Claudia stem volmondig saam met C Louis Leipoldt dat Oktober die mooiste mooiste maand is. Die rede? Sy is op 1 Oktober 2026 as huishoudelike administratiewe beampte by Ons Huis aangestel.
Sy het haar eerste lewenslig in Kimberley aanskou en is nie sommer van plan om haar wortels hier uit te trek nie. Dus 'n Kimberliet in murg en been en 'n Ons Huiser in woord en daad.
Versigtig en agter 'n masker het sy haar eerste treë by Ons Huis in 2020 gegee. Covid het mos sy eie stel reëls gehad ... Sy en die inwoners het mekaar met maskers voel-voel uitgekyk en eers baie later het sy die mense agter die maskers leer ken en hulle vir haar. Hulle het mekaar se familie geword en daarom is dit maklik om mekaar se hartseer, vreugdes en verlanges te deel. Net een kyk na 'n inwoner en sy kan sommer sê wat in daardie hart aangaan.
Haar postitel in 2020 het gesê: Algemene assistent, haar lyftaal het gesê: liefde. Sy het die voorreg gehad om by die hoofgebou en by die siekeboeg te werk. Die ritme, energie en tempo verskil in hierdie twee eenhede en ervaring kry 'n mens net deur praktiese ondervinding. Claudia het saam met haar werk gegroei en dit het haar passie geword.
Haar werk is haar trots en sy wil graag voetspore los waarin ander eendag kan loop. Claudia straal behoorlik as sy oor haar werk en die inwoners gesels. Om met bejaardes te werk is vir haar 'n vreugde. Dis hier, by Ons Huis, waar sy graag 'n verskil wil maak.
Vir haar familie - die Ons Huis-inwoners - wil sy sê: "Maak vrede met die verlede. Geniet die laaste deel van jou wedloop en koester die herinneringe wat jy op jou lewensreis gemaak het."
Claudia se hare tree dikwels as boodskapper by verskillende geleenthede op. Met Internasionale Alzheimer-dag het haar pers hare gesê: "Raak betrokke." En op hierdie stadium sê haar kort kapsel: "Ek ondersteun my vriendin op haar kankerpad"
In 'n neutedop is Claudia 'n omgeemens wat uitreik na ander in nood, wat na elkeen se hartstorie luister en mense met liefde toevou.
Claudia, mag jou pad saam met Ons Huis een van vreugde wees en mag al jou werksverwante drome waar word.


