Showing posts with label Storie. Show all posts
Showing posts with label Storie. Show all posts

Saturday, 10 January 2026

Saterdaglagmedisyne - 'n Bok van 'n storie

Twee oudstryders sit in die ouetehuis en dink aan vergange se dae. Die oudste een vertel hoe hy en sy ouer broer tydens die Anglo-Boereoorlog in 'n skermutseling met die Engelse beland het.

Hulle het in 'n loopgraaf gelê toe broer Jan raakgeskiet word. Hy het gou gesien broer Jan sou dit nie maak as hy nie dringend hulp kry nie. Maar hulle was baie gelukkig. Daar was 'n dokter saam in die loopgraaf.

Die dokter het dadelik gesien die saak is dringend, maar daar was nie 'n hospitaal naby nie.

Gelukkig kry die dokter 'n blink plan. Vlak by hulle het 'n paar wildsbokkies gewei. Die dokter sê toe die krygers moet een gaan skiet. Dit word gedoen. Die dokter sny die bok versigtig oop, haal sy ingewande uit en plant dit oor in broer Jan.

"Man jy sal my nie glo nie," vertel die oudstryder. "'n Paar weke later was Jan volkome genees. En presies vier maande ná die oorplanting, toe lam broer Jan."

[Bron: Finansies & Tegniek, 9 Augustus 1996]

Friday, 14 November 2025

Gedig: Die storm in jou oë

Hierdie gedig van Elsabe van der Westhuizen, vertel die verhaal van sovele mense. 
Mag jou storm ook so eindig soos hierdie een in die gedig. 

Die storms teken prentjies in jou hartseer oë
Jy beur vorentoe teen die wind geboë

Terwyl die storm reën jou oë wasig maak van trane
Loop jy alleen in modderbane

Jy trek jou spanningsjas styf teen jou nat gekreukelde lyf
Terwyl die storm jou vorentoe dryf

Die prentjies vertel stories van hartseer en verdriet
Was elke tree in die lewe dan verniet

Vallend, strompelend, beur die krom gestalte voort
Rigting maak nie meer saak, sy voel verstoot

Sy val op haar knieë, sak diep in ’n modderpoel
Sy draai haar versadigde deurdrenkte lyf in ’n bolletjie rond

Lê in die modder van haar seerkry-grond
Sy merk nie eers dat hemel besig is om oop te skuif
Al wat sy voel die koue wat kleef aan haar verwese lyf

Sy is net bewus van die dood wat diep in haar wese sink
En haar siel wat in die storm reën se poele verdrink

Tussen die gedruis van wind en reën
Hoor sy ’n fluistering in die wind se ween
Staan op, my lieflingskind,
Ek ken jou storie
Moenie dat storms jou moed laat verloor nie
Met elke storm waarin jy jou ook al bevind
Trek Ek jou nader aan My, my koningskind

Dan neem jou storie ’n interessante wending aan
Toe my oë joune ontmoet waar ons staan
Die storm in jou oë word weggedryf, ek sien die krag
Ek weet die storm is besig om te wyk voor ’n sterker mag
Liefde het jou omarm, sonskyn maak jou oë sag
Plooitjies vorm om jou oë terwyl dit sagkens na buite lag
Waar ek nou in die vensters van jou siel staar voel ek bly
Sien ek ’n gelukkige einde.
Die storm is nou verby.

-Elsabe van der Westhuizen-

[Klik HIER vir die oorspronklike.]

Friday, 8 August 2025

Verhaal: Skaduwees oor sy pad


Vir die eerste keer na 30 jaar kan hy oor sy lewe heen terugkyk sonder die ou bitter gevoel van verontregting. Die gevoel wat altyd 'n bitter smaak in sy mond gelaat het. Hy voel dankbaar teenoor almal wat vir hom lief en dierbaar is en wonder meteens waar hy sou gewees het as dit nie vir Sondag, 29 November 1959, was nie.  

Sy gedagtes is terug by sy kinderjare: kranige atleet, 'n baie goeie rugbyspeler, ja, hy was selfs rugbykaptein van die skool se eerste rugbyspan, maar sy akademie het ook nie agterweë gebly nie. Hy en Willem, sy grootste vriend, altyd om die eerste plek meegeding ... gesonde kompetisie, wat jou altyd op jou tone gehou het.

Na matriek is hy universiteit toe, waar hy hom as dokter sou bekwaam, 'n droom wat met keuring 'n werklikheid kon word. Tussen die ongelooflike volgepakte rooster, het hy nog tyd kon inruim om vir die universiteitspan uit te draf. Spoedig is hy vir die Springbokspan gekies. Dit was asof die dobbelsteen elke keer 'n 6 na sy kant toe gegooi het. Orals was hy suksesvol en toe die All Blacks in Suid-Afrika kom speel het, het hy die verrassende nuus van Springbokkaptein met sy ouers kon deel, minute voordat dit op die radio uitgesaai sou word.

Die nuusblaaie was vol foto's en berigte, maar spoedig het hierdie berigte en foto's van inhoud verander. Die dag voor die groot wedstryd was hy in 'n motorongeluk. Hy was bewusteloos. Hulle het hospitaal toe met hom gejaag, maar die publiek het geweet dat hy nie sy span op die veld sou kon lei nie. 

Almal het die nuusblaaie met valkoë dopgehou. Toe die skok ...!

Hy is verlam in sy onderlyf. Sy hele lewe is verwoes. Die toekoms was meteens oneindig donker en sy loopbaan as rugbyspeler vir altyd verby.

Hierdie donker skaduwees wat oor sy pad was, het al langer en donkerder geword. Hy kon nie sy graad aan die einde van daardie jaar kry nie. Sy dae in die hospitaal was baie meer as sy dae in die klas. Sy droomberoep moes hy laat vaar ... 'n dokter in 'n rystoel ... ondenkbaar.

Na vele oorwegings was selfmoord die enigste aanvaarbare uitweg, want hy kon geen toekoms vir hom sien nie.

Na 'n mislukte poging, het sy ouers hom nie vir 'n enkele minuut onder hulle oë laat uitgaan nie. Hulle was só bang ...

Toe gebeur dit! Sondag, 29 November ... Dit was sy ma se verjaardag, ook haar laaste verjaardag hier op aarde saam met hulle. Sy het hom gevra om saam met haar kerk toe te gaan. Hy wou eers nie, maar hy het tóg later, baie teen sy sin ingewillig, net vir sy ma se onthalwe.

Van die dominee se preek onthou hy nie veel nie, want die teksvers het soos 'n refrein deur sy gedagtes gemaal: "Vergeet dit wat agter jou is en strek jou uit na die dinge voor jou." Daardie woorde was die keerpunt in sy lewe.

Dit het die grondslag vir sy "nuwe lewe" gevorm, want hy het besef dat elke skaduwee op jou lewenspad van die Here af kom met 'n doel. 

Die nuwe hoofstuk in sy lewensboek het hy aan sy ma opgedra wat nie ophou glo het aan hom nie. Hy het besef dat hy nog steeds 'n bydrae in die mediese wêreld kan maak. Daar is só baie onbeantwoorde vrae oor die groot "K" - die onsigbare sluipende dief wat niemand ontsien nie. Daar is niks verkeerd met sy hande en sy verstand nie. En nou met sy hart op die regte golflengte ingestel, het hy skielik 'n toekoms. 

['n Graad 10-opstel in die sewentigerjare van een van die lesers.] 

Friday, 18 July 2025

Klassieke storie: Tong in die kies

Wouter Botes vertel: "Tant Sann de Lange (die aktrise) was verlangs familie en baie goeie vriende met my ouma Susan. My ouma het met beeste geboer naby Ellisras en Tant Sann het klokslag elke jaar vir twee weke by my ouma gaan kuier op die plaas. 

My ouma was 'n dame, maar tog 'n geharde boervrou, terwyl tant Sann uit Mellville meer die filmdiva was. Die kombinasie was soms skreeusnaaks. My ouma het altyd pofadders se koppe met 'n byltjie afgekap, wat in die pad gelê het. Sy het gesê hulle pik haar melkkoeie op die bene, dan lei sy baie skade. Tant Sann was een keer by toe dit gebeur en sy was so geskok dat sy nie uit die bakkie wou klim by die huis nie. Dit het baie oortuiging gekos om haar weer tot in die plaashuis te kry. Sy het vir die res van die vakansie meestal die plaas deur die huis se vensters bekyk. Die jaar daarna het sy met 'n blikkie Doom in haar handsak kom kuier."

[Dankie, Anoniem, vir die aanstuur van hierdie juweel.]