Showing posts with label Lewenskwaliteit. Show all posts
Showing posts with label Lewenskwaliteit. Show all posts

Wednesday, 30 September 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Moenie jou gedrag verander nie ...

’n Man sien hoe ’n slang in die vlamme brand en besluit om dit uit die vuur te bevry. Die slang pik hom toe hy dit vang en dit veroorsaak ontsettende pyn. 

Die persoon gooi dadelik die slang weg en die slang val terug in die brandende vlam. Op hierdie stadium kyk die persoon rond en kry 'n metaalstok. Hy gebruik die stok om die slang uit die vlamme te red. 'n Man wat die voorval dopgehou het, het die persoon genader en vir hom gevra: "Hierdie slang het jou gepik! Hoekom probeer jy nog om sy lewe te red?" 

Die eerste man het geantwoord: "Die aard van die slang is om te pik, maar dit sal nie my natuur verander nie, en my natuur is om te help." 

Moenie jou gedrag verander as gevolg van iemand se slegte geaardheid nie. Moenie die reinheid van jou verstand verloor nie. Leer om versigtig te werk!

Wednesday, 23 September 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Hoekom glo ek in God?

Ek glo in God, want partykeer is die wêreld so "awesome" en dinge werk so goed uit dat my siel uitroep vir iemand om voor dankie te sê. Dan is dit Hy!

Ek glo in God, want soms is die berge en die sonsondergang en die wolke en die maan so mooi dat ek iemand nodig het om te prys. Iemand moes dit gemaak het. Dis Hy!

Ek glo in God, want partykeer gebeur goed wat so onbeplan is en so seer maak. En dan voel dit of niemand verstaan nie, maar dan onthou ek die spykers in Sy hande en die Man aan die kruis. Dan weet ek Iemand huil saam met my. Dis Hy!

Ek glo in God, want partykeer is ek so deurmekaar en die lewe so sinneloos en my drome lyk onbereikbaar en dan het ek iemand nodig om saam met my die pad te stap en rigting te wys. Dan is Hy daar!

Ek glo in God, want partykeer is ek so dom en ek doen sulke "stupid" goed en sonde mors my hart en my lewe so op en maak ander so seer. En dan het ek nodig dat Iemand vrede en wysheid bring. Dan is Hy daar!

Hy maak heel wat ek self verbrou het!
Hy bring genade selfs in seer wat ekself veroorsaak het!

Ek glo in God, want partykeer weet ek niks. Ek het leiding en wysheid nodig in 'n deurmekaar wêreld wat ek nie verstaan nie. En dan skryf Hy vir my in die Bybel en ek lees Sy Woord en hoor Sy stem en dinge maak weer sin!

Ek glo in God, in Jesus, in sy Gees, want Hy's daar! Heeltyd! Altyd!

Maak nie saak hoeveel keer ek dieselfde fout maak nie. Hy is daar!

As jy jou kop kan optel met 'n glimlag op jou mond en regtig dankbaar is vir jou seëninge, is jy gelukkig, want die meeste mense kan, maar doen dit nie.

As jy hierdie boodskap kan lees, het jy dubbele seën ontvang, iemand het aan jou gedink en jy is voorgetrek bo miljarde mense wat glad nie kan lees nie.

Tel jou seeninge!

Wednesday, 16 September 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: 'n Pragtige tuin

Daar was eendag ‘n ou moedertjie wat vreeslik lief was vir tuinmaak. Met liefde en sorg het sy na al haar plantjies en blommetjies omgesien.

Verbygangers het eers vir ‘n wyle stil gaan staan om haar pragtige tuin te bewonder.

Eendag daag ‘n verslaggewer van die plaaslike koerant op, om met haar ‘n onderhoud te voer om te hoor wat sy dan doen dat haar tuin so uitstaan bo al die ander tuine in die dorpie.

En toe vertel sy dié storie vir die verslaggewer:
“Jare gelede, het die dorpsraad besluit om die dorp te verfraai en mooi te maak, maar om elke inwoner by die poging te betrek (amper soos Kwela se dorp van die jaar). Die Burgemeester het ons almal genooi om saad en toerusting te kom haal sodat ons die dorp se tuine en sypaadjies mooi kan maak.

Omdat ek moeilik loop, as gevolg van my skewe voet, het ek laaste daar aangekom en laaste in die ry ingeval. 

Almal was gretig en het sommer baie vroeg voor die munisipale gebou gaan toustaan. Die ry was besonder lank en almal het gelyk gepraat oor wat hulle alles wil en gaan doen. Almal voor my het die beste pakkies saad uitgesoek en die mooiste gieters gevat. Of só het ek destyds gedink.

Toe ek uiteindelik voor by die tafel kom waar die saad was, was daar nog net ‘n paar pakkies saad oor (die meeste daarvan gehawend en stukkend soos die mense na die mooiste saad en duurste blombolle gesoek en gegryp het) en ‘n stukkende gietertjie. Die gietertjie was gebuig en vol gate, maar dit het vir my kosbaar en mooi geword met die jare.

Ek het al die saadjies wat ek bymekaar kon kry in my tuin kom saai en dit getrou natgegooi met die stukkende gietertjie. Ek het agtergekom dat die gietertjie vol gate soos ‘n spreier gewerk. Dit kon terselfdertyd op verskillende plekke natmaak. Daar het ook gereeld ‘n straaltjie op my skewe voet geval, wat tussen my tone gekielie het. Dit het my laat skaterlag en my gemoed positief vir die dag ingestel. Onwillekeurig het ek my tone begin beweeg van die tinteling en daar het weer lewe in my voet gekom. Daardie gietertjie se goeie dade het wyd gesprei.

Dit was dus ‘n seën dat ek die verskeidenheid saadjies gekry het en die beste gietertjie kon gekry het.”
Werk dit nie maar in die lewe ook so nie?

Ons almal probeer altyd die mooiste en beste in alles kies en wees. Die regop gietertjies met perfekte tuitjies, sonder duikies of merkies. Ons moet mos altyd goed vertoon, ‘n mooi straaltjie kan gooi, sonder om onnodige druppels te mors, sekuur gemik op die teiken. Niemand van ons wil tog, uit eie keuse, ‘n gebuigde ou gietertjie vol gate wees nie.

Maar dis juis daardie gietertjies vol gate, wat wyer kan sprinkel as die perfekte gieters.

Jesus self, was vol gate gemaak, daar waar Hy aan die kruis vir ons gehang het. En deur daardie wonde kon Sy liefde wyd oor die mensdom vloei. Hy was liggaamlik geknak - nie meer heel nie. Hy moes stukkend word, sodat ons geestelik heel kon word.

Die lewe knak ons ook soms. Bitter min van ons kom ongeskonde anderkant uit. Maar dis juis dan wanneer ons meer bruikbaar word vir God en ander.

Want as jy vol ‘gate’ is, kan Sy liefde wat deur jou vloei (wat die bron van lewende water is) beter sprei oor ander, maar ook oor jou eie binne-tuin.

Die Here kies soms die mees gebuigde gietertjies, met die meeste gate, om groot dinge vir Hom te doen. Want hulle is nie meer so ingestel op hoe hulle lyk nie, maar net op hoé diensbaar hulle kan wees.

“Here, dankie dat U nie na ons uiterlike kyk, of na die verwonding van ons innerlike nie. Dankie dat U elke hart raaksien. Dat U liefde dit vir ons moontlik gemaak het om diensbaar te kan wees. Dankie dat U stukkend geword het, sodat ons heel kon word. Gee dat ons met trots U liefde wyd sal sprei oor ander en onsself. Gebruik my, stukkende gietertjie om vir ander lewende water te gee wanneer ek nie meer kan nie, want ek weet in my swakheid word U krag volbring. Amen"

[Dankie, Ann, vir die deel hiervan.]

Wednesday, 9 September 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Vir Jou

'n Jong Christen vertel vir ‘n ou Christen: "My gebede is so eenvoudig en swak dat ek nie kan dink hulle is van enige waarde nie." 

Die ouer Christen antwoord: "Plaas hulle net in Christus se hande. Hy laat hulle so anders lyk in die hemel dat jy hulle skaars sal herken."

Gebede wat in hulleself van min waarde is, word doeltreffend as hulle deur Jesus Christus aangebied word.

Wednesday, 2 September 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Ek het Smartie-wense vir julle vandag ...

Kleurvol en soet ...

•  'n Rooietjie vir Liefde ...
•  'n Geletjie vir Vrede ...
•  'n Groenetjie vir Lewe ...
•  'n Oranje enetjie vir Krag ...
•  'n Pienketjie vir Geluk ...
•  'n Persetjie vir Gesondheid ...
•  'n Blouetjie vir Kalmte ...

Mag jy die kleurvolste dag geniet ... En alles ervaar wat elke kleur uitspel ...

Wednesday, 26 August 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Die grootste van alle geskenke

Omdat GOD my liefhet, 
raak hy nie ongeduldig met my nie.
Omdat GOD my liefhet, 
hou Hy ook nie boek van my oortredinge 
wat Hy vergeef het nie. 
Hy vergeet daarvan.
Omdat GOD my liefhet, 
sê Hy nooit daar is nie meer hoop vir my nie. 
Hy werk eerder geduldig met my, 
en dissiplineer my op so 'n wyse 
dat dit vir my moeilik is om te begryp 
hoe diep Hy oor my besorg is.
Omdat GOD my liefhet, 
laat Hy my nooit in die steek nie, 
al doen baie van my beste vriende dit.
Omdat GOD my liefhet, 
ondersteun Hy my 
wanneer ek 'n punt van wanhoop bereik; 
as ek myself sien soos ek regtig is -
en dit dan vergelyk met sy geregtigheid, 
sy heiligheid,
skoonheid 
en liefde.
Dit is in sulke oomblikke 
dat ek werklik kan glo dat GOD my liefhet. 
Jy, die grootste van alle geskenke, 
is GOD se volmaakte liefde. 
Amen

Wednesday, 19 August 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Trane

Vandag het ek die Here gevra om al my trane weg te vat, 
want trane bring net seer.
Toe sê Hy: "Nee my kind, wens liewers Ek gee jou meer" 
"Ek sal jou trane gee as jy gelukkig is, 
jy sal trane hê as jy jou geliefdes mis
Ek sal jou trane gee as Ek jou baba vir die eerste keer in jou arms lê, 
en Ek sal jou trane gee as jy 'n gebed van dankbaarheid opsê ...
Ek sal jou trane gee as jy vir jou kind se oulike sêgoed lag, 
en hy jou 'n drukkie gee met sy lyfie so sag ...
Ek sal jou trane gee as jy by 'n siekbed staan, 
en die dokter vir jou sê dat alles weer beter sal gaan ...
Ek sal jou trane gee as jy jou verlore hondjie terugkry, 
nadat jy gedink het hy is dalk êrens omgery ...
Ek sal jou trane gee as jy voel jou lewe is verby, 
en jy skielik weer van êrens nuwe hoop vir die lewe kry ...
Ek sal jou trane gee as jy van iets hartseer hoor, 
of as jy jou hart op jou eerste liefde verloor ... 
Ek sal jou trane gee as jy lees van ander se hartseer en smart, 
Want dan, My kind, weet ek jy het nog 'n hart ...
Ek sal jou trane gee as jy hartseer is, 
Want, my liewe kind, ek sal die storms weer blus ...
Ek sal 'n kruis op jou pad sit al is dit nie jy wat daarvoor vra, 
Want, my liewe kind, Ek sal nooit dat jy hom alleen dra!!!

Wednesday, 12 August 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Is jy ook so geseënd?

'n Belastingbeampte kom by my: "Watse besittings het jy?"
''Ek is rêrig baie ryk,'' sê ek.
Belastingbeampte: "Gee my 'n lys van als!"
Ek: "Wel, ...
1. Ek het die EWIGE LEWE - Joh. 3:16
2. Ek het 'n HUIS in die hemel - Joh. 14:2
3. Ek het VREDE wat alle verstand te bowe gaan - Fil. 4:7
4. Ek het onuitspreeklike VREUGDE - 1 Pet. 1:8
5. Ek het LIEFDE wat nooit vergaan nie - 1 Kor. 13
6. Ek het familie en vriende, wat vir my omgee en bid ...
Sien, ek is skatryk!"

Wednesday, 5 August 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Vir Jou

'n Ateïs wou graag een van sy Christen-kollegas 'n punt wys en besluit om hom 'n vraag te vra wat teenstrydig is en moeilik beantwoord kan word. Hy verlekker hom klaar in die man se kleitrappery.
 
Die ateïs vra: "Hierdie God van jou - hoe is Hy? Is Hy groot of klein?"

Die antwoord: "My God is terselfdertyd beide groot en klein. Hy is so groot dat die hemele Hom nie kan hou nie. Tog is Hy so klein dat Hy kan woon in die hart van 'n arme sondaar soos ek."

Wednesday, 29 July 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Vir Jou

As God ‘n yskas gehad het, 
was jou foto daarteen.
As Hy ‘n beursie gehad het, 
was jou foto daarin.
As Hy ‘n selfoon gehad het, 
was jy sy “wallpaper”.
Hy gee elke somer vir jou blomme.
Hy gee elke oggend vir jou ‘n pragtige sonsopkoms.
Hy gee elke aand vir jou ‘n pragtige sonsondergang.
Glo dit! 
Hy is mal oor jou!
God beloof nie dae sonder pyn, 
lag sonder seer en 
son sonder reën nie. 
Hy belowe wel sterkte vir elke dag, 
uitkomste vir trane en 
lig aan die einde van elke donker tonnel.
As God vir jou ‘n klip op jou pad plaas, 
sal Hy dit ook vir jou wegrol. 
Glo dit! 
Jy is die appel van Sy Oog!!!

Hartsake oor 'n koppie tee: Die Heer pak ons paadjie uit met die kleurvolste klippies

Klippies van:
Hoop - met jou visie altyd op Hom.
Liefde - ons deel dit graag.
Geluk - want dit is wat Hy vir ons wil hê.
Vreugde - want ons is Sy kinders.
Geduld - Hy leer dit vir ons elke dag.
Moed - om die lewe te leef.
Dankbaarheid - dat ons Hom kan ken.
Stap jou mooiste klippaadjie met die wete jou hand is altyd in Syne!

Wednesday, 22 July 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: 'n Dag gevul met wondergawes

Knielend in die stofpad
sien ek GOD se genadespoor in ons lewe. 
Soos die miertjies se ywer
om vir hul winter te voorsien, 
so voorsien ons VADER vir 
die winterseisoen in ons lewens. 
Al loop 'n mens soms grondpad en alleen, 
is SY spore van genade ALTYD daar! 
'n Mens sien dit net beter wanneer jy kniel!! 
Dis 'n nuwe DAG, 
nuwe BLADSY in jou LEWENSBOEK! 
Mag GOD vandag met SIERSKRIF daarop SKRYF! 
Van 'n DAG gevul met LIEFDE, VREUGDE, BLYDSKAP, GESONDHEID en SUKSES!

Wednesday, 15 July 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Vriendskap

Jy is vir my soos 'n handgemaakte kruik
Vol kosbare olie wat ek nuttig kan gebruik
Olie wat in der ewigheid nie kan opraak
wat ons vriendskap so wonderlik en kosbaar maak
Ek het nooit kon droom daar was 'n sielsgenoot soos jy
en ek het jou op 'n dag sommer pure-verniet gekry!

[Amori Azarel]

Hier in die aftreeoord het ons die geleentheid om tydens die laaste skof van die wedloop vriende te maak wat ons verstaan, wat in dieselfde bootjie as ons is en wat fisies nader aan ons is as ons jeugvriende, oudkollegas familie, kinders en kleinkinders.  

En dalk loop jy 'n handgemaakte kruik in jou gang raak en raak lang dae te kort en die onbekende toekoms draagliker, want daar is iemand wat jy op 'n dag sommer pure-verniet gekry het!

Wednesday, 1 July 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Moenie opgee nie, staan weer op en probeer weer

Met 'n stem vol liefde, 
so sag en so teer,
fluister Jesus Christus:
"My kind, lê jou hoof op My skoot neer.
Vergeet van jou probleme en al jou smart.
Vergeet van satan wat jou uitlok & tart.
Vergeet van die las wat swaar op jou rus.
Vergeet van jou sonde, dis reeds uitgewis.
Maak net jou oë toe en luister na My stem.
Jy is Myne, lank voor tyd het Ek jou geken.
Jy is tot alles instaat deur My krag wat Ek jou gee.
Ek sal jou paaie gelyk maak, as jy My ken in jou weë.
Ek is jou Rots, jou Verlosser, by My kan jy skuil.
Ek wil jou teen My vashou, jou troos as jy huil.
Ek wil vir jou gee meer as wat jy My vra.
Ek wil langs jou wandel en jou laste dra.
Ek wil hê jy moet weet Ek het ook vir jou die prys betaal.
Moenie opgee nie, maak nie saak hoeveel maal jy faal.
Ek vra nie wees perfek nie, Ek vra net dat jy probeer.
Wanneer jy val, moenie bly lê nie, staan op, probeer weer.
My genade is vir jou genoeg.

[Aangestuur deur Rosetta Venter]

Wednesday, 24 June 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Die stoel voor die bed

Langs die bed van 'n bejaarde Christen het 'n stoel gestaan wat so getrek was asof iemand daarop gesit het.

Toe 'n besoeker hom daarna vra, het hy gesê: "Jare gelede het ek dit moeilik gevind om te bid. My gedagtes het gedwaal, en soms het ek op my knieë aan die slaap geraak. Toe het ek die stoel voor my bed gesit en my verbeel die Here sit daarop. Van toe af praat ek met Hom soos met 'n vriend. Hy het vir my baie werklik geword. Daarom staan die stoel so by my bed. Ek is bevoorreg om daagliks 'n besoeker te hê wat werklik vir my omgee."

Later daardie week het die ou man gesterf met sy hand op die stoel.'

Ons Heiland het belowe: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie." (Heb. 13:5).

[HMS Richards]

Wednesday, 17 June 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Nie Godsdiens nie, maar Christus

Toe 'n prediker by 'n jong man aandring om sy hart vir die Here te gee, was sy antwoord: "Ek het vir die afgelope vyf jaar godsdiens probeer, maar dit werk nie. Ek het dit opgegee" 

"Dis niks," het die prediker gesê, "ek het vir vyftien jaar godsdiens probeer, en ek het dit ook opgegee."

"Nou, maar waarom preek u dan as dit nie werk nie?" wou die jongman weet.

"Ek het toe Christus probeer," was die antwoord, "en Hy het volkome in my behoeftes voorsien. Dis nie godsdiens wat ek aanbeveel nie, maar 'n lewende, liefdevolle Verlosser." 

Wednesday, 3 June 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Hartsmoegheid

Daar is dae wat jy net eenvoudig moeg is - nie net liggaamlik nie, maar in jou hart. Dis 'n moeg wat jy nie vir iemand kan beskryf nie. Dis juis in daardie oomblikke wat God sag fluister: “Ek gee jou nuwe krag.”

Hy sien jou trane, hoor jou gebede en weet waardeur jy gaan. Hy kan sien dat die opdraandes te veel word en dat jy nie altyd vastrapplek kry voor jou volgende tree nie. Hy los jou nie waar jy is nie. Hy lei jou weer op die regte pad, stap saam met jou, en vul jou met moed waar jy moed verloor het.

Jy is nie alleen nie… God is besig om jou hart weer sterk te maak.

Gebed:
Here, dankie dat U my altyd hoor wanneer ek roep.
Dankie dat U my nuwe krag gee wanneer ek nie meer kan nie.
Lei my vandag op U pad van vrede en hoop, en herinner my dat U nooit moeg word om my te dra nie. Amen

Wednesday, 13 May 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Innerlike lig

Mense is soos gebrandskilderde vensters.

Wanneer dit sonnig en helder is, 
skitter en gloei hulle,
maar wanneer die son ondergaan, 
word hulle ware skoonheid
weerspieël deur hulle innerlike lig.

(Skrywer onbekend)

Wednesday, 6 May 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Drie dinge ...

Die lewe van drieë!!
3 dinge in die lewe wat nooit terugkom wanneer dit verby gegaan het nie:
- Tyd
- Woorde
- Geleenthede

3 dinge in die lewe wat jy nooit moet verloor nie:
- Moed
- Hoop
- Humeur

3 dinge in die lewe wat die waardevolste is:
- Geloof
- Gebed
- Liefde

3 dinge wat 'n persoon maak:
- Hardwerkendheid
- Vindingrykheid
- Verantwoordelikheid

3 dinge wat 'n mens kan vernietig:
- Lusteloosheid
- Trots
- Woede

3 dinge in die lewe wat konstant is:
- God
- Veranderinge
- Dood

3 Wese wat jou liefhet en nooit sal verlaat nie:
- Die Vader
- Die Seun en
- Die Heilige Gees

Ek het God vir drie dinge gevra:
- Om jou as leser te seën
- Om jou as leser te lei
- Om jou as leser altyd te beskerm

Wednesday, 29 April 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Geloofsvertroue

Ek wou my tweejarige seuntjie leer wat geloof is. Ek het hom op die tafel getel, 'n entjie teruggestaan en gesê: "Willie, spring! Pappa sal jou vang." Maar die outjie sê: "Pappa, myne bang."

Ek sê toe weer: "Kom nou, Willie, moenie bang wees nie, ek sal jou vang." Hy het reggestaan om te spring, maar toe kyk hy af en sê: "Myne bang."

"Moenie na die vloer kyk nie, Willie," het ek aangehou, "Kyk reguit in my oë en spring - nou!" En toe spring die outjie in my arms.

Toe sê hy vir my: "Myne weer spring." En toe ek hom terugsit op die tafel, spring hy dadelik in my arms.

Daarna wou hy net altyd spring. Dit was asof hy nou te veel vertroue in my gehad het. Maar in God kan 'n mens nooit te veel vertroue stel nie."

[Timo Kriel - 1985]