Showing posts with label Ouetehuis. Show all posts
Showing posts with label Ouetehuis. Show all posts

Friday, 17 January 2025

Die 2025-reis: Alleen of saam met mense

As jy vanaand alleen in jou kamer sit, neem sommer vandag nog die besluit dat jou 2025-reis anders gaan wees - reik uit na jou buurman of buurvrou langs jou, jou tafelgenote, die een wat alleen sit en TV kyk in die ontspanningskamer, hulle wat saam met jou in die selgroepie is - ons het mekaar nodig vir die res van die jaar. 2025 sal makliker lyk en voel as reisgenote vir mekaar uitkyk en vir mekaar bid. 

Daar is ‘n bekende gesegde wat 'n mens dikwels by motiveringsprekers hoor: "As jy ver wil reis, moet jy mense saam met jou neem."

Is dit nie wat ons moet doen aan die begin van 2025 nie? As 'n mens in 'n ouetehuis of aftreeoord is, is jou opsies nie baie nie. En daarom daag hierdie spreuk ons uit om na te dink oor wie ons met ons saam wil neem.

Hoe kies en identifiseer ons ons reisgenote? Dink daaroor en deel jou opinie met die lesers.

Geseënde naweek!

Tuesday, 24 December 2024

Die Kersgeskenk

Dis die dag voor Kersfees.

Ek en my wederhelf is op pad na die plaaslike ouetehuis. Sedert my pa, wat ‘n inwoner daar was en presies drie jaar gelede oorlede is, neem ons elke jaar Kersgeskenkies vir die inwoners.

Ons hou stil voor die gebou en elkeen haal ‘n groot sak vol geskenke uit die kattebak. Binne gekom, stap sy na die vrouevleuel en ek loop die blinkgepoleerde gang af na die mansafdeling.

By elke kamer gaan ek in en gee ‘n geskenkie af. Die inwoners is uitgehonger vir geselskap en dis eers laatoggend toe ek by die laaste kamer instap. Oom Nathan se kamer.

Oom Nathan en my pa was vriende en ek kuier altyd lekker by hom.

Sy oë blink toe ek sy pakkie oorhandig.

“Ek hoop dis tjoklits,” sê hy terwyl hy dit in die laai van sy bedkassie wegbêre.

Ek sit nog ‘n rukkie by hom en gesels.

Hy is weer op sy gunstelingonderwerp, sy wedervaringe gedurende die Tweede Wêreldoorlog toe hy in Noord-Afrika diens gedoen het. Dan vertel hy weereens van sy verloofde, Beth, wat hom vir ‘n ander man gelos het terwyl hy weg was. Hulle het albei in Londen gewoon en het ‘n maand voor die oorlog uitgebreek het, verloof geraak. Sy was ‘n winkelassistent en hy ‘n soldaat in die weermag

Soos alle verliefdes, het hulle ewige trou aan mekaar gesweer. In die begin was daar gereeld briewe, maar toe tref ‘n ramp hom. Sy tenk word deur ‘n mortier getref en hy is met ernstige beserings afgevoer na ‘n veldhospitaal toe, daarna na ‘n plaaslike hospitaal waar hy vir meer as drie maande aangesterk het. Namate sy gesondheid verbeter het, het hy begin navraag doen oor enige pos van Beth, altyd was die antwoord dieselfde. Briewe wat hy geskryf het was nooit beantwoord nie.

Hy het toe maar aanvaar dat sy liewe Beth moed opgegee het nadat sy vir so lank nie van hom gehoor het nie.

Hy is later ontslaan en in Londen aangekom, was hy geskok om te sien dat die buurt waar Beth gewoon het verpletter was deur die Duitsers se bomaanvalle. Ook die winkel waar sy werksaam was, is heeltemal vernietig. Na maande se vrugtelose gesoek het hy aanvaar dat Beth moes omgekom het in die aanvalle wat Londen nag na nag geteister het. Kort daarnan het hy verhuis Suid-Afrika toe om ‘n nuwe lewe te begin. Ons kuier lekker vir nog ‘n uur of so toe my vrou saggies aan die deur klop en aandui dat ons moet aanstaltes maak.

Op pad huis toe gaan die gesprek oor die spesifieke twee oumensies, Tannie Liz en Oom Nathan. Ons stem saam dat dit so tragies is dat die oorlog soveel mooi verhoudings tot niet laat gaan het. Ek vra uit oor Tannie Liz se omstandighede. My vrou vertel dat sy in Londen woonagtig was en pas verloof geraak het toe die oorlog uitbreek en haar verloofde, Jonathan weg is Noord-Afrika toe.

Ek voel hoe kry ek hoendervleis en gaan parkeer in die eerste en beste parkeerplek.

“En nou?” vra my vrou, “is daar iets verkeerd?”

“Ek weet nie, maar sê nou net ...” prewel ek.

“Hoe bedoel jy nou?” vra sy so half opgewonde, sy kan sien dat iets my geweldig pla.

“Tant Liz en Oom Nathan, kan jy dit nie sien nie? Dink jy dit kan moontlik wees?” ek is nou heel opgewonde, oortuig dat ek iets hier beet het.

“Hoe bedoel jy nou?” sy snap nog nie wat ek probeer sê nie.

“Dink net, Jonathan en Nathan, Beth en Liz, verloof, oorlog,” rammel ek my gedagtes af.

Sy staar my met groot oë aan: “Dis ongelooflik, maar ek dink jy kan reg wees, draai om, ons moet gaan seker maak.”

By die ouetehuis aangekom is ek dadelik na Oom Nathan toe en my vrou na Tannie Liz se kamer.

Ons plan is om soveel moontlik van die twee se verloofdes uit te vind en dan ons bevindinge te vergelyk. ‘n Halfuur later is ons in die sitkamer met ons “bewyse.”

“Ek dink ons is reg,” my vrou is nou heel opgewonde, “Tannie Liz het haar verloofde Jonathan genoem!”

“En Oom Nathan het sy verloofde Beth genoem!” ek kan my opgewondenheid nie beteuel nie.

“En hier is die finale bewys,” kom dit triomfantelik van my vrou, “Liz het vir my ‘n foto van Nathan gegee.”

Met bewende hande vat ek die foto by haar, die foto van ‘n jong soldaat, onmiskenbaar Oom Nathan.

Ons kyk mekaar aan: “Weet jy wat dit beteken?”

Ek voel skoon aangedaan en die trane loop by my vrou se wange af.

Sonder om verder te praat drafstap ons in die gang af na Oom Nathan se kamer.

“My maggies, is jy alweer hier, ou seun?” glimlag hy ons toe.

“Ja, Oom, kom saam, ek wil Oom aan iemand gaan voorstel.” Ek help hom uit sy gemakstoel uit.

Stadig beweeg ons in die gang af na die aangrensende vleuel van die tehuis.

Ons sien Tannie Liz in die sitkamer in die sonnetjie op ‘n rusbank sit. In die sitkamer heers ‘n Kersatmosfeer. Die vertrek is versier met dle allermooiste versiersels met ‘n groot Kersboom met liggies wat flikker in die een hoek. Ons stap na haar toe. Sy kyk vraend op van haar hekelwerk.

“Kan ek Tannie aan iemand voorstel?” 

Haar gesig verstar as sy na Oom Nathan kyk, dit lyk of sy ‘n spook gesien het.

“Jonathan?” kom dit huiwerig van haar.

“Beth?” antwoord hy, die ongeloof duidelik in sy stem.

Huiwerig gaan sit hy langs haar. Met ‘n bewerige hand streel hy oor haar wang en neem haar dan in sy arms. Sy snik saggies.

My wederhelf pluk aan my mou en dui aan dat ons moet spore maak.

Net toe ons omdraai sê Tannie Liz met ‘n betraande gesig, “Dankie julle, vir die beste Kersgeskenk ooit.”

Presies ‘n week later is ons eregaste op die grootste troue wat nog by die ouetehuis plaasgevind het.

[Peter Thomas - dankie! Klik
HIER vir die oorspronklike storie - dankie, Anoniem, wat dit vir ons aangestuur het.]

Monday, 16 December 2024

Dankie, vir jou teenwoordigheid in my lewe


Soos 'n klein skulpie het jy eendag op my strand uitgespoel 
Ek het jou niksvermoedend opgetel, om van nader te beskou 
Min het ek die WAARDE daarvan besef ... 

Iets wat ek ALTYD in my HART wil hou ...
Vir ALLES wat jy vir my beteken, is die klein woord:
DANKIE eintlik te nietig ...

Jou skulpie is met 'n doel op my strand ... 
God het geweet dat ek jou nodig het ... 
Dankie vir jou teenwoordigheid, in my lewe ...

Terwyl ons in Desembermaand is, en die jaar einde se kant toe staan ...
besef ek dis tyd om dankie te sê vir iemand so spesiaal soos JY. 

JY wat deur elke maand van hierdie jaar ‘n verskil gemaak het in my lewe met jou boodskappe, liefde en omgee!  

[Dankie, Nerine, wat ons daaraan herinner om vir die mense langs ons lewenspad dankie te sê vir wat hulle vir ons beteken het. Dankie vir elke ouma en oupa en personeellid se bydrae hierdie jaar in die ouetehuise en aftreeoorde. Dankie vir ons donateurs en ons kuiergaste. Ons Huis wil spesiaal DANKIE SÊ vir ons 2024-engele wat een maal 'n maand ons Saterdag kom inkleur het met joviale kuiers, vrolikheid en baie lag. Julle is ons skulpies.]

Tuesday, 27 August 2024

Jaarlikse Yonder Hartsfees:


29 Augustus - 1 September 2024


Die fees wat jou hart steel
en wat jy met almal moet deel!


Ons Huis se pannekoekstalletjie is die een wat die kaneelseine oor die terrein uitstuur! Onthou, geen fees is 'n volwaardige fees sonder 'n aromatiese koppie koffie in die een hand en 'n dubbele pannekoek in die ander hand nie!! Sien jou daar!

Sunday, 25 August 2024

Ons harte by Ons Huis loop oor van dankbaarheid


Dankie aan die talle mense wat hande gevat het met Ons Huis en donasies by die kantoor kom afgee het. Ons het 'n redelike lywige lysie saamgestel van alles wat benodig word vir die pannekoek- en vetkoekstalletjie van die ACVV en ADASA by die Yonderfees eerskomende naweek. 'n Mens staan werklik verstom oor die welwillendheid en die omgee van Kimberley se mense. 

'n Yslike-uit-die-hart-uit-dankie!!

Daniël Louw het gesê  dat barmhartigheid, omgee, medelye en mededeelsame naasteliefde maak die lewe mooi. Dit is presies wat ons by Ons Huis ervaar het.

Ons sien julle by die fees wat 29 Augustus begin. Moenie na die weer kyk nie - sleep familie, bure, vriend en vyand saam met jou na die fees en kom ondersteun ons!

Sien jou daar!! 

Klik HIER vir die bestanddelelysie.

Tuesday, 20 August 2024

Jaarlikse Yonder Hartsfees: Kom kuier by die ACVV- & ADASA-stalletjie



Raak Betrokke

Maak ‘n verskil deur betrokke te raak. Fondsinsameling is 'n groepspoging - kom word deel van ons omgeegroep. Vrywillige hande is meer as welkom om op 'n roterende basis te kom help by die pannekoekstalletjie! Kontak Irma by 053 842 1141 tydens kantoorure! Ons wag vir jou oproep!

Saturday, 17 August 2024

Dankie, vir die reaksie tot nou - lees weer, besin weer, besluit weer en skenk nog een keer, asseblief!

Vanaf  29 Augustus tot Sondag, 1 September 2024 is die pannekoek- en vetkoekstalletjie aan die ACVV en ADASA (Alzheimers) Kimberley, by die jaarlikse Hartsfees te Yonder, toegeken. Dit is dus 4 dae wat die 2 organisasies vir fondsinsameling pannekoek en vetkoek verkoop. 

Sonder u gewaardeerde hulp sal ons dit nie kan doen nie. Ons benodig bestanddele en vra asseblief vir hulp van u  of u organisasie/besigheid. Hieronder is 'n lys van wat ons benodig:

* koekmeel - ten minste 20 kg
* suiker - ten minste 20 kg
* pypkaneel
* bakpoeier
* suurdeeg
* sout
* asyn
* olie - ons het redelik baie nodig vir die vetkoek bak
* eiers - hiervan het ons ook heelwat nodig
* maalvleis
* hoenderfilette
* mayonnaise
* blik of 2 "Spray & Cook"
* gevriesde gemengde groente om by die maalvleis te voeg
* verpakking

Ons as bestuur en personeel van die twee organisasies wil u byvoorbaat vir u gewaardeerde bydrae bedank.

Vriendelike groente.
Irma van As en Emsie Malan
(Bestuurders van ACVV Kimberley en ADASA Kimberley) 

Kontak Irma by 053 842 1141 tydens kantoorure
Ons het jou hulp nodig!

Tuesday, 13 August 2024

Lees, besin, besluit en skenk, asseblief!

Vanaf  29 Augustus tot Sondag, 1 September 2024 is die pannekoek- en vetkoekstalletjie aan die ACVV en ADASA (Alzheimers) Kimberley, by die jaarlikse Hartsfees te Yonder, toegeken. Dit is dus 4 dae wat die 2 organisasies vir fondsinsameling pannekoek en vetkoek verkoop. 

Sonder u gewaardeerde hulp sal ons dit nie kan doen nie. Ons benodig bestanddele en vra asseblief vir hulp van u  of u organisasie/besigheid. Hieronder is 'n lys van wat ons benodig:

* koekmeel - ten minste 20 kg
* suiker - ten minste 20 kg
* pypkaneel
* bakpoeier
* suurdeeg
* sout
* asyn
* olie - ons het redelik baie nodig vir die vetkoek bak
* eiers - hiervan het ons ook heelwat nodig
* maalvleis
* hoenderfilette
* mayonnaise
* blik of 2 "Spray & Cook"
* gevriesde gemengde groente om by die maalvleis te voeg
* verpakking

Ons as bestuur en personeel van die twee organisasies wil u byvoorbaat vir u gewaardeerde bydrae bedank.

Vriendelike groente.
Irma van As en Emsie Malan
(Bestuurders van ACVV Kimberley en ADASA Kimberley)

Kontak Irma by 053 842 1141 tydens kantoorure
Ons het jou hulp nodig!

Jaarlikse Yonder Hartsfees: Die fees wat jou hart steel


Ons Huis BENODIG JOU HART, HANDE & VOETE vir hulle groot fondsinsamelingspoging by Yonder se Hartsfees. Ons pannekoekstalletjie is die een wat die reukuitnodiging oor die terrein stuur! Onthou, geen fees is perfek sonder 'n aromatiese koppie koffie in die een hand en 'n dubbele pannekoek in die ander hand nie!! 

Wanneer: 29 Augustus tot 1 September 2024
Waar: Malupark, Hendrik van der Bijlstraat, Kimdustria, Kimberley
Waarom: Omdat jou teenwoordigheid 'n verskil aan hulle maak vir wie fondse ingesamel word.

Tuesday, 6 August 2024

Die Jaarlikse Yonder Hartsfees: Die ACVV en ADASA is daar!!


29 Augustus - 1 September 2024
Bring jou bure en vriende en kom deel
in die fees wat jou hart gaan steel!!!

HANDE BOU BANDE
Raak betrokke by die ACVV- en ADASA-stalletjie tydens die Yonder Hartsfees - dit is ons groot fondsinsamelingsprojek vir hierdie jaar. Kom kuier en kom werk lekker saam! Net 'n uur of twee gaan al 'n reuse verskil maak en daarna kan jy al die ander stalletjies besoek. Kontak Irma by 053 842 1141 tydens kantoorure

Ons het jou hulp nodig!

Friday, 2 August 2024

Die Jaarlikse Yonder Hartsfees: ADASA en die ACVV is daar!!


29 Augustus - 1 September 2024


Die fees wat jou hart gaan steel!!!

'n Bekende Afrikaanse spreekwoord lui:
 Vele hande maak ligte werk!
En dit is net hier waar ons die vrymoedigheid neem om op die lesers se knoppie te druk. Ons benodig ekstra hande tydens hierdie fees. Indien enigeen sy of haar weg oopsien om vir 'n uur of twee uit te help, kontak Ons Huis by 053 842 1141 tydens kantoorure! 
Ons wag vir jou oproep!