Showing posts with label Versekering. Show all posts
Showing posts with label Versekering. Show all posts

Sunday, 5 April 2026

Oomblik van stilte: Romeine 8:32

Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

Die Bybel sê: 'As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.'

Een skrywer het die volgende vergelyking getref om hierdie teks in beeld uit te druk: Veronderstel 'n man kom op 'n kind af wat deur 'n klomp skurke aangerand word. Hy hardloop tussen hulle in, red die seun en vat hom na die hospitaal toe. Daar vind hy uit dat die kind 'n weeskind is en neem hom as sy eie aan en gee vir hom sy naam. Een nag, maande later, hoor die pa dat die seun in sy kamer huil. Hy gaan na hom toe en vra hoekom hy hartseer is. 'Ek is bekommerd oor die dag van môre, Pappa. Waar sal ek kos kry om te eet en klere om aan te trek? Waar gaan ek slaap?' 
Die pa is met reg ontsteld. 'Verstaan jy dan nie? Ek het my lewe gewaag om jou te red. Ek het die hospitaal vir jou behandeling betaal. Jy dra my naam. Ek noem jou my seun. Hoekom sal ek dit alles doen en dan nie aan jou behoeftes voldoen nie?'

Het God jou gered net sodat jy jouself moet bekommer?
Sal Hy jou leer om te loop, net sodat Hy kan toekyk hoe jy val? 
Sal Hy aan die kruis vir jou sondes sterf en dan jou gebede in die wind slaan? 
Die Skrif sê: 'Want Hy sal al sy engele beveel om jou op al jou weë te beskerm' (Psalm 91:11 NLV). 
Hou dis op om jouself te bekommer en staan vas op sy belofte dat Hy 'ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk...'

Lees gerus deur die loop van die dag die volgende gedeeltes: 
* Jer 10-13; 
* Matt 22:34-46; 
* Ps 64; 
* Spr 14:25-28

Monday, 2 September 2024

My naam is ...

Soek My nie in gister se trane en teleurstellings nie ...
My Naam is nie:
Ek was nie ...

Soek My nie in môre se
vrese en onsekerheid nie ...
My Naam is nie:
Ek sal wees nie ...

Soek my in die hier en nou ...
Vind My in vandag se
volheid van genade ...
My Naam is
Ek is ...

Sunday, 22 October 2023

Vroeë oggendversekering

EK is by jou wanneer die klaviernote van jou lewe vals mag klink en die riviere oor jou wange stroom ... 

Ek staan langs jou by die kruispad en neem saam met jou moeilike besluite: 
  • as jy voel of jy met jou rug teen die muur staan, is dit My hand wat jou sagkens weglei en jou die oop deure laat sien.
  • as die strome binne woed, is dit My stem wat die waters se dreuning stop ... jy's uit My hand gevorm, en Ek ken jou gedagtes. 
  • Ek sien die seer in jou oë en Ek sien die laataand koffiebeker wat alleen staan ... Ek sien My kosbare kind voor My ... moenie bang wees vir die onbekende nie. 
Ek's jou Vader en Ek sal jou nooit alleen laat loop nie.

[Dankie, Rosetta, dat jy hierdie versekering met ons deel.]