Thursday, 25 July 2024

Maak die lewe die moeite werd

'n Moeder vertel in 'n tydskrifonderhoud van haar besigheid wat verskuif het en dat die nuwe perseel se groot vertoonvensters uitkyk op 'n baie besige spoorlyn. Die treine het nooit vinnig beweeg op hierdie stuk spoorlyn nie. Haar vierjarige dogtertjie het groot vreugde geput uit die treine wat elke dag, 'n paar keer op 'n dag daar verbygery het. Sy het naderhand die tye van die treine geken, dan het sy vinnig na die groot vertoonvensters gehardloop en vir die treindrywer en die kondukteur gewaai.

Met tyd het hulle ook begin terugwaai, en later het hulle die trein se toeter geblaas as hulle verbykom. Dit het haar dogtertjie se dag gemaak en met 'n groot glimlag op die gesiggie en ogies wat skitter van lekkerkry, het sy op en af gespring en gewaai en gelag.

Dit het vir drie jaar so aangegaan. Toe het dit tyd geword dat haar dogtertjie skool toe moes gaan en na sy haar die eerste dag afgelaai het, het sy baie hartseer na haar werk teruggekeer. Sy het die trein hoor aankom en by die groot venster gaan staan en terwyl die trein verbygekom het, kon sy sien almal se oë soek na die klein figuurtjie wat altyd so vol vreugde vir hulle gewaai het. Sy het by die venster gaan staan en baie hartseer so liggies vir hulle gewaai.

Die volgende dag was dit dieselde en sy het 'n kennisgewing gemaak wat gesê het dat haar dogtertjie nou skoolgaan.

Maar die volgende dag het die trein weer verbygekom en dit was vir haar asof hulle stadiger gery het en die oë het gesoek na die klein lyfie.

Twee dae later het die trein weer verbygekom en die volgende oomblik het dit gestop en oor die spoorlyne het die kondukteur gehardloop en by die voordeur ingekom. Hy het verduidelik wie hy was en wou net weet waar die vriendelike dogtertjie was. Tranerig het die moeder verduidelik dat sy nou skoolgaan en dat sy 'n kennisgewing in die venster gesit het. Hy sê toe dat hulle die kennisgewing gesien het, maar dit nie kon lees nie, en hulle was bekommerd dat sy dalk siek was.

Toe sê hy vir die moeder dat dit die hoogtepunt van sy dag was. Hy het deur groot probleme gegaan en hy was menige dag so moedeloos en as hulle hier verbygery het en haar skitterogies en groot glimlag gesien het, dan het hy sommer vergeet van al sy laste en probleme en dan was die dag sommer mooier.

Wat beteken jou menswees vir ander ...? Voel hulle sleg en depressief as hulle naby jou was of is jy soos die dogtertjie ... 'n ligstraal vir ander wat se stryd baie swaar is. Maar ten spyte van hulle moeilike omstandighede, is jou teenwoordigheid vir hulle 'n ligstraal en om net jou glimlag te sien, is vir hulle so 'n aanmoediging dat hulle sommer beter voel.

Onthou die Woord sê dat ons blydskap in die Here ons beskutting is.

Georgie.

[Dankie, Anoniem, vir die aanstuur van hierdie stukkie. Klik HIER vir nog boodskappe.]

No comments:

Post a Comment