Friday 5 July 2024

Vrydag-terugflits: Elkeen is uniek ...

Min of meer alle begrippe in ons taal wat tyd of hoeveelheid aandui of beskrywend is, is relatief van aard.

Wat die modebewustes as elegant bestempel, mag jy as skreeulelik ervaar.

Terwyl een persoon mag dink die werk is onmoontlik baie, mag dit dalk vir iemand anders haalbaar wees.

As jy min geslaap het, mag iemand anders dit as heeltemal voldoende beskou. Wat vir die een persoon baie is, is vir die volgende persoon min. Wat vir die een persoon lank is, mag vir 'n ander persoon kort wees.

Alles hang van jou verwysingsraamwerk af. As jy met die minimum moet klaarkom, kan jy nie verstaan waarom sekere artikels as winskope bemark word nie. Die hoeveelheid kos of slaap of werk of ontspanning waaraan jy gewoond is, is nie noodwendig waaraan ander mense gewoond is nie.

Wonder jy waarom mense wat jy dink 'n groot inkomste verdien steeds skuld het, sal daar iemand anders wees wat dieselfde oor jou wonder aangesien hulle minder as jy verdien.

Inwoners van Hartswater of Hopetown mag Kimberley as 'n stad beskou. As jy in Kimberley woon, voel jy waarskynlik dat Bloemfontein 'n stad is. As Bloemfonteiner sal jy heel moontlik Pretoria, Kaapstad of Durban as 'n stad bestempel. Daar sal altyd iemand wees wat meer of minder het en daar sal altyd iemand wees wat meer of minder doen.

Ons verwysingsraamwerk is so uniek soos ons menswees. Soos 'n vingerafdruk of DNS waarvan geen mens s'n dieselfde is nie. Al veroorsaak dit soms konflik is dit ook wat interessantheid en verskeidenheid aan die lewe verleen.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller] 

No comments:

Post a Comment