Tuesday 12 December 2023

Dinsdag-denke: Skip van drome

Matt.9:13 “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die sondaars.”

Elke jaar gaan Kersfees gepaard met baie besluite. Waar gaan ons wees, wat gaan ons eet en wie gaan wat kry? Met Jingle Bells in jou ore breek die frustrasie van nog ‘n jaar se kersfeesinkopies aan. Jy en jou vrou is al klaar kwaad vir mekaar nog voor die eerste geskenk gekoop is.

Sy het bekend gestaan as die skip van drome. Sy was agthonderd en negentig voet lank. Veertienduisend mense het aan haar gebou. Die anker het vyftien en half ton geweeg en is deur twintig perde van die fabriek af tot by die skip getrek. Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam ‘n paar miljoen ure se werk aan Louis QuinzeKlassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kafees en Turkse baddens om maar net ‘n paar op te noem.

Sy is ook genoem: Die onsinkbare skip en in ‘n koerant van 1912 word berig dat selfs God haar nie kan sink nie.

Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1500 lewens saam na haar watergraf.

Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel. Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry. Later het die kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies plek op die reddingsbote mag kry. ‘n Man met ‘n babatjie in sy arms het verby ‘n vrou gehardloop wat nie ‘n kind gehad nie. Vir haar was die afkondiging ‘n doodsvonnis. Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: "Dit is joune ... hardloop vir jou plek op die reddingsboot!"

Wat is jou grootste Kersgeskenk?

Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat nie almal in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie.

Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: Dit is joune ... hardloop na my reddingsboot. Moenie wag tot dit te laat is nie. Wanneer ‘n skip sink, word lug uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy tot dit te laat is, word jy saam ingesuig al spring jy.

Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic ramp verloor het, het nie verdrink nie, maar verkluim. Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou ‘n plek op sy onsinkbare reddingsboot voorberei het.

Miskien is daar iemand waaroor jy baie bekommerd is of wonder waar hulle welvaart hulle aan die einde van nog ‘n jaar gebring het? Miskien sukkel jy ook soos ek om geskenke te koop en wonder wat jy vir die of daai een  hierdie jaar sal koop.

Sit Jesus in die arms van mense wat oopoë besig is om te sink. Dit is tog waaroor Kersfees gaan.

“Sonder Jesus is ‘n vyftien en ‘n half ton anker te lig en 70 000 oorvol skip te swaar”.

My wens vir almal is dat almal van julle reeds julle plekke op God se reddingsboot ingeneem het.

[Klik HIER vir nog stories]

No comments:

Post a Comment