Onthou julle daardie tyd toe die meisies nog minirokkies met sulke oppof-moue gedra het? Daardie crimplenerokke wat saam met hoë-polfy skoene gedra is en die meisies wat na oliekolonie geruik het? Die klein katoen-sakdoekie met pienk geborduurde blommetjies in die hoek, het ook na parfuum geruik. Daardie einste sakdoekie was onder die dun bandjie van 'n ewe klein petite Lanco- of Rotary-polshorlosietjie ingeskuif.
Daardie tyd toe 'n man nog sy meisie inry toe kon vat in 'n 1963 Ford Barracuda of in oorle Oupa se Ford Fairlane ... met een lang sitbank voor. (Daai karre se gear-lever was langs die stuurwiel gemonteer en been- en beweegruimte was onbeperk!)
Die tyd toe jongmanne nog kortbroek safaripakke gedra het met hul hare vol Brylcreem gesmeer. Die swart plastiekkammetjie was netjies by die regterbeen se kous ingesteek. Iewers in jou broeksak het jy pienk of swart liquorice droplekkertjies versteek. Soms was die drops vervang met 'n pakkie peach beechies Dit alles in 'n poging om die skelm rookasem so af en toe te verfris. Toe jy nog vir haar 'n Groovy kon koop - daardie jare se blikkie koeldrank.
Daardie einste meisie het jou withemp se rugkant bewonder, want jy het 'n foto van Roger Moore uit die Huisgenoot geskeur en met 'n kole-strykyster op jou hemp afgestryk ...
Toe die enigste Bollie in die land nog in die binneblaaie van Huisgenoot te vinde was.
Toe jong seun kon dagdroom oor Tessa en Suster Saal in destyds se slapbandboekies ... my eie Sus was stilletjies verlief op Kid, die swerwer en het Rocco, die grensvegter ... nie te onaardig gevind nie.
Toe winkels nog toonbankdiens gehad het en jy net vir aardigheid met 'n tiekie 'n Dirkie kon koop - 'n buis vol kondensmelk. Toe die Joodse winkelier jou 10c-veelkleurige boodskaplekkers, in blaaie uit die Landbouweekblad geskeur en in 'n cone-vorm toegedraai, verkoop het. Nadat jy die lekkers verslind het, het jy die advertensies, of as jy gelukkig was, die kapperjolle van TO Hannibol se Oom Kaspaas op daai einste bladsy rustig sit en lees.
Ek mis daai opgewonde gevoel van afwagting as pa uit die dorp teruggekom het en uit die kombuis roep: "Boeta, hier's 'n pienk koevert briefie vir jou!!" Dit, terwyl hy sy koffie rustig sit en slurp het en na jou kant toe geknipoog het. Meestal het jou ma dan half vererg laat hoor: "Ghmf!! Hy sal hom wat verbeel ... pienk briefie nogal!!"
My gunsteling leesplek was onder een spesifieke navel-boom in die lemoenboord wat langs ons huis aangelê was. Die mistiek om daai brief oop te maak ... die reuk van parfuum wat so stadig uit haar briefie jou omswewe ... en haar rooi lippe se af-ets op die laaste blad!! Dit was baie meer romanties as deesdae se emoji-goeterse.
Vervloë dae ... toe 'n boer nog ekstra trots was op sy vrou. Toe mans nog bereid was om letterlik en figuurlik hul hande deur te werk vir sy huis en haard. "Vrouvat is nie perde koop nie," het toe nog betekenis gehad. Die vergane era waar 'n jongman eers moes poog om die niggie se aandag te kry, as sy einde ten laaste van jou begin notisie neem ... dan is die volgende hekkie haar Pa by wie jy moes verby kom.
Sommige boere-ooms was erg onmoontlik met hul "deurkyk" van potensiële vryersklonge. Die opsitkers was aspris middeldeur geknip, of die parrafienlampie net half-vol gemaak ... veral as jy hom nie aangestaan het nie. As vryersklong moes jy behoorlik eers 'n vuurdoop slaag voordat jy in haar pa se teenwoordigheid aan haar hand kon raak.
Die plaasboer was ook heilig op sy rygoed - mouterkar/bakkie/perde/muile/kapkarre en waens. Hy het ook niemand toegelaat om op sy plaas te laat slap-lê nie. Hy was heilig-trots op sy plaas en het nie toegelaat dat sy gereedskap en diere verwaarloos word nie.
Ek onthou hoe baie van des jare se suipkrippe vir die vee se drinkwater, en netjies gebou van leiklip, skoner was as deesdae se munisipaliteite ... om nie eens te praat van hul toeslykdamme en geroeste toevoerpype nie.
"Seun, moet nooit jou plaas verkoop nie ... as die boorgat droog word ... verskuif jy net jou windpomp ... maar moet nooit jou plaas verkoop of van jou vrou skei nie"
Hierdie tipe raad was mildelik uitgedeel en ook as voorbeeld vir jong mense deur die ouer gardes uitgeleef. Daarom seker, dat boervrouens harte so groot soos hul instapspense gehad het. Daar was altyd 'n vetmaak-hoender op hok en gaste het nooit leë hande 'n plaasopstal verlaat nie. Etenstyd het die tafels gekreun van die owerdaad vleis, gebraaide aartappels en geelrys. Doekpoeding of tuisgemaakte vla met gekookte droëvrugte was meestal die nagereg.
Dié tyd toe jongmeisies se vlytige deugde besing was ... en as die niggie dan nog boonop mooi van aansien was ... "Dan, ou seun, het jy 'n pers veld-tulpie raakgeloop." Wyse en waar woorde van menigte grysaard.
Ek draai die volume se knop so effens harder. Die ou draaitafel se naald skuur oor die Springbok Radio Hits-langspeelplaat wat ek op 'n vlooimark raakgeloop het. Gelukkig ken ek en vroulief altwee die woorde van die Staccatos se 1969 liedjie: Cry to me ... ek neem haar in my arms en stuur haar in 'n stadige wals oor my men-cave se teëlvloer. Sy laat lê haar kop rustig op my bors ... daar waar sy hoort en veilig voel.
Ons albei beleef die goue middeljare van ons lewe en stap sonder huiwering die sonsak-fase hand aan hand tegemoet.
"Jy sal altyd my jong steenbokooitjie bly," fluister ek in haar oor terwyl sy liefderyk in my oë opkyk.
Onthou jy ook die Kalahari-son se fanta-skyn ... eens toe ons groene jonkheid vol-ini-blom gestaan het?
Lemoenbloesel-groete
Leopoldt van Wyk
[Dankie, Valerie, vir hierdie stukkie nostalgie.]
No comments:
Post a Comment