Showing posts with label Personeel. Show all posts
Showing posts with label Personeel. Show all posts

Wednesday, 25 December 2024

Wednesday, 10 January 2024

Verjaardagwense

Mag slegs liefde en goeie gesondheid jou pad kruis, Neveshni. Dankie vir al jou omgee en vriendelikheid! Geniet jou dag!

Monday, 1 January 2024

Dankie aan elkeen wat my pad makliker maak


Baie dankie aan elke personeellid vir julle liefde, omgee, ondersteuning en positiwiteit wat so onvoorwaardelik aan ons as inwoners gegee word. Dankie dat julle 2023 die pad saam met ons geloop het. 2024 gaan sy eie unieke uitdagings hê - baie sterkte.

'n Ekstra dankie vir die personeel van die kombuis wat elke ete met ‘n glimlag op hulle gesigte die lekker kos aandra en bereid is om te help waar en indien nodig. Ons wys nie altyd dat ons julle waardeer nie, maar weet maar, dis heerlik om nie groente te skil of skottelgoed te was nie. Ons het ons hande die spreekwoordelike saligheid belowe. En daarom moet ons julle meer waardeer.

Ook die personeel van die wassery wat op een of ander manier amper altyd die regte wasgoed, by die regte eienaars, skoon terug besorg. Dankie dat julle die blou Maandag vuil wasgoed wegwerk en aan ons deure kom klop met 'n bondel skoon en vars wasgoed. Dankie dat julle dit vir ons maklik maak om altyd skoon klere in die kas te hê.

Wednesday, 4 January 2023

Dankie!

'n Hartlike Ons Huis-dankie vir al die goeie wense, besoekies, eetgoedjies en geskenkies wat ongevraagd hulle weg tot voor ons deur gevind het. Dit word opreg waardeer en nie een drukkie of goeie wense het ongesiens verby gegaan nie. Mag 2023 vir elkeen goed behandel. Mag Sy seën oor elkeen uitgestort word en mag elkeen tree vir tree die jaar onder Sy beskerming aanpak. Vreugde en vrede.

Ons Huis-personeel en -inwoners

Thursday, 21 March 2019

Die 8-5-engel van kamer 57 ...

Marie Moses
Daar is mense in die lewe wat ongesiens twee ekstra myle loop omdat hulle hartsmense is en werklik omgee. Een van daardie mense is Marie Moses. 'n Bekende en gerespekteerde vrou in haar gemeenskap wat weet dat die lewe soms soos 'n klipperige grondpad is, maar dat 'n mens met die krag van Bo weer by die teerpad uitkom, 

Ons het so 'n paar vrae vir haar gevra en dit het aanleiding gegee tot 'n heerlike middagkuier.

Vraag: Hoe lank bly jy al in Kimberley?
MM: Ek bly al 23 jaar in Kimberley. Ek het baie lank op Colleville naby Roodepan gebly.

Vraag: Hoeveel kinders het jy?
MM: Ek het vyf kinders gehad. Maar as ouer het ek die moeilike pad moes stap om vier kinders te begrawe. My dogter bly nou by my saam met haar kinders en ek is die trotse ouma van 11 kleinkinders en 6 agterkleinkinders. Hulle is almal baie lief vir my en besoek my gereeld.

Vraag: Wat is jou gunstelingkos?
MM: Ek is baie lief vir pap, vleis, kool en pampoen. Maar ek het 'n goeie hand as dit by vetkoek en roosterkoek kom. (Ons het gevra vir 'n lekker roosterkoekresep wat later geplaas gaan word.)

Vraag: Vertel 'n bietjie meer van jou kinderjare en wat julle gedoen het wat vandag se kinders glad nie sal ken nie.
MM: Ons het die doringboomgom gevat en in water gesit totdat dit sag is en dan het my ma suiker bygegooi en heerlik konfyt daarvan gekook. Om vir vandag se kinders te sê hoe dit gelyk en gesmaak het, kan ek dit met appelkooskonfyt vergelyk. Daar het ook so 'n vaal bossie, plat teenaan die grond gegroei en ons het daardie blare gepluk en tee daarvan getrek. Met 'n klein bietjie melk, was dit heerlik.

Vraag: Dit klink mos asof daar baie rate in daardie geheue gebêre word. Deel 'n bietjie van daardie rate met ons lesers.
MM: Vir verkoue is daar nie beter medisyne as wynruit en wildeals wat saam soos 'n tee getrek word nie. Vat so 'n paar blaartjies, spoel dit goed af, gooi in 'n beker en gooi dan kookwater daarop. Jy kan dit selfs in 'n potjie op die stoof trek.

Kankerbossie, dolosse van
bene en 'n buiteoond
Kankerbossie het ons ook soos tee getrek en dit vir algemene gesondheid gedrink. Dit gee onder andere baie energie. En dan is daar die baie bekende raat vir 'n seer keel. Hierdie lang vygies wat orals op die sypaadjies in Kimberley groei, is eintlik medisyne. Druk die sap uit en drink dit. Dit smaak glad nie sleg nie. 

Vraag: Vertel 'n bietjie van jou kleintyd se onthoukos ... se nie-meer-vandag-se-kos nie.
MM: Ons het 'n grondoond langs die huis gebou. Dan maak ons vuur binne-in. Aan die agterkant van die oond is 'n gaatjie sodat die lug goed kan trek. As die vuur uitgebrand het, krap ons die kole uit en sit die broodpanne in. Die voorkant word met 'n sinkplaat toegemaak, wat ons dan met klei toesmeer om seker te maak dat die brode lekker bak. Soms is die oond nog warm genoeg vir 'n tweede rondte brode.   

'n Ander heerlikheid vir ons kinders was as ons ons eie kos gemaak het. Ons kinders het altyd die pampoenskille gevat as ouma klaar die pampoen geskil het en dan het ons dit in klein blokkies gesny en dit met melk op die vuur sag gekook. Hierdie lekkerny was die begin van ons koskooklesse.

Ek onthou ook hoe ons aartappels net so in die vuur gegooi het - tussen die kole. Dan het ons met 'n stokkie getoets om vas te stel hoe ver van gaar af die aartappel is. As die aartappel die stokkietoets geslaag het, het ons die skille afgetrek en dit met 'n bietjie sout geëet.

Skaapvet met stroop gemeng was heerlik op brood, maar dit moet die sagte skaapvet wees.

Ek sien dat 'n mens deesdae pampoenpitte in pakkies koop en dat dit dan as 'n gesondheidshappie bemark word. Ons het jare terug as klein kinders die pampoenpitte in 'n kastrolletjie geroerbraai totdat dit lekker bruin is. Daarna het ons dit afgedop, want die lekkerte het binne gesit. Ons hou almal van afval. Vandag se kinders trek hulle neuse daarvoor op. Die lekkerste deel van die afval is die sagte vleisie by die kakebeen. So af en toe koop ek nog vir my 'n afval en maak dit baie mooi skoon. 'n Mens kan afval op twee maniere kook - as jy die afval wil proe, kook jy dit net met sout. Anders kan jy kerrie bygooi, baie mense verkies kerrie-afval. Later sit jy aartappeltjies en uie by. Hierdie is koningskos.     

Vraag: En waarmee het julle kinders gespeel?
MM: Die seuns het draadkarre en draadfietse gebou. Ons het met dolosse gespeel. Ons meisiekinders het lappoppe gemaak en dit gestop met klein onbruikbare stukkies lap. Hierdie poppe het ons dan aangetrek met klere wat onsself gemaak het en met 'n pen het ons lewe aan ons poppe se gesigte gegee. Van die geronde wenkbroue tot by die vriendelike mond.

Vraag: Wat het jy die afgelope tyd waargeneem hier in die siekeboeg?
MM: Die personeel hier het baie liefde en baie geduld. Jy kan nie hier werk, as jy nie 'n omgeemens is nie. Hier raak mense soos familie. Maar hier is 'n tekort aan hande. Dis so jammer dat almal te besig is om uit te reik na plekke waar daar werklik nood is.

Sunday, 17 March 2019

Ons Huis: Kliniek se engele ...

Estelyn Coakley
Ons wil graag hierdie jaar 'n bietjie van die personeellede se gedagtes en gesprekke met die lesers deel. Op hierdie manier gaan ons mekaar ook beter leer ken en gaan Ons Huis werklik soos 'n tuiste voel.

Die eerste personeellid wat lukraak gekies is om 'n paar vragies te beantwoord, was Estelyn Coakley. Sy was juis op pad na 'n weeklange kursus in Bloemfontein, toe sy 'n vinnige paar minute afgeknyp het. Krediete wat hulle vir hierdie kursus kry, kan bydra tot verdere studiemoontlikhede

Vraag: Hoe lank werk jy al by Ons Huis?
EC: Ek is al 5 jaar hier.

Vraag: Wat is die lekkerste deel van jou werk by die kliniek?
EC: Ons lag elke dag by die werk. Ons hoor elke dag iets by die bejaardes wat ons dag opkikker.

Vraag: Wat is jou gunsteling kleur?
EC: Rooi, want ek dink dit pas baie goed by my gelaatskleur.

Vraag: Wat is jou gunsteling kos?
EC: Ek is nie iemand met fiemies nie, maar hoender is vir my heerlik. Ek is natuurlik baie lief vir kook.

Vraag: Het jy 'n boodskap vir die lesers en veral die plaaslike inwoners van Kimberley?
EC: Elke dag is 'n uitdaging, maar my werk is ook my passie. My hart gaan uit na só baie senior burgers wat fisies en finansieel mishandel word. Die verwaarlosing van die bejaardes in ons gemeenskap moet op almal se gewete rus. Ons gaan nog almal oud word. Bejaardes is baie blootgestel en só kwesbaar en tog vind ons dit goed om ons kop weg te draai, Kerke, die gemeenskap, maatskaplike werkers is maar enkele instansies en mense wat 'n helpende hand kan uitsteek. Die tuisversorgers kan soveel meer doen, as daar net meer hande is ...

Vrywilligers ons het julle regtig nodig. Kom kuier hier vir ons by Ons Huis en raak betrokke.

Tuesday, 16 October 2018