Saturday 9 December 2023

Inwonernuus: Nico du Toit - 'n jong aktiewe senior burger

Jacolette van Tonder het by geleentheid as gasspreker by 'n aftreeoord in Heidelberg opgetree en het onder andere die volgende gesê: "Ons almal hou daarvan om te ontvang, maar wanneer dit by gee kom is almal van ons skuldig daaraan om nie te wil gee nie.”

“Ons het almal liefde, tyd, ondervinding, raad, wysheid, empatie, bystand, glimlag en omgee wat ons aan ons medemens kan gee.”

Al bogenoemde kos niks, nietemin sit ons eerder in die kamers van 'n aftreeoord en bejammer onsself. Gaan uit en helder iemand se dag op wat dit nodig het. Omgee, empatie en liefde is mos deel van menswees. 
 
Een van Ons Huis se inwoners wat sy dae aktief deurbring, is Nico du Toit. Synde dat hy in sy eie woonstel bly, is kosmaak en aan die kant maak, deel van sy daaglikse bestaan, maar dit is ook hier waar die roetinedeel van sy lewe ophou. Nico is gebore in Dewetsdorp en matrikuleer te Paul Erasmus in Senekal. Hierdie inwoner wat die afgelope jaar Ons Huis sy tuiste noem, voel 18 jaar oud en dit is met hierdie positiewe uitkyk wat hy die lewe aanpak.
Sy oupa was 13 jaar oud, toe hy in Magersfontein tydens die Anglo-Boereoorlog teen die Engelse geveg het. Hierdie besondere verhaal is Nico besig om te boekstaaf, sodat die feite vir die nageslag behoue kan bly. Elke oggend na ontbyt klim hy in sy kar en doen hy die rondte van Vader Cloete en elke aand gesels hy en 18 vriende op sosiale media en ruil hulle die dag se nuusgebeure uit.   

Nico se pad was nie net maanskyn en rose nie en op 23-jarige ouderdom hoor hy dat sy been geamputeer moet word, maar deur groot genade staan hy vandag nog op sy twee bene. 'n Beroerte het hom nie verbygegaan nie, maar ook daar is hy geseënd.

Voor aandete sit hy op die stoep en kuier saam met die inwoners. Met 'n vonkel in die oog, 'n skerp brein en 'n heerlike humorsin, korswel en gesels hulle die wagtyd korter. As die inwoners se skredes eetsaal toe gaan, verdwyn hy met flinke treë in die rigting van sy  woonstel om ook sy innerlike te versterk.

No comments:

Post a Comment