Showing posts with label Seën. Show all posts
Showing posts with label Seën. Show all posts

Friday, 10 October 2025

Vrydag-flits: 4 dinge om te onthou wanneer mense sleg van jou praat

1. Hul woorde sê meer van hulle as van jou!
Mense praat dikwels uit hul eie seer, jaloesie of onsekerheid. Wat hulle sê, weerspieël hul hart, nie jou waarde nie. 
“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” - Matteus 12:34

2. God ken die waarheid!
Jy hoef nie elke valse woord te probeer regverdig nie. God sien jou hart en Hy sal jou karakter beskerm. Laat Hom jou verdediger wees.
Geen wapen wat teen jou gevorm word, sal voorspoedig wees nie, en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy veroordeel.” - Jesaja 54:17

3. Stilte is soms krag! 
Jy hoef nie op elke kritiek te reageer nie. Stilbly beteken nie jy is swak nie, dit wys dikwels wysheid en dat jy seker is van wie jy is.
Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” - Eksodus 14:14

4. Hou aan loop in liefde!
Moenie toelaat dat bitterheid jou hart besmet nie. Vergewe, wees ’n seën en gaan aan met jou lewe. Jou reaksie is jou getuienis.
Moenie jou deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” - Romeine 12:21

Laat jou lewe harder praat as hul woorde. 

[Geleen]

Sunday, 8 June 2025

DANKIE! In hoofletters!!

 Ons sien uit na 'n volgende kuier!!

Monday, 4 November 2024

'n Uit-die-hart-dankie!


Aan ons Saterdag-engele
Dankie vir julle omgee, uitreik, liefde en heerlike bederfies.
Ons sien uit na julle besoeke en waardeer julle kuiers!
Vreugde en seën vir julle!
Ons Huis-inwoners!!

Sunday, 17 March 2024

Die seën van 'n bejaarde ...

Geseënd is jy, as jy verstaan dat my hande bewe en my voete stadig geword het.

Geseënd is jy, as jy daaraan dink dat my ore nie meer goed kan hoor nie.

Geseënd is jy, as jy weet dat my oë nie meer goed kan sien nie, as jy nie kwaad word as ek die mooiste koppie laat val of omdat ek vir die soveelste maal dieselfde storie vertel nie.

Geseënd is jy, as jy my toelag en my vra na die dae van my jeug. Ek hou daarvan om van my kinderjare en grootwordjare te vertel.

Geseënd is jy, as jy sagkens met my omgaan, my stille trane begryp en my laat voel dat iemand vir my omgee.

Geseënd is jy, as jy langer by my bly as dit oral donker word en as jy my hand vashou wanneer ek alleen die nag moet in, die nag van die dood.

Geseënd is jy -  as ek in die hemel kom, sal ek die sterre vir jou aansteek.

Tuesday, 6 February 2024

Dinsdag-denke: Geroep om te dien

Elementêre opleiding op 20 jaar

"Kazuo, jy is nie gesond nie en het geen aanleg vir leer nie," het sy vader gesê, toe hy hom sommer uit die bloute afgeskryf het!

"Jou ma is oorlede en nou hang dit van jou af as die oudste om na die vyf jonges te kyk!" Hy was maar slegs 9 jaar oud; daarom het sy vader se woorde hom verpletter. "Ek is net goed genoeg om die neuse en boude van die jonges af te vee," het hy gedink, terwyl hy oor sy tweederangse bestaan gedink het.

Kazuo Taira wou bitter graag iets van sy lewe gemaak het, maar sy familie het in 'n klein vervalle koolmyndorpie gewoon. Hy kon op geen hulp van van sy vader steun nie, wat boonop geen vertroue in Kazuo se vermoëns gehad het nie en wie se inkomste nie genoeg vir kos op die tafel was nie.

Hy het gewens om gesonder, sterkter en gelukkiger te wees, maar het verlate en wanhopig gevoel. Al die inwoners van die dorpie was negatief, krities en moedeloos. Kazuo wou uit hierdie omstandighede ontsnap. Hy was vasbeslote om 'n meer positiewe omgewing te vind waar hy 'n nuwe lewe kon begin.

"Genoeg is genoeg!" het Kazuo vir homself gesê toe hy 14 jaar oud was en het daarin geslaag om uit sy situasie te ontsnap. Hy het na die groot stad, Osaka, gegaan. Sy lot was egter om 'n klerewinkel te vee en skoon te maak, omdat hy geen skoolopleiding gehad het nie en hy gevra het of hy 'n vakleerling kon word.

Lang werksure en degeneratiewe lewenstyl was te veel vir sy tingerige liggaam. Eendag het hy longbloeding opgedoen en is dadelik gehospitaliseer. Dit het al sy drome vir 'n beter lewe vernietig. Hy was fisies uitgeput en verskriklik bang. Mense rondom hom het gesterf en hy het gedink dat hy heel waarskynlik die volgende een gaan wees. Vrees vir die dood was voortdurend in sy hart.

Een middag toe hy in een van die lang gange van die hospitaal afgestap het om te gaan verduidelik waarom hy nie sy rekening kan betaal nie, het hy mense hoor sing soos nog nooit tevore in sy lewe nie! Hy het gestop om te luister na die woorde en is vreemd getrek na die kamer waar die evangelis Karasawa van Japansending 'n byeenkoms gelei het. Die evangelis het na die byeenkoms vir hom 'n Bybel gegee, waarna hy moes erken dat hy nie kan lees nie.

Die volgende dag het mnr. Karasawa hom in sy saal besoek en hom 'n woordeboek gegee. Hy het Kazuo aangemoedig om te leer lees en skryf. Dit was die eerste persoon wat hom ooit aangemoedig het om opgelei te word sodat sy lewenskwaliteit kan verbeter. Dit was die keerpunt in sy lewe.

Toe hy die hospitaal verlaat, het hy 'n brandende begeerte gehad om te leer en opgelei te word. Hy was toe 20 jaar oud en elke primêre skool wat hy genader het, het hom toelating geweier. Hy het bly aansoek doen en is uiteindelik deur 'n skool aanvaar wat hom toegelaat het om saam met die jong kinders te leer. Na skool het hy lang ure gewerk om geld te verdien om sy uitgawes te dek en sy familie te help.

Eendag het Kazuo by 'n kerk in sy omgewing uitgekom en dit het hom herinner aan die boodskap van hoop wat hy gehoor het in die hospitaal. Hy het die byeenkomste begin bywoon en 'n paar maande later het hy sy sonde bely en heelhartig geglo in die versoenende bloed van Jesus Christus. 

Die woord van die kruis van Christus is wel dwaasheid vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. (1 Kor.1:18)

Hierdie vers het Kazuo baie bemoedig, maar hy het verkeerdelik gedink dat hy ná hy 'n gelowige in Christus geword het, nie meer beproewings en probleme in sy lewe sal hê nie. Dit was 'n groot skok vir hom toe hy weer 'n slagoffer van tuberkulose geword het. Hy het so mismoedig geword dat hy wou sterf. Maar die evangelis in daardie hospitaal het hom aangemoedig om aan God te bly vashou. Agtien maande later is hy gesond verklaar en ontslaan.

Kazuo Taira was 'n wyser en ryper man toe hy die hospitaal vir die tweede keer verlaat het en het 'n aktiewe lid van die plaaslike kerk geword.

Die Here het sy hart met vrede en blydskap gevul, terwyl Hy Kazuo gehelp het om die wrok wat hy teenoor sy vader gekoester het, te hanteer. Menslik gesproke was dit onmoontlik, maar die inwerking van die Heilige Gees het sy bitterheid laat verander in ware liefde.

As jy dan jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor by die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder en kom dan en bring jou gawe. (Matt. 5: 23-24)   

Na hy finansieel selfstandig geword het, het hy sy bejaarde vader genooi om by hom te kom bly. Dit het hom die geleentheid gegee om met sy pa te praat oor God se vergifnis en hom te vertel van die reddende genade van Jesus!

"As kind het my vader my afgeskryf, maar ek is so bly dat God sy oë op my het en in sy voorsiening het hy my lewe verander. God is nou my getroue metgesel en ek steun elke dag op die voorreg van sy teenwoordigheid in my en my familie se lewens!"

[Japansending Januarie/Februarie 2012]

Vir meer inligting klik HIER

Sunday, 31 December 2023

Jy is in die middel ...

Die Here is voor jou
om die weg gelyk te maak.
Die Here is langs jou
om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou
om die aanvalle van die bose af te slaan.
Die Here is onder jou
om jou te dra as jy mag val.
Die Here is binne in jou
om jou te inspireer.
Die Here is rondom jou
om jou te beskerm.
Die Here is bo jou 
om jou te seën.
So seën die Drie-Enige Vader,
Seun en Heilige Gees julle -
van nou af tot in ewigheid.

[Dankie, Elmari,dat jy dit met ons deel.]

Tuesday, 17 January 2023

Dinsdag-denke: God se genade

As ons maar elke dag kan besef
ons swem in die seën van God,
swem in voorspoed,
swem in geluk en blydskap
en swem in die liefde van ons almagtige Vader!
Dit is somtyds net nodig dat ons stop en dit raaksien!
Somtyds is dit selfs nodig dat ons so ‘n tydjie afknyp
om God te bedank daarvoor.
Wees jy nou die klein vissie
en gaan vertel jou vriende waarmee God jou VANDAG geseën het!

Thursday, 5 January 2023

Tyd is 'n deposito in God se bank


Moenie dink jy beteken niks & God gee nie om nie.Onthou in Sy Woord sê Hy: jou naam is in My handpalms ingegraveer
en My oog sal op jou wees.
Jy is uniek en God het jou lief!
Hy neem jou gisters, Hy hou jou môres,
Hy gee jou vandag en Hy belowe jou 'n ewige lewe.
Tyd is deposito wat elkeen van ons in die bank van
God het en ons weet nie wat die balans is nie.
Maak dus elke oomblik die moeite werd.
Mag die Vader jou vandag seën bo al jou verwagtinge!
Mag jy 'n uitsonderlike dag geniet!!

Tuesday, 5 July 2022

Die seën van verstaan ...

Geseënd is jy as jy verstaan dat my hande bewe en my voete stadig geword het.
Geseënd is jy as jy daaraan dink dat my ore nie meer goed hoor nie en dat ek nie meer alles verstaan nie.

Geseënd is jy as jy weet dat my oë nie meer goed sien nie, as jy nie kwaad word wanneer ek die mooiste koppie laat val of omdat ek vir die soveelste maal dieselfde storie vertel nie.

Geseënd is jy as jy my toelag en my vra na die dae van my jeug.
Geseënd is jy as jy sagkuns met my omgaan, my stille traan begryp en my laat voel dat iemand vir my omgee.

Geseënd is jy as jy langer by my bly wanneer dit orals donker word en my hand vashou wanneer ek alleen die nag moet in; die nag van die dood.

Geseënd is jy.
Wanneer ek in die hemel kom, sal ek die sterre vir jou aansteek.

[Uit: Neem tyd om gelukkig te wees - Phil Bosman] 

Dankie, Meisie, dat jy Phil Bosman se waarhede met ons deel.

Saturday, 21 December 2019

'n Grondpadjaar ...

Daar was dae wat ek die mooiste view gehad het en dan was daar dae wat ek kaalvoet oor die klippies moes hardloop om net op 'n beter plek te kom as gister ... soms op my knieë geval omdat ek net nie kans gesien het om verder te loop nie. Dan was daar dae waar ek rustig kon loop sonder omkyk of omdraai ... Ek het wel die mooiste blommetjies in die veld gepluk, van hulle het ek op pad verloor, maar dis okay ... daar was dorings wat my vele kere gesteek het, sodat ek vir dae net nie meer kon loop nie … maar dis ook okay ...
Dit was n lang pad,
soms sonder water,
soms sonder suurstof,
soms met geskeurde skoene maar dit was 'n goeie pad …
Iets geleer? Absoluut!
* Dat niemand die pad vir jou kan stap nie, maar wel net saam met jou ...
* Dat niemand jou gelukkig kan maak as jy nie self gelukkig is nie ...
* Dat niemand jou tas vir jou gaan sorteer nie ...
* Dat min mense jou enduit gaan help ...
* Dat beloftes soms leë woorde is ...
* Dat opgee nooit n opsie is nie ...
* Dat mens soms net moet sit en rustig word en dankie sê ...
* Dat daar altyd iemand sal wees wat in die middel van jou reis sal staan,
   omdat hulle dit nie vir jou gun nie....
* Dat mens net die beste weergawe van jouself kan wees en om nooit jou moed te verloor in iets wat
   mens regtig wil bereik nie ...

Ja, daar was goed én sleg, maar ek sien uit na die nuwe pad wat voorlê ...

Dankie aan elkeen wat dit saam met my enduit gemaak het - ek het by elkeen iets geleer.
Wat nou voorlê, weet ons nie, maar wat ek wel weet is dat:
* Ek beter skoene moet kry
* 'n Groter rugsak
* Meer water en
* Soveel meer suurstof om my nuwe roete aan te pak ...
Reis veilig ...
wees lief vir mekaar ...
help mekaar ...
droom saam ...
lag saam ...
maak tyd vir mekaar ...

Dankie vir jou stukkie hart wat ek saam op my reis deur 2019 kon dra ...
Mag die Here ons lei op die onbekende pad van 2020
en mag ons nooit vergeet van Sy Groot Genade nie ...
Mag die laaste dae van 2019 net vol sonskyn en liefde wees
en mag ons God en Vader altyd oor jou waak.
Mag 2020 gevul wees met die keur van Sy seëninge in jou lewe.

Wednesday, 10 July 2019