Friday, 15 December 2023

Vrydag-terugflits: Suid-Afrika se grootste spekskieter

Daar is altyd 'n ongewone verskynsel, vereniging, verrassing of visioen wat 'n mens in verwondering laat oor die kreatiwiteit van die mens.

In ViA (Die Volkswagen-tydskrif) van 1992 se winteruitgawe is die volgende artikel gepubiseer en wie van die lesers was bewus van die groot-lieg-vereniging

Suid-Afrika se grootste spekskieter
Deur Katy Macdonald

Die Amateurleuenaarsvereniging bestaan uit duisende mense wat sommer vir die lekkerte leuens vertel. Die onbetwiste voorbok is 'n waardige heer met eerlike, blou oë. Hóm glo mens net op eie risiko!

Daar is iets vreemds omtrent diegene wat by 'n leuenaarsvereniging aansluit. Mens kan jouself afvra of dit nie meer produktief is om in jou ledige uurtjies 'n goeie boek te lees as om yslike kluitjies te bak nie.

En tog is dit gerusstellend om 'n groep mense teë te kom wat erken dat hulle jok. Veral as jy hoor dat die Amateurleuenaarsvereniging van Suid-Afrika (Alasa), wat al 10 jaar bestaan en glo duisende lede het, geen 'professionele leuenaars' toelaat om by die vereniging aan te sluit nie. Dis nou politici, prokureurs, diplomate, en tweedehandse motorverkopers - vissermanne word aan streng keuring onderwerp.

Karl Kaufmann is Alasa se kampioenleuenverteller en rekordhouer - hy het die titel al agt keer gewen. Hy is 72 jaar oud, van Stuttgart afkomstig (as 'n mens hom kan glo) en woon die afgelope 20 jaar of wat saam met sy Afrikaanse vrou en 'n versameling horlosies - wat nie een die regte tyd aandui nie - in 'n woonstel in Joubertpark.

Karl het blou oë en 'n ronde, oop gesig wat mens onmiddellik vertrou. Maar oppas vir hom! Hy is daartoe verbind "om leuens op die strande, in die strate en in die veld te verkondig en nooit die waarheid te praat nie".

Volgens Karl lê die liegkuns daarin "dat jy dit moet doen sonder om te blik of te bloos. Jy moet maak of jy beledig voel deur 'n gelag en nooit self glimlag nie". Karl het vroeg geleer om oortuigend te wees toe hy homself as joernalis in Brasilië, Kanada en Engeland moes verkoop. Met sy swaar Duitse aksent het dit nogal oortuiging gekos.

Hy het in Suid-Afrika werk gekry waar hy toeristebrosjures moes skryf, onder andere ook een vir die 
SAL oor Australië. Die Australiese toeristeraad het geskryf en gesê "ons is so bly dat julle 'n Australiër in diens geneem het - net 'n Australiër kan met soveel gesag en gevoel oor ons land skryf".

"Om die waarheid te sê, ek was nog nooit in my lewe in Australië nie en ek is ook nie van plan om te gaan nie."

Karl het sy aanvanklike roem met sy bekende Yswurms-leuen verwerf. Yswurms was 'n nuwe uitvinding wat die hengelwêreld op horings sou neem. Droë ys wat soos wurms lyk en soos wurms proe en waarmee mens kwansuis vis kon vang. Die volgende jaar het hy met nog 'n skandaliger leuen vorendag gekom in sy toespraak oor 'psigoseksiologie' wat selfs die mees gesogte sinici by Alasa se monde laat oophang het. Met dié teorie het hy bewys dat hy sy eie oupa is!

Alasa se leuenseisoen begin op 1 April en die hoogtepunt is die jaarlikse Grootste Spekskieterkompetisie. Karl neem nie vanjaar deel nie. 'n Paar jaar gelede het hy 'n gewete ontwikkel en is gediskwalifiseer omdat hy die waarheid vertel het. Hy is nou op Alasa se komitee en help aspirant spekskieters om met oortuiging te jok.

Om die kompetisie te wen, moet jy kan jok en Karl reken 'n goeie leuenaar is 'n aweregse persoon wat sy verbeelding gebruik. "En jy moet dinge kort en kragtig kan vertel."

Wat inspireer hom om te jok? "Ek hou daarvan om die draak te steek, maak nie saak of dit 'n swak advertensie of 'n ernstige situasie is nie. Ek skeer net soveel gek met myself as wat ek dit met ander doen." As 'n veteraan leuenaar, word Karl nie maklik om die bos gelei nie. Hy het nie 'n woord geglo van 'n onlangse artikel in 'n Britse Farmaseutiese tydskrif oor 'n splinternuwe entstof teen hik nie. 'n Anagram wat "April Fool" spel, het die geheim verklap. "Toe ek aan die redakteur skryf om te sê dat ek sy slenterslag gesnap het, antwoord hy dat 'n mediese joernalis in Londen sowaar 'n storie na aanleiding van die artikel geskryf het."

Maar die voorbok van versinsels is al selfs 'n keer of wat gefnuik. 'n Vervalste foto-montage in Duitsland van 'n Arktiese navorser wat vriende gemaak het met 'n ysbeer, het hom heeltemal geflous. Hy het selfs die gedeelte geglo oor die beer wat aan kondensmelk verslaaf geraak het!

Is die wete dat hy so 'n oortuigende leuenaar is nie vir Karl 'n versoeking om aanmekaar te jok nie? Nie op groot skaal nie (sê hy). "Ek het geen behoefte om sosiaal leuens te vertel nie. Toe ek jonger was, het ek wel vir meisies op danse vertel dat ek 'n skoorsteenveër is en my beroep in die fynste besonderhede beskryf. As ek deesdae iemand om die bos lei, maak ek 'n punt daarvan om hulle redelik gou na die tyd reg te help."

Dit is bale belangrik om tussen jok vir die grap en ander leuens te onderskei, sê hy. "As jy vir selfverheerliking jok, verander die saak heeltemal. Persoonlik daal ek nooit so laag om mense werklik te bedrieg nie."

Wat dan van witleuentjies wat daagliks deur almal in die gemeenskap vertel word? "Ja, ja," antwoord Karl stadig. "Dit is dikwels noodsaaklike sosiale verfyndheid. Mense wat ongeskik eerlik is, kan ander se gevoelens seermaak en dit kan nog aanstootliker as leuens wees. As 'n vrou in haar noppies met haar nuwe hoed is, gaan jy beslis nie vir haar sê 'n gieter sou beter lyk nie."

Uit: Via (Die Volkswagen-Tydskrif); Winter 1992

Laat gerus weet of hierdie vereniging nog bestaan of  het leuens die norm van die tyd waarin ons leef, geword? 

No comments:

Post a Comment