Sunday 31 December 2023

Jy is in die middel ...

Die Here is voor jou
om die weg gelyk te maak.
Die Here is langs jou
om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou
om die aanvalle van die bose af te slaan.
Die Here is onder jou
om jou te dra as jy mag val.
Die Here is binne in jou
om jou te inspireer.
Die Here is rondom jou
om jou te beskerm.
Die Here is bo jou 
om jou te seën.
So seën die Drie-Enige Vader,
Seun en Heilige Gees julle -
van nou af tot in ewigheid.

[Dankie, Elmari,dat jy dit met ons deel.]

Bankbesonderhede



Friday 29 December 2023

Dankie, Eureka, vir al julle besoekies


Klik HIER vir foto's van die laaste kuier.

Storie: Kersfees, vakansietradisies en verandering.


Daar was 'n versoek of drie om meer stories te plaas. Met die nuwe jaar om die draai en baie van die inwoners wat nie gaan kuier nie, plaas ons so 'n ekstra storie of wat. Geniet die kersfeesstories.  

Kersfees, vakansietradisies en verander - klik HIER om die heerlike herinneringe te lees in Seegogga se Bloggie (sommer woordjies wat waai in die wind en miskien aanklank sal vind).

Thursday 28 December 2023

Liz' thoughts


Click HERE for more.

Dink hieroor: 'n Battery het twee pole

Ons deel in die leesvreugde van die lesers van die Tuinroete, Hessequa en die Karoo. Ons klomp hier in die NK en wat Ons Huis (die ouetehuis) se blog gereeld lees, geniet Klaas Niemandt se hartstories wat in die Graaff-Reinet Advertiser verskyn. Vandag sê oom Klaas dat as ons ons verpligtinge versaak, dan breek jy die stroom.

Vir elke positief in die lewe is daar 'n ooreenstemmende negatief. Klik HIER om meer daarvan te wete te kom.

Tuesday 26 December 2023

Raad: Storms in jou lewe


Soveel kere het mense al gevra hoe ek staande bly deur die storms van die lewe ... 

Dis dan wanneer ek opkyk, glimlag en met 'n jubelende hart antwoord: "My Vader is GROTER as die storms van die lewe. Hy gee my krag, wysheid en insig. Hy dra my wanneer ek nie kan nie en lê my saggies neer waar ek weer kan aangaan. Alles wat ek is en ooit sal wees, is alleen uit Sy liefde en genade. 

Gaan lees ook die Die storms van die lewe - deur Gary Kieswetter HIER.

[Dankie, Ria, vir die deel van hierdie stukkie.]

Dinsdag-denke: Die hemel se poskantoor

‘n Engel was besig om ‘n nuut gearriveerde Christen ‘n toer van die hemel te gee. Die twee het langs mekaar ingestap by ‘n groot poskantoor gevul met ander engele.

Die Engel het met die Christen gestop by die eerste afdeling: “Hierdie is die ontvangsafdeling. Hier word al die gebedsversoeke aan God ontvang.”

Die Christen het gesien dat hierdie afdeling baie besig is. Daar was engele besig om te sorteer deur blaaie en blaaie versoeke van mense regoor die wêreld.

Hulle het verder gestap en by die volgende afdeling gekom. Die Engel het aan die Christen vertel dat dit die Verpakkings- en Afleweringsafdeling is. “Hierdie is die seëninge van God in antwoord op die gebede en hier word dit verpak en afgesend aan dié wat daarvoor op die aarde gebid het.

Die Christen het gesien hoe besig dit daar is. Daar was baie engele wat in daardie vertrek gewerk het, besig om die talryke seëninge van God te verpak om afgelewer te word.

Uiteindelik, in die verste hoek was ‘n stil kamer waar hulle gestop het. Tot die Christen se verbasing, was daar net een engel en hy was besig om niks te doen.

“Hierdie kamer is die Dankie-sê-kamer,” het die Engel die Christen vertel.

“Hoe is dit dan dat hier niks aangaan nie?” het die Christen gevra.

“Dit is die hartseer ding,” het die Engel geantwoord.

“Nadat mense op die aarde die antwoorde op gebed en seëninge ontvang het waarvoor hulle gevra het, sê baie min van hulle dankie vir God.”

“Hoe wys ons dan ons dankbaarheid?” het die Christen gevra.

“Eenvoudig,” het die Engel geantwoord. “Jy sê net dankie, God.”

Monday 25 December 2023

Kersete onbeperk

Wanneer ons aan Kersfees dink, is dit gewoonlik met 'n glimlag om die mond, en 'n vonkel in die oog: Familie, kinders of vriende rondom ‘n Kersboom en geskenke. 'n Kersete by die werk of die kerk. In hierdie tyd is daar by soveel restaurante, gastehuise en hotelle spesiale aanbiedings. Besprekings is noodsaaklik, want die belangstelling is groot. En wat het al hierdie plekke in gemeen? Dikwels onnodig oorlaaide kostafels.

Dink en doen hierdie jaar iets in die gees van Kersfees. Ons Kersete-tafels staan en kreun gewoonlik onder die gewig van al die kos. Daar is altyd kos wat oorbly. As die ete verby is, en almal is verby hulle versadigingspunt en gelukkig, pak die oorblywende kos in pakkies, en gee dit vir jou gaste soos hulle vertrek. Of ry verby die supermark waar jy inkopies doen en gee dit vir die sekuriteitsman/vrou wat aan diens is, of die hekwag van die kompleks, of die mense in die wagkamer van die staatshospitaal of die wag in die straat, of die man op die hoek wat bedel. 

As hierdie versoek te laat is vir vanjaar, onthou dit vir volgende jaar en deel dit met hulle in jou vriendekring!

[Dankie, Estelle, vir die omgee-voorstel.]

Vandag se internetgebed vir jou: KAALVOET KERSGEBED

Heer, so met ons kaalvoetsiele
staan ons voor ‘n krip en ‘n kruis;
sommer so, nes ons is … 
Dit is dan juis in hierdie tyd van die jaar 
dat ons so naby aan U voel
Miskien omdat U ons herinner
aan hoe naby U aan ons gekom het ...
Eers in die stal in Bethlehem,
En later, aan die Kruis op Golgota ...
en nou, in hierdie stowwerige harte van ons Heer, 
sommer so met ons kaalvoetsiele 
Sien ons soos die wyse manne destyds, 
U in doeke, sommer so nes ons is 
Dis dan juis in hierdie tyd van die jaar 
Dat ons hoor hoe U met kaalvoet-mense praat

Omdat U genade ook vir ons genoeg is ... 
omdat U so liefhet dat U bloei en ly vir ons ...
Heer, sommer so met kaalvoetsiele 
vier ons Kersfees hierdie jaar 
Sommer so, nes ons is 
En hier, raak ons stil en klein voor U Grote Majesteit 
Selfs die Engele in die Hemel bedek met vlerke hul engel–aangesig ...
Heer, so met ons kaalvoetsiele; neem tog aan ons kersgedig. 
Amen
ooOOoo

'n Baie spesiale geseënde Kersfees wens ek elkeen toe, 
geniet jou Kersdag en mag niemand vergeet
 oor Wie die dag eintlik gaan nie. 
Mag julle geseën word hierdie Kersfeestyd.

[Geleen - HIER]

Liewe Inwoners


Dit is ons bede dat die vrede en vreugde
van 
Kersfees
dwarsdeur 2024 u deel sal wees!
Baie liefde
Ons Huis-personeel

Kerswense


Mag 2023 se Kerstyd en 2024 se koms ‘n besondere tydperk van liefde en danksegging in jou lewe wees. En wanneer oupa en ouma die kersboom met al die liggies wegpak tot die kleinkinders volgende jaar weer kom kuier, weet dat Jesus nie saam gebêre wil word nie, want waar Sy liefde is, is daar altyd kosbare wonderwerke.

Sunday 24 December 2023

Wat is ‘n senior burger?

‘n Senior burger is iemand wat hier was voor die pil, voor vrieskos, televisie, kredietkaarte en bolpuntpenne.
Hardeware was hamers, spykers, boute en moere.
En sagteware was nog nie eens ‘n woord nie.
Senior burgers was hier voor droogdrup, skottelgoedwassers, pizzas en kitskoffie.
Toe senior burgers jonk was, het hulle getrou en dan saamgebly.
Sigarette was ‘n teken van klas, boom was ‘n verfraaiing vir die tuin, dop was ‘n ding óm ‘n eier en ‘n agtermekaar kêrel het mens graag verwelkom by jou dogter.
Senior burgers is nogal taamlik geharde mense - veral as mens dink hoeveel hulle moes aanpas by vandag se tye.

[Dankie, Anoniem, wat op Vrydag se versoek gereageer het.]

Psalm 23

Moderne weergawe van Psalm 23 

Die Here is my Blaaskans. 
Die Here is my pasaangeëer, ek sal nie jaag nie.
Hy laat my rus met tussenposes van stilte;
Hy wys my prentjies van rustigheid wat my siel verfris.
Hy lei my op die pad van doeltreffendheid deur kalmte van gees.
En sy leiding bring vrede.
Al het ek ʼn magdom take om elke te dag af te handel,
sal ek nie paniekerig raak nie,
want Hy is by my.
Hy verkwik en vernuwe my
te midde van al my verpligtinge
deur my gedagtes met die olie van rustigheid te salf.
My beker van energie loop oor.
Harmonie en doeltreffendhied sal waarlik die vrug van my ure wees,
want ek sal teen die pas van my Meester werk
en in sy huis woon tot in ewigheid.
Amen

Saturday 23 December 2023

Spesiaal vir pensioenarisse op die vraag: Hoe gaan dit?


Baie goed ... ek het vanoggend darem mos bo die grond wakkergeskrik.
Wel, opgestaan en self aangetrek.
Nie te goed nie ... ek het soveel pyn dat ek nie eens plek het vir almal nie.
Ag my, Vriend, ek kla nie oor my pyne nie, want ek kry dit verniet.
Dit gaan baie goed, elke pyn is op sy regte plek.
Ek is darem nog padwaardig, maar moet net nie my “bonnet” oopmaak nie.
Wel, wel, wel, ek kners op my agtertande en glimlag met my voortande.
Ek voel vandag soos ‘n kriek wat Doom ingekry het, ek beur al na die een kant toe.
Dit gaan op-en-af en heen-en-weer soos met ‘n bak jellie wat onrustig is.
Dit gaan tussen sleg en verskriklik.
Ek druk deur, al maak dit seer.

[Dankie, Rosetta, vir hierdie kies-in-die-tand-antwoorde.]

Friday 22 December 2023

Definisie van ‘n senior burger

‘n Wyse ou inwoner van 'n verpleeginrigting het die volgende definisies oor senior burgers gegee.

‘n Senior burger is iemand wat nog groei, wat nog leer, met potensiaal, en wie se lewe belofte inhou vir skakeling met die toekoms.

So ‘n persoon jaag nog steeds geluk, vreugde en plesier na, want dis tog mos almal se geboortereg.

Gewoonlik is ‘n senior burger iemand wat respek en eer verdien, wat die wyshede van ‘n lang lewenservaring opbou in ‘n erfenis vir die toekomstige geslagte.

[Stuur gerus jou definisie van 'n senior burger in.]

Storie: In oupa en ouma se huis


Daar was 'n versoek of drie om meer stories te plaas. Met kersfees om die draai en baie van die inwoners wat nie gaan kuier nie, plaas ons so 'n ekstra storie of wat. Geniet die kersfeesstories.  

In oupa en ouma se huis - klik HIER om die storie te lees. Dit het in die Rooi Rose verskyn van 27 Desember 2013.

Vrydag-terugflits: Vriende van die bejaardes

Geseënd is hulle wat altyd verstaan
as ek bewend moet tas of struikelend gaan;
wat weet dat my ore met moeite kan hoor -
dat ek maklik die draad van die storie verloor.

Geseënd is hulle wat self sommer weet
dat my oë al swak is en ek maklik vergeet.
Geseënd is hulle wat kastig nie sien
dat ek koffie gemors het toe hul my bedien.

Geseënd is hulle wat rustig kan wag
terwyl ek vertel van my eensame dag;
wat nooit sal verwyt of humeur sal verloor
al vertel ek die storie weer oor en oor;
Geseënd ook deur die newels kan dring
om gister weer helder na vore te bring.

Geseënd as hulle my nou nog laat voel
dat hul liefde en agting opreg word bedoel.
Wat verstaan as my kragte my weifelend laat vra:
"Hoekom is my kruis soms so swaar om te dra?"
Wat die las help verlig met liefde vir my,
op die skof wat my eindelik huis toe sal lei.

[Uit: Dorsfontein: Dutoitspan-gemeentemaandblad - Maart 1984]

Thursday 21 December 2023

Liz' thoughts

Click HERE for more.

Dink hieroor: Granaatpluk is soos trou

Ons deel in die leesvreugde van die lesers van die Tuinroete, Hessequa en die Karoo. Ons klomp hier in die NK en wat  Ons Huis (die ouetehuis) se blog gereeld lees, geniet Klaas Niemandt se hartstories wat in die Graaff-Reinet Advertiser verskyn. Vandag sê oom Klaas: "Die Skepper het mos die granaat gemaak vir die man sodat hy vir vrou kan probeer begryp." 

Klik HIER as jy wil weet hoe oom Klaas weet dat 'n groen geplukte granaat nie later ryp word nie - hy bly groen en raak later net onsmaaklik.

Wednesday 20 December 2023

Woensdagwense: week 1


God is altyd by ons ...

Ons het vanoggend opgestaan met:

GOD se krag wat ons dra ...
GOD se mag wat ons vashou ...
GOD se hand wat ons bewaar ...
GOD se liefde wat ons omvou ...
GOD se wysheid wat ons rig ...
GOD se vrede wat ons omring ...

En met ...

GOD se genade wat elke môre nuut en vars is!

Tuesday 19 December 2023

Dinsdag-denke: Soen iemand voordat jy gaan

Die voorstedelike trein wieg heen en weer. Die ysterwiele wat voortdurend skreeu teen die staal met die ritmiese klikke-klakke oor die spoorlasse.

Buitekant die venster is die bittere winterkoue op die landskap duidelik te bespeur terwyl die trein daardeur spoed soos ‘n onwelkome indringer. Die passasierstrein is vol verkluimde, verveelde passasiers wat elk vasgevang is in sy eie gedagtewêreldjie. Stroef staar elkeen voor hom uit sonder om die medepassasier oorkant of langs hom op te merk.

Skielik is daar ‘n klein seuntjie wat sy weg baan deur onwillige grootmensbene om by die opening op die bankie langs die venster uit te kom. Sy vader staan by die deur en hou ‘n wakende ogie dat die knapie nie wegraak tussen die baie passasiers nie. Die seuntjie is omring deur onvriendelike, half aan die slaap volwassenes. Wat ‘n brawe mannetjie het ek by myself gedink.

Toe die trein begin om die tonnel binne te gaan, gebeur daar iets heel onverwags en uit die bloute. Die klein seuntjie gly van sy sitplek af en plaas sy handjie op my knie. Vir ‘n oomblik het ek gedink dat hy by my verby wil gaan, terug na sy pa toe, dus skuif ek so effens uit die pad om plek te maak. Maar in plaas daarvan om verby te skuur, leun die seuntjie vooroor en rek sy koppie na my. Hy wil my seker iets vertel, dink ek by myself. Kinders ! Ek buig effens vooroor om te luister na wat die mannetjie my wil vertel. Weereens verkeerd! Hy soen my liggies op die wang.

Hy keer terug na sy sitplek en met vol genoegdoening kyk hy by die venster uit. Maar ek is geskok. Wat het gebeur? ‘n Klein seuntjie wat onbekende volwassenes op die trein soen? Tot my verbasing gaan die seuntjie voort om al my medepassasiers op die wang te soen. Senuweeagtig en half geskok kyk almal vraend na sy vader. “Hy is baie bly dat hy lewe,” antwoord sy vader. “Hy was baie siek en het by die dood omgedraai.”

Die trein stop en pa en seun klim van die trein af en verdwyn tussen die malende menigte. Die deure maak toe. Op my wang kan ek steeds die seuntjie se soen voel - ‘n soen wat my dwing om ernstige self ondersoek te doen.

Hoeveel grootmense is daar wat rondgaan en mekaar soen uit pure blydskap dat hul lewe? Hoeveel dink enigsins daaraan hoe bevoorreg hul is om te leef? Wat sal gebeur as ons almal net begin om onsself te wees en hierdie aangeplakte fasade af te pluk?

Die klein seuntjie het ons ‘n soete maar ernstige klap in die gesig gegee. Moet nie toelaat dat jy doodgaan, lank voordat jou hart gaan staan het nie!

Sunday 17 December 2023

Idees wat om in 'n geskenksakkie vir 'n senior burger te sit

Mense vra dikwels wat hulle vir senior burgers kan gee, veral nou oor die kersseisoen. Die redaksie het 'n bietjie rondgevra en hier is 'n paar van die voorstelle.

Die opsies is eindeloos. Gebruik hierdie voorstelle om aan die gang te kom.

1. Aktiwiteitsboeke:

Hierdie boeke is oral beskikbaar en bied nie net uitstekende breinoefeninge nie, maar kan ook ure se genot verskaf. Voorbeelde is blokkiesraaisels, Sudoku, soek die verskille en selfs inkleurboeke vir volwassenes.

2. Handeroom:

Ons vel is geneig om droër te word soos 'n mens ouer raak. ’n Voedende handedroom is 'n heerlike bederf.

3. Eetgoed:

Almal hou daarvan om so af en toe aan 'n lekkernytjie te kou! Moontlikhede is legio - soet en sout. Diabete se eetgoed moet met sorg uitgekies word. 

4. Vrolike sokkies:

Warm vrolike sokkies is 'n perfekte toevoeging tot enige geskenksak. 'n Handige paar sokkies is diéwat nie kan gly nie.

5. Sleutelhouer:

'n Sleutelhouer is altyd welkom. Veral 'n lekker groot sleutelhouer wat 'n persoon nie maklik sal verlê nie. Deesdae kry 'n mens sleutelhouers met die mooiste boodskappe op.

6. Mini-potplante:

Die meeste senior burgers se lewensruimte het gekrimp tot 'n kamer. Bring 'n tikkie natuur in die ontvanger se lewe met 'n mini-potplant. Plante helder enige ruimte op, maar so ook die gemoed van die inwoner.

7. Digitale fotoraam:

Verras hulle met 'n digitale fotoraam wat vooraf gelaai is met hul gesins-, familie- en vakansiefoto's. Dit is 'n moderne manier om gekoesterde herinneringe te bewaar sonder dat dit te veel spasie op neem.







Kersfees is 'n tyd van gee. As jy van 'n mede-inwoner weet wat nie meer familie het nie, maak gerus 'n anonieme geskenksakkie op en vra iemand in die kantoor om dit te gaan aflewer.

Wil jy 'n welwillendheidsbydrae maak?


Dikwels het 'n mens 'n behoefte om uit te reik, veral oor die kersseisoen, maar jy weet nie waar, hoe en wat nie.

Jy kan nooit verkeerd gaan om 'n pakkie by enige ouetehuis af te gee nie. Daar is soveel gaatjies om toe te stop en soveel benodigdhede, dat niks wat daar afgelaai word, verlore sal gaan nie.

By die siekeboeg is daar altyd 'n behoefte aan Savlon, tandepaste, tandeborsels, babapoeier, seep, sjampoo, doeke, toiletpapier en waslappe.

In die algemeen is skoonmaakmiddels 'n welkome bydrae. Van skottelgoedwasseep tot seeppoeier vir wasgoed.

Gaan maak gerus 'n draai by ons wenslysie op die tuisblad en kyk waar lê ons groot behoeftes.

Hou asseblief ons seniors en die personeel gereeld in julle gebede. 

Saturday 16 December 2023

Inwonernuus: Coenie Maritz

'n Klompie jaar terug is iemand wat 60 jaar oud geword het, beskou as oud: aftree ... ouetehuis ... wag vir jou dood, was die enigste vooruitsigte van 'n senior burger.

Later jare het mense gepraat van diegene wat in hul goue jare is ... Wel, dink weer! Deesdae is 50 die nuwe 30 en mense in hul senior jare kan die jonges op meer as een terrein die loef afsteek. Ondervinding en wysheid is deugde wat 'n mens net met jarelange oefening bemeester. Die sig of gehoor of spiere is nie meer altyd wat dit was nie, maar nuwe horisonne wink vir diegene wat nou tyd het om aan tegnologie, stokperdjies, hul passie of liefdadigheid te spandeer.

Daar is geleenthede vir individue om kontak te maak met nuwe inwoners, te sosialiseer, aan senior klubs (google gerus en kyk of jou dorp of stad of kerk 'n klub het) en om betrokke te raak by aktiwiteite met eendersdenkende vriende oor die res van die wêreld. (Gelukkig is daar iets soos zoom, teams, meet, en ander platforms waar 'n mens van aangesig tot aangesig met mekaar kan praat.)

Iemand wat in Februarie (die maand van die liefde) by Ons Huis ingetrek het, is Coenie Maritz. 73 jaar gelede het hy sy eerste skree in Niekerkshoop gegee. Niekerkshoop is 'n dorpie in die droë en warm Noord-Kaap, ongeveer 75 km suidwes van Griekwastad en 42 km noordnoordoos van Prieska in die suidelike voorheuwels van die Asbesberge. 

Vriendelikheid is onlosmaaklik deel van die Noord-Kaapse mense.

Klik HIER en HIER om Coenie se betrokkenheid by Ons Huis se aktiwiteite te sien. 

Friday 15 December 2023

Vrydag-terugflits: Suid-Afrika se grootste spekskieter

Daar is altyd 'n ongewone verskynsel, vereniging, verrassing of visioen wat 'n mens in verwondering laat oor die kreatiwiteit van die mens.

In ViA (Die Volkswagen-tydskrif) van 1992 se winteruitgawe is die volgende artikel gepubiseer en wie van die lesers was bewus van die groot-lieg-vereniging

Suid-Afrika se grootste spekskieter
Deur Katy Macdonald

Die Amateurleuenaarsvereniging bestaan uit duisende mense wat sommer vir die lekkerte leuens vertel. Die onbetwiste voorbok is 'n waardige heer met eerlike, blou oë. Hóm glo mens net op eie risiko!

Daar is iets vreemds omtrent diegene wat by 'n leuenaarsvereniging aansluit. Mens kan jouself afvra of dit nie meer produktief is om in jou ledige uurtjies 'n goeie boek te lees as om yslike kluitjies te bak nie.

En tog is dit gerusstellend om 'n groep mense teë te kom wat erken dat hulle jok. Veral as jy hoor dat die Amateurleuenaarsvereniging van Suid-Afrika (Alasa), wat al 10 jaar bestaan en glo duisende lede het, geen 'professionele leuenaars' toelaat om by die vereniging aan te sluit nie. Dis nou politici, prokureurs, diplomate, en tweedehandse motorverkopers - vissermanne word aan streng keuring onderwerp.

Karl Kaufmann is Alasa se kampioenleuenverteller en rekordhouer - hy het die titel al agt keer gewen. Hy is 72 jaar oud, van Stuttgart afkomstig (as 'n mens hom kan glo) en woon die afgelope 20 jaar of wat saam met sy Afrikaanse vrou en 'n versameling horlosies - wat nie een die regte tyd aandui nie - in 'n woonstel in Joubertpark.

Karl het blou oë en 'n ronde, oop gesig wat mens onmiddellik vertrou. Maar oppas vir hom! Hy is daartoe verbind "om leuens op die strande, in die strate en in die veld te verkondig en nooit die waarheid te praat nie".

Volgens Karl lê die liegkuns daarin "dat jy dit moet doen sonder om te blik of te bloos. Jy moet maak of jy beledig voel deur 'n gelag en nooit self glimlag nie". Karl het vroeg geleer om oortuigend te wees toe hy homself as joernalis in Brasilië, Kanada en Engeland moes verkoop. Met sy swaar Duitse aksent het dit nogal oortuiging gekos.

Hy het in Suid-Afrika werk gekry waar hy toeristebrosjures moes skryf, onder andere ook een vir die 
SAL oor Australië. Die Australiese toeristeraad het geskryf en gesê "ons is so bly dat julle 'n Australiër in diens geneem het - net 'n Australiër kan met soveel gesag en gevoel oor ons land skryf".

"Om die waarheid te sê, ek was nog nooit in my lewe in Australië nie en ek is ook nie van plan om te gaan nie."

Karl het sy aanvanklike roem met sy bekende Yswurms-leuen verwerf. Yswurms was 'n nuwe uitvinding wat die hengelwêreld op horings sou neem. Droë ys wat soos wurms lyk en soos wurms proe en waarmee mens kwansuis vis kon vang. Die volgende jaar het hy met nog 'n skandaliger leuen vorendag gekom in sy toespraak oor 'psigoseksiologie' wat selfs die mees gesogte sinici by Alasa se monde laat oophang het. Met dié teorie het hy bewys dat hy sy eie oupa is!

Alasa se leuenseisoen begin op 1 April en die hoogtepunt is die jaarlikse Grootste Spekskieterkompetisie. Karl neem nie vanjaar deel nie. 'n Paar jaar gelede het hy 'n gewete ontwikkel en is gediskwalifiseer omdat hy die waarheid vertel het. Hy is nou op Alasa se komitee en help aspirant spekskieters om met oortuiging te jok.

Om die kompetisie te wen, moet jy kan jok en Karl reken 'n goeie leuenaar is 'n aweregse persoon wat sy verbeelding gebruik. "En jy moet dinge kort en kragtig kan vertel."

Wat inspireer hom om te jok? "Ek hou daarvan om die draak te steek, maak nie saak of dit 'n swak advertensie of 'n ernstige situasie is nie. Ek skeer net soveel gek met myself as wat ek dit met ander doen." As 'n veteraan leuenaar, word Karl nie maklik om die bos gelei nie. Hy het nie 'n woord geglo van 'n onlangse artikel in 'n Britse Farmaseutiese tydskrif oor 'n splinternuwe entstof teen hik nie. 'n Anagram wat "April Fool" spel, het die geheim verklap. "Toe ek aan die redakteur skryf om te sê dat ek sy slenterslag gesnap het, antwoord hy dat 'n mediese joernalis in Londen sowaar 'n storie na aanleiding van die artikel geskryf het."

Maar die voorbok van versinsels is al selfs 'n keer of wat gefnuik. 'n Vervalste foto-montage in Duitsland van 'n Arktiese navorser wat vriende gemaak het met 'n ysbeer, het hom heeltemal geflous. Hy het selfs die gedeelte geglo oor die beer wat aan kondensmelk verslaaf geraak het!

Is die wete dat hy so 'n oortuigende leuenaar is nie vir Karl 'n versoeking om aanmekaar te jok nie? Nie op groot skaal nie (sê hy). "Ek het geen behoefte om sosiaal leuens te vertel nie. Toe ek jonger was, het ek wel vir meisies op danse vertel dat ek 'n skoorsteenveër is en my beroep in die fynste besonderhede beskryf. As ek deesdae iemand om die bos lei, maak ek 'n punt daarvan om hulle redelik gou na die tyd reg te help."

Dit is bale belangrik om tussen jok vir die grap en ander leuens te onderskei, sê hy. "As jy vir selfverheerliking jok, verander die saak heeltemal. Persoonlik daal ek nooit so laag om mense werklik te bedrieg nie."

Wat dan van witleuentjies wat daagliks deur almal in die gemeenskap vertel word? "Ja, ja," antwoord Karl stadig. "Dit is dikwels noodsaaklike sosiale verfyndheid. Mense wat ongeskik eerlik is, kan ander se gevoelens seermaak en dit kan nog aanstootliker as leuens wees. As 'n vrou in haar noppies met haar nuwe hoed is, gaan jy beslis nie vir haar sê 'n gieter sou beter lyk nie."

Uit: Via (Die Volkswagen-Tydskrif); Winter 1992

Laat gerus weet of hierdie vereniging nog bestaan of  het leuens die norm van die tyd waarin ons leef, geword? 

Ons Huis: Onthou jy nog?


Party van hierdie blikkies laat 'n mens met heimwee terugdink aan ons kinderjare of sommer net aan oupa en ouma se huis vol liefde. 

Dankie, Ronell, dat jy die stukkies onthou met ons deel. Klik HIER om meer foto's te sien.

Thursday 14 December 2023