeel
Dat elke sonstraal wat jou ontblote vel warm streel,
Jou oortuig van ‘n sagte soen
Wat Vader liefderik en aanhoudend doen.

‘n Maand waar Sy liefde as warm herinnering
Lewegewende reënwolke van Bo af bring,
‘n Genademantel wolksambreel
Wat jy met almal na aan jou moet deel.

Ek en die Mooiste Mooi wil ook dankie sê vir soveel mense wat êrens in die loop van die jaar by die binnevoerings van ons harte stilgestaan het. Mense soos jy!!! Dankie vir die wete dat daar spesiale voorwêreld mensegoed soos jy is. Mensegoed wat belangstel in die meeste van ons doen en late en natuurlik aan ons dink voordat jy in jou binnekamer met die Skepper van hemelgoed en stofaarde oor ons praat. Ek en die Mooiste Mooi woon, werk en kerk in ‘n uitgestrekte wêreld vol sand, son en klip. En tog is die wete dat jy aan ons dink veel kosbaarder as koel soetwater in ‘n dorre woestyn. Voorwaar ‘n voorreg ... voorwaar ‘n spesiale voorreg!

Desember se sonsteek dae sal stadig maar seker aanskuif net om weer een oggend aan te kondig dat dit Kersfees is. Vir sommige bring dit oorweldigende vreugde, terwyl ander se slagare rooipers sal bult van omgekrap wees. Kom ek en jy wees eerder stil en staan weg van die geveg af. Laat ons eerder die Kripkind dank en daarop fokus dat geen Vrede en Genade enigsins moontlik sou wees sonder Jesus as God die Kêrelkind se geboorte nie. 

Neem tog ook asseblief kennis dat hierdie ook my laaste geskrif is vir 2024. As alles mooi uitwerk soos ek en die Mooiste Mooi hoop en beplan, behoort jy weer een Maandagoggend vroeg – dit is nou kort voor 2025 se Januarie klaarmaak – ‘n Waterdruppel vir die Week te ontvang.

Wel, alvorens hierdie jaar se Groot dae aan ons voordeur klop, moet daar heelwat doendinge eers afgehandel word. Mag die jaar wat kom, ‘n besondere geloofsjaar vir jou en jou hartsmense wees. Mag julle verhouding met die Skepper van hemelgoed en stofaarde veel meer intenser en intiemer wees as wat jy ooit sou dink of droom. En tot 2025 met al sy potensiaal en beloftes deel van ons menswees is ... rus goed, slaap diep, kuier lekker, los mooi spore en moet tog nie vergeet om te onthou dat daar iewers agter sandduine mense woon wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is nie. 

Kol 2 vers 7 (NLV) = "Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid.

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER om meer van ons doen en late te lees. Kontak ons gerus en sit ons op jou gebedslysie, asb.

[Dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]

Sunday, 15 December 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Kies jou geskenk

Groete en Vrede!!!

Met die “groot dae” aan die kom en die ergste hittigheid van ons wêreld op sy snykant, beweeg die Kalahari se mensegoed gewoonlik so bietjie stadiger. Die bietjie meer as twintigtal Bybelskoolstudente weet ook dat daar kort duskant Desember gewoonlik afsluiting gehou word. Afsluiting om die jaar behoorlik toe te maak. Maar dit is nie sommer net ‘n afsluiting nie. Die tafels kreun gewoonlik van al die kossigheid, yskoue koeldrank, stroopsoet poeding, oorvol lekkergoed pakkies, ‘n verskeidenheid van terte. Daar is ook kleurvolle bewoningsertifikate en natuurlik geskenke. Dit is al waaroor daar gepraat en gewonder word. Die afsluiting ... en alles wat daardie dag geëet en gedrink gaan word en natuurlik die verrassingspakkies wat toegedraai is in kleurvolle geskenkpapier.
 
Hierdie jaar het die Mooiste Mooi haar behoorlik afgesloof om te sorg dat die Ark ‘n kleurvolle lushof vir die oog is. Haar handewerk vertel onomwonde 'n storie van behoorlike feesvieringe. As die nie amptelike moeder van die gemeenskap het sy behoorlik seker gemaak dat die Bybelskoolstudente behoorlik getrakteer word met helder liggies, vrolike musiek en keurig versierde tafels. Daar is natuurlik genoeg kossigheid en amper te veel yskoue koeldrank. Genoeg om selfs Egipte se onthaallokale en kostafels koeskop te laat staan. En natuurlik die geskenke - moet tog samblief nie van die geskenke vergeet nie. Verrassingspakkies wat toegedraai is in kleurvolle geskenkpapier
So sit ons 2024 se saak laas week in die sakkie. Ons eet en drink en lag en gesels. Ons onthou die mooi en die minder mooi, die lekker en die onlekker, die uitdagings en die oorwinnings asook die oorvloed sowel as gebrek. En natuurlik moes elkeen iets vertel van wat die Bybelskool die afgelope jaar vir hom of haar beteken het.
 
Sommer kort nadat die poedingbakkies in die Ark se wasbak gesit is, breek die groot oomblik aan. Geskenketyd. Die oomblik waaroor daar so baie gepraat, gewonder en selfs gehoop is. Veral nadat ek al vroeër die jaar met skimpe en leidrade vertel het wat moontlik in die pakkies mag wees.
 
Die atmosfeer in die Ark is botterdik. Almal se oë is op die Mooiste Mooi gevestig wat baie versigtig en tydsamig ‘n naam uit ‘n hoed trek. Sodra die naam uitgelees is, kon hy of sy ‘n geskenk uitsoek. ‘n Geskenk wat in bont papier toegedraai is. ‘n Geskenk wat op daardie stadium gekies maar nog nie oopgemaak mag word nie. En as ‘n geskenk uitgesoek is, moes die Mooiste Mooi weer ‘n naam trek. Al te versigtig en al te tydsamig.
 
Ek staan so half eenkant en drink die gebeure wat voor my afspeel, in. Meteens besef ek dat, desondanks die rou werklikheid dat geeneen van hulle enige seggenskap of besluit gehad het in die geskenkpakkies nie, blydskap en dankbaarheid uit almal se binneste binne stroom. Sien, hierdie klompie Kalahari mensegoed kon kies watter geskenkpakkie hulle wil hê, maar nie een kon kies wat daarin is nie. Daarvoor was hulle totaal en al aan my en die Mooiste Mooi se guns en goedhartigheid uitgelewer. Ons het besluit wat in elke pakkie toegedraai moes word.
 
Verdermeer besef ek ook dat dit nie die geval is wanneer die bekende storie van die verlamde man langs Betesda se "gesond-word-water" gelees word nie. In Johannes 5 (waar die storie opteken is) bied Jesus ‘n geskenk op ‘n onverwagte en onrealistiese wyse aan ‘n kreupel man. As die Geskenkgewer wat goed vertroud is met die man se siekte die afgelope 38 jaar, vra Jesus hom of hy gesond wil word. By implikasie vra God se Kêrelkind - wat weet van die verlamde man se hoop, sy drome, sy ideale en natuurlik ook sy verwagtinge - wat hom bly sal maak. As ontvanger kan hy kies wat sy geskenk moet wees. ‘n Geskenk wat meer as net sy lewe onherroeplik verander. ‘n Geskenk wat ook die koninkryk van God help uitbrei.
 
Dit is 2024 en niks het regtig verander nie. Net mooi niks nie. Die Kêrelkind van God weet steeds alles van my en van jou. Daarmee saam weet Hy ook van elke mensegoed se kopseer, seer lyf, vernielde binnevoering, gebroke verhoudinge en natuurlik ons beursies. Hy is ook deeglik bewus van alle mensegoed se hartsbegeertes, drome, ideale en verwagtinge. Niks en absoluut niks is vir Hom weggesteek nie.

En net soos vir die verlamde kreupele langs Betesda se "gesond-word-water", vra die Skeppergod se Geskenkgewer vandag vir my en jou wat ons as geskenk wil hê. Ons kan kies. Ons kan ons eie geskenk kies. ‘n Kleurvolle kosbare geskenk wat meer as net ons individuele lewens onherroeplik sal verander. Dié geskenk sal ook tot voordeel van Sy koninkryk wees. Ons moet net kies.
 
Joh 5 vers 6 (NLV) = "Jesus het hom daar sien lê. Hy het geweet dat die man al lank siek was en vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?”"

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Valerie, vir die deel van hierdie stukkie. Waardeer. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Sunday, 28 July 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Anna se simfonie

Groete en Vrede!!!

Ons was altwee besig die spesifieke dag en sou eers met etenstyd kon gesels. Ek was buite besig by Die Ark, terwyl die Mooiste Mooi in die Sentrum doenig was. Vandag is een van daardie spesiale dae wat sy en ‘n klompie van Noenieput se vroue hulleself besig hou met “crafting” aktiwiteite in die Sentrum. Daar word gewoonlik gekuier, gelag, hulle koggel mekaar en natuurlik bid en huil hulle saam. Manne is nie welkom nie. Die enigste taal wat in die Sentrum gepraat word, is vrouetaal. En die manlike geslag sukkel mos maar oor die algemeen om regtigwaar hierdie taal ... hierdie hartstaal van 'n vrou te verstaan.

So ‘n “crafting” dag het vir die meeste van hierdie vroue amper heilig geword. ‘n Plek en tyd waarop hulle besitlik en selfs jaloers is. Jare gelede het Pollie en haar buurvrou, Lucy, op 'n keer vir voorwêreld vriende wat kom kuier het, beduie dat die “Craftkamer” die enigste plek is waar hulle veilig voel. Veral as dit voel asof die stofstorms van die lewe jou versmoor.

“Ou Anna se hart is soos ‘n oorlooptenk vandag. Sy is weer op haar snykant met al die gekerm en gekla” sê die Mooiste Mooi met die aansit by die etenstafel. Meteens verstaan ek waar die moedeloosheid wat met ‘n hoofletter M en ‘n strepie op elke “o” wat tog te duidelik op haar voorkop geskryf is, vandaan kom. Sonder om ‘n woord te sê, vat ek haar hand en kyk haar vol in die oog. Ek weet sy sal die vraag in my oog sien. Ek weet ook sy sal my daarvan vertel.
 
So vertel die Mooiste Mooi lateraan dat Ou Anna (wie floreer op simpatie), soos gewoonlik weer laat was. Eintlik was sy baie laat ... so laat dat sy net na die oggend se koffietyd daar aangekom het. Sommer met die inloop in die Sentrum in, kon mens al aanvoel dat ou Anna vandag weer van haar gaan laat hoor. Haar benerige skouertjies wat lyk asof hulle weke laas gelede reguit was, het die stryd teen die swaartekrag verloor.
 
Sommer so met die toemaak van die deur, het sy almal bekyk, die leë koffiebekers en klein bordjies gesien, diep gesug en haar geplooide gesig op 'n kreukel getrek. Haar eerste woorde nog voor sy by haar stoel langs die werkstafel kon kom, was dat sy nog nie nat of droog oor haar lippe gehad het nie. “En ‘n koekie of twee ... veral daardie soort met die stukkies sjokolade in, sal darem al te ‘nxa’ wees” het sy geskimp.

Sy het skaars haar sit gekry, toe sy wegspring om met oorgawe ‘n simfonie - haar klaagliedsimfonie - uit volle bors te sing. Die meeste van haar gekerm en gekla kom oor etlike jare saam. Hoofsaaklik het dit maar gehandel oor haglike lewensomstandighede asook die stryd in en met haarself. Aspekte waaraan sy of haar huismense nie kan of wil aandag gee nie. So word die vinger na alles en almal gewys terwyl die waarheid meestal tot haar eie voordeel heel vreemd voorgehou word.
 
Terwyl die Mooiste Mooi so tussen al ons gekou en gesluk langs die etenstafel vertel, besef ek dat ou Anna en moontlik ook ek, jy en alle ander mensegoed wat ook kerm en kla, eintlik in goeie geselskap is. Vat maar as voorbeeld vir Israel van ouds. Dink maar net aan al hulle gekerm, gekla en ook hul gesanik terwyl hulle in Egipte was. Die klompie uitverkorenes het onophoudelik in die Here se ore geneul oor die verdrukking en hulle gesukkel en gesweet.
 
Meteens besef ek dat die Here nooit sluimer of slaap nie. In Sy allemintige wysheid het Hy ‘n plan en ‘n uitkoms vir elke klagte. Dit is dalk nie die plan wat ek en jy en Anna in gedagte het nie, maar ons Here het ‘n plan. In Israel se geval was dit 'n dramatiese en drastiese plan. Hierdie plan behels om ‘n bejaarde Moses wat in die Midian woestyn weggekruip het, te stuur om die volk uit Egipte te lei. Na sy ontmoeting met die groot “Ek is”, vat Moses (ondanks die feit dat hy bang en vol verskonings is) mede-eienaarskap van hierdie reddingsplan. Net soos Jesus ‘n paar eeue later, het hy gegaan en gedoen wat van hom verlang word. Ek wonder of dit is wat die Israeliete destyds en die mensdom vandag wou hê. Dalk wou hulle eerder sien dat die Here self die saak beredder.

Ons etensuur is amper verby en ons aktiwiteite moet haas aan weer aan die gang kom. Die gekoer van ‘n handjievol bosduiwe op die Sentrum se dak trek my aandag, terwyl ek en die Mooiste Mooi Sentrum toe stap. Net voor ek die deur vir haar oopmaak, besef ek dat Vader iewers in die gistertye van die lewe sommiges van die Kalahari se alleen en vergete mense se gekerm en gekla gehoor het. Vanweë Sy oneindige liefde vir hulle, het Hy in Sy allesomvattende wysheid besluit om iets daaraan te doen. Eers het Hy Jesus gestuur. Baie jare later moes ek en die Mooiste Mooi ‘n bondel Kalahari mensegoed onvoorwaardelik kom lief hê en help. Iets wat ons net met Sy hulp, leiding en onderskraging kan doen.
 
Maar wat van jou en my? Wat van ons? Gaan ons soos ou Anna aanhou kerm en kla oor alles en nog wat? Gaan ons ander se ore onnodig moeg maak met al ons geneul? Of gaan ek en jy eerder as gestuurdes, ander kosbare mensegoed onvoorwaardelik lief hê omrede Vader ons na hulle gestuur het om te help? Ek dog ek vra maar.

Eks 3 vers 10 (Afr20) = "Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit."

Sandkorrel baie seëninge 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Wednesday, 10 July 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Maak die linne los

Groete en Vrede!!!

Die dankbaarheid in my binneste binne kook byna oor toe ek Pieta se vriendelike breë glimlag in sy swartbruin oë sien met die oopmaak van ons kuierkombuis se deur. Sommer so met die groet, kon ek aanvoel dat Pieta iets op die hart het. Iets groots ... iets kosbaars. Maar tog is dit ook iets wat swaar op sy gemoed en sy skouers druk.

"Ai jinne, Pastoor,” sê Pieta nog voordat ons op die sementbankies onder die Apiesdoring langs die kantoor kon sit, “ek is tog so bly julle oorstaan in die voorwêreld is verby. Pastoorgoed moet tog vir my hand gee asseblief. Na laaste Saterdag voel dit kompleet asof my dinkdinge vasgebind is. Alles hierbo deurmekaar.” Stil stom bekyk ek hierdie geharde Kalahari-boorling ampertjies ongelowig op en af. Dit is nie die Pieta wat ek en die Mooiste Mooi sowat dertien jaar gelede ontmoet het nie. Daardie Pieta is hardkoppig, vasberade, eiewys en egosentries. Iemand oor wie se lippe “hand-vra-woorde” nie maklik kom nie.

"Pastoorgoed sien,” beduie hy lateraan “ek het mos laaste Saterdag my saak met die Here reggemaak. Daardie oomblik toe my eg se kis in die graf wegsak, het ek besef dat ek vir te lank 'n dooie lidmaat is wat met my rug na die Here toe staan. Ek wil soos my eg wees. Sy is mos met haar oog op die Here die ewigheid in. Omrede ek nou onseker is vra ek hand, maar die volk kan of wil nie hand gee nie."

Met die aanhoor van Pieta se hand-vra-woorde, herinner die Veilige Gees my aan 'n bekende leë graf storie - Lasarus se leë graf. ‘n Storie waar die wegrol van ‘n grafklip en die losmaak van doodslinne baie belangrik is. Terselfdertyd besef ek dat die ooreenkoms tussen Lasarus en Pieta se stories meer as net die dood is. Die realiteit is dat beide dood was - die een fisies en die ander geestelik.

Lasarus was dood ... fisies dood en daar is begrafnis gehou. Etlike dae na die verrigtinge word daar steeds lang trane oor hom gehuil. En op die vierde dag na sy dood het Marta (Lasarus se suster) selfs per geleentheid gesê het dat hy dae sal ruik. Jesus as God se Kêrelkind, het egter nie 'n menslike perspektief op Lasarus se afsterwe gehad nie. Volgens Hom het sy vriend egter net geslaap. Lasarus moes bloot net wakker gemaak word.

Net so was Pieta ook geestelik dood en vasgevang in ‘n geestelike rotsgraf. Hy wat Pieta is, het homself daarin begrawe omdat hy doelbewus gekies het om sy rug op die Skepper van hemelgoed en stofaarde te draai. En so het die Kalahari se uitverkoopte gelowiges hom geken ... ‘n dooie lidmaat wat net aan die slaap is.

By Lasarus se graf was ‘n bondel begrafnislopers wat kom treur en groet het. En in opdrag van Jesus, moes hulle die onverwagte en onnatuurlike doen. Hulle moes die grafklip voor Lasarus se rotsgraf wegrol. Jesus se uitroepwoorde kon nou sonder enige fisiese hindernis by Lasarus se ore uitkom. Uitroepwoorde lig toe en uitroepwoorde lewe toe.

Net so was daar ook begrafnislopers by Pieta se onsigbare geestelike rotsgraf wat kom treur en groet het. Hulle wou of kon nie aanvaar dat Pieta geestelik dood is nie. Dit is daardie uitverkoopte gelowige mensegoed wat nie skaam was om liefdevol teenoor hom op te tree en gereeld vir hom te bid nie. Hiermee het hulle verseker dat die grafklip voor Pieta se onsigbare rotsgraf weggerol word. Nou kan hy Jesus se uitroepwoorde sonder enige hindernis hoor. Uitroepwoorde lig toe. Uitroepwoorde lewe toe.

Meteens besef ek dat Lasarus se storie nie hier eindig nie. Alhoewel die ontbinde lyk die lewe bo die dood gekies het, het hulle hulp nodig gehad. Lasarus wat soos 'n mummie lyk, kom sukkel-sukkel uit sy rotsgraf terwyl sy hande, voete en kop steeds in doodslinne toegedraai is. Hy kon by homself nie regkom nie. Daarom is daar vir die begrafnislopers ‘n konkrete en daadwerklike opdrag gegee om die versmorende doodslinne van Lasarus los te maak sodat hy kan gaan.
 
Stilweg snak ek na my asem. Meteens weet ek waarom Pieta kom hand vra het. Hy het hulp kom soek omdat hy sukkel-sukkel uit ‘n geestelike rotsgraf kom. Dit voel vir hom asof sy dinkdinge verstrengel is in geestelike doodslinne wat rondom hom gedraai is. Doodslinne waaruit hy by homself nie kan kom nie.

As uitverkoopte gelowige mensegoed, is dit ons plig en Godgegewe verantwoordelikheid om mekaar te help. Ons moet mekaar en al die Pieta's van die lewe help om ontslae te raak van versmorende doodslinne. Doodslinne wat versmoor. En dit doen ons deur mekaar altyd in nederigheid te dien en onvoorwaardelik lief te hê. Dit is nou sonder enige uitsondering en sonder enige voorwaarde.

Joh. 11 vers 39 (a) (Afr20) = "Jesus het gesê: “Vat die klip weg.”
Joh. 11 vers 44 (Afr20) = "Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Monday, 27 May 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Guns in Sy oog

Groete en Vrede!!!

Dit is amper dagbreek en ek sit langbeen met my oranje koffiebeker buite by die ”Kuierplek-op-die-vlak”. Neffens my, dans en draai geelrooi vlammetjies op die maat van rustige musiek wat net hulle kan hoor. Netnou gaan die warmste hemellig sy kop agter die verste sien optel sodat sy oog alles op die Kalaharivlak kan sien. My vroegoggend dinkdinge wil vandag nie sommer veel verder as die Kalahari se vergete mensegoed beweeg nie. Voorwaar kosbare en ongekompliseerde skapelinge wat oorloop van opregtheid en eenvoud ... al is die droogte kant van die lewe so onlosmaaklik deel van hul daaglikse bestaan. Mensegoed soos oom Janneman en Willa-goed.
 
Oom Janneman byvoorbeeld, se standaard antwoord was altyd "My dink loop nog so bietjie rond" as hy iets gevra word. Niks meer en niks minder nie. Net dit en so staan die saak vas. Maar daardie dag toe oom Janneman sy saak met die Kêrelkind van God regmaak en uitkniel, daardie dag het die skaamte hom gelos. Eers het hy net geluister en vrae begin vra. Daarna het hy begin vertel van kosbare belewenisse. Maar die koffie met kondensmelk was die dag toe oom Janneman spontaan verklaar het dat hy guns in die Kêrelkind van God se oog gekry het. Deesdae loop Oom Janneman se dink loop soos ‘n skoothondjie al agter Jesus aan.

Willa-goed op haar beurt, het een agtermiddag onder 'n groot Suidwesdoring besef dat ‘n erge hongersnood in haar binneste-binne is. Haar binneste-binne is stadigaan te sterf weens ‘n dwarsduin vol liefde vir die soetwyn. Iets wat onbeweegbaar tussen haar en die Here staan. Skaam-skaam het Willa-goed daardie middag vir gebed gevra. Sommer nog voor die amen uit my mond gekom het, het Willa-goed se binneste al geborrel van dankbaarheid “want” het sy gesê “ek het guns in die Kêrelkind van God se oog gekry.”

Terselfdertyd herinner die Veilige Gees my daaraan dat die Egiptiese volk in ‘n tydperk van erge droogte en uitmergelende hongersnood sekere radikale besluite vir oorlewing geneem het. Nadat al hulle bates (al hulle geld, vee en grond) aan Josef oorgedra het, het hulle uit vrye wil as Farao se slawe gefunksioneer. Hierdie volk was ten volle uitverkoop aan Josef ... bloot net om te kan oorleef want hulle het guns in sy oog gekry.
 
Maar wat van ons ... wat van my en jou? Word ons ook gekonfronteer met ‘n tydperk van erge droogte en uitmergelende hongersnood? Moet ons nie dalk weer radikale ankerpaal besluite neem om te oorleef nie? Ankerpaal besluite in ‘n genadelose wêreld waar ons Jesus as God se Kêrelkind met alles en in alles moet vertrou? Ankerpaal besluite om (soos oom Janneman) ons daaglikse dink net agter die Kêrelkind van God te laat aanloop en om aanmekaar te borrel van dankbaarheid (soos Willa-goed), want ons het onverdiende guns in die Kêrelkind van God se oog gekry .

Gen 47:25 (Afr 2020) “Hulle sê toe: “U het ons aan die lewe gehou. As ons guns vind in die oë van my heer, sal ons farao se slawe word."

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en kan betrokke raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Sunday, 26 May 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = ‘n Voorslag soeker

Groete en Vrede!!!
 
Herfstyd se vroegoggende is normaalweg spesiaal. Gewoonlik is dit windstil en wolkloos. Anders as in die soms ongenaakbare someroggende, is die amperse bytende luggie vars en vol belofte. Herfstyd se vroegoggende is ook die lekkerste tyd van die dag om buite by die Kuierplek-op-die-vlak te sit en wag dat die son sy kop agter die verste sien optel. Veral as die stoom half rigtingloos uit jou beker pittekoffie trek. En as die Kalahari se stilte snoesig toegevou is in Vader se verborgenheid, raak mens vinnig-vinnig opgevang in ‘n dankbare gevoelte van “ek-is-gevind-en-behoort-nou-aan-Hom”.
 
Wel, voorlaaste Saterdagoggend was een van daardie baie spesiale “ek-is-gevind-en-behoort-nou-aan-Hom” oggende. Lank voordat die eerste leidrade van dagbreek in die naglig was, was ek buite by die bankie onder die peperbome langs die Boerekerk se pastorie met my oranje koffiebeker. Terwyl die Kalahari in stilte toegevou is, oorspoel ‘n vredevolle dankbaarheid my menswees. ‘n Dankbaarheid omrede Hy geen moeite ontsien het sodat ek ook aan Hom kan behoort nie.
 
Opeens onthou ek die gebeure rondom ‘n spesifieke gekuier op hierdie selfde houtbankie. Dit was ‘n jaar of wat gelede toe ek weer vroegoggend met my oranje koffiebeker vir die dagbreek gewag het. Net voordat die son sy kop opgetel het, het Janneman van vêr uit die veld aangestrompel gekom. Aan sy manier van Sy loop kon ek sien dat die man swaar trek. Kompleet asof die las op sy normaalweg trotse en reguit skouers te swaar is om te dra. En as Janneman uit die veld kom het ek by myselwers gedink, het hy sekerlik gisteraand tussen die duine geslaap.
 
Ek het maar geduldig gewag. Janneman se spore gaan netnou hier verbykom. ‘n Rukkie later en dit was dan ook so. Ek het vir hom by die skuinshekkie gewag en nader genooi. Sy handdruk was papperig en sy swartbruin oë is moeg. Amper moeër as sy lyf. En so het Janneman langs my op die bankie kom sit.
Saggies, stadig en stotterend begin hy vertel. So vertel hy in detail van die laaste drie dae se gesoek. ‘n Gesoek na wat syne is. ‘n Gesoek na sy kosbaarste besitting ... dit waarop hy trots is. Dit waarmee hy spog. Janneman se donkies is soek, al vier van hulle! En al asof dit nie genoeg is nie, is al sy skaap ook by dieselfde grenshek uit. “Want” sê hy “nalatige mensegoed het so bietjie meer as 'n week gelede die meent se grenshek oopgelos.”

Janneman vertel ook van die gesukkel met dwarsduin loop. Hy was selfs weerskante van Noenieput twee plase ver in die gorrel op en af gewees. Maar tevergeefs, alles tevergeefs want sy diere is steeds soek. Om alles boonop te kroon, het die noordewind seker gemaak dat alle spore behoorlik doodgevee is. Maar ek hoor nie net van sy gesoek nie, ‘n moedelose Janneman vertel ook van honger en dors wat saam met hom geloop het. En natuurlik ook van die vorige nag se skielike koue. ‘n Koue wat iewers daar tussen die duine, met ysvingers aan sy gebeendere gevat het.
 
Terwyl Jan van sy soektog vertel, besef ek dat die rou werklikheid is dat Janneman se verlies, veel meer en veel groter is. Saam met sy diere wat soek is, is sy drome flenters, sy hoop is verinneweer en sy ideale lê aan skerwe. Janneman voel verdwaal, verlore, verwerp en verwilderd ... nes elke ongeredde mensegoed.
 
Opeens onthou ek dat Jesus ‘n soeker sonder gelyke is. ‘n Voorslag soeker. Hy het dan selfs by geleentheid gesê dat Hy gekom het om wat verlore is te soek en te red. Kosbare woorde waaroor alle gelowiges kan en moet getuig. Waardevolle woorde wat oor die menigte jare heen onomwonde beduie wie en wat Hy is. Hy soek. Hy soek na dit wat aan hom behoort. Hy soek na kosbare mensegoed. Diegene wat soek is omrede ‘n listige slang êrens ‘n grenshek oopgemaak het. Sien, ons Skeppergod is en bly 'n soekende God. Hy is en bly soekend na geredde en ongeredde mensegoed. Mensegoed soos ek en jy en Janneman. Elke oomblik van elke dag en dit is wie en wat Hy is.
 
So het Hy vir Adam en Eva tussen die plante gevind. Gideon was aan die werk in ‘n parskuip terwyl Dawid iewers in die veld agter die skape was. Jona op sy beurt het wegkruipertjie in die binnekant van 'n skip gespeel terwyl Elia opgekrul en moedeloos onder 'n besembos gelê het. Simon en sy broer Andreas was besig om vis te vang terwyl Jakobus en Johannes visnette heel gemaak het. En die verlore seun ... iewers in ‘n varkhok. Levi was besig om tolgeld te hef en Saulus (wat lateraan Paulus geword het) was op 'n sending om uit te wis en dood te maak. Ondanks elkeen se omstandighede, se optrede of selfs hulle ingesteldheid, het die Voorslag Soeker na hulle gesoek. Hy het hulle gevind en daarna het Hy behoorlik bemoeienis met hulle gemaak. Dit is wie en wat Hy is.

Maak nie saak wie jy is, waar jy is of wat doen of gedoen het nie. Onse Here is en bly 'n Voorslag Soeker. Hy sal jou soek, Hy sal jou kry en Hy sal behoorlik bemoeienis met jou maak - veral as jy verdwaal, verlore, verwerp en verwilderd voel. Dit is wie en wat Hy is.

 Luk 19 vers 10 (Afr20) = "Die Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos."

Naskrif: 'n Grondeienaar wat meer as ‘n handvol kilometers van Noenieput af boer, het Janneman se dwalende donkies gekry. Hulle is op kraal gesit en behoorlik versorg. ‘n Dag of wat later is die donkies terug op die meent, die grenshek behoorlik toegemaak en Janneman loop weer met reguit skouers.

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Sunday, 14 April 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Ons Wegoopmaker

Groete en Vrede!!!

Kyk, dit is nou maar wors. Draadwerk is alles behalwe maklik. Dit is vrek harde werk. Van ver af lyk dit maklik want nadat gate op die regte plek gegrou is, word dik teerpale daarin geplant. Daarna word drade aan die pale vasgemaak en styf getrek. Sodra dit gedoen is, word sif gehang waarna 'n klompie sparre vasgemaak word en siedaar ... die draad is gespan. Heel maklik, heel eenvoudig en voor jy kan sê "Koop Suid-Afrikaans" is alles klaar. Altans, dit is wat ek gedink het, maar so paar maande gelede het ek mooi geleer dat draadwerk veel meer behels as wat mens sou dink.

Ons vergrote erf moes behoorlik toegespan word en ek het vir Kef gevra of hy my tog ‘n hand sal gee met hierdie projek wat die Maandagoggend sou begin. “Nee wat pastoor het hy gesê nadat ons die saak vasgemaak het, “ons maak sommer gou-gou klaar. Miskien so oor 5 dae.”

Sommer vroeg-vroeg die volgende Maandagoggend was daar ‘n klop aan die agterdeur. My verbasing was groot toe klein Corrie (wat skaars 13 jaar oud is) saam met sy pa kom inval vir die draadwerk. "Die klong moet leer pastoor, die klong moet die draadwerk leer. As hy wil man wees, moet hy leer” het hy selfvoldaan gesê terwyl ons hierdie dag se eerste beker koffie afsluk. "Vandag maak ek sy pad vir hom oop. Vandag begin hy leer wat dit is om ‘n grootmens te wees."

Klein Corrie sit grootoog en luister na sy pa se woorde. Ek wonder wat alles deur hierdie jongeling – wat eintlik nog op die skoolbanke moet wees - se kop gaan. Dalk besef hy dit nog nie, maar vandag loop hy op die pad wat sy pa vir hom oopmaak. En so was dit ook dan gewees. Kort voor lank het ons sweet gespat, maar Corrie het die meeste gesweet om tred te hou met Kef. Dié se genade is maar aan die min kant as dit by werk kom.

Ten spyte van sy jeugdige ouderdom het Corrie daardie Maandag gate met 'n swaar grou-yster gegrawe, water met 'n verf emmer aangedra, sand en sement met die kruiwa aangery en dit gehelp meng. Dit alles, terwyl Kef eers verduidelik en dan wys. Daarna werk Kef die heeltyd saam met Corrie terwyl hy die jongeling met 'n fyn oog dophou en reghelp. “Onthou” het Kef gesê, “Vandag maak ek sy pad vir hom oop. Vandag begin hy leer wat dit is om ‘n grootmens te wees."

Die Mooiste Mooi het later daardie selfde middag vir ons yskoue koeldrank gebring. Terwyl ons in stilte hierdie yskoue lafenis koeldrank geniet, dink ek aan Kef se plan met sy klong. ‘n Plan om sy seun in te lyf om man te wees. Terselfdertyd onthou ek ook dat inlywing of ontgroening as jy wil, uiters noodsaaklik maar nooit lekker is nie. Dit maak nie saak of dit nou op skool, op die sportveld of in die werksomgewing is nie, inlywing bly onlekker. Veral as dit jou beurt is om dit te beleef of te ervaar.

Dan herinner die Veilige Gees my dat Jesus ook op 'n unieke manier die 12 dissipels ingelyf het. As die Wegoopmaker het Hy vir hulle 'n sprekende voorbeeld gestel wat van hulle verwag word. Nie soseer met woorde nie, maar eerder by wyse van 'n voorbeeld. Die dissipels moes leer om soos Hy te wees. Hulle moes leer om die minste te wees en ander onvoorwaardelik te dien. Daarom het Jesus hulle voete - toe hulle dit die minste verwag het - gewas. Petrus wou die aand soos 'n halsstarrige donkie vasskop maar lateraan het die ou heethoof uit respekte stil-stil toegegee.

Om waarlik kind van die Skepper van hemelgoed en stofaarde te wees (of om waarlik deel van Sy uitverkore groep te wees) impliseer dat ek en jy deur Hom wat die Wegoopmaker is, ingelyf moet word. En hierdie inlywingsproses behels dat ek en jy - sonder voorwaarde, sonder klagte en sonder teenstribbeling – die minste moet wees en ander moet dien. Ons moet bereid wees om te sê wat Hy sê, te maak soos wat Hy maak en te wees soos wat Hy is. En wanneer ons dit doen, sal 'n genadelose en wrede wêreld weet wie ons Wegoopmaker is!

Mar 9 vers 35 (Afr20) = “Nadat Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: “As iemand eerste wil wees, moet hy laaste van almal en almal se dienaar wees.”
 
Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.] 

Sunday, 10 March 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Saartjie en die wynduin

Groete en Vrede!!!

Een ding is verseker ... en dit is dat die Skepper van hemelgoed en stofaarde voorwaar ‘n sin vir humor het. Die Bybel beduie mos nie verniet dat ons as mensegoed na Sy beeld en Sy gelykenis geskape is nie. Daarom is dit heel veilig om te aanvaar dat ons in so baie opsigte net soos Hy is. Vat nou maar daardie laat agtermiddag toe die Genadewa met ’n sagte skud bo-op ‘n groot wit Kalahari sandduin sy staan gekry het. Ek en die Mooiste Mooi het met binneste binnes wat oorloop van verwagting uitgeklim en nader aan die voormalige plaasopstal met sy afgedopte mure en roesbruin sinkdak gestap. Vanweë 'n vroegmiddag wilde en woeste westewind, is die groenerige voordeur heel toe en die huismense se spore om die huis, is lank terug doodgevee.

Ons wou net omdraai om weer in die Genadewa te klim, toe Saartjie onder in die sandstraat ons aandag met swaaiende arms probeer trek. Die Mooiste Mooi waai met 2 arms terug en sekondes later ry ons stadig en versigtig die duin af. Niemand wil hier vasval nie. Die Genadewa maak sommer sy eie pad na Saartjie se huis totdat ‘n lynregte binnedraad ons forseer om te stop. Die laaste sowat 30 meter sal ons maar ons weg moet vind deur 'n aantal kniehoogte driedoringbossies heen. Intussen wag Saartjie heel geduldig in die koelte van ‘n groot Prosopis waar sy vir ons stoele gemaak staan het. Sommer knap na die groet, verduidelik Saartjie skamerig en al stotterende dat sy vandag alleen op die plaas is. “Oubaas en die m-m-manne is sonop veld toe om skaap te werk en K-k-koekie en haar suster is buurplaas toe om te gaan k-k-uier.”

En so begin die gesels. Net ek, die Mooiste Mooi en stotterende Saartjie in die skaduwee van die groot Prosopis. Lateraan kon Saartjie dit nie meer inhou nie en vertel met ‘n groot skaambaadjie aan van die wynduin waarmee sy stry. Met bekeerore luister ek en die Mooiste Mooi na haar relaas wat sy afsluit met “En dan p-p-pastoor is daar nog die twak ook. M-m-maar die wynduin ... dis die ergste. Daai soetwyn maak my sukkel en sweet” sê sy.

Ons moet aanstoot huis se kant toe. En net voordat ons groet, trek Saartjie haar skaambaadjie met ‘n gestotter uit. Baie sag vloei haar diepste hartsbegeerte so sukkel-sukkel oor haar lippe. “P-p-pastoorgoed” hakkel sy kinderlik opreg en moedig “jy moet tog a-a-a-se-b-b-blief vir my b-b-bid. B-b-bid tog vir my om die soetwyn te los. Annerdag kan ons vir die rook b-b-bid maar nou is dit eers die wynduin wat pla. Die Here sal mos h-h-help p-p-pastoor, H-h-h-hy sal mos help?”

Die Mooiste Mooi het opslag agter Saartjie gaan staan en haar arms styf om haar gevou. En so is daar vir haar gebid. Net gebid. Net gebid en gevra vir krag en hulp vir die wynduin en rooklus. Daardie goeters wat haar loop saam met die Kêrelkind van God vir so moeilik maak.

Twee weke of wat later, wieg die Genadewa weer al te gemaklik oor die bekende tweespoorpaadjie na die plaas waar Saartjie-goed bly. Sommer so in die ry, wonder ek of Saartjie deurgedruk en rotsvas bly staan het met haar groot besluit. ‘n Besluit om die soetwyn en twak deel van haar gistergoed te maak. Ai, dit sal mos tog te kosbaar wees as Saartjie bo-op haar dwarsduine kan staan en beduie dat sy met Vader se hulp, die saak agter haar kan sit. So ‘n gebeurtenis is mos veel kosbaarder as sagte genadewater wat op die vlak van ‘n dorre woestyn val.

Ons kon vir Saartjie van ver sien. Sy het ‘n vrolike borriegeel doek om die kop gehad en ‘n helder groen rok wat tot by haar enkels hang. Vandag lyk Saartjie heel anders en sy beweeg anders .. al asof sy oor die vlak sweef. Met glimlagte wat so wyd soos die uitgestrekte Kalahari horison strek, kyk ek en die Mooiste Mooi vol opgewondenheid na mekaar. Hoe dan anders.Dit is mos net ons Skeppergod kan so iets doen. Net Hy kan maak dat Saartjie hierdie saak agter haar sit want Hy bly opreg en Hy bly getrou. Self ou koning Dawid het mos nie verniet ‘n verlossingslied gesing nadat Die Here hom gered het van die wraaksugtige Saul en sy vyande nie. Ai, sal dit nie spesiaal wees as Saartjie voortaan ook kan sing en dans en dankbaar wees oor haar verlossing nie.

Net soos vantevore, het die lynregte binnedraad ons geforseer om weer sowat 30 meter van Saartjie se plekkie af te stop. Nog voordat ek deur die draad kon klim skree-vra ek opgewonde en vol nuuskierigheid “En Saartjie, hoe gaan dit met jou wynduin?”

"Nee j-j-jitte p-p-pastoor,” het sy moedig en opreg geantwoord, “die H-h-here is ge-ge-getrou. H-h-hy is w-w-w-waarlik getrou. Daai ge-ge-bed het vir een dag ge-gewerk.” En op daardie oomblik dink ek dat die Here met ‘n vonkel in Sy oog na Saartjie gekyk het. Ons as mensegoed het mos iets van Hom in ons ... selfs humor en pittige sêgoed.

2 Sam 22 verse 26 & 27 (Afr 20) = "Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor die held wat onberispelik is, tree U onberispelik op; teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor die wat vals is, tree U berekend op’”

Gen 1 vers 26 (a) (DB) = “Toe het God gesê: “Kom Ons maak ’n mens, ’n mens wat iets van My in hom het en selfs ’n bietjie soos Ek lyk.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Sunday, 11 February 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Soutsmaak op my lippe

Groete en Vrede!!!

Vroeër jare was dit ons gebruik hier op Noenieput dat die huisrommel (wanneer die swart rommelsak vol is) in die brandblik gegooi word. Daarna word dit brand gesteek. ‘n Taak wat ek normaalweg met groot versigtigheid pligsgetrou uitgevoer het omrede die brandblik gewoonlik so ‘n handvol tree van ons buitestort af staan. ‘n Buitestort wat ons oudste seun met dekgras vir ons gebou het.

Woensdae is ook “Crafting” dag vir Noenieput se vrouens – vroue wat goed vertroud is met die swaarkry kant van die lewe. Normaalweg kom hulle so een-een op die werf aan. En as ek op daardie stadium moontlik in die kantoor besig sal wees, sal hulle my sommer so deur die kantoor se venster groet en dalk ‘n woordjie of twee wissel. Daarna word daar spore gemaak om in die “Craft” kamer te kom waar die Mooiste Mooi reeds vir hulle sal wag. En sodra die laaste een die deur agter haar toegetrek het, begin ‘n spesiale dag. ‘n Dag waar daar gekuier, gekoggel, gelag, gesing, gehuil, gebid en bemoedig word terwyl hulle die mooiste geskenke maak.

Die spesifieke Woensdagoggend het net soos vele ander Woensdae voor hom begin. Die Mooiste Mooi was nog voordat die son agter die verste duin opgestaan het, al aan die gang. Eers het sy met ‘n koppie tee in die hand, tyd met die Skepper van hemelgoed en stofaarde spandeer. Daarna het sy die oorvol rommelsak op die agterstoep uitgesit en met ‘n lied op die lippe reggemaak vir nog ‘n dag saam met ‘n klompie van Noenieput se werklose vrouens.

Kort neffens ontbyt het ek die rommelsak wat op die agterstoep gelê het, in die brandblik gaan gooi en brand gesteek. Omrede dit hoog somer, baie warm en windstil was, het ek nie soos gewoonlik gewag nie en opslag die koeligheid van ons kantoor gaan opsoek.

Ek was skaars in die kantoor toe ek iets hoor wat ampertjies soos ‘n ontploffing klink. ‘n Minuut of wat later, weergalm Koba se stem soos ‘n brandsirene oor die vlak terwyl sy skree “Dit brand, kom gou, dit brand, die grasstort brand!” ‘n Verdwaalde kooltjie het met die ontploffing tussen die gras van die stort beland en vlam gevat. Geelrooi honger vlamme wurm hulleself vinnig-vinnig tussen die droë gras van die buitestort in. Die vlamme brand hoër en hoër asook warmer en warmer terwyl ‘n witgrys rook wat hemelhoog pronk, getuig van hierdie vretende vuur se vernietigende en gulsige teenwoordigheid.

Op daardie selfde oomblik skrik ek my mond kurkdroog, spring op om buite te kom. Ek was skaars by die kantoordeur uit toe ek my vasloop teen ‘n amperse histeriese Mooiste Mooi wat my kom soek het. “Doen iets, doen tog net iets” skree die Mooiste Mooi steeds histeries, maar ons hande hang slap. Die vuur is net te warm en net te erg. So warm dat selfs van die wasgoed op die waslyn spontaan begin brand. ‘n Verlammende magteloosheid daal op almal op die werf neer. Met oë wat wyd oopgesper is en niks regtig raaksien nie, staar ons verdwaas om ons heen. Hierdie vuur is net te groot, te warm en te vinnig en daarteen kan geen mens baklei nie.

‘n Paar minute later en alles is verby. Al wat nou oor is, is ‘n hoop smeulende gras en ‘n paar erg verbrande teerpale. Ek voel die trane oor my wange voel loop want ek voel soos ‘n mislukking. Ek is magteloos en nietig vanweë my onvermoë om iets daadwerkliks teen hierdie vernietigende brand te doen. ‘n Brand wat meer as net ons buitestort en ‘n klompie klere is verwoes en verniel het. ‘n Brand wat ook onooglike en pynlike letsels op my en die Mooiste Mooi se menswees gelos het.

Sowat ‘n week later sit ek een vroegoggend buite op die kuierbankie onder die peperbome langs die Boerekerk se pastorie en wag dat die son uit sy bloedbad kruip. Met my Bybel en my oranje koffiebeker in die hand, wag ek vir die dag om te breek - hopelik ‘n dag sonder trane. Stadigaan begin trane oor my wange vloei en los ‘n soutsmaak op my lippe terwyl ek myself hoor sê:

Here, my hart is houtskool verbrand
Verwoes, verniel - geen kans aan hierdie kant

Here, ek is seer ... my hart stukkend
Wrede lewensbrande laat my wurgend

Here, wat maak ek met die letsels in my hart?
My binneste-binne deurtrek met trane vol smart

U liefde het vir my hoop gebaan
In sak en as kan ek voor U staan

My geliefde kind, laat jou trane vrylik loop
Dis My manier om letsels van jou te stroop

Ek weet van almal ... selfs die kleinste traan
Elkeen opgevang in ‘n kruik wat langs My staan

Iedere een gestort want dit is goed
Trane is die sagte reën vir jou gemoed.

 Op 21 vers 4(a) (Afr20) = “Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Monday, 29 January 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Hoop in die hart

Groete en Vrede!!!

Sowat 2 jaar nadat ek en die Mooiste Mooi Noenieput ons woonplek gemaak het, moes ek dié spesifieke oggend klein boompies natmaak wat die vorige week geplant was. Lank voordat ek die ou Toyota gesien het, het ek hom oor die vlak gehoor aankom. Stadig, doelgerig en na alle waarskynlikheid soekend. Soekend na iemand of iets.

Die Toyota het Noenieput stadig ingery en kort voor lank het die 2 manne in die bakkie my raakgesien, nader gery en langs my gestop. Die groet was heel formeel maar tog hartlik en so begin die groot gesels. Eers deur die Toyota se venster en daarna op die stoep met 'n beker pittekoffie in die hand. Lateraan eindig ek en die Mooiste Mooi, asook ons gaste langs die etenstafel op met oorvol borde sonoond kos. Gelukkig is daar tussen al die gekuier, die gesels en die gekou, ook soms 'n stukkie stilte.

Soos 'n honger meerkat steek  my nuuskierigheid lateraan kop uit. En so word hulle uitgevra na hulle nerings. Die meer spraaksame gas verduidelik dadelik terwyl die stiller een saggies beduie dat hy 'n pediater in Bloemfontein is. Al asof daar 'n regopstaan geelslang op die tafel is, laat ek en die Mooiste Mooi dadelik ons eetgoed val. "Mens, dan is jy mos die antwoord op dit waarvoor ons hoop" sê sy met nat oë. Opslag is die atmosfeer in die kombuis botterdik terwyl beide gaste ons met groot vraagtekens aankyk.

Met dié, begin die Mooiste Mooi in detail vertel van Triena en haar swaar las. 'n Las wat sy altoos in haar hart en op haar heup moet ronddra. Sedert haar jongste se eerste lewenslig, was niks ooit weer normaal in hulle lewens nie. Sommer so met die knip van die naelstring het siekte al in haar jongste se lyfie kom adres maak. Dit is nou al amper 3 jaar later en die kleintjie bly kronies siek. Niemand kan of wil hulle regtigwaar help nie.

Terselfdertyd is Triena-goed die middelpunt van 'n onophoudelike gepraat en geskinder. Lafhartige mensegoed wat haar en haar hartsmense agteraf bespot en uitkoggel omrede sy "haar gebreklikheid" in 'n kombersie toedraai en ronddra. En deesdae voel 3 jaar soos 'n ewigheid.

Die Mooiste Mooi vertel ook van vertroue en hoop wat in vrees en vertwyfeling se spore volg. Triena het juis so 'n klompie dae gelede nuus gebring dat hulle wel in Upington by die staatshospitaal was. Daar het 'n nat-agter-die-ore-doktertjie sommer so terloops die nuus afgegee dat Triena se jongste nooit sal kan loop nie.

Die stillerige pediater sit bewingloos met 'n blink nattigheid in en om sy oë en luister na die Mooiste Mooi se vertelling. "Ek het nou nie my 'toolbox' hier nie" sê hy saggies,  "maar dink julle die mamma sal omgee as ek die dogtertjie ondersoek?"

Vroeg die volgende oggend klop Triena aan die agterdeur. "Ai mevrou" sê sy terwyl trane uit haar bruin oë stroom. "Ek en mevrou het dan juis eergister hoop in die hart gesit. Hoop dat een van daai spesiale dokters waarvan mevrou my vertel het, Kleintjie kan ondersoek. En kyk nou net. Nou het die Here sommer daai dokter Kalahari toe gestuur. Hy het hom Noenieput toe gestuur om na Kleintjie te kyk en vir haar hande op te lê. Is die Here nie groot nie, Mevrou? Is Hy nie groot nie! My Kleintjie sal gesond word. Ek het hoop. Ek het hoop in die hart gesit.

Sowat 'n maand later stop ons met die Genadewa langs Triena se vaalbruin huisie. Die Mooiste Mooi klim uit en stap nader. Triena wat in die huis besig was kom uitgeloop en trek die voordeur agter haar toe. En so raak die twee vriendinne op die stoep aan die gesels. Triena se oog loer egter kort-kort voordeur se kant toe ... kompleet asof sy wil hê daardie deur moet oop. 

Meteens gaan die voordeur met 'n gekraak oop. Versigtig - al asof sy op eiers loop - loop Triena se oudste stadig agteruit terwyl Kleintjie al giggelend haar ousus volg. Treetjie vir treetjie terwyl sy met klein vuisies styf aan haar ousus se pinkies vashou. 

En op daardie oomblik ... daardie heilige oomblik, getuig hierdie klein Kalahari meisietjie met diamantblink ogies van hoop. 'n Versekerde hoop. Hierdie klein onskuldige dogtertjie getuig teenoor 'n menigte ondankbare genadelose skepsels van 'n onwrikbare hoop in ons barmhartige Omgeegod. Sy getuig van 'n Skepper wat nooit Sy oog afhaal van daardie mensegoed wat hoop op Sy troue liefde in hulle hart sit nie.

En deesdae ... deesdae is Kleintjie 'n opgeskote tiener wat die vlak vol loop en haar huismense se ore van hulle koppe af praat. Deesdae is Kleintjie gesond, heel gesond want Triena en die Mooiste Mooi het hoop in hulle harte gesit. Hulle het hoop op Sy troue liefde in hulle harte gesit.

Ps 33 verse 18 & 19 (Afr20) = "Kyk,die Here hou sy oog op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde, om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood."

Sandkorrel baie seëninge.

Los jou voetspore as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Sunday, 14 January 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Kruikgeskenk

Groete en Vrede!!!

So ‘n paar oggende gelede, het ek wakker geword met wyle Lukas Maree se Die Weduwee se Kruik wat in stereo iewers tussen my ore refrein. Ek het maar besluit om nog so ‘n rukkie onder die lappe te broei. Daar was die oggend geen rede om vroeg op te wees nie. Met die Mooiste Mooi wat styf langs my steeds rustig en diep asemhaal, het my dinkdinge spoor op vergete gisterpaaie van my lewe gevat. Vergete gisterpaaie wat dik onder die stof lê terwyl wyle Lukas se rasperstem sonder ophou oor en oor en weer en weer in my kop weerklink.

Sommer vroeg-vroeg het my dink staning gemaak by ou-oom Janneman en sy al-te-maer-net-vel-en-been-vroutjie. Ouer mense wat ‘n paar jaar gelede hier op Noenieput begrawe is. Eers was ou-oom Janneman se naam op die doodsengel se lys en sowat 7 maande later sy eg van bykans 30 jaar s’n. Kosbare mense waar ek en die Mooiste Mooi meer as ‘n handvol kere by hulle goedversorgde plekkie gaan oorstaan en kuier het. Alhoewel dit maar net ‘n een vertrek plekkie was, het hulle met ‘n breë bors dit hulle huis noem. En dit is hier, by hierdie selfde plekkie, waar hulle gereeld gehoor het van Vader se wyd uitgestrekte genade en oorloop liefde.

Een spesifieke gebeurtenis so ‘n paar jaar gelede, trek my dink se handrem heel vas. Dit was daardie een spesifieke middag met ‘n Woordgoed byeenkoms. Mens kon sommer van ver af sien ou-oom Janneman lyk anders. Sy gesig blink soos Moses s’n daar in die rondloopwoestyn terwyl vreugde, blydskap en genoegdoening uit sy oë straal. Hy het ook 'n splinternuwe denim broek en ligblou gholfhempie aangehad en sy kerkskoene het geblink soos ‘n nuwe spieël. Ek het my hand uitgesteek, hom reguit in die oog gekyk en hartlik gegroet. Die Mooiste Mooi wat net na hom ingekom het, het sy binnekant blink gevryf met ‘n opmerking dat hy ‘n nuwe sikspens is.

‘n Skaam glimlaggie het om sy amperse tandlose mond adres gemaak terwyl hy steeds my groethand styf vashou. Op daardie oomblik, onthou ek weer die opgewondenheid in Koba en Annie se stemme toe hulle na ‘n voorwêreldtoer, die Kalahari koerant se nuutste nuus kom afgee het. “Pastoorgoed,” het Koba opgewonde gesê “julle sal dit tog nie glo nie. Oom Janneman, Pastoor, die ou-oom het bekeer. Hy het mos laaste Sondag uitgekniel toe die eerwaarde hier was. Dis nou bietjie meer as ‘n week en hy drink hy nie meer nie. Niks nie en nou is hy so droog soos daardie uitskep boorgat op Witkop se pan.”

Tyd is genadeloos en ons moet begin. Die gekoggel en geskerts met ou-oom Janneman wil egter maar net nie einde se kant toe staan nie. Met al die pittige opmerkings wat gemaak word, glimlag hy stilweg en laat net sy kop sak. En toe skielik en half onverwags kyk hy Betta vol in die oog en sê, “Ek het die lekkerte van my nuwe klere se aantrek vir vandag se Woordgoed gebêre. Hierdie lekkerte om nuwe klere te kan aantrek, is te veel vir my. Klere wat God se Kêrelkind vir my gegee het. Nou het ek gedink, as ek die lekkerte met julle deel, gaan die lekkerte mos langer aanhou.”

Versigtig trek ek my Bybel nader om weer die bekende verhaal van die weduwee en haar kruik te lees terwyl ek geluidloos saam met wyle Lukas sing. Die Mooiste Mooi daarenteen is stadigaan besig om wakker te word en skuif onder my blad uit. Opeens begin ou-oom Janneman se woord en daad nes skrop in my binneste binne. Woorde van ‘n nederige Kalahari mens sonder enige geleerdheid, wat skaamteloos bereid is om met dankbaarheid die lekkerste lekker van sy hart, met ander te deel.

Saggies begin ek dankie sê. Dankie sê met woorde wat diep uit my binneste binne kom. Dankie woorde vir ‘n kruikgeskenk, ‘n Kruikgeskenk vir alle mensegoed. Die kosbaarste en waardevolste liefdesgeskenk wat die ganse skepping nog ooit gesien of ervaar het ... Homself. Ons Skeppergod het Homself daardie wreedaardige dag op ‘n genadelose klipkoppie vir alle mensegoed gegee. Op ‘n ruwe genadelose kruis het Hy - in wie alle mag en alle outoriteit gesetel is - Homself as ‘n kruikgeskenk vir die ganse mensdom gegee. ‘n Kruikgeskenk oorlopens toe vol met liefde.

Goddelike liefde wat deurweek, deurtrek en gedoop is in genade sonder voorwaarde asook vergifnis sonder voorwaarde, aanvaarding sonder voorwaarde en natuurlik die belangrikste van ... om te kan liefhê sonder voorwaarde. ‘n Goddelike liefde en lekker wat nooit ooit sal opraak as ons dit met ander deel nie. Presies soos die weduwee se kruik waarvan wyle Lukas Maree so passievol sing.

“Maar dis die goeters wat mens weggee wat jou rykmaak
En dis daarmee wat jy mense om jou raak
Want wat beteken liefde as niemand dit gebruik nie
Of ‘n blom se geur as niemand daaraan ruik nie
Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik
Wat vol bly, selfs al sou sy dit gebruik
Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik
En die liefde, soos die olie in sy buik”

1 Joh 4 vers 7 (Afr20) = “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Monday, 1 January 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Kerswense en Nuwejaarswense

Groete en Vrede!!!

‘n Maand om te verbeel 
Elke sonstraal wat jou warm streel,
Getuig van ‘n sagte soen
Wat Vader liefderik en aanhoudend doen.

‘n Tyd waar Sy liefde en herinnering
Emmers soetwater van Bo af bring,
‘n Genademantel wolksambreel
Wat jy met almal om jou moet deel.

Desember as dankbaarheidsmaand is baie spesiaal vir my en die Mooiste Mooi. Dan is dit weereens tyd om vir daardie mense wat êrens in die loop van die jaar by die binnevoerings van ons harte stilgestaan het, dankie te sê.

Dankie dat daar spesiale voorwêreld mensegoed soos jy is. Mensegoed wat ore het vir ons Kalahari-stories en met liefde en deernis aan ons dink. Veral wanneer jy in die intimiteit van jou binnekamer met die Skepper van hemelgoed en stofaarde oor ons praat. Of wanneer jy ‘n kosbare bydra maak om die Kêrelkind van God se evangelie hier in die Kalahari te verkondig nadat die Veilige Gees se sagte stem in jou binne-oor gefluister het.

Binnekort sal Desember se sonsteek dae een oggend Kersfees aankondig. Vir sommige gelowiges bring hierdie dag uitbundige vreugde, terwyl ander se nekare rooipers sal bult van omgekrap wees. Raak tog nie betrokke in hierdie oorlog nie. Laat ons eerder daarop fokus dat geen VREDE of GENADE enigsins moontlik sou wees sonder die Kêrelkind se geboorte nie. Raak eerder stil en dank die Kripkind net.

Mag die jaar wat kom, ‘n besondere geloofsjaar vir jou en jou hartsmense wees. Mag julle verhouding met die Skepper van hemelgoed en stofaarde veel meer intenser en intiemer wees as wat jy ooit sou dink of droom.

Neem tog ook asseblief kennis dat hierdie ook my laaste geskrif vir 2023 is. As alles mooi uitwerk soos ek en die Mooiste Mooi glo en vertrou, behoort daar iewers in die middel van Januarie 2024 weer een Maandagoggend (so met dagbreek saam) ‘n Waterdruppel te wees.

Wel tot 2024 dan ... rus goed, slaap diep, kuier lekker, los mooi spore, droom daardie soort drome wat jou opgewonde maak.

Moet tog nie vergeet om te onthou dat iewers agter sandduine mense woon wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Tuesday, 18 July 2023

Dinsdag-denke: Voetspore in die sand

Een nag het ek ’n droom gehad.
Ek het gedroom dat ek op die strand loop en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel.

In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien: myne en die Here Jesus s’n.

Toe die laaste toneel voor my afspeel‚ het ek teruggekyk na die voetspore in die sand en merk toe op dat daar soms net een ry spore was.

Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe!

Dit het my gehinder en ek het gevra: “Here‚ toe ek begin het om U te volg‚ het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie.
Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe? Ek kan nie verstaan waarom U‚ in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.”

Die Here het geantwoord: “My liewe kind! Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie. Die tye wat jy net een ry spore gesien het was die tye toe Ek jou gedra het.”

Sunday, 16 April 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = My “in-plaas-daarvan-leefstyl”

Groete en Vrede!!!

So seker soos wat die warmste hemellig in die ooste opstaan en in die weste gaan slaapplek opsoek, so verseker is dit dat die Kalahari mensegoed se dinkdinge en lewens geraak word deur voorwêreld-tendense, gebeurtenisse en gedrag. En as daardie gebeurtenisse en optredes hulle beursies direk beïnvloed, maak die Kalahari mense net soos voorwêreld-mensegoed ... hulle praat daaroor. Gedagtes hieroor sal uitgeruil word. Hulle sal hard en duidelik en natuurlik met emosie hieroor praat. Dit maak nie saak waar hulle op daardie stadium spore los nie, hulle sal nie sommer moordkuile van hulle harte maak nie.
 
Kort voor laaste week moes ek ‘n draai by ons plaaslike koöperasiewinkel maak. Lank voor ek die draai by die huisie op die hoek gevat het, het ek hulle al op die winkel se stoep gehoor. ‘n Behoorlike geroesemoes van klanke wat wyd oor die vlak trek. Hierdie bondel Kalahari mensegoed is diep ontsteld want die emosie in hulle stemme is duidelik op die oor. Asof dit nie genoeg is nie, word daar in duidelike Kalahari taal beskryf wat hulle met hierdie kerkloper, wil doen. Hulle wil hierdie self aangestelde ouderling wat geen ontsag vir God en Sy gebod het nie, stenig.

Vroeg die volgende oggend het ek kort voor sonop tot bo-op ons ses meter hoë watertenk se platform geklim. Ek het teen die groen watertenk gaan sit omrede ek so bietjie in totale stilte alleen wou wees. Gister se stoepgesprek vol dreigemente draai oor en oor in my gemoed. Aanhoudend tot vervelens toe en daarom wou ek net wegkom.

Uit radeloosheid wou ek my lot daardie oggend tot bo-op ons ses meter hoë watertenk se platform by Hom bekla. Terwyl my oë ‘n goddelike skildery bestaande uit ‘n goudkleurige verste sien met ‘n handjievol rooi en pienk wolkies indrink, herinner die Veilige Gees my daaraan dat hierdie barbaarse gedragspatroon nie uniek is nie. Om ander met klippe te gooi is mos blou jare deel van die menslike gedrag. Selfs Jesus as God se Kêrelkind was dan per geleentheid al die teiken daarvan. Johannes beduie dan onomwonde dat Joodse kerkleiers dramaties van Hom verskil het. Gevolglik wou hulle Hom net daar en dan stenig omrede hierdie barbaarse handeling die enigste manier is waarop rampokkers ontslae kan raak van innerlike frustrasies.

Ver in die verte verklaar 'n Kalahari hoenderhaan dat die warmste hemellig sy kop uitgesteek het. Net soos Petrus van ouds, laat sak ek my kop in skaamte want ek – en moontlik jy ook - is skuldig. Ons handjies is lekker los om vinnig en gereeld om klippe na Hom, Sy saak en Sy mense te gooi. Dis nou veral as ons nie met Hom of dit waarvoor Hy staan saamstem nie. Miskien gebruik ons nie regte klippe wanneer ons stenig nie, maar ons gebruik woorde. Ons kritiseer en kraak af en verkleineer en skinder en praat aan want ander aanbid verkeerd, praat verkeerd, doop verkeerd en hulle doen verkeerd. Net soos die skynheilige Joodse kerkleiers stenig ek en jy ander en dan is ons heel verontwaardig, verbaas en diep ontsteld as Hy, Sy saak en Sy kinders uit ons teenwoordigheid padgee.

“Leef eerder volgens My “in-plaas-daarvan-leefstyl. ‘n Leefstyl wat sal voorkom dat jy nie ander met jou woorde stenig nie” fluister die Veilige Gees en verduidelik verder. “Dit is ‘n leefstyl wat behels dat gelowiges eerder hul onvoorwaardelike vergifnis en redding uitleef in plaas daarvan dat hulle hul leliewit lewens oor die vlak uit basuin. ‘n Leefstyl waarin gelowiges erken dat hulle My nodig het om hulle gemors skoon te maak in plaas daarvan om breë bors en bak arm rond te loop oor al hul suksesse.
Daarmee saam, moet gelowiges eerder getuig van My oorvloedige onverdiende genade wat hulle ontvang het in plaas daarvan dat om met ‘n heilige leefstyl te spog. Gelowiges moet ook weet dat Ek as Skepper van hemelgoed en stofaarde mensegoed as waardevol en kosbaar beskou in plaas daarvan dat hulle glo dat hulle perfek is. En laastens moet gelowiges onomwonde verklaar dat hulle swak is en My krag nodig het om te doen wat Ek van hulle vra in plaas daarvan om voor te gee dat hulle so stewig soos ankerpale staan.”

Ef. 4 vers 23 & 24 (Afr 2020) = “Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskape is.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Saturday, 8 April 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Vader se erdman

Groete en Vrede!!!

Die wintermaande se nagte is gewoonlik langer as die res van die jaar s’n. Maar eergisteraand (alhoewel Desembermaand mos hoogsomer is) het kompleet soos winternag gevoel. Eergisteraand se nag was lank - baie lank en ek het sleg geslaap. Ek is moeg ... diep moeg en my gemoed is erg onstuimig. Alles aan my en alles in my is moeg en dit maak my menswees op. Die werkslas en verantwoordelikhede van ons sendingbediening hier in die vergeetkant van die land, was die afgelope klompie maande net te veel vir my.
 
Lank voor die son agter die kim uit sy bloedbad kruip, sit ek buite op die kuierbankie onder die peperbome langs die Boerekerk se pastorie. Met my oranje koffiebeker in die hand, wag ek vir die dag om te breek - hopelik ‘n dag vol belofte, ‘n dag vol verwagting en ‘n dag vol lewenskrag.
“Ek wag jou by die baken bo-op Ikkie se duin” kom dit sag van die Veilige Gees.
 
Die verlate grondpad krul soos ‘n krullende vaalbruin slang oor die verlate Kalahari-vlak uit. Ek adem warm oggendlug diep in wat by die Genadewa se venster inwaai. Rustig wieg die ou strydros oor die tweespoorpaadjie net om staning te maak aan die voet van die breë-rug sandduin waarop die baken baie jare gelede staan gemaak is. Stadig klim ek uit en stap maar rus-rus tot bo-op Ikkie se duin waar die baken is.
 
Die Kalahari se stilte is amper heilig en ek gaan sit aan die skadukant van die baken se voetstuk. Terselfdertyd versluier groot gryserige wolke die son. “Ek is hier, Here, ek is uiteindelik hier,” sê ek saggies nadat ek my in die losserige louwarm sand ingewurm het: “Hier waar U vir my wag.” Dit was die laaste beeld wat ek gesien het alvorens ek my oë styf toegemaak het.
 
Met hierdie amperse heilige en goddelike stilte rondom my, forseer ek myself om stadig en diep asem te haal. Dit skep geleentheid om die aroma van die Kalahari tot diep in jou longe te kan proe. Tot daar waar dit saak maak. Die spesifieke laatoggend se stofreuk was iets besonders. Iets wat ek nog nie van tevore geruik het nie - 'n eiesoortige aroma deurdrenk met ‘n sagte ondertoon van belofte en lewe. “Ek is ook hier,” kom dit sag van die Veilige Gees net voordat ek ‘n ritseling hoor in die kol boesmangras wat al te welig so effens skuins voor my groei.
 
Ek het die erdman nie raak gesien nie. Hy smelt so goed saam met die takkies van die droë boesmangras dat hy amper onsigbaar is. Hierdie waaierstert meerkat sit penorent en hou my met sy donkerswart kraalogies fyn dop. Met sy snorbaardjie wat op en af vibreer en voorpootjies styf teen mekaar, lyk dit kompleet asof hy bid. Vol bravade skuif hy voetjie vir voetjie nader. Al nader en nader sonder om die beskutting van die welige kol boesmangras te verlaat.
 
'n Begeerte wel in my op om met hierdie erdman te praat. Ek móét hom vertel van die onstuimigheid in my gemoed. Daar is net heel te veel opgekropte woorde en diep gestoorde gedagtes wat moet uit. En ek wil hom vertel dat ek moeg is – tot in my murg moeg is. Met ‘n gestotter en gehakkel begin ek saggies praat. Soos net Vader se erdman kan, draai hy eers sy koppie skeef na links en toe na regs. Al asof hy my persoonlike sielefluisteraar is, luister hy aandagtig en belangstellend.
 
Woorde en emosies vloei lateraan soos ‘n rivier in vloed oor my lippe en wange. Ek lag en huil en praat deurmekaar. Dit voel asof ek nooit gaan ophou nie want ek hou net aan en aan en aan. Nodeloos om te sê, drink Vader se erdman elke woord en elke emosie dorstig in. ‘n Rukkie later en die storm in my gemoed is uitgewoed en ek is leeg – dolleeg. Uitgeput maak ek my oë toe en verdwaal in die heilige stilte rondom die baken bo-op Ikkie se duin.
 
‘n Diepe slaap omvou my terwyl die Skepper van hemelgoed en stofaarde my leë en dorre hart drupsgewys vul en verkwik. Eers vul hy my met druppels van belofte, daarna hoop en heel laaste met druppels van moed. Heelwat later maak ek my oë oop en alles lyk skielik anders. Opeens is die lug blouer, die sand rooier en die welige bos boesmangras wat effens skuins voor my groei, is groener.
En amper onsigbaar vir my oog, verklap klein erdmanspoortjies in ‘n welige bos boesmangras dat Hy steeds troos en help en versterk en ondersteun en dat Hy steeds in beheer is.
 
Jes. 41 vers 10 (Afr 20) = “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun jou met my seëvierende regterhand.”

Sandkorrel baie seëninge. 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.  

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Ons waardeer dit. Indien jy kan en betrokke wil raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Sunday, 5 March 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Sanna met die hart wat pronk

Groete en Vrede!!!

So met die laaste stukkie geloop in die voetpaadjie na Sanna se plekkie toe, besef ek opnuut waarom soveel voorwêreld mensegoed beduie dat hierdie deel van die Kalahari hulle se hartsplek is. Hulle reken hier kan meer as net jou dink rondloop - selfs jou menswees ook. Veral as jy dapper genoeg is om met sonop of sonsak saam, jou oë stadigaan te laat wandel tot daar waar die verste sien ophou.

Ek en die Mooiste Mooi is moeg vandag. Diep moeg. Selfs die murg van ons gebeendere is moeg. Met ‘n goudkleurige sonsak wat die westelike kim omsoom, wil ons veel eerder omdraai en langbeen gaan sit by die Kuierplek op die vlak. Nie een van ons het vandag enigsins lus om by Sanna te gaan oorstaan nie, maar ons weet ons moet. 

‘n Skril gelag op die winkelstoep ruk my binneste terug tot die rou werklikheid van menswees hier in die Kalahari. So onthou ek weer vele kere wat Sanna hier op dieselfde winkelstoep haarself oorgegee het aan die benewelde en verslawende wêreld van te veel soetwyn. 

Sanna - vanweë vroeër jare se vreeslike losbandige leefstyl - is deesdae bloot net ‘n stukkie asem. Sy is spreekwoordelik vasgevang op haar geroeste enkelbed wat in ‘n piepklein een vertrek sinkhuisie op klipperige grond staan. Die voormalige voordanser wat meer as die murg van ‘n partytjie was, is deesdae heeltemal uitgelewer aan ander mensegoed se genade. Sanna se lewensvlam is byna geblus want sy kan niks meer vir haarself doen nie ... sy kan skaars praat, skaars eet en kan glad nie meer loop nie.   

Ons was nog so ‘n entjie van Sanna se plekkie af toe haar broer (wat ook ‘n losse leefstyl het en ‘n klipgooi van Sanna af bly) my nader wink. Hy het gesien ons loop in hulle rigting nou wou hy opslag gesels. Later daardie selfde aand, het ek verstaan waarom die Mooiste Mooi alleen by Sanna oorgestaan het. 

Met die enigste deur van die een vertrek sinkhuisie wat wawyd oopstaan, het die Mooiste Mooi sommer half ongenooid ingestap en gegroet.  Daarna het die twee vrouens - net soos vroue kan - in vrouetaal met mekaar begin gesels. Eers oor ditjies en datjies en toe oor koeitjies en kalfies en uiteindelik oor die moeiliker sake van die lewe. Dit is tóé dat daar hoofsaaklik net oor Sanna se enigste meisiemens gepraat is. ‘n Meisiemens van amper 10 jaar oud wat die afgelope maand of twee, elke aand moeite doen om by haar ma se doodsbed te kom oorstaan. Dan word daar met kinderlike opregtheid ‘n teksversie gelees en ‘n kinderlike gebed gebid. En net voor die nag se donkerte hierdie meisiemens finaal omvou voor sy loop, word Sanna gegroet met “Hoor mooi my ma, hoor mooi. Ma-goed moet net vertrou. Alles sal regkom my ma ... jy moet net vir Jesus vertrou.” Groetwoorde wat elke nag lank in Sanna se ore refrein. 

Tyd spoed soos ‘n reisiesperd verby. ‘n Uur of wat later sukkel Sanna met haar benerige hande om die dankbaarheid uit haar natblink oë te vee toe die Mooiste Mooi haar groet. Dankbaarheid omrede die Kêrelkind van God vanaand ook haar hart soos ‘n springbok laat pronk. Sanna het Hom gevind. Sy het Jesus gevind en Hom begin vertrou - net soos haar meisiemens gevra het.

En deesdae ... deesdae vertel sy vir almal wat kom oë wys van haar hart wat pronk, want Sanna besef elke dag hoe waardevol en kosbaar sy regtig vir Hom is. Dit is nou ongeag al haar foute en al haar tekortkominge wat tog so duidelik in haar vermaarde liggaampie sigbaar is. As ontvanger van onverdiende genade besef Sanna dat niks hiervan moontlik sou wees as dit nie vir Hom was nie.   

Jer 17 vers 7 (Afr 20) = "Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is."

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Ons waardeer dit.]

Wednesday, 25 January 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Lewensbrood

Vir solank as wat brood gebak word, vertel die geur van vars warm brood iets van 'n oorvloedigheid. ‘n Aroma tot oorlopens toe vol met voorspoed, versadiging, vreugde en vrede. Mens kan sekerlik amper aanvaar dat “heilig” so kan ruik. Daarmee saam bevat hierdie amperse heilige tevredenheid al die bestanddele om alle mensegoed se harte so om te tower dat ons opslag van al ons sukkel en sorge vergeet. Asof dit dan ook nie genoeg is nie, loop herinneringe en “onthou-jy-nog’s”– soos 2 inspandonkies – ook saam. Dit is nou veral daardie gisterdinge waar vars warm brood in direkte verhouding tot 'n vreugdevolle oorvloedslewe staan.

Kosbare voorwêreld vriende het voor laaste week ‘n twintigtal gesnyde warm winkelbrode kom aflaai en dadelik weer vertrek. Hulle versoek was dat hierdie vars winkelbrood vir Swartkopdam se skoolkinders gegee moes word. Nou lê hierdie sawwe winkelbrode soos kleurvolle kersgeskenke elkeen in sy eie plastiese sakkie netjies verpak en toegemaak op die werksblad in die kombuis.

'n Klompie vroue sit en gesels langs die tafel in ons kuierkombuis. Die eerste koffiebeker was skaars leeg toe ek versigtig een van die sawwe winkelbrode uit sy sakkie haal. Onmiddellik omvou die amperse heilige aroma van vars sawwe brood almal in die kuierkombuis. Stadigaan raak dit stil om die tafel waarna die Mooiste Mooi keel skoonmaak en hulp vra. "Want" beduie sy "hierdie winkelbrood moet tog vandag nog met bruin botter en goue stroop gesmeer word. Die plan is dat elkeen van Swartkopdam se skoolkinders môre vars winkelbrood kry om te eet.”

Die Mooiste Mooi se woorde was skaars verby haar lippe toe ‘n hengse lawaai in die kuierkombuis los breek. Almal praat en gil en lag en sê gelyktydig dankie. Dit alles net oor brood. Hemelbrood ... vars en sag. Hemelbrood omrede sawwe vars winkelbrood in onse wêreld ‘n kosbare weelderigheid en ‘n groot bederf is. Ywerig spring almal aan die werk. Elke toebroodjie word eers lekker dik met die bruin botter gepleister waarna taai goue stroop al te kwistig opgeplak word. Daarna word elke broodjie netjies en versigtig middel twee gesny en in plastieksakkies toegemaak.

Tussen die gesels en gewerskaf vertel Saartjie van ‘n woestynjaar vol swarigheid. Vytjie op haar beurt, beduie versigtig van ‘n vorige Kersfees in die diep Kalahari met ‘n leë maag. Hoopvol sluit sy haar vertel af met “Hierdie Kersfees is ek nie weer in die diep Kalahari nie. Miskien sal my kosskottel nie weer leeg wees nie." Opeens is almal stil en kyk haar so skaam-skaam onderlangs aan.

Nadat die toebroodjies gesmeer, gesny en verpak is, word die gasstoof vir oulaas aangesteek. Die vroue wil vir oulaas soet pittekoffie drink alvorens hulle groet. Daardie amperse heilige aroma van sawwe vars winkelbrood hang steeds in ons kombuis. Met my oranje koffiebeker hou ek myself maar eenkant terwyl Vytjie se vertelling in my binneste binne weergalm.

Vytjie se vertelling beskryf meer as net die dwarsduine op haar lewenspad. Haar vertelling omskryf ook die rou werklikheid van woestynbewoners se bestaan. Woorde wat die werklikheid van 'n woestynlewe beduie net soos dit is. Sonder grimering, sonder aansien en sonder aangeplakte emosies.

Ek onthou weer dat die Wonderwerker per geleentheid en sonder enige ophef en sonder seremonie duisende kos gegee het met 'n handvol broodjies en 'n paar vissies. Hy is en bly die Honger Stiller, Versadigmaker en Vermeerderaar wat altyd omgee en sorg. En om alles te kroon is Hy ook die Brood. Lewensbrood vars met ‘n heilige aroma waarvan alle mensegoed elke dag sonder enige beperkings oorlopens toe vol kan eet.

Die Groot dae met al die feestelikheid wat daarmee saamloop, het gekom en dit het gegaan. Alvorens ek en jy begin beplan en voorbereidings tref vir ons weergawe van Egipte se kreunende kostafels … kom ons onthou tog net eers die Brood. Dit is en bly die heel belangrikste - die Lewensbrood.

Die Skepper van hemelgoed en stofaarde se broodgeskenk vir my en jou toegedraai in bebloede linne want Jesus as Sy Kêrelkind ís en bly die Lewensbrood. Dit is mos waaroor dit gaan. Dit is mos eintlik al waaroor alles gaan ... Lewensbrood!

Joh 6 vers 35 (Afr 2020) = "Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na M.y toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie."

Sandkorrel baie seëninge 

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)

Selnr: 082 772 2192

WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, vir jou voetspore wat jy so gereeld hier los!]

Wednesday, 7 December 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Gert en die Kêrelkind van God

Dit was een middag laat êrens in die diep Kalahari. Daar waar vergete beleggingsplase lê en waar voertuie en mense nie sommer op windverwaaide sandduine spore trap nie. Gert Bantam en sy sekelstert windhond woon hier .. hier in die Kalahari se alleenheid en oorverdowende stilte.

Die ontmoeting was maar styf en die formaliteite van voorstel moeilik. Gert se oë soekend na die bakkie, want gewoonlik kom daar ietsie te eet saam. Dalk ʼn ou broodjie, blikkie vis of selfs ʼn pakkie broodmeel om ronde roosterkoeke te maak. Dit sal tog al te heerlik wees saam met die dag voor eergister se stukkie vleis wat die sekelstert windhond gevang het. Die kuier is maar vas en los - dit handel oor die weer, die reën en selfs die vet hamels wat laas week al met die skaaplorrie moes ry, maar nooit gelaai is nie.

“Gert, is jy ʼn kerkmens?” vra ek hom so half onverwags. Hy kry daardie tipiese “vêr in die ou Kalahari” uitdrukking in sy oog en antwoord skaam-skaam dat hy nie meer gereeld by die kerk kom nie. Die verantwoordelikheid om in die alleenheid etlike duisende hektaar plaas op te pas, help ook nie regtig nie.
“Dan meneer, is my se kerkboekie ook leeg, want die loon is maar min en my meneer se nuwe Cruiser loop maar nie te gereeld hierna toe nie,” sê hy so saggies agter die beskerming van sy hand.
“Maar Gert, glo jy in die Kêrelkind van God?”
Amper te vinnig knik hy sy kop op en af: “Ja meneer, ek glo in Hom.”
“Is jy ʼn hemelkandidaat Gert, daar waar vir ewig gelewe gaan word?”
Hy laat sak sy kop in sy bruin eelterige hande en sê half onhoorbaar: “Nee meneer, die twak, die dop en die meisiegoed maak my se voete sommer die verkeerde pad kies.” Ek is so half stom verslae.
“Maar Gert, jy glo dan in die Kêrelkind van God?”
“Ja meneer, ek glo, maar die verkeerde goed!”

Op my versoek gaan haal Gert sy Bybel en begin die boek Johannes soek. Hy begin by Genesis en blaai dan bladsy vir bladsy terwyl sy oë heen en weer oor die geskrewe bladsye dartel. Êrens tussen Psalms en Hooglied wonder Gert of Johannes nie dalk verby gespring het soos ʼn baldadige vetstert hamel nie. Hy blaai so ʼn bietjie terug, maar gaan dan moedig voort. Tyd in die Kalahari is in oorvloed en ek wag maar geduldig. Ek weet dat Gert se oog Johannes sal vind, al vat dit so ʼn rukkie langer as normaalweg. Eers ontmoet Gert vir Mattheus, vir Markus net daarna en toe vir. Hard weerklink ʼn diep sug van verligting toe Johannes sy opwagting maak.

Op my versoek, maak hy keel skoon en begin die 16de vers van die derde hoofstuk stadig in sy beste graad vyf Afrikaans te lees. Sy vinger met die swart nael waar die knyptang hom gevang het lei woord vir woord en dit gaan maar so hakkel-hakkel. Veral met die langer moeiliker woorde. Hy lees die versie klaar en ’n sagte sproeireën van verligting oortrek sy dor sonverbrande bruin gesig.
“Wat nou?” vra hy woordeloos.
“Gert, kan ek maar die versie vir jou sê?” antwoord ek hom met ʼn teenvraag en begin sommer.
Gert luister aandagtig en dan spring sy oog na die Bybel om te volg wat ek aanhaal. Hy probeer volg maar ek is klaar voordat hy die sestiende vers kon kry.
“Gert, ek wil weer vir jou die versie sê, maar hierdie keer gaan ek van die woorde verander.”
Die verwardheid staan soos ʼn geelslang in hom op want hy het homself nou in ʼn onbekende terrein begewe. Hy wil iets sê maar besluit daarteen en ek begin: “Want so lief het God vir Gert gehad dat Hy sy eniggebore Seun Jesus gestuur het sodat Gert, wat in Jesus glo, nie verlore kan gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Sy mond val halfpad oop en sy amper swart oë is stil gefokus op my gesig. “Pastoor,” smeek hy saggies “sê tog weer asseblief.”
Ek begin met: “Want so lief het God die wêreld gehad” toe Gert my met ʼn krakende stem in die rede val.
“Nee Pastoor, sê hom . . . sê hom met my naam.”

Op daardie oomblik begin die Veilige Gees Gert se gemoed los torring en ek sê die versie met sy naam daarin. Trane wel in sy oë op en hy snik saggies. Versigtig sit hy sy hand oor sy mond en buig sy kop stadig vooroor tot teen my bors. Met my arms om hom gevou vloei die trane vrylik oor sy wange waarna hulle met ʼn hoorbare plof in die rooibruin Kalahari stof val.
“Pastoor,” kom dit so tussen die snikke uit, “dit beteken dat ek hemel toe kan gaan al pla die twak, die dop en die meisiegoed, want ek glo in Jesus, die enigste Kêrelkind van God!”

Joh 3 vers 16 (Afr 2020) = “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192 WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, vir jou voetspore wat jy hier los!]