Showing posts with label Kennis. Show all posts
Showing posts with label Kennis. Show all posts

Friday, 3 May 2024

Oefen jou geheue


Onthou om my te onthou, vergeet om my te vergeet
, was op sy dag een van Laurika Rauch se groot treffers.

Maar voor ons vergeet waaroor dit alles gaan, moet ons rekening hou met ons eie vermoë om te onthou, veral namate die ouderdom toeneem. Dis nie almal wat soos 'n Winston Churchill die juwele uit die Engelse literatuur wat hy op skool gememoriseer het, uit die vuis kan voordra nie.  

Dit is opvallend hoe min aandag studente gee aan die verskerping van hulle geheue. Onderwysers is geneig om die opvatting, dat memorisering help om die verskillende gebiede van die brein te ontwikkel, as tydmors te beskou.

Memorisering is in die verlede oordryf, dikwels tot nadeel van gesonde begrip. Dit is egter geen rede om dit geheel en al oorboord te gooi nie.

Dit kan miskien nie die intellek bevoordeel nie, maar dit kan bydra tot 'n goed geordende brein en 'n bron van voedsel vir die gees.

Verskeie suksesvolle studente het daarop gewys dat 'n vaardige geheue afhang van die gehalte van die redenasievermoë en oordeel, sowel as 'n beter werking van die verstand.

Plato was op sy dag ook baie geïnteresseerd in die werking van die menslike brein. Een van sy uitsprake was: "Kennis is om te onthou."

Volgens kenners is geen verstandelike vermoë so vatbaar vir verbetering as die mens se geheue nie. Dit het daartoe gelei dat kenners in die laaste klompie jare verskeie tegnieke ontwikkel het om vergeetagtigheid te bestry.

Dit blyk dat herhaling die belangrikste bondgenoot is. Toetse in laboratoriums het ook getoon dat deur net hardop te herhaal wat jy wil onthou, jy jou onthouvermoë van 25 tot 100% kan verbeter.

Monday, 14 November 2022

'n Biblioteek van kennis, ervaring en wysheid

Saam met elke bejaarde wat sterf, gaan daar 'n biblioteek dood.
'n Biblioteek van kennis, ervaring en wysheid.

Hoe is dit dat TWEE ouers (soms EEN) na 'n klomp kinders kon kyk,
maar dat 'n klomp kinders nie na twee ouers kan kyk nie?

Besef ons dat ons met ongeduld, geïrriteerdheid en frustrasie
ons eie ou dag miskyk.
Ons sal ook daar kom.
Ons sal dalk ook ons ou, gebruikte plastiesakke saamneem om 'n belangrike geldjie te spaar.

Iemand sal op 'n dag ook agter ons in die ry staan terwyl ons met ons koepons wil betaal.
So, hier is my hart.
Ek eer die bejaardes wat steeds probeer.
Ek besef daar stap 'n storie voor my - 'n mens wat ook maar net afhanklik is.
Iemand wat jare lank 'n land help bou het,
en dalk nou aan die agterspeen suig met hulle karige pensioen.
Mans en vroue wat eens trotse voorlopers was,
en nou bakhand moet staan en sien hoe 'n jonger generasie nie altyd respek het nie.
Kan ons hierdie week weer werk aan ons deernis, geduld
en sommer net waardering vir die oom wat dalk stadig voor ons ry,
die bejaarde tannie wat in jou pad staan as jy haastig is,
die mens met die koepon of die klein geldjie in die hand,
wat langer vat om te betaal as jy met jou goue kredietkaart.
Kan ons dalk kies om só 'n mens se kruideniers te betaal as die Here
ons geseën het met méér.
Kan ons weer besef dat wie ookal ons is,
wat ookal ons het 
- dit alles is net genade!