Monday 1 January 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Kerswense en Nuwejaarswense

Groete en Vrede!!!

‘n Maand om te verbeel 
Elke sonstraal wat jou warm streel,
Getuig van ‘n sagte soen
Wat Vader liefderik en aanhoudend doen.

‘n Tyd waar Sy liefde en herinnering
Emmers soetwater van Bo af bring,
‘n Genademantel wolksambreel
Wat jy met almal om jou moet deel.

Desember as dankbaarheidsmaand is baie spesiaal vir my en die Mooiste Mooi. Dan is dit weereens tyd om vir daardie mense wat êrens in die loop van die jaar by die binnevoerings van ons harte stilgestaan het, dankie te sê.

Dankie dat daar spesiale voorwêreld mensegoed soos jy is. Mensegoed wat ore het vir ons Kalahari-stories en met liefde en deernis aan ons dink. Veral wanneer jy in die intimiteit van jou binnekamer met die Skepper van hemelgoed en stofaarde oor ons praat. Of wanneer jy ‘n kosbare bydra maak om die Kêrelkind van God se evangelie hier in die Kalahari te verkondig nadat die Veilige Gees se sagte stem in jou binne-oor gefluister het.

Binnekort sal Desember se sonsteek dae een oggend Kersfees aankondig. Vir sommige gelowiges bring hierdie dag uitbundige vreugde, terwyl ander se nekare rooipers sal bult van omgekrap wees. Raak tog nie betrokke in hierdie oorlog nie. Laat ons eerder daarop fokus dat geen VREDE of GENADE enigsins moontlik sou wees sonder die Kêrelkind se geboorte nie. Raak eerder stil en dank die Kripkind net.

Mag die jaar wat kom, ‘n besondere geloofsjaar vir jou en jou hartsmense wees. Mag julle verhouding met die Skepper van hemelgoed en stofaarde veel meer intenser en intiemer wees as wat jy ooit sou dink of droom.

Neem tog ook asseblief kennis dat hierdie ook my laaste geskrif vir 2023 is. As alles mooi uitwerk soos ek en die Mooiste Mooi glo en vertrou, behoort daar iewers in die middel van Januarie 2024 weer een Maandagoggend (so met dagbreek saam) ‘n Waterdruppel te wees.

Wel tot 2024 dan ... rus goed, slaap diep, kuier lekker, los mooi spore, droom daardie soort drome wat jou opgewonde maak.

Moet tog nie vergeet om te onthou dat iewers agter sandduine mense woon wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment