Ons Huis: Oumas

Terug na




Wat is 'n ouma?
Oumas is tannies wat nie kinners het nie
en daarom het sy anner mense se kinners lief.
‘n Ouma hoef niks te doen nie,
sy moet net daar wees.
As ‘n mens saam met ‘n
ouma gaan stap, staan sy by
mooi goed soos parastoele en
goggas stil sodat jy kan kyk.
Oumas sê nooit jy moet gou maak nie.
Oumas is gewoonlik vet maar nie te vet
om ‘n kind se skoene vas te maak nie.
Oumas dra ‘n bril en snaakse onderklere
en kan hulle tanne en tandvleise uithaal.
Oumas hoef nie slim te wees nie,
hulle moet net weet hoekom bakly
katte en honne en hoekom het hoenners
vere en kan nie vlieg nie
en oumas moet ook weet wat is
husse met lang ore.
Almal moet tog probeer om ‘n ouma te hê
want hulle is grootmense wat altyd tyd
het om met kinners te speel.

Saluut, ouma Sannie!
Jy was ongeneeslik fluks. Tot my ongeneeslike irritasie, veral toe ek ‘n tiener was wat net wou lees en droom. Ek sien jou weer in Sutherland se koue verbystoom met opgeskuifde moue. Ek kla ek kry koud. “Jy moet net werk, my kind!” Jou werksetiek was so onvernietigbaar dat ek in my lewe nooit, ooit vir ‘n oomblik sal kan lui wees sonder dat my gewete my bloots ry nie. Jy was ongeneeslik onselfsugtig. Ek wens ek kon net naastenby so wees. Ek werk al jare lank hard daaraan om hierdie erfenis opsy te skuif. Ek kan nou al selfs my persoonlike behoeftes voor dié van my gesin stel. Soms. Vir ‘n klein rukkie.

Jy was die nederigste mens wat ek ooit geken het. Toe jy oud en swak was en ek dit verskriklik gevind het om jou in die stort te moet help, het jy met daai twee diepbruin oë na my toe opgekyk en ek het geen vernedering of seergemaakte trots daarin gesien het. Net vertroue. En dit het ‘n vreugde geword om jou te help.

Saluut, ouma Sannie! Ek kan nie glo dis al ses jaar nie. En ja, ek dink nog steeds soms wat ek in daardie laaste tyd anders sou doen as weer die kans kon kry. En is steeds nederig dankbaar dat ek die een kon wees wat jou laaste nag met jou kon deel, wat jou hand tot die einde kon houvas en nou jou eenvoudige trouring met trots en liefde kan dra.

NS. En nee, ek het haar nooit, ooit gejy en gejou nie.

NS. En ja, ek sit met ‘n glas wyn en tjank dat dit klap. Ek hoop my lesers ook – dis goed vir die gees.

[Hierdie stukkie pos het anoniem op my tafel geland. Ek weet nie wie dit geskryf het nie en ook nie wie die besondere ouma Sannie was nie. Maar ek deel dit graag met almal wat al hierdie paadjie geloop het.]

No comments:

Post a Comment