Showing posts with label Herinneringe. Show all posts
Showing posts with label Herinneringe. Show all posts

Friday, 15 August 2025

Onthou julle nog? Een van die lesers het die volgende aangestuur:

Onthou julle daardie tyd toe die meisies nog minirokkies met sulke oppof-moue gedra het? Daardie crimplenerokke wat saam met hoë-polfy skoene gedra is en die meisies wat na oliekolonie geruik het? Die klein katoen-sakdoekie met pienk geborduurde blommetjies in die hoek, het ook na parfuum geruik. Daardie einste sakdoekie was onder die dun bandjie van 'n ewe klein petite Lanco- of Rotary-polshorlosietjie ingeskuif.  

Daardie tyd toe 'n man nog sy meisie inry toe kon vat in 'n 1963 Ford Barracuda of in oorle Oupa se Ford Fairlane ... met een lang sitbank voor. (Daai karre se gear-lever was langs die stuurwiel gemonteer en been- en beweegruimte was onbeperk!)

Die tyd toe jongmanne nog kortbroek safaripakke gedra het met hul hare vol Brylcreem gesmeer. Die swart plastiekkammetjie was netjies by die regterbeen se kous ingesteek. Iewers in jou broeksak het jy pienk of swart liquorice droplekkertjies versteek. Soms was die drops vervang met 'n pakkie peach beechies Dit alles in 'n poging om die skelm rookasem so af en toe te verfris. Toe jy nog vir haar 'n Groovy kon koop - daardie jare se blikkie koeldrank. 

Daardie einste meisie het jou withemp se rugkant bewonder, want jy het 'n foto van Roger Moore uit die Huisgenoot geskeur en met 'n kole-strykyster op jou hemp afgestryk ... 

Toe die enigste Bollie in die land nog in die binneblaaie van Huisgenoot te vinde was.

Toe jong seun kon dagdroom oor Tessa en Suster Saal in destyds se slapbandboekies ... my eie Sus was stilletjies verlief op Kid, die swerwer en het Rocco, die grensvegter ... nie te onaardig gevind nie.

Toe winkels nog toonbankdiens gehad het en jy net vir aardigheid met 'n tiekie 'n Dirkie kon koop - 'n buis vol kondensmelk. Toe die Joodse winkelier jou 10c-veelkleurige boodskaplekkers, in blaaie uit die Landbouweekblad geskeur en in 'n cone-vorm toegedraai, verkoop het. Nadat jy die lekkers verslind het, het jy die advertensies, of as jy gelukkig was, die kapperjolle van TO Hannibol se Oom Kaspaas  op daai einste bladsy rustig sit en lees.

Ek mis daai opgewonde gevoel van afwagting as pa uit die dorp teruggekom het en uit die kombuis roep: "Boeta, hier's 'n pienk koevert briefie vir jou!!" Dit, terwyl hy sy koffie rustig sit en slurp het en na jou kant toe geknipoog het. Meestal het jou ma dan half vererg laat hoor: "Ghmf!! Hy sal hom wat verbeel ... pienk briefie nogal!!" 

My gunsteling leesplek was onder een spesifieke navel-boom in die lemoenboord wat langs ons huis aangelê was. Die mistiek om daai brief oop te maak ... die reuk van parfuum wat so stadig uit haar briefie jou omswewe ... en haar rooi lippe se af-ets op die laaste blad!!  Dit was baie meer romanties as deesdae se emoji-goeterse. 

Vervloë dae ... toe 'n boer nog ekstra trots was op sy vrou. Toe mans nog bereid was om letterlik en figuurlik hul hande deur te werk vir sy huis en haard. "Vrouvat is nie perde koop nie," het toe nog betekenis gehad. Die vergane era waar 'n jongman eers moes poog om die niggie se aandag te kry, as sy einde ten laaste van jou begin notisie neem ... dan is die volgende hekkie haar Pa by wie jy moes verby kom. 

Sommige boere-ooms was erg onmoontlik met hul "deurkyk" van potensiële vryersklonge. Die opsitkers was aspris middeldeur geknip, of die parrafienlampie net half-vol gemaak ... veral as jy hom nie aangestaan het nie. As vryersklong moes jy behoorlik eers 'n vuurdoop slaag voordat jy in haar pa se teenwoordigheid aan haar hand kon raak.

Die plaasboer was ook heilig op sy rygoed - mouterkar/bakkie/perde/muile/kapkarre en waens. Hy het ook niemand toegelaat om op sy plaas te laat slap-lê nie. Hy was heilig-trots op sy plaas en het nie toegelaat dat sy gereedskap en diere verwaarloos word nie. 

Ek onthou hoe baie van des jare se suipkrippe vir die vee se drinkwater, en netjies gebou van leiklip, skoner was as  deesdae se munisipaliteite ... om nie eens te praat van hul toeslykdamme en geroeste toevoerpype nie.

"Seun, moet nooit jou plaas verkoop nie ... as die boorgat droog word ... verskuif jy net jou windpomp ... maar moet nooit jou plaas verkoop of van jou vrou skei nie" 

Hierdie tipe raad was mildelik uitgedeel en ook as voorbeeld vir jong mense deur die ouer gardes uitgeleef. Daarom seker, dat boervrouens harte so groot soos hul instapspense gehad het. Daar was altyd 'n vetmaak-hoender op hok en gaste het nooit leë hande 'n plaasopstal verlaat nie. Etenstyd het die tafels gekreun van die owerdaad vleis, gebraaide aartappels en geelrys. Doekpoeding of tuisgemaakte vla met gekookte droëvrugte was meestal die nagereg.

Dié tyd toe jongmeisies se vlytige deugde besing was ... en as die niggie dan nog boonop mooi van aansien was ... "Dan, ou seun, het jy 'n pers veld-tulpie raakgeloop." Wyse en waar woorde van menigte grysaard.

Ek draai die volume se knop so effens harder. Die ou draaitafel se naald skuur oor die Springbok Radio Hits-langspeelplaat wat ek op 'n vlooimark raakgeloop het. Gelukkig ken ek en vroulief altwee die woorde van die Staccatos se 1969 liedjie: Cry to me ... ek neem haar in my arms en stuur haar in 'n stadige wals oor my men-cave se teëlvloer. Sy laat lê haar kop rustig op my bors ... daar waar sy hoort en veilig voel.

Ons albei beleef die goue middeljare van ons lewe en stap sonder huiwering die sonsak-fase hand aan hand tegemoet.  

"Jy sal altyd my jong steenbokooitjie bly," fluister ek in haar oor terwyl sy liefderyk in my oë opkyk.  

Onthou jy ook die Kalahari-son se fanta-skyn ... eens toe ons groene jonkheid vol-ini-blom gestaan het? 

Lemoenbloesel-groete
Leopoldt van Wyk

[Dankie, Valerie, vir hierdie stukkie nostalgie.]

Friday, 1 August 2025

Poem: Memories

It may be a while since you followed the light
But I often feel your presence, not always at night!

I miss your warmth and loving touch
The fun and laughter we shared, so much
The caring, and repartee
Knowing my words, before set free.

The memories are fresh of our time together
They'll never fade, no, not ever.

I know I'll follow the light one day
In the meantime, I often pray
That when my time comes, you'll be in the light
To welcome my spirit, and hold me tight.

[ Poet: Merril Wilson - Prince Albert Friend August 2024]

Sunday, 15 June 2025

Terugblik: Kleindogter wen met roerende opstel oor oupa

Hy was al die jare 'n boer en het nooit 'n CV nodig gehad nie. Toe skryf sy kleindogter *Mari vir hom die beste CV in die hele wêreld, sê die afgetrede mnr. Japie van Rensburg van Philippolis.

Met haar roerende opstel oor haar oupa Japie, het Mari Beukes (12), dogter van mnr. Fanie en Marietjie Beukes van Theunissen, 'n prys van R1000 losgeskryf in die departement van welsyn se opstelkompetisie vir die Jaar van die Bejaarde.

In Ek is lief vir my oupa skryf Mari:

"Ek sien my oupa so voor my. Vandat my ouma dood is, sit hy altyd alleen op sy vaalgroen stoep. Pyp skeef in die mond, beker rooibostee in sy hand.

Hy kyk ver oor die kalerige bossieveld en sien dinge wat net sy moeë oë kan sien. Hy sien eintlik net met een oog, maar met daardie oog sien hy meer as wat die meeste mense ooit sal kan sien.

Sy woorde is eintlik filosofieë, maar net hy weet dit. Hy en ek, want ek en hy ken mekaar "inside out." Die dinge wat hy sê, is vir my so mooi soos Shakespeare, so waar soos Desmond Tutu, so aards soos Langenhoven. Dis pure oupa-wysheid. 

Sy stories neem my na ver plekke. Hulle gee lewe aan die naamlose gesigte op die ou foto's. Hulle is nie swart letters op wit papier nie, maar warm woorde wat in die lug ronddryf en hulle lê op my hart kom kry. Hulle gee meer as wat hulle vra ... net soos hý altyd altyd gee waar ander nie wil nie.

Hy waarsku oor dinge en ek dink soms dis sommer "nonsens," maar dan sien ek hy was reg. Hy sê altyd: "Onthou, jammerhartigheid vreet sy eie baas." Hy weet hy is reg, maar tog raak hy gou jammer en bly hy gee en gee.

My oupa is nie geleerd of slim of belangrik nie. Hy het nie om die wêreld gereis of rekords geslaan nie. Hy is doodgewoon. Maar hy ken my en almal om hom so diep, hy weet sommer wat ons dink.

Hy kan die grootste probleme oplos. Nie wiskundeprobleme nie. Hart- en voelprobleme. Dan praat hy sulke fyn trooswoorde en verf my hele wêreld vol mooi dinge. Hy laat my voel of ek 'n ster is. Asof ek die een of ander wonderlike krag in my het. Hy glo in my. Hy sê hy weet ek kan enigiets doen wat ek regtig wil doen.

My oupa laat dink my partykeer aan die wind. Hy dra my deur slegte tye. Soos wanneer ek sukkel of verlang, maar in goeie tye laat hy myself vlieg. "Gaan kind, geniet dit!" hoor ek hom sê. Hy is nie 'n storm- of seermaakwind nie. Soms fluister hy my in die regte rigting en soms as ek nie wil luister nie, wag hy om my te vang.

Ek kry altyd die laaste stukkie biltong en hy sê ja vir al my kleinkind-versoeke. Dit is asof sy liefde nooit ophou nie. Dit vou my so lekker toe soos 'n wolkombers in die winter.

Hy weet wat Pa en Ma nog nie weet nie. Dat ek net nóú gaan klein wees. Dat ek vinniger as 'n lappie boontjies gaan opskiet die wye wêreld in. Is dit hoekom hy my so fyntjies versorg?

Mens lees in boeke van allerhande wyse manne wat nie toelaat dat omstandighede hulle breek nie. Wat hulself nooit bejammer nie en nooit ophou bid en glo en hoop nie.

My oupa is só 'n wyse man."  

*Mari is 'n leerling aan die Hoërskool Theunissen waar haar pa, Fanie, hoof is en haar ma, Marietjie, 'n onderwyseres. Sy is 'n ywerige leser en skrywer. In 1997 het Mari as negejarige 'n opstelwedstryd gewen oor waarom Bloemfontein die hoofstad van Suid-Afrika moet wees.

Volksblad: Donderdag, 23 Desember 1999 

[Ingestuur deur Ann]

Friday, 13 June 2025

Nostalgie en nog nostalgie

Hoeveel onthou jy?


1) Kopligdip - skakelaars op die vloer van die motor.
2) Ontsteking - skakelaars (choke) op die paneelbord.
3) Broekspypklemme vir fietse sonder kettingskerms.
4) Soldeerboute wat jy op 'n paraffienbrander verhit het.
7) Vrouens het rokke, hoede, sykouse en handskoene kerk toe aangetrek.
6) Gebruik handseine vir motors sonder rigtingwysers.
7) Brood wat 6c en later 10c elk gekos het.
8) Sjokolade (Flakes, Crunchies, ens.) wat 5c elk gekos het.
9) Soet (lekkergoed) sigarette.
10) Kafees met tafels en stoele en met 'n juke-boks. Hulle het die lekkerste Coke en Cream Soda floats verkoop.
11) Aflewering van melk en lemoensap in glasbottels.
12a) Die swart telefoon teen die gangmuur gemonteer.
12b)Elke telefoonoproep is deur die sentrale deurgeskakel. (Onthou jy nog die sentrale se vraag? "Nommer asseblief?" )
12c) Party of deellyntelefone vir plaasbewoners. (Die bure het die gesprekke lekker afgeluister.)
13) Nuusrolprent (SA spieël) voor die fliek. Onthou jy die brullende leeu wanneer die fliek begin wys het?
14) Ertjiepit-blaaspypies (pea shooters)
15a)Grammefoonplate 78+33 rpm met platespelers. (Onthou jy nog vir Virginia Lee, Jim Reeves, Leonore Veenemans)
15b) 45-rpm plate.
16) Hi-Fi's.
17) Metaal ysbakke met hefbome.
18) Blou flitsgloeilampe.
19) Kurkpropgewere (popgun)
20) Wasmasjiene met rollers.
21)TV-toets patrone wat snags na die laaste vertoning aangekom het en daar was, totdat TV-programme weer die volgende dag begin het. Daar was net 2 kanale, as jy gelukkig was.
22) Inkpotjies in jou skoolbank. In graad 1 en 2 is net met potlode in die klas geskryf. St. 2 en 3 het penne met die los penpunte gebruik. Vulpenne is vanaf standerd 3 gebruik. (Balpuntpenne is toe nog nie gebruik nie.)
23) Skoolboeke is oorgetrek met bruin papier en plastiek.
24) Die roomyskarretjies (fietse met die klokkies)
25) Fiets- en hondelisensies!!!

As jy 0-3 onthou het = Jy is nog jonk.
As jy 3-6 onthou het = Jy word ouer.
As jy 7-10 onthou het = Moenie jou ouderdom vertel nie.
As jy 11-14 onthou het = Jy is positief oud!.


Hierdie herinneringe is van die beste tye in my lewe.

Skrywer: Anoniem

[Dankie, Valerie, vir die deel van hierdie lekker onthou!!]

Friday, 6 June 2025

Nostalgie

EK IS DUIDELIK OUD

Iemand het nou die dag gevra: "Wat was jou gunsteling 'kitskos' toe jy grootgeword het?"

"Ons het nie kitskos gehad toe ek grootgeword het nie," het ek hom meegedeel. "Al die kos was stadig."

"Kom, ernstig. Waar het jy geëet?"

"Dit was 'n plek wat 'huis' genoem word," het ek verduidelik!

"Ma het elke dag gekook en as pa van die werk af kom, het ons saam by die eetkamertafel gaan sit, en as ek nie gehou het van wat sy op my bord gesit het nie, is ek toegelaat om daar te sit totdat ek daarvan gehou het."

Teen hierdie tyd het die seun so hard gelag dat ek bang was dat hy ernstige interne skade sou opdoen, so ek het hom nie die deel vertel oor hoe ek toestemming moes hê om die tafel te verlaat nie.

Maar hier is 'n paar ander dinge wat ek hom oor my kinderjare sou vertel het as ek gedink het sy stelsel kon dit hanteer:

Sommige ouers het NOOIT hul eie huis besit nie, nie jeans gedra, voete op 'n gholfbaan gesit, die land uitgereis of 'n kredietkaart gehad nie.

My ouers het my nooit skool toe geneem nie. Ons het geloop. Sonder vrese.

My pa het 'n fiets gehad wat waarskynlik 50 pond geweeg het, en net een spoed gehad het - geen ratte (stadig) gehad nie. Werk toe gery daarmee.

Ons het nie 'n televisie in ons huis gehad totdat ek 20 was nie. Dit was natuurlik 'n swart en wit TV-stel, en die stasie het om 10 uur van die lug af gegaan, nadat die volkslied en epiloog gespeel is. Dit het omstreeks 6 uur weer op die lug gekom. En daar was gewoonlik 'n plaaslik vervaardigde nuus- en plaasprogram met plaaslike mense. Pizzas is nie by ons huis afgelewer nie.

Maar ... melk is afgelewer. Alle koerante is deur seuns afgelewer en die meeste seuns het koerante afgelewer. My broer het sewe dae per week 'n koerant afgelewer. Hy moes elke oggend om 6 opstaan.

Filmsterre het gesoen met toe monde. Ten minste het hulle dit in die rolprente gedoen. Daar was geen fliekgraderings nie, want alle flieks is verantwoordelik vervaardig vir almal om te geniet, sonder vloektaal of geweld of byna enigiets aanstootliks.

As jy grootgeword het in 'n generasie voordat daar kitskos was, wil jy dalk sommige van hierdie herinneringe met jou kinders of kleinkinders deel.

Moet my net nie kwalik neem as hulle 'n ingewandsbreuk van die lag oorhou nie. Om nou groot te word, is nie wat dit was nie, of hoe?

HERINNERINGE van 'n vriend: My pa is besig om my ouma se huis skoon te maak (sy is in Desember oorlede) en hy het vir my 'n ou lemonadebottel gebring. In die bottelnek was 'n prop met 'n klomp gaatjies in. Ek het dadelik geweet wat dit was, maar my dogter het geen idee gehad nie. Sy het gedink hulle het probeer om dit in 'n soutpot te verander. Ek het dit onmiddellik herken as die bottel wat aan die einde van die strykplank gestaan het om klere mee klam te maak, want ons het nie stoomysters gehad nie.

(Word vervolg)

Dankie, Valerie, vir hierdie herinneringstrippie!!

Wednesday, 16 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Gedagtes rondom reën

Besef ons werklik wat reën is?

Na 'n lang dor en droë winter in die Noord-Kaap, pak die onweerswolke saam. Dan blits die eerste weerligstraal na benede ... soos 'n sweepslag, en 'n paar oomblikke later volg die rammel van die donder. Die eerste groot druppels plons op die dorre aarde, wat dit gulsig en haastig verswelg. Nog meer reën ... dit stort emmersgewyse na benede. Die aarde word nat en die grond is deurweek.

Dit kletter op die sinkdakke en verkondig so die blye tyding. Die geute sukkel om die stroom water weg te voer. Spoedig word die bruin malende massa water in die strate omskep in rivierstrome -  die dreineringskanale kan kwalik bybly ...

Die bome, struike, plante, ja, selfs die huise is skoon gewas. Die storm bedaar geleidelik en die vars prentjie is onbeskryflik mooi. Die wolke trek stadig weg en skaam-skaam loer die sonstrale deur die wolke.  

Dan verskyn die pragtige reënboog teen die horison. Onwillekeurig dink jy hoe oupa en ouma vir jou as klein dogtertjie vertel het, dat as jy die reënboog kan vind, jy al die geluk van die wêreld sal hê. Jy glo dit, totdat jy groter is en besef geluk word nie deur die reënboog bepaal nie, maar deur innerlike vrede. 

Die aarde is skoongewas deur die reën. Die voëls hef 'n danklied aan en met die getjirp van die mossies in my ore, voel ek lus om saam te sing:
Reën, reën, lieflike reën
Val op die aarde, val om ons heen.  

[Dankie, aan 'n inwoner vir die jeugherinneringe.]

Sunday, 28 July 2024

Herinneringe: My grootouers

Hulle was liefdevolle siele ...

God het in sewe dae alles gemaak. Al die pragtige bome en die water. Hy het 'n wonderlike kleurvolle bal gemaak en dit Aarde genoem. Van alles wat Hy gemaak het, was my grootouers die beste, eintlik moet ek sê ... is die beste, want hulle leef nog steeds, maar net in 'n ander liggaam ...

Ek sê my grootouers is spesiaal. Maar hoe weet ek dit?

Ek het my ma gevra. Sy het my alles vertel, want ek het nie die geleentheid gehad om met hulle te praat nie. Ek hoor al hierdie wonderlike stories van hulle, maar hoe weet ek of dit waar is? Ek sit elke dag met talle vrae - soos watter soort mense was hulle ... Ek het egter nie geweet dat ek met al die antwoorde rondom my sit nie.

Hulle sê dat as God iets vat, gee hy iets beter ...

Ek kan opstaan en uitskree dat dit waar is. As ek sê ek weet alles van hulle, lieg ek, maar ek weet alles van hulle innerlike eienskappe ... want ek sien dit daagliks in iemand anders.

Wie?

My broer. 

Ek het saam met my ouers gebly tot ek vier jaar oud was. Dan het die lewe gekies om hulle ligte af te sit, sonder 'n groet! Nou bly ek saam met my broer en hy het al die eienskappe van my grootouers wat my ma vir my vertel het. Eienskappe soos 'n goeie hart, 'n liefdevolle persoonlikheid en 'n ongekende lewensvreugde.

In hom, leef hulle!

Ons het nie alles in ons huisie nie ... geen geld, geen karre, maar elke oggend word ek wakker met 'n glimlag op my gesig en my hart is vol van liefde. Die rede daarvoor is dat ek voel hoe warm en veilig dit in my huisie is ... en dit vir my is om alles te hê. Ek werk hard by die skool, want ek wil iets vir my broer doen, want hy is besig om na my te kyk. Ek wil vir hom 'n huis koop ... 'n Groot huis ... eendag ...

In my oë sien ek my grootouers in my broer. Dis hoekom ek kan sê hulle leef nog! Ek bid tot God om vir Hom te vra vir 'n dag, net 'n dag saam met hulle, om hulle te wys hoe dankbaar ek vir 'n boetie is wat my so lief het. Hoe dankbaar ek is dat hulle na my "kyk" en dat hulle altyd daar is ...

Net 'n dag ...

[Agostinho Nhancale - 14 September 2017]

Sunday, 7 July 2024

Herinneringe: 'n Briefie aan 'n oupa

Liewe Oupa

Respek is die eerste ding wat in my kop kom as ek aan Oupa dink.

Ek het Oupa gesien as die generaal van 'n familie wat sukses bereik het met die ondersteuning, wysheid en leiding van 'n liefdevolle vader en oupa. Oupa het my altyd opgebou om 'n beter mens te wees en om liefde en meegevoel vir ander te hê. Daar is dinge wat 'n kleinseun net by sy oupa kan leer, en ek het die beste voorbeeld gehad.

Oupa, dankie vir al die mooi stories en herinneringe wat ek saam met Oupa deur die jare kon opbou. Ek gaan baie na Oupa verlang en Oupa altyd in my hart saamdra. Oupa se lewenslesse gaan ook eendag my kinders se lewenslesse word. Ek was geseënd om iemand soos Oupa in my lewe te kon hê.

Ek is lief vir Oupa.

Oupa se oudste kleinseun

Sunday, 26 May 2024

Herinneringe: 'n Briefie aan 'n oupa

Oupa

Daar is soveel dinge wat Oupa al vir my vertel en geleer het. Al sal ek altyd die lesse en stories onthou, is daar een aspek van Oupa wat ek die meeste gaan mis en elke dag aan sal dink. Dit is die manier hoe Oupa altyd vol liefde en uit die hart en maag gelag het. Oupa was, is en sal altyd die persoon wees wat my en enige iemand kon laat beter voel deur net te glimlag.

Oupa het gelag net soos Oupa geleef het ... Voluit!

Elke ete om die tafel sonder Oupa se gebed en geselskap voel leeg en sinneloos, maar ek sal Oupa elke keer daar sien en hoor, al is Oupa nie daar nie.  

Oupa was ons skeinat- en strooipraatkoning en elke oomblik wat ek saam met Oupa onthou, goed en sleg, sal my altyd bybly. Oupa se diep stem sal altyd my hart warm hou en my veilig laat voel. Dankie!

Oupa se Engel

Sunday, 19 May 2024

Herinneringe: Briefie aan 'n oupa

Liewe Oupa

Ek kan net dankie sê dat ek deel kon wees van jou lewe, dat ek die voorreg gehad het om soveel wyshede van jou te kon leer en wanneer ons vashaak met skeinat en wiskunde, het jy gehelp om dit uit te redeneer.

Jou lag en vlymskerp sêgoed kan ons nooit vergeet nie. Jy was vir ons 'n ware voorbeeld en 'n liefdevolle oupa waarop elke kleinkind trots kan wees.

Oupa, ek gaan jou baie mis Jy laat 'n groot leemte na.

Maxie 

Sunday, 12 May 2024

Herinneringe: Briefie aan 'n ouma

Liewe Ouma

Na 86 jaar en 51 weke moes ons jou groet. Alhoewel my hart seer is om jou te laat gaan, weet ek dat jy nou veilig en sonder pyn is - en my herinneringskissie is vol kosbaarhede wat altyd tot troos sal wees.

Ek onthou hoe jy en oupa my keer op keer saam op vakansie geneem het en bederf het soos net 'n ouma en oupa kan. Ek onthou hoe jy saam met my op die strand en in rotspoele gespeel het.

Maar die belangrikste wat ouma my geleer het, is liefde. Ouma se verhouding met die Vader was altyd 'n voorbeeld van iemand wat na aan Hom wandel. Ouma se verhouding met ander was altyd 'n voorbeeld van hoe om in liefde met ander om te gaan. En ouma se verhouding met oupa bly vir my 'n voorbeeld van 'n huwelik wat in God gevestig was. Ouma het geglo dat 'n mens nooit kwaad vir iemand mag gaan slaap nie - en dit is 'n les wat ek altyd met my sal saamneem.

Dankie vir al ouma se liefde en omgee. Oral waar ouma gegaan het, het jy mense se lewens aangeraak: kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, familie, vriende, bure en selfs deur briewe aan sendelinge in verre lande te skryf.

Ek sal die kosbare herinneringe altyd in my hart saamdra.

Annelie 

[As iemand die skrywer van die stukkie ken, stuur asb. besonderhede sodat ons erkenning kan gee. Dankie vir die persoon wat die fotostaat op my tafel gesit het en op hierdie manier kan al die lesers deel in dié beskrywing van die mooi verhouding tussen verskillende geslagte.]

Saturday, 6 May 2023

Afrikaanse idiome en uitdrukkings

Klik HIER vir nog idiome.
Iemand het heerlik met Afrikaanse idiome en uitdrukkings (gesegdes) gespeel in ons wonderlike Afrikaanse taal. (Ken die jongmense nog almal?)

"Voor jy dalk hond se gedagtes kry dat ek muisneste het en kattekwaad aanvang deur 'n kat in die donker te knyp, kan ek die aap uit die mou laat dat jy nie hond haaraf gaan maak nie. Die kool is eenvoudig nie die sous werd nie, jy wil verniet die bobbejaan agter die bult gaan haal, ek is nie 'n vroetelvarkie nie.

Omdat ek twee linkervoete en rooi haakskene het, dans ek soos 'n kat op 'n warm plaat. Terwyl ek oor die onderdeur loer, stem my aand- en môrepraatjies nie ooreen nie en sing ek 'n ander deuntjie. Ek sing dan soos 'n kanarie. Ek weet dat die voëltjie wat saans die laaste fluit, soggens eerste deur die kat gevang word, daarom gaan ek saam met die hoenders slaap en lank voor hanekraai klim ek met die verkeerde voet uit die bed om my eiertjie te lê.
 
Dit het die naweek katte en honde gereën, maar ons hou darem nog kop bo water. Dit staan egter soos 'n paal bo water dat dit nie nodig is om water met 'n mandjie aan te dra nie. Voor die son water getrek het en die perde horings gekry het, moet ek nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie, ek moet die ou koeie uit die sloot grawe, die bul by die horings pak sodat die agteros in die kraal kan kom. Ek moet ook al my varkies op hok sit en daar by oom Daantjie se kalwerhok die kalf uit die put gaan haal.

As jy wors in die hondehok soek, onthou dat blaffende honde nie byt nie. Ek wou nog katte skiet, maar toe is die koeël deur die kerk en ek kry wingerdgriep. Dit was 'n bitter pil om te sluk. Ek was hoog in die takke, want ek het gehoor dat die hoogste bome die meeste wind vang. As die appel nie ver van die boom val nie, kan 'n mens die boom aan sy vrugte ken.
 
Ek kon nie die kar voor die perde span nie, en het toe maar twee rye spore geloop.

In die dorp het hulle gesê ek speel op Avbob se stoep en dat ek een van die dae 'n houtpak gaan aantrek. Ek het gesê dat ek met 'n goue lepel in die mond gebore is en dat ek nog nie die lepel in die dak gaan steek en boedel oorgee nie. Ek moet rondborstig erken dat die spyker in my doodskis, is dat bloed kruip waar dit nie kan loop nie.

As jy brood in die sweet van jou aangesig eet, moet jy nie met 'n mond vol tande staan nie, jy moet hare op jou tande hê, jy moet jou hand aan die ploeg slaan en die strydbyl begrawe. Weet jy hoe die vurk in die hef steek? As jy wolf skaapwagter maak, moet jy almal oor dieselfde kam skeer."

[Dankie, Rozetta Venter, dat jy hierdie taaljuweeltjies met die lesers deel. Klik HIER vir nog herinneringe.]