Friday, 8 August 2025

Verhaal: Skaduwees oor sy pad


Vir die eerste keer na 30 jaar kan hy oor sy lewe heen terugkyk sonder die ou bitter gevoel van verontregting. Die gevoel wat altyd 'n bitter smaak in sy mond gelaat het. Hy voel dankbaar teenoor almal wat vir hom lief en dierbaar is en wonder meteens waar hy sou gewees het as dit nie vir Sondag, 29 November 1959, was nie.  

Sy gedagtes is terug by sy kinderjare: kranige atleet, 'n baie goeie rugbyspeler, ja, hy was selfs rugbykaptein van die skool se eerste rugbyspan, maar sy akademie het ook nie agterweë gebly nie. Hy en Willem, sy grootste vriend, altyd om die eerste plek meegeding ... gesonde kompetisie, wat jou altyd op jou tone gehou het.

Na matriek is hy universiteit toe, waar hy hom as dokter sou bekwaam, 'n droom wat met keuring 'n werklikheid kon word. Tussen die ongelooflike volgepakte rooster, het hy nog tyd kon inruim om vir die universiteitspan uit te draf. Spoedig is hy vir die Springbokspan gekies. Dit was asof die dobbelsteen elke keer 'n 6 na sy kant toe gegooi het. Orals was hy suksesvol en toe die All Blacks in Suid-Afrika kom speel het, het hy die verrassende nuus van Springbokkaptein met sy ouers kon deel, minute voordat dit op die radio uitgesaai sou word.

Die nuusblaaie was vol foto's en berigte, maar spoedig het hierdie berigte en foto's van inhoud verander. Die dag voor die groot wedstryd was hy in 'n motorongeluk. Hy was bewusteloos. Hulle het hospitaal toe met hom gejaag, maar die publiek het geweet dat hy nie sy span op die veld sou kon lei nie. 

Almal het die nuusblaaie met valkoë dopgehou. Toe die skok ...!

Hy is verlam in sy onderlyf. Sy hele lewe is verwoes. Die toekoms was meteens oneindig donker en sy loopbaan as rugbyspeler vir altyd verby.

Hierdie donker skaduwees wat oor sy pad was, het al langer en donkerder geword. Hy kon nie sy graad aan die einde van daardie jaar kry nie. Sy dae in die hospitaal was baie meer as sy dae in die klas. Sy droomberoep moes hy laat vaar ... 'n dokter in 'n rystoel ... ondenkbaar.

Na vele oorwegings was selfmoord die enigste aanvaarbare uitweg, want hy kon geen toekoms vir hom sien nie.

Na 'n mislukte poging, het sy ouers hom nie vir 'n enkele minuut onder hulle oë laat uitgaan nie. Hulle was só bang ...

Toe gebeur dit! Sondag, 29 November ... Dit was sy ma se verjaardag, ook haar laaste verjaardag hier op aarde saam met hulle. Sy het hom gevra om saam met haar kerk toe te gaan. Hy wou eers nie, maar hy het tóg later, baie teen sy sin ingewillig, net vir sy ma se onthalwe.

Van die dominee se preek onthou hy nie veel nie, want die teksvers het soos 'n refrein deur sy gedagtes gemaal: "Vergeet dit wat agter jou is en strek jou uit na die dinge voor jou." Daardie woorde was die keerpunt in sy lewe.

Dit het die grondslag vir sy "nuwe lewe" gevorm, want hy het besef dat elke skaduwee op jou lewenspad van die Here af kom met 'n doel. 

Die nuwe hoofstuk in sy lewensboek het hy aan sy ma opgedra wat nie ophou glo het aan hom nie. Hy het besef dat hy nog steeds 'n bydrae in die mediese wêreld kan maak. Daar is só baie onbeantwoorde vrae oor die groot "K" - die onsigbare sluipende dief wat niemand ontsien nie. Daar is niks verkeerd met sy hande en sy verstand nie. En nou met sy hart op die regte golflengte ingestel, het hy skielik 'n toekoms. 

['n Graad 10-opstel in die sewentigerjare van een van die lesers.] 

No comments:

Post a Comment