Die rye is lank.
Jy het vergeet hoe besig dit dié tyd op 'n Saterdagoggend in die supermark is. Jou oë val op die inhoud van die mandjies en waentjies van die ander mense in die ry.
Die een voor jou gaan vleis braai. Daar is pakkies vleis en wors, vuuraanstekers, koeldrank en brikette in sy waentjie. Voor hom is 'n oupa wat pakkies lekkers op die rak by die betaalpunt uitsoek. Eindelik besluit hy op'n pakkie en neem vier van dieselfde soort. Die boodskap is duidelik: Ouma het hom gestuur, want die vier kleinkinders kom kuier. Die lekkers moet presies dieselfde wees om konflik te vermy.
Jy draai effens skuins en die vroutjie agter jou se mandjie tref jou oog: een pakkie katkos, 'n tydskrif, een bakkie lasagne wat opgewarm kan word en 'n groot blok sjokolade. Jy staan ingedagte voor jou. Sy is waarskynlik 'n oujongnooi wat naweke alleen met haar kat deurbring.
Dit is jou beurt om te betaal en soos jy gewoonlik die inhoud van jou mandjie uitpak, wonder jy watter storie dit van jou vertel. Daar is piesangs en skoenpolitoer 'n pakkie papegaaikos, 'n sak hondekos en 'n lekkerny vir die kat. Dit sou seker daarop kon dui dat jy 'n diereliefhebber is. Oor die res is jy nie heeltemal seker nie.
Dan besef jy daar is 'n paar moontlikhede vir alle mandjies se inhoud en dat alles nie net voor die hand liggend verklaar kan word soos jy graag sou wou nie. Die vrou agter jou versorg dalk haar buurvrou se kat en die blok sjokolade is moontlik vir 'n kollega wat verjaar. En jy besef hoe bevooroordeeld 'n mens kan wees as jy nie die storie agter iemand se mandjie ken nie.
[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]
No comments:
Post a Comment