Monday 25 December 2023

Kersete onbeperk

Wanneer ons aan Kersfees dink, is dit gewoonlik met 'n glimlag om die mond, en 'n vonkel in die oog: Familie, kinders of vriende rondom ‘n Kersboom en geskenke. 'n Kersete by die werk of die kerk. In hierdie tyd is daar by soveel restaurante, gastehuise en hotelle spesiale aanbiedings. Besprekings is noodsaaklik, want die belangstelling is groot. En wat het al hierdie plekke in gemeen? Dikwels onnodig oorlaaide kostafels.

Dink en doen hierdie jaar iets in die gees van Kersfees. Ons Kersete-tafels staan en kreun gewoonlik onder die gewig van al die kos. Daar is altyd kos wat oorbly. As die ete verby is, en almal is verby hulle versadigingspunt en gelukkig, pak die oorblywende kos in pakkies, en gee dit vir jou gaste soos hulle vertrek. Of ry verby die supermark waar jy inkopies doen en gee dit vir die sekuriteitsman/vrou wat aan diens is, of die hekwag van die kompleks, of die mense in die wagkamer van die staatshospitaal of die wag in die straat, of die man op die hoek wat bedel. 

As hierdie versoek te laat is vir vanjaar, onthou dit vir volgende jaar en deel dit met hulle in jou vriendekring!

[Dankie, Estelle, vir die omgee-voorstel.]

No comments:

Post a Comment