Monday 29 January 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Hoop in die hart

Groete en Vrede!!!

Sowat 2 jaar nadat ek en die Mooiste Mooi Noenieput ons woonplek gemaak het, moes ek dié spesifieke oggend klein boompies natmaak wat die vorige week geplant was. Lank voordat ek die ou Toyota gesien het, het ek hom oor die vlak gehoor aankom. Stadig, doelgerig en na alle waarskynlikheid soekend. Soekend na iemand of iets.

Die Toyota het Noenieput stadig ingery en kort voor lank het die 2 manne in die bakkie my raakgesien, nader gery en langs my gestop. Die groet was heel formeel maar tog hartlik en so begin die groot gesels. Eers deur die Toyota se venster en daarna op die stoep met 'n beker pittekoffie in die hand. Lateraan eindig ek en die Mooiste Mooi, asook ons gaste langs die etenstafel op met oorvol borde sonoond kos. Gelukkig is daar tussen al die gekuier, die gesels en die gekou, ook soms 'n stukkie stilte.

Soos 'n honger meerkat steek  my nuuskierigheid lateraan kop uit. En so word hulle uitgevra na hulle nerings. Die meer spraaksame gas verduidelik dadelik terwyl die stiller een saggies beduie dat hy 'n pediater in Bloemfontein is. Al asof daar 'n regopstaan geelslang op die tafel is, laat ek en die Mooiste Mooi dadelik ons eetgoed val. "Mens, dan is jy mos die antwoord op dit waarvoor ons hoop" sê sy met nat oë. Opslag is die atmosfeer in die kombuis botterdik terwyl beide gaste ons met groot vraagtekens aankyk.

Met dié, begin die Mooiste Mooi in detail vertel van Triena en haar swaar las. 'n Las wat sy altoos in haar hart en op haar heup moet ronddra. Sedert haar jongste se eerste lewenslig, was niks ooit weer normaal in hulle lewens nie. Sommer so met die knip van die naelstring het siekte al in haar jongste se lyfie kom adres maak. Dit is nou al amper 3 jaar later en die kleintjie bly kronies siek. Niemand kan of wil hulle regtigwaar help nie.

Terselfdertyd is Triena-goed die middelpunt van 'n onophoudelike gepraat en geskinder. Lafhartige mensegoed wat haar en haar hartsmense agteraf bespot en uitkoggel omrede sy "haar gebreklikheid" in 'n kombersie toedraai en ronddra. En deesdae voel 3 jaar soos 'n ewigheid.

Die Mooiste Mooi vertel ook van vertroue en hoop wat in vrees en vertwyfeling se spore volg. Triena het juis so 'n klompie dae gelede nuus gebring dat hulle wel in Upington by die staatshospitaal was. Daar het 'n nat-agter-die-ore-doktertjie sommer so terloops die nuus afgegee dat Triena se jongste nooit sal kan loop nie.

Die stillerige pediater sit bewingloos met 'n blink nattigheid in en om sy oë en luister na die Mooiste Mooi se vertelling. "Ek het nou nie my 'toolbox' hier nie" sê hy saggies,  "maar dink julle die mamma sal omgee as ek die dogtertjie ondersoek?"

Vroeg die volgende oggend klop Triena aan die agterdeur. "Ai mevrou" sê sy terwyl trane uit haar bruin oë stroom. "Ek en mevrou het dan juis eergister hoop in die hart gesit. Hoop dat een van daai spesiale dokters waarvan mevrou my vertel het, Kleintjie kan ondersoek. En kyk nou net. Nou het die Here sommer daai dokter Kalahari toe gestuur. Hy het hom Noenieput toe gestuur om na Kleintjie te kyk en vir haar hande op te lê. Is die Here nie groot nie, Mevrou? Is Hy nie groot nie! My Kleintjie sal gesond word. Ek het hoop. Ek het hoop in die hart gesit.

Sowat 'n maand later stop ons met die Genadewa langs Triena se vaalbruin huisie. Die Mooiste Mooi klim uit en stap nader. Triena wat in die huis besig was kom uitgeloop en trek die voordeur agter haar toe. En so raak die twee vriendinne op die stoep aan die gesels. Triena se oog loer egter kort-kort voordeur se kant toe ... kompleet asof sy wil hê daardie deur moet oop. 

Meteens gaan die voordeur met 'n gekraak oop. Versigtig - al asof sy op eiers loop - loop Triena se oudste stadig agteruit terwyl Kleintjie al giggelend haar ousus volg. Treetjie vir treetjie terwyl sy met klein vuisies styf aan haar ousus se pinkies vashou. 

En op daardie oomblik ... daardie heilige oomblik, getuig hierdie klein Kalahari meisietjie met diamantblink ogies van hoop. 'n Versekerde hoop. Hierdie klein onskuldige dogtertjie getuig teenoor 'n menigte ondankbare genadelose skepsels van 'n onwrikbare hoop in ons barmhartige Omgeegod. Sy getuig van 'n Skepper wat nooit Sy oog afhaal van daardie mensegoed wat hoop op Sy troue liefde in hulle hart sit nie.

En deesdae ... deesdae is Kleintjie 'n opgeskote tiener wat die vlak vol loop en haar huismense se ore van hulle koppe af praat. Deesdae is Kleintjie gesond, heel gesond want Triena en die Mooiste Mooi het hoop in hulle harte gesit. Hulle het hoop op Sy troue liefde in hulle harte gesit.

Ps 33 verse 18 & 19 (Afr20) = "Kyk,die Here hou sy oog op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde, om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood."

Sandkorrel baie seëninge.

Los jou voetspore as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment