Sunday 28 July 2024

Herinneringe: My grootouers

Hulle was liefdevolle siele ...

God het in sewe dae alles gemaak. Al die pragtige bome en die water. Hy het 'n wonderlike kleurvolle bal gemaak en dit Aarde genoem. Van alles wat Hy gemaak het, was my grootouers die beste, eintlik moet ek sê ... is die beste, want hulle leef nog steeds, maar net in 'n ander liggaam ...

Ek sê my grootouers is spesiaal. Maar hoe weet ek dit?

Ek het my ma gevra. Sy het my alles vertel, want ek het nie die geleentheid gehad om met hulle te praat nie. Ek hoor al hierdie wonderlike stories van hulle, maar hoe weet ek of dit waar is? Ek sit elke dag met talle vrae - soos watter soort mense was hulle ... Ek het egter nie geweet dat ek met al die antwoorde rondom my sit nie.

Hulle sê dat as God iets vat, gee hy iets beter ...

Ek kan opstaan en uitskree dat dit waar is. As ek sê ek weet alles van hulle, lieg ek, maar ek weet alles van hulle innerlike eienskappe ... want ek sien dit daagliks in iemand anders.

Wie?

My broer. 

Ek het saam met my ouers gebly tot ek vier jaar oud was. Dan het die lewe gekies om hulle ligte af te sit, sonder 'n groet! Nou bly ek saam met my broer en hy het al die eienskappe van my grootouers wat my ma vir my vertel het. Eienskappe soos 'n goeie hart, 'n liefdevolle persoonlikheid en 'n ongekende lewensvreugde.

In hom, leef hulle!

Ons het nie alles in ons huisie nie ... geen geld, geen karre, maar elke oggend word ek wakker met 'n glimlag op my gesig en my hart is vol van liefde. Die rede daarvoor is dat ek voel hoe warm en veilig dit in my huisie is ... en dit vir my is om alles te hê. Ek werk hard by die skool, want ek wil iets vir my broer doen, want hy is besig om na my te kyk. Ek wil vir hom 'n huis koop ... 'n Groot huis ... eendag ...

In my oë sien ek my grootouers in my broer. Dis hoekom ek kan sê hulle leef nog! Ek bid tot God om vir Hom te vra vir 'n dag, net 'n dag saam met hulle, om hulle te wys hoe dankbaar ek vir 'n boetie is wat my so lief het. Hoe dankbaar ek is dat hulle na my "kyk" en dat hulle altyd daar is ...

Net 'n dag ...

[Agostinho Nhancale - 14 September 2017]

No comments:

Post a Comment