Showing posts with label Matrone Joey Serfontein. Show all posts
Showing posts with label Matrone Joey Serfontein. Show all posts

Friday, 13 April 2018

Matrone Serfontein se resepteboek!

Kopiereg: André H van Dyk
Dankie vir al die onverwagte reaksie wat ons op die vorige resep gekry het. Ons deel nog 'n resep met die lesers uit die vyftigerjare!!

Hierdie keer is dit vir die lesers met die soettand onder ons. Maak gerus dié eetdingetjie vir die naweek!
Geniet dit!

Matrone Joey Serfontein

Thursday, 29 March 2018

'n Kosbare vonds - matrone Serfontein se klein swart boekie...


Kopiereg: André H van Dyk
Die Serfontein-familie is so gelukkig om van matrone Joey Serfontein se resepteboeke in hulle besit te hê en ons het die voorreg om dit met Ons Huis-lesers te deel!

'n Heerlike resep vir gevulde tamaties uit die vyftigerjare!! Probeer gerus hierdie resep vir aandete en laat weet vir ons hoe dit smaak!

Bon appetit!!


Sunday, 20 November 2016

Dot Serfontein - familie van matrone Joey Serfontein!

Mense is almal uniek.

Mense los voetspore dwarsdeur hulle hele lewe, maar dan is daar húlle wat meer as net voetspore los... Een van hulle was Dot Serfontein, skrywer en woordkunstenaar... en familie van een van Ons Huis se vorige matrones.

Hier volg 'n kort lewenskets van een van Suid-Afrika se merkwaardige kinders...

Dot Serfontein (1925–2016, doopname Susanna Jacoba, getroude van Krog) was 'n Afrikaanse skrywer van kortverhale en kontreiverhale. Sy was die moeder van die digter Antjie Krog. Sy het ook onder die skuilname S.J. Nasau en Luca Fick geskryf.

J.C. Kannemeyer het in 1998 geskryf van sy oortuiging dat Serfontein "nog nooit werklik na waarde geskat is nie, dat haar essays van die beste kortkuns in Afrikaans is, selfs al skryf sy ’n betreklik konvensionele tipe prosa met niks van die eksperimente van party hedendaagse outeurs nie".

Susanna Jacoba (Dot) Serfontein is op 30 April 1925 in haar ouma Serfontein se huis op Kroonstad gebore as die derde kind van mnr. en mev. Kootjie Serfontein van Erfdeel. Haar vader was ’n bekende Afrikanerbeesboer in die Kroonstad-distrik. Die bynaam Dot kry sy omdat sy as klein dogtertjie nie “dogtertjie” kon sê nie, maar net “dottertjie”.

Sy gaan op die dorp skool, waar sy in die koshuis bly, en matrikuleer dan ook aan die Hoërskool Kroonstad. Ná skool is sy na die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1947 'n B.A.-graad behaal het en daarna 'n Hoër Onderwysdiploma. Ná universiteit, in 1948, word sy aangestel as onderwyseres in Engels en liggaamsopvoeding aan die Hoërskool Sentraal, Bloemfontein. Van 1949 tot haar troue was sy vroue-redaktrise van Die Volksblad. Serfontein begin in dié tyd gereeld kortverhale vir Sarie Marais skryf.

Sy trou in 1951 met die boer, geskiedkundige en politikus Willem Krog, wat ook ’n ruk joernalis by die Times in Kroonstad is. Die egpaar het drie seuns (Vyver, Kootjie en Willem) en twee dogters, die bekende digteres Antjie Krog en Jeannette (Pennie). Na die troue boer hulle op die plaas Middenspruit in die Kroonstad distrik, waar sy benewens kinders grootmaak en die normale plaaswerk ook saam met ’n paar plaaswerkers twee kliphuise bou en met Appaloosa-perde boer.

Nadat die kinders uit die huis is, sluit sy by die Vroue Landbou-Unie aan, neem kunsklasse en leer Suid-Sotho aan, wat sy vlot kan praat. Op gereelde basis lewer sy ook artikels en rubrieke vir Rooi Rose, Heilbron Herald en Farmers Weekly. Sy is lid van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar bedank in 1989 wanneer sy nie saamstem met besluite wat op die skrywersberaad met die ANC by die Victoriawaterval geneem is nie.

Gedurende haar leeftyd gaan sy twee kere oorsee, waar sy ook Wes-Duitsland en Oos-Duitsland besoek, en sy behou haar belangstelling in hierdie land en sy letterkunde, musiek en kuns regdeur haar lewe. Sy tree gereeld op as spreker by byeenkomste soos geloftefeeste, herdenkings van die Anglo-Boereoorlog en die herdenking van Kroonstad se ontstaan en behandel gereeld haar eie en ander skrywers se werk by Leeskringe. In 2000, met die eeufeesherdenking van die Anglo-Boereoorlog, lewer sy ’n lesing oor die Anglo-Boereoorlog digters by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum. Sy is ouderling in haar kerk, die Kroonheuwel Noord-gemeente in Kroonstad.
Die Serfontein egpaar verlaat hul plaas met aftrede in 1999 om hulle in 'n aftreewoonstel op die dorp in Kroonstad te vestig. Haar man is in 2002 aan nierversaking oorlede. Sy woon daarna in 'n aftreeoord op haar geboortedorp.

Die skryfgogga het haar in 2008 weer gebyt, en sy het besluit om haar memoires te skryf. Haar outobiografie, Vrypas, het eindelik in April 2009 verskyn. Kort voor haar 88ste verjaardag (in 2013) het die Klein Karoo Nasionale Kunstefees haar vir haar lewensbydrae tot die verruiming en verryking van die leefwêreld van Afrikaans met die Afrikaans Onbeperk-prys vereer.

Sy is op 4 November 2016 in die ouderdom van 91 jaar in haar slaap oorlede.


Bron: Wikipedia
Fotograaf: Charles Smit

Tuesday, 21 June 2016

Aangename kennis, matrone Joey Serfontein!!

Johanna Serfontein in haar
jong dae in Kimberley!
Mense is lief om te sê dat die wêreld klein is. Daar steek egter baie waarheid in daardie uitdrukking.

André H van Dyk, 'n man wat van geskiedenis hou en skrywer van: "Die Serfontein-familie van Brandrivier tot Kliprivier", deel hierdie foto's met ons. Hy het baie interessante inligting oor hierdie matrone-familie van hom gegee. Hulle is albei familie van die bekende skryfster, Dot Serfontein van Kroonstad. Dot het ook 'n boek oor die Serfonteins uitgegee, "Die Serfontein-atlas". Albei hierdie boeke is tans uit druk.

As enkelouer het Joey Serfontein haar twee seuns alleen grootgemaak. Die twee seuns was eers in Gladstone Primêre skool en later is hulle na Diamantveld Laerskool toe. Hier het Chris Serfontein, die oudste
Chris Serfontein, die oudste seun, en 'n 
onlangse foto van die boom wat hy meer 
as 75 jaar terug by Diamantveld Laerskool
geplant het. 
seun, 'n boom tydens boomplantdag geplant. Op die foto wat einde verlede jaar geneem is, kan die boom baie duidelik gesien word. Dié is knap oor die 75 jaar oud!

Matrone Joey Serfontein is van Kimberley na Johannesburg en nog later het sy 'n matronepos in Pietermaritzburg gehad.

Nog foto's van die merkwaardige vrou!

Monday, 20 June 2016

'n Maandagoggend-verrassing!


Matrone Joey Serfontein in die kombuis van "Ons Huis"
se eerste gebou. Hier is sy saam met van die ander
personeellede. Die datum agterop die kosbare foto's
is 1947.

Matrone Johanna, in die wandel bekend as Joey, se
handtekening!
Partykeer word die spreekwoordelike blou Maandag op sy kop gekeer... hierdie keer was dit met 'n foto of drie.

In hierdie geval het mnr. André H van Dyk op "Ons Huis" se blog afgekom, wat maar enkele dae oud is en 7 wonderlike juweelfoto's vir my gestuur van sy oupa se ma wat in die 1940's 'n matrone van hierdie ouetehuis was. Hy het die foto's in sy besit, met byskrifte agter op die foto's in haar handskrif.

Wat 'n heerlike Maandagmôre-vonds!! 'n Groot dankie vir hierdie stukkie geskiedenis wat jy met ons deel.

As daar nog enige van die lesers is wat foto's, staaltjies of  stories met ons wil deel, kontak my gerus. 

'n Stukkie agtergrondgeskiedenis van hierdie matrone en nog foto's volg later. Hou die blad dop!!!