Showing posts with label Oomblik van stilte. Show all posts
Showing posts with label Oomblik van stilte. Show all posts

Sunday, 26 July 2026

Oomblik van stilte: Rom. 9:25 & 26

Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde;
en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! Daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.

Moenie vrees dat jy in Suid-Afrika nie 'n kind van God is nie. Ons weet almal dat daar kinders van die Allerhoogste God is, wat God dien en nie sal terugstaan vir hulle God nie; wat weet dat hulle deur hulle geloof in Christus die Seun van God gered is en nie uit hulle werke nie.
God wil jou vandag gerusstel dat jy sy kind is; dat jy genade ontvang het en deur Christus se bloed gereinig en geheilig is.
In al die etniese groepe van Suid-Afrika, is daar opregtes van God Almagtig, wat deur die krag van God, geregtigheid ontvang het op grond van hulle geloof en nie deur werke nie.

Dankie, Here, vir U gerusstellende woord, wat my vrygemaak het van die straf vir my sonde. U krag en genade het my vrygemaak van sonde en U beskerm my van die bose. U is my daaglikse brood. U bloed reinig my. Ek is nou maar eenmaal die geseënde van die Here. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 19 July 2026

Oomblik van stilte: Psalm 102:18 - God sal jou hand vashou

"Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.”

Soms is dit baie moeilik om te bid. In sulke tye val jy maklik neerslagtigheid ten prooi, want selfs dit wat jou nog altyd staande gehou het, die teenwoordigheid van God, voel nie meer vir jou so werklik nie.
Dit voel asof God jou nie meer hoor nie, asof jou hulpgeroep en smeekgebede op dowe ore val. God is meteens ‘n afsydige vreemdeling – Hy wat altyd so naby aan jou was!

Wanneer ‘n mens só voel, skrik jy en glo jy vas dat jy teen God sondig. Maar wat jy as Christen nie besef nie, is dat ook hierdie tye, hoe vreemd dit ook al vir jou mag klink, baie vir jou geestelike vlak kan beteken. Jy dink verkeerdelik dat God Sy aangesig van jou af weggedraai het, nie meer vir jou omgee nie en dat jy nou verlore is!

In hierdie oomblikke moet ‘n mens altyd onthou dat jy net in geloof kan vashou aan die sekerheid van die teenwoordigheid van God in jou lewe. Jy moet leer om God ten alle tye te vertrou, sodat jy in die lig, maar ook in donker tye, God se hand kan vashou.

Geloof berus nie op emosies en gevoelens nie! Wanneer jy vas glo en God vertrou, word Sy teenwoordigheid vir jou ‘n vreugdevolle en gerusstellende werklikheid. Dan kan die donker tye maar kom en jy sal steeds weet dat God jou in Sy hand hou – tot in alle ewigheid!

Heilige Vader, help ons asseblief om wanneer die lewe donker word rondom ons, weg te kyk van onsself en ons probleme, en dat ons eerder na U wil vir ons lewe sal soek.
Amen

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 12 July 2026

Oomblik van stilte: Jy kan nie jou saligheid verloor nie

1. Jy het dit nie verdien nie, so jy kan dit nie verloor nie; dis jou geskenk van God (Ef. 2:8-9)
2. Jy is weer gebore, jy kan nie na geboorte terugkeer nie (2 Kor. 5:17)
3. Jy is verseël deur die Heilige Gees vir altyd (Ef. 1:13b)
4. Niks kan sy liefde stop nie (Rom. 8:38-39)
5. Die Ewige Lewe in Christus is 'n geskenk van genade - nie 'n toets nie (Rom. 6:23)
6. Jy wag nie om gered te word nie, jy is gered deur God se krag (1 Kor. 1:18)
7. God het jou geroep, geregverdig en verheerlik (Rom. 8:30)

Sunday, 5 July 2026

Oomblik van stilte: 'n Wag voor my mond

"Here, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.
" Psalm 141:3

Praterigheid is uiters noodlottig vir geestelike diepte. Die wesenlike lewe van ons gees vloei uit in ons spraak, en gevolglik is alle onnodige gepraat 'n verspilling van die lewenskragtigheid van die siel.

In vrugtekwekerye gebeur dit dikwels dat te veel bloeisels 'n goeie oes belemmer en selfs vrugte heeltemal uitskakel. Op dieselfde wyse maak praterigheid 'n siel vol bloeisels wat geen vrugte voortbring nie. Die ware aksie van die hart, in 'n paar goed gekose woorde in die Gees van God, sal in die gedagtes insink om vir altyd daar te bly; maar as dit verkwis word in 'n voortrammelende gesprek, lewer dit geen wins op nie. Dit is een van die grootste struikelblokke op weg na 'n dieper blywende gemeenskap met God.

Let op hoe mense dieselfde ding oor en oor kan vertel:
* hoe nietige gevalle vergroot en opgehelder word deur 'n wêreld van woord; 
* hoe dinge wat begrawe behoort te bly, uitgesleep word vir skinderdoeleindes;  
* hoe 'n waardelose onbenulligheid beredeneer en betwis word;
* hoe oor plegtige, diep dinge van die Heilige Gees op lughartige en oppervlakkige wyse gepraat word;
totdat iemand wat die doop van ware stilte in sy hart ontvang het, voel dat hy na 'n eensame hoekie moet vlug om die flarde van sy gemoed weer bymekaar te maak en sy rus in God terug te vind.

As ons al die tyd wat ons aan nuttelose geselskap bestee, liewer gebuik om Bybelstudie te doen of aan afgesonderde gebed te wy, sal ons spoedig 'n diepe sielerus en innerlike vrede ondervind.

Ons het nie net 'n reiniging van sonde nodig nie, maar 'n radikale sterwe aan ons eie lawaai, grootpraterigheid en praatsug.

Die genesing van praatsug kom van binne. Bid dat God 'n wag voor jou mond sal plaas en ervaar 'n geestelike verdieping in die stilte rondom jou.

[Die Kruisgesant]   

Sunday, 28 June 2026

Oomblik van stilte: Op. 22:20-21

Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!
Die genade van ons Here Jesus sy met julle almal! Amen.


Die heel laaste twee verse in die Bybel.
Jesus sê Hy kom gou. Sê jy ook, ja kom gou?
Is jy gereed? Nie uit jou eie kragte nie, maar deur die genade van Jesus Christus.
In vers 12 sê Jesus: Hy kom om elkeen te vergeld vir sy werke.
So, is ons gered uit genade of deur werke?
Joh. 15 verduidelik as ons nie vrugte dra nie, ons verbrand sal word.
Jou vrugte kom vanuit jou geloof in Christus.
Johannes die Doper sê duidelik dat ons vrugte moet dra wat by die bekering pas.
Paulus verduidelik dat net die genade van Jesus ons kan red.

Dankie, Here, dat U my gered het deur u genade. Ek wil U verheerlik deur my werke van geloof, deur u geregtigheid. Dankie, Heilige Gees, dat U my leer en lei elke dag. Christus is my hoop op heerlikheid. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 21 June 2026

Oomblik van stilte: Luk. 8:45a

Daarop sê Jesus: Wie is dit wat my aangeraak het?


Het jy vanoggend uitgereik na Jesus? 
Jou hoop sal nie kwyn nie. 
Jy het die geloof om die stap te neem en Jesus te vertrou.
God sal vir jou voorsien wat jy nodig het.
God sal sy engele aangaande jou beveel om jou op die hande te dra.
God is jou krag en jou beskerming en geen krag of mag kan jou skei van die liefde van Jesus nie.

Dankie, Vader, vir U liefde vir my. U is my krag en my genesing. U goedheid en geregtigheid beskerm my en gee my guns vanuit U skatkis vol skatte. Ek reik uit na U, in geloof. U sal my hoor en u regterhand is nie te kort om my te help en te beskerm nie. Ek gee U al die eer en heerlikheid. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 14 June 2026

Oomblik van stilte: Heb. 12:2b

die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof,

Waar jou oog is, is waar jou hart is.
Hou jou oog op Jesus, die antwoord op al jou probleme in jou lewe.
Jou Leidsman lei jou deur sy Heilige Gees in jou geloof om God se liefde en wil in jou lewe raak te sien.
Jesus vul jou geloof maksimaal na die maat wat Hy vir jou gegee het.
Jesus is jou oorwinning in al jou keuses en planne, tot eer van God in heerlikheid.

Dankie, my Vader, vir die grote liefde waarvan niks my kan skei van U nie. U geskenk, die Heilige Gees in my, hou my oë op U, in geloof tot vervulling van U woord oor my. U, sal in al my behoeftes voorsien. Met my oë gevestig op U, word my keuses soveel makliker en kan ek die duiwel en sy verleidings weerstaan. Ek loof U vir die geloof wat U in my binneste vestig. Amen 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 31 May 2026

Oomblik van stilte: Dan. 3:25

Kyk ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos 'n godeseun.

Drie manne wat weier om te buig voor 'n ander god as net die Almagtige God.

Hulle is geboei, binne in die uitermate verhitte vuur gegooi, so warm dat die manne wat hulle ingegooi het, verbrand het.

Let op, God neem nie die vuur weg nie, maar stuur sy Seun om hulle genadiglik by te staan en te red.

Die satan wil jou vernietig, hy sal die lewe vir jou hel maak, en selfs erger as wat jy verwag. Maar, Jesus se genade sal jou deurdra, al is jy geboei en magteloos en kan jy niks uitrig om jouself te red nie.

Al weet jy, jy doen reg, sal die vyand jou onverhoeds betrap. Jy sal van die hewigste en velste aanslae moet trotseer, maar God sal jou uitred uit die alles.

Om jou, kan die vyand selfs sterf, maar jy sal vry uitloop, omdat Christus se barmhartigheid vir jou gegee is.

Vers 30: Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die provinsie Babel.

My God en my koning, ek verbly my in u Naam! Vir ewig en altyd is U koning van alles wat is, want U is Skepper van als. Hoog en verhewe is u Naam. Selfs in die dal van doodskaduwee sal U my deurlei. Ek buig net voor U, Allerhoogste God en Vader. U sal altyd met my wees en almal sal sien, maar God se Seun is saam met my. Die ergste aanvalle sal my niks kan doen, want U het reeds vir my alles vooruit beplan. Selfs die Vyand sal U erken as die enigste God en U sal my voorspoedig laat wees, selfs in vreemde plekke. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 24 May 2026

Oomblik van stilte: 1 Kon. 3:9a

Gee dus u kneg 'n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk en tussen goed en kwaad te onderskei,


Die Here wil aan jou wysheid gee en dit begin met 'n opmerksame hart. 'n Hart wat na God se stem sal luister en doen wat God sê om te doen. Met so 'n hart sal jy God se Gees van onderskeiding hê.
Dan wil God jou mond aanraak om reg te spreek tot sy heerlikheid en eer.
Vers 26b: Want hulle het gesien dat daar goddelike wysheid in sy binneste was om reg te doen.
Dit is wat God aan jou wil gee, sy wysheid, deur sy Gees.

Dankie, Here, dat u wysheid my op die pad gehou het, deur my voete op die regte pad te rig. Here, gee my wysheid om goeie en regte besluite daagliks te neem deur u wysheid. Help my om U te aanbid, met u woorde van wysheid en 'n opregte hart in my binneste. Ek wil nie op mense of prinse vertrou nie, maar net op U. Ek wil u gebooie en insettinge onderhou. Ek dank U dat ek dit vanoggend kan bid van U, in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 17 May 2026

Oomblik van stilte: Jes. 6:3c

Die hele aarde is vol van sy heerlikheid. 

Met jou menslike oog sal jy niks sien nie, net die Heilige Gees kan jou oë open en die heerlikheid  en heerskappy van God aan jou uitwys. 
Oral om jou is die heerlikheid van God; om jou is die mooiste en beste heerlikheid van God sigbaar.
God wil Homself vandag aan jou openbaar.
Soek God en vra na Hom en Hy sal aan jou openbaar gemaak word.
Terwyl die engele saam sing, bewe die drumpelposte van God se huis en rook vul sy huis.

Dankie, Here, vir u engele wat aan U lof toebring. Die engele ken God en besing sy glorie dag en nag en sal nooit ophou om God te verheerlik nie; selfs die deurposte bewe terwyl die roepers dit uitroep: "Heilig heilig is die Here van die leërskare." In aanskoue daarvan het Jesaja sy onreinheid gesien en besef dat hy verlore is. Maar God sal my aanraak en ek sal ook uitroep: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 10 May 2026

Oomblik van stilte: 2 Kron. 20:9

As daar oor ons onheil kom - swaard, straf of pes of hongersnood - sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos.

Die hoofpunt vanoggend is om God aan te roep.
Die Here alleen wil jou uit al jou probleme, aanvalle, ongeregtigheid, en sonde verlos.
Maar, laat jou huis en almal wat daar ingaan, altyd weet dat die Naam van die Here God, alleen koning is in jou huis. Buig jou hoof na die aarde toe en aanbid God. 

O Here my God, ek roep U aan omdat u Naam in my huis is. Ek kom staan voor u aangesig, en roep U aan in my benoudheid. U sal my hoor as ek roep en U sal my verlos. Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan stand hou nie (vers 6b). Dankie, Here, dat U neergedaal het om in my huis te kom woon. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 3 May 2026

Oomblik van stilte: Ps. 111:5 Jod

Hy dink vir ewig aan sy verbond.

Die Here wat van ewigheid was en sal wees, maak nie verbonde en dan verbreek Hy dit weer later nie.
Hy het 'n vaste verbond met die mens, sy maaksel gemaak.
Hy het Homself uit sy hoogheid neergebuig vir jou en sy goedheid het jou aangeraak.
Hy het met sy dood vir die mens 'n ewige blyplek gemaak in sy eie koninkryk.
Hy het al jou sonde weggeneem en daarvoor met sy lewe betaal en jou gereinig, sodat jy voor Die Vader mag staan en nie sal sterf nie.
Glo in Jesus as die Seun van God en jy sal gered word.

O Here, goeie God en Vader, dankie vir u genadegawe van my verlossing van die voëlvanger se web. Dankie dat ek u voorhowe mag betree en in U Allerheiligste mag ingaan en saam met U maaltyd mag hou, ja, waarlik in u teenwoordigheid mag kom. Pe. U het aan U volk verlossing gestuur; Sade. U het u verbond vir ewig ingestel. Kaf. sy Naam is heilig en vreeslik (vers 9). Vers 10 Resj. Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen het 'n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 19 April 2026

Oomblik van stilte: Ps. 139:7-10

Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

Hierdie is 'n baie kosbare Psalm. Baie mense probeer vlug van God, wanneer iemand die Woord spreek verander hul die onderwerp. Soms vloek hul erger, want hulle skop teen die prikkels. Selfs Jona het probeer vlug, maar heellaas verniet! Jy kan nooit van God wegvlug nie. Hy ken jou gedagtes nog voor jy daaraan dink. Die grootste wonderwerk is ek en jy ... ja, selfs die asem het God in jou neus geblaas. Volgende keer as jy minderwaardig voel, gaan lees hierdie Psalm en dank God jou Vormeerder.

Gebed: Abba Vader, dankie vir U liefde. Dankie dat U my so wonderbaar gemaak het, die kroon van U skepping. Help ons om dit te besef. Seën en bewaar ons vandag in Jesus se naam. Amen!

Sunday, 5 April 2026

Oomblik van stilte: Romeine 8:32

Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

Die Bybel sê: 'As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.'

Een skrywer het die volgende vergelyking getref om hierdie teks in beeld uit te druk: Veronderstel 'n man kom op 'n kind af wat deur 'n klomp skurke aangerand word. Hy hardloop tussen hulle in, red die seun en vat hom na die hospitaal toe. Daar vind hy uit dat die kind 'n weeskind is en neem hom as sy eie aan en gee vir hom sy naam. Een nag, maande later, hoor die pa dat die seun in sy kamer huil. Hy gaan na hom toe en vra hoekom hy hartseer is. 'Ek is bekommerd oor die dag van môre, Pappa. Waar sal ek kos kry om te eet en klere om aan te trek? Waar gaan ek slaap?' 
Die pa is met reg ontsteld. 'Verstaan jy dan nie? Ek het my lewe gewaag om jou te red. Ek het die hospitaal vir jou behandeling betaal. Jy dra my naam. Ek noem jou my seun. Hoekom sal ek dit alles doen en dan nie aan jou behoeftes voldoen nie?'

Het God jou gered net sodat jy jouself moet bekommer?
Sal Hy jou leer om te loop, net sodat Hy kan toekyk hoe jy val? 
Sal Hy aan die kruis vir jou sondes sterf en dan jou gebede in die wind slaan? 
Die Skrif sê: 'Want Hy sal al sy engele beveel om jou op al jou weë te beskerm' (Psalm 91:11 NLV). 
Hou dis op om jouself te bekommer en staan vas op sy belofte dat Hy 'ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk...'

Lees gerus deur die loop van die dag die volgende gedeeltes: 
* Jer 10-13; 
* Matt 22:34-46; 
* Ps 64; 
* Spr 14:25-28

Sunday, 29 March 2026

Oomblik van stilte: Sef. 3:18a

Die wat bedroef is, ver weg van die fees, versamel Ek;

Draai vanoggend jou gesig en gedagtes weg van dit wat droefheid bring.
Moenie weer praat oor die slegte dae nie.
Sê vir jouself: Ek word versamel deur my God, en glo dit.
God se goedheid en barmhartigheid sal jou deur al jou smart en droefheid dra.

Onse Vader wat in die hemele is, U sal my versamel en na u feesmaal toe bring deur u liefde en genade vir my. U bring my na waters waar rus is. U is met my in die dal van doodskaduwee. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders. Ja, U sal ek elke dag loof. Ek draai my aangesig na U, my Verlosser. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 15 March 2026

Oomblik van stilte: 2 Kron. 19:9

En Hy het hulle bevel gegee en gesê: So moet julle handel in die vrees van die Here, met getrouheid en met 'n volkome hart.

Koning Jehosafat het die hele land deurgegaan en aan almal gesê hoe hulle God moes dien. Hy het 'n besluit geneem om almal se harte reg te kry en God eerste gestel.
Neem vandag 'n belangrike besluit in jou lewe; laat jou hart God behaag en stel Hom eerste.
Laat God toe om jou lewe te te verryk met sy Heilige Gees en sy ewige lewe in sy koninkryk. 

Dankie, Jesus, U het my kom haal toe my hart nog sleg was, in donkerte gehul en U het my geheel en al belig met u goedheid en guns. U weet ek was ontrou en net U bly getrou. Laat u Heilige Gees my U, met getrouheid dien en met 'n rein hart; 'n hart wat U gereinig en geheilig het met u bloed. Ek wil U loof en prys, u Naam verhoog. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 8 March 2026

Oomblik van stilte: Sef. 3:5

Die Here het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die Here is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie.

Vrees niks meer nie en laat jou hande nie slap hang nie! (vers 16b)
Die Here jou God is by jou, 'n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel. (vers 17)
Kyk in die tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot 'n lof en tot 'n roem wie se skande oor die hele aarde was.(vers 19)

Here, by U vertoef ek, by U alleen staan ek, want U bewaar my van die bose en U voorsien vir my, my daaglikse voedsel. U versamel my saam met die geseëndes onder die volke volgens die belofte aan u vriend Abraham. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 1 March 2026

Oomblik van stilte: Rom. 10:9&10

As jy met jou mond die Here Jesus bely en met hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het sal jy gered word;
Want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Op. 12:11
En hulle het hom (satan) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hul getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.

Oefen jou mond om oorwinnig in Christus uit te spreek.
Bely met jou mond dat Jesus die Here is tot jou redding.
Jou geloof in jou hart dat God Jesus uit die dode opgewek het, bring die geregtigheid, en die bloed van die Lam gee jou oorwinning.
Die Satan, die ou slang, word deur jou getuienis oorwin.

Dankie, Here, vir u woord in my en dit sal my mond bely dat U die Christus en my oorwinning is. Ek glo met my hart dat U die Seun van God is en dat God U uit die dode opgewek het. Ek sal getuig van die redding deur die bloed van die Lam. Ek weet in die geloof dat U my geregtigheid is. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 22 February 2026

Oomblik van stilte: Matt. 27:25

En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!

Pasop wat jy sê want jy kan jouself bind aan Satan se bose werke. Moenie vir Satan 'n deur oopmaak om in jou lewe te kom nie.
Israel, aangevoer deur die owerpriesters en oudstes, het Barábbas i.p.v. vir Jesus gekies.
Daarby het hulle gesê dat sy bloed oor hulle en hulle kinders kon kom.
En so het dit gebeur, 40 jaar later het die Romeine hulle byna uitgewis en is die hele Jerusalem verwoes en die Israeliete die wêreld vol weggevoer.
Tot vandag toe, 2000 jaar later, word Israel steeds getreiter en sterf nog baie van hulle (Hitler) op die slagveld.

Here, ek vra vergifnis as ek verkeerde dinge oor myself en my huis uitgespreek het. Here, ek bind ook ander vyandiggesinde mense se woorde wat oor my en my gesin uitgespreek is. Here ek bind myself en my gesin aan die Seun van God se bloedverbond en nou weet ek dat geen wapen wat teen my gesmee is, iets kan uitrig nie en dat elke woord wat teen ons uitgespreek is, in die gereg weerlê sal word. Ek en my gesin is nou maar eenmaal die geseëndes van die Here. Amen.

Sunday, 15 February 2026

Oomblik van stilte: Luk. 24:32

En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandend in ons toe Hy met ons op die pad gepraat het en Hy vir ons die skrifte uitgelê het nie?

Sodra jy met God begin praat, begin jou hart brand vir die openbaring van God se Woord. Hulle het toe met elf en die ander gaan praat. Hulle het vir hulle vertel hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.
Bid gereeld tot God en Hy sal die brood (die woord - sy liggaam) aan jou oopbreek en Homself aan jou openbaar.

Dankie vir u woord wat ek elke dag kan lees en dat U uself aan my openbaar by die breking van die brood. As U, u woord aan my openbaar deur die breking van die brood, die skrifte deur die Heilige Gees geïnspireer, is my hart brandend om meer van U te leer en wil ek dit graag met ander deel. Dankie, Here in Jesus se Naam. Amen.