Showing posts with label Henry Welman. Show all posts
Showing posts with label Henry Welman. Show all posts

Saturday, 19 September 2026

Saterdaglagmedisyne - Kallie en Jimmy

* Kallie en Jimmy loop mekaar vir die eerste keer in jare raak.
Vra Kallie: "Jimmy, wat doen jy deesdae?"
"Ek verkoop meubels."
"Maak jy darem geld?"
"Ja, maar my huis raak nou vinnig leeg."

* Na die eerste week weg van die huis by 'n nuwe werk stuur 'n jong getroude Mike die volgende telegram aan sy vrou: "Voorman geword - veer in my hoed."
Na die tweede week volg die volgende een: "Bestuurder geword - veer in my hoed."
Na die derde week volg dié een: "Afgedank - stuur geld."
Waarop sy vrou antwoord met: "Gebruik vere - vlieg huis toe."

*  'n Pasiënt is in die groendakkies en om sy tyd daar te verwyl, staan hy op die asblik om bo-oor die ringmuur te sien wat elke dag in die straat aangaan.
'n Motor kom om die draai en skuur met 'n skreeugeluid reg voor hom tot stilstand. Die wiel het afgeval.
"Al die moere is weg," sug die moedelose bestuurder.
"Draai een by elkeen van die ander drie wiele uit," kom die raad van die man oor die muur.
"Dis 'n wonderlike plan. Maar is jy nie veronderstel om mal te wees nie?" reageer die motorryer.
"Ja, mal, maar nie stupid nie."

[Bron: Finansies & Tegniek, 1 Desember 1995] 

Saturday, 8 August 2026

Huisgenotjies: Nou is daar spesiale kodes vir seniors

In plaas van om alles uit te tik, gebruik die jongmense mos afkortings in hulle boodskappe. Gelukkig het ons senior burgers gou ingeval by dié gebruik en ter wille van die jongklomp, word 'n paar van die afkortings hieronder verklaar.  

BDD = By die dokter

BVSB = By vriend se begrafnis

BDR = Bring die rystoel

KWS = Kry weer sooibrand

SG = Skryf groter

MWG = Maag werk goed

IJGA = Is jou gehoortoestel aangeskakel?

MGPBL = Moet gaan, pasaangeër se battery laag

MGPBW = Moet gaan, purgasie begin werk

WIJNW = Wie is jy nou weer?  

WPEA = Wat praat ek alles?

WWW = Waar was ek nou weer?

Saturday, 1 August 2026

Saterdaglagmedisyne - Nog steeds Koos ...

Koos se vrou gaan kuier vir 'n week by haar ma.
Koos besluit hy gaan nie elke aand skottelgoed was nie. 
Met sy vrou se terugkeer, ontdek sy papierborde in die skottelgoedwasser.

oooOOooo

Nuuskierige kollega: "Liewe aarde, Koos, wanneer gaan jy tot trou kom? Hier is darem oulike meisies op die dorp."
Koos: "Ja, daar is, maar ek sien in elke mooi meisie 'n potensiële skoonma."

oooOOooo

Dis Kerstyd en Koos en sy vrou is na Stoffel se huis vir middagete genooi. Stoffel maak reg om die kalkoen op te kerf en vra: "Van watter deel van die kalkoen hou jy, Koos?"
"Die vleis."

Saturday, 25 July 2026

Saterdaglagmedisyne - 'n Verbode slaap

'n Sekere broer het, in een van die kerke waar daar so nou en dan "amen" gesê word op wat die pastoor sê, so half aan die slaap geraak.

Sy vrou het naderhand agtergekom dat sy "amens" baie snaaks klink en dat die asemhaling heeltemal te hard is, vir 'n meelewende wakker lidmaat.

Sy besluit om hom wakker te maak, voordat die asemhaling in snork oorgaan. Die volgende oomblik pomp sy hom genadeloos in die ribbes en sê: "Pastoor sê jy moet afsluit!"

Met 'n verwilderde uitdrukking kom die man vinnig orent en terwyl hy nog sit en wind sluk, soekende na 'n woord om sy gebed mee te begin, sê vroulief: "Sjjjt! Ek jok!!!"

Dis seker nie nodig om in detail in te gaan oor wat na die diens gebeur het nie. 

[Ingestuur deur Mariet Hobbs]

Saturday, 18 July 2026

Saterdaglagmedisyne - Nagmaalnaweek

Daar is van ons inwoners wat hulle sal kan vereenselwig met genoemde naweekgebeure.   

Op 'n sekere Karoodorpie was daar tot nie lank terug nie, nog tydens nagmaalnaweke "groot kerk" gehou. Dan word daar gedurende so 'n naweek vanaf Saterdagaand se voorbereidingsdiens tot Sondagaand se nabetragting nie minder as vyf dienste gehou nie.

Daar was nuwe intrekkers in die dorp en gedurende die eerste "groot kerknaweek" het die vroutjie haar hande vol gehad met haar vyfjarige seuntjie. Tydens die kinderdiens die Sondagmiddag, vlug sy uit radeloosheid na die moederskamer, want die mannetjie wil toe van stilsit en kerk toe gaan, niks meer weet nie.

Toe die diaken omkom met die kollektebord, het hy met groot belangstelling gesit en kyk hoe al die moeders geld ingooi. Toe die diaken uitstap, sê die mannetjie kliphard: "Hemel, Ma, dis dié dat hulle so baie kerk hou! Kyk net hoe baie geld maak hulle!"

Saturday, 4 July 2026

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt

Koos het bakore gehad.
"Koos," vra 'n maat op 'n dag, "pla daardie ore jou nie?"
"Nooit," antwoord Koos, "behalwe wanneer ek 'n rondekraagtrui aantrek."

oooOOooo

Hoekom sit Koos elke aand 'n stukkie kaas langs sy rekenaar neer?
Hy is bang die muis word honger. 

oooOOooo

Koos is met 'n blondine getroud. By die werk is hy die enigste mens met 'n deurskynende kosblik. Toe sy een kollega hom daarna vra, antwoord hy as volg: My vrou reken dan kan ek weet of ek werk toe of huis toe moet gaan.

Saturday, 27 June 2026

Saterdaglagmedisyne - Blondines

* Blondine in die fliek
Die blondine is 'n plekaanwyser in 'n fliek. Op 'n dag skrik sy haar byna flou toe sy 'n groot bruin beer in die voorste ry van die fliek sien sit, besig om 'n pakkie springmielies te verorber. 
"Hei," fluister sy verbaas, "waar kry jy die pop-corn? Ek dog die pop-corn-masjien is stukkend!"

* Die blondine ontspan op die strand toe haar selfoon lui. Dis haar ma wat haar bel.
"Haai, Ma," gil die blondine verras, "hoe het Ma geweet ek is hier?"

* Twee blondines skreeu vir mekaar aan weerskante van 'n vol rivier.
"Hoe kom ek aan die ander kant?" skreeu die een.
"Jy is aan die ander kant!" skreeu die ander een.

Saturday, 6 June 2026

Saterdaggenotjies: Koos van der Merwe

Koos gaan poskantoor toe om 'n telegram vir sy ma te stuur. (Dit was in die dae voor selfone,WA's en toe die poskantoor nog bestaan het.)
Nadat al die vorms ingevul is, sê die man agter die toonbank vir Koos: "Jy moet R10 vir die aflewering betaal."
"Dis heeltemal belaglik," sê Koos vies. "Los maar die aflewering. Ek sal vir my ma 'n brief skryf en vir haar sê dat sy die telegram by die poskantoor moet gaan haal."

ooOOoo 

Gehoor van die blommeverkoper wat vir Koos op straat voorgekeer het met die voorstel om 'n bos blomme vir sy meisie te koop?
"Ek het nie 'n meisie nie," is sy reaksie.
"Maar koop dan 'n bos blomme vir jou vrou," antwoord die blommeverkoper.
"Ek het nie 'n vrou nie," is sy antwoord.
"Nou koop dan twee bosse blomme vir jou geluk."

ooOOoo 

My buurman, Koos, se hond heet Vraat.
Ek: "Hoekom gee jy vir jou hond so 'n eienaardige naam?"
Koos: "Want hy hap gedurig."

ooOOoo 

Saturday, 30 May 2026

Saterdaglagmedisyne - Van der Merwe

* 'n Ou man is elke Maandagoggend met ipekonders by die dokter. Die oggend vra die dokter: "Oom, wat is vandag die probleem?"
"Ag doktertjie," antwoord die ou man bewerig, "ek het tog so 'n vreeslike pyn in my roer." 
"Haai, oom. Waar sit oom se roer?"
"Nee, ek weet nie. maar elke keer wanneer ek roer, dan pyn dit."

* Koos en sy drinkersvriend sit rustig in die kroeg toe hy skielik na die telefoon geroep word. Hy is nog nie terug op sy stoel nie, of hy bestel 'n dubbele brandewyn en Coke.
"En nou?" vra sy maat.
"Ek het nou net gehoor ek het twee weke om te lewe."
"Was dit jou dokter wat jou gebel het?"
"Nee, my vrou. Sy gaan vir twee weke by haar suster kuier."

* Van der Merwe se vaderlike trots ken geen perke nie.
Sy seuntjie het skaars met vioollesse begin, of hy vertel sy kroegvriende die kind het so 'n natuurlike aanleg dat die bure sy huis se ruite stukkend gooi om die musiek beter te kan hoor.

[Bron: Finansies & Tegniek, 3 November 1995]

Saturday, 9 May 2026

Saterdaglagmedisyne - Oumas en oupas

 * 'n Ouma vertel van 'n voorval in haar dogter, wat 'n kleuterskoolonderwyseres is, se klas.
Soms kom kleintjies in hulle onskuld met pragtige antwoorde vorendag.
Die juffrou vra vir die klassie waarom mense klere dra.
Die eerste antwoord wat sy gekry het, was: "Om hulle skoon te hou."

* Die rede waarom oupas, oumas en kleinkinders so goed oor die weg kom, is omdat hulle ‘n gemeenskaplike vyand het.

* Ouma se raad aan haar kleindogter.
Onthou: * Sommige mense trou vir liefde.
* Ander trou vir geld.
* En 'n baie klein handjievol gelukkiges trou vir albei.

Saturday, 2 May 2026

Saterdaglagmedisyne - die jongeres se denkpatroon

Tye het verander en harde werk is nie meer bo-aan die lysie nie,

* 'n Bekende en welvarende sakeman spreek 'n klompie jongmense toe oor welvaartskepping. Almal entoesiastiese sakelui in wording. Om 'n bietjie perspektief aan sy gehoor te gee oor belasting en ander ekonomiese begrippe, wou hy illustreer dat geen amptenaar, verpleegster of wie ook al, betaal kan word as daar nie eers rykdom geskep is waaruit belasting verkry kan word nie.

Sy vertrekpunt was om die gehoor te vra hoe 'n mens geld in die hande kan kry. Die heel eerste voorstel was: "Om dit te steel."
Die tweede was: "Om te dobbel."
Eers by punt nr. 6 het een ou opgestaan en kwytgeraak: "Om te werk." 

Toe bars die hele gehoor uit van die lag.

Red nou 'n land... 

Saturday, 4 April 2026

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt

Dankie vir al die Koos-grappe wat ingestuur is - geniet dit - dalk is daar 'n Koos ook in hierdie aftreeoord.

* Koos kom by die huis en sien dat hulle ingebreek het en sy huis leeg gesteel het. Hy skakel die polise, maar hulle het nie iemand om dadelik uit te stuur nie. Hy begin net goed ontsteld raak toe die voordeurklokkie lui. Hy maak die deur oop en daar staan 'n polisieman met 'n sonbril op en sy polisiehond aan 'n leiband.
"Nee krisis, man," sê Koos ontsteld. "Eers steel hulle my huis leeg en nou stuur hulle vir my 'n blinde polisieman."

* Koos spog een aand in die kroeg dat hy 253 lewens in die oorlog gered het.
Niemand glo hom nie, want Koos het al lekker gekuier. Tog is daar een nuuskierige man wat wou weet hoe Koos so 'n heldedaad verrig het.
Koos: "Ek het die kok geskiet."

* Koos wil sy kar verkoop. Dis nie so 'n ou kar nie, as wat dit geweldig baie myle op die klok het.
Hy adverteer nie kar, maar niemand wil die kar koop nie. Hy gaan kla sy lot by Mike. 
Mike: "Dis eintlik baie maklik. Draai net die myle so 'n bietjie terug en jou probleem is opgelos."
Drie maande later sien Mike dat Koos nog steeds met die kar ry wat hy wou verkoop het.
Mike: "Haai, Koos, sukkel jy nog steeds om die kar te verkoop?"
Koos: "Weet jy, die kar het nou so min myle op dat ek besluit het om dit nie te verkoop nie."

Saturday, 28 March 2026

Huisgenotjies: Dis mos gek!

Op 1 April is daar net twee soorte mense: dié wat gek is na Aprilgrappe en dié wat dink Aprilgrappe is gek.

* Die linkerhandbielie
In 1988 het Burger King 'n volbladadvertensie in USA Today laat plaas om die linkerhandbielie, wat spesiaal vir die 32 miljoen linkshandige Amerikaners gemaak word, aan die publik bekend te stel. Die linkerhandbielie bevat dieselfde bestanddele as die bekende oorspronklike Whopper (blaarslaai, tamaties, hamburgerfrikkadel), maar al die geurmiddels word vir die gerief van die linkshandige eters 180 grade gedraai, is gesê. Duisende linkshandiges het dié Aprilgrap geglo en sulke hamburgers bestel.

* Tieners met getatoeëerde ore
Op 1 April 1994 word op die radioprogram, All things considered, aangekondig dat maatskappye soos Pepsi die tatoeëering van tieners se ore met die logo van deelnemende maatskappye gaan begin borg, mits dit twee sentimeter groot is. Tieners wat getatoeëerde logo's op hul ore vertoon, sou lewenslank 'n afslag van tien persent op die produkte van die betrokke maatskappy ontvang. Honderde tieners het met groot entoesiasme op die aanbod gereageer.  

* Rekord-spaghetti-oes
Op Maandag, 1 April 1957, is daar oor die BBC-nuusprogram Panorama berig dat die landbougemeenskap van Switserland danksy 'n matige winter en die sukses wat met die bestryding van die gevreesde spaghetti-kalander behaal is, 'n rekord-spaghetti-oes in dié oesjaar verwag.  

Beeldmateriaal van plaaswerkers wat stringe spaghetti uit bome ryg, is aan die kykers vertoon. baie mense het dit onwrikbaar geglo en ingeskakel om navraag te doen oor die kweek van spaghettibome, waarop hulle die volgende antwoord van die BBC ontvang het: "Plaas 'n spaghetti-takkie in 'n blik tamatiesous en hoop vir die beste." Vir een jaar sou spaghetti volop wees!!!

[Vrouekeur, 1 April 2005] 

Saturday, 21 March 2026

Saterdaglagmedisyne - Allerlei

* Kennisgewing op Kimberley klub se deur: Moenie drink en bestuur nie. Jy tref dalk 'n gat in die pad en mors alles uit!"

* 'n Politikus wat sy kiesers baie jare terug in Kimberley toegespreek het, word in die rede geval deur 'n harde stem van agter uit die saal: "Ek sou nie vir jou gestem het nie, al was jy die Engel Gabriël."
Politikus: "As ek die Engel Gabriël was, sou jy nie in my kiesafdeling gewees het nie."

* 'n Jongman sit in die trein na Kaapstad en kou aanhoudend kougom. Oorkant hom sit 'n ou tannie. Nadat sy hom 'n rukkie dopgehou het, sê sy: "Dit help nie jy praat met my nie, jongman. Ek is absoluut stokdoof." 

Saturday, 14 March 2026

Saterdaglagmedisyne: Allerlei

Dokter aan pasiėnt wat baie slegte rokershoes het en ooglopende tekens van te veel drank toon: "Hoeveel sigarette rook jy per dag?"
Pasient: "So 40 dokter."
Dokter: "Dink jy jy sal dit kan opstoot na 80 per dag?"
Pasiënt (wat gemeen het hy gaan aangespreek word oor sy 40): "Seker, dokter, maar hoe dan so?" Dokter: "Miskien val een van jou longe plat en dan is daar meer plek vir jou lewer!"

oooOOooo

Spreuk 204 van Langenhoven: Ry liewer die klip mis as om die man te dagvaar wat hom in die pad ingerol het. 'n Ou as is beter as 'n nuwe eis.
oooOOooo

Nasa het bevind met alle ondersoeke dat uit die ruimte net drie dinge op die aarde duidelik sigbaar is:
1. Grand Canyon
2. Muur in China
3. Gate in die Suid-Afrikaanse paaie

Saturday, 7 March 2026

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt

Dankie vir al die Koos-grappe wat ingestuur is - geniet dit - dalk is daar 'n Koos ook in hierdie aftreeoord.

* Klein Kosie: "Meneer?"
"Ja, Kosie?"
"Wat het ek vandag by die skool geleer?"
"Hoekom vra jy só 'n dom vraag?"
"Wel, Meneer, dit is wat my pa my gaan vra as hy vanaand by die huis kom."

* Koos se vrou is moeg vir sy gedrinkery. Hulle het 'n hewige gesprek daaroor gehad en Koos het ter wille van die vrede in die huis tot 'n vergelyk gekom.
Stoffel sit reeds van vyfuur af en kuier in die kroeg. Hy merk dat Koos op sy hande by die deur inloop. Nie seker van sy eie toestand nie, sê-vra Stoffel vir Koos: "Bedrieg my oë my of is ek reg as ek sê dat jy op jou hande by die deur ingeloop het?"
"Nee, jy is reg. My vrou het my gisteraand belet om weer my voete in die kroeg te sit."

* 'n Motoris ry oor Koos se voet en Koos stel 'n yslike groot eis teen die man in.
Die man kom met Koos praat om te hoor of hulle nie buite die hof kan skik nie. "Dink jy ek is 'n miljoenêr?"
Koos nie op sy mond geval nie: "Dink jy ek is 'n duisendpoot?"

Saturday, 28 February 2026

Saterdaglagmedisyne - Allerlei

* Hoe kan jy 'n draadkar laat olie lek?
Plak 'n Beetle-kenteken daarop.

* Wat is platoniese vriendskap?
Die tydsverloop vandat 'n man aan 'n meisie voorgestel word tot die eerste soen.

* Die belangrike ek, ek en ek
Hoe het die blonde man se grootste vriend hom beskryf?
Hy is 'n selfgemaakte man wat mal is oor sy maker. 

Saturday, 21 February 2026

Saterdaglagmedisyne - 'n Alternatiewe manier (Deel 2)

Soek u nuwe maniere om stres te hanteer? Hier is nog vyf:

1. Voltooi jou inkomstebelastingopgawe in Romeinse syfers.
2. Staar na mense deur 'n vurk en berbeel jou hulle is almal in die tronk.
3. Stuur jou dokter 'n rekening vir die tyd wat jy in sy ontvangskamer moes wag.    
4. Skryf 'n kortverhaal deur alfabetsop te gebruik.
5. Sing vir jou troeteldiere 'n aria uit Giuseppe Verdi se Rigoletto.

[Bron: Finansie & Tegniek, 2 Augustus 1996]

Saturday, 14 February 2026

Saterdaglagmedisyne - Oupa

* Wat noem jy 'n vrou wat 24 uur per dag weet waar haar man is?
'n Weduwee.

* Ouma besluit om op haar oudag vir haar lisensie te gaan. Sy het die tyd en dan kan sy die inwoners van die ouetehuis lekker rondry. Haar kinders is glad nie ten gunste van hierdie nuwe gier van ouma nie.
Sy het vir haar eerste probeerslag nege uit tien vir haar bestuurslisensie gekry ...
Al nege was voetgangers.   

* 'n Oupa moes vir die eerste keer in jare na sy drie kleinseuns kyk, terwyl hulle ma winkel toe is.
Die latte is moeilik en die oupa kon dit later nie meer hou nie.
Hy besluit gebed is die beste uitweg. Maar al wat teen daardie tyd aan kan dink is: "Ag, Vader, gee my asseblief liefde, genade en geduld, maar net nie krag nie - want dan foeter ek hulle." 

[Finansies & Tegniek, 10 Mei 1996]

Saturday, 7 February 2026

Saterdaglagmedisyne - dit laat mens dink!

Moeilike ou vrou in hof vir winkeldiefstal.
Landdros: "Wat het jy gesteel?"
Sy: "'n Blik perskes."
Landdros: "Hoeveel perskes was daarin?"
Sy: "6"
Landdros: "6 dae tronkstraf!"
Haar ou man skreeu daar van agter uit die banke:
"Sy't 'n blik ertjies ook gevat!"

ooOOoo

Drie ou omies sien mekaar na baie jare weer.
Hulle begin gesels oor wat hulle nou doen vandat hulle met pensioen is.
Die eerste oom sê: "Ek neem foto's."
Die tweede oom sê: "Ek werk in die tuin."
Die derde oom sê: "Ek doen opsporingswerk."
"En waarin nogal?" wil die ander twee ooms weet.
"Nee," sê die oubaas: "Elke dag soek ek my bril, my kierie, my valstande, my sleutels ..."

ooOOoo

Oupa se selfoon maak "bleep, bleep."
Ouma vra: "Wie is dit?"
Oupa: "Betty Louw. Ek ken nie 'n Betty Louw nie."
Na 'n paar minute weer "bleep-bleep" en oupa sê: "Ai, maar die Betty Louw is lastig".
Ouma: "Gee jou foon hier, jou onnosele vent, dis nie Betty Louw nie, dit sê Battery Low!"