Wednesday, 7 October 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Die verskil ...

'n Beroemde akteur is uitgenooi na 'n dinee by 'n aftree-oord. 

Na ete was daar lofbetuigings oor sy roemryke loopbaan en hy is gevra om iets voor te dra. Hy het gevra vir enige spesiale versoek. Die mense was maar skaam, toe staan 'n ou dominee op en vra: "Sal u asseblief vir ons Psalm 23 voordra." 

Die akteur was uit die veld geslaan vir 'n oomblik, want hy was bekend vir sy vertolking van Shakespeare. "Met plesier," sê hy, "Ek dink ek ken nog die woorde."

Toe begin hy voordra met sy pragtige stem en suiwer intonasie en die gehoor hang aan sy lippe. Nog nooit het die klanke van die bekende Psalm hulle so melodieus op die ore geval nie. Toe hy klaar is, het 'n spontane applous losgebars. "Baie, baie dankie." Die akteur was amper aangedaan deur die gehoor se waardering vir sy poging. Spontaan sê hy, "Maar nou wil ek 'n groot guns vra. Sal die persoon wat die Psalm versoek het, dit nie vir ons voordra nie?" 

"Ek?" vra die bejaarde predikant verbaas. "Ek weet niks van die voordragkuns nie en my stem is taamlik treurig. Maar as u dit as 'n guns vra, kan ek dit nie weier." Die akteur beduie dat hy moet vorentoe kom, maar die ou man glimlag: "Toe maar, ek staan sommer hier by my sitplek." 

Hy begin met sy ietwat krakerige stem voordra. Aan die einde was daar geen applous, maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit en geen oog was droog. "Sien julle die verskil?" vra die akteur, self bewoë. "Ek het julle oë en ore bereik, maar hierdie man het jul harte geraak. Want sien, ek ken Dawid se Psalm, maar hy ken Dawid se Skepper!"

No comments:

Post a Comment