Showing posts with label Herfs. Show all posts
Showing posts with label Herfs. Show all posts

Friday, 4 September 2026

Gedig: Die Goue Herfs

Die storms van die jeug het lankal bedaar,
nou rus die silwer sagkens in die haar.
Elke diep plooi is ’n padkaart van die tyd,
geteken deur liefde, deur verlies en deur stryd.

Die hande wat eens moes bou en moes beitel,
rus nou gevou, van die wêreld se hasejag vrygeskel.
Hulle dra die wysheid van jare se loop,
stille getuies van geloof en van hoop.

Die oë kyk sag na die horison se gloed,
met die wete dat elke seisoen was goed.
Nie meer gejaag deur die klok of die dag,
maar gevul met ’n diep, onwrikbare krag.

Dit is die herfs, die mooiste gety,
waar die vrug van die lewe ryp in jou bly.
’n Lewe vol spore, ’n pad klaar geloop,
Geseënd met herinnering, vrede en hoop.

[Internet - aangestuur]

Friday, 12 June 2026

Gedig: As kind al het jy in jou gemoed ...

[Kom maak 'n draai by die webwerf van dr. Jacques du Plessis en geniet die gedigte en verse wat ryk aan herinneringe is. Klik HIER en kuier sommer 'n hele naweek hier rond. Stuur gerus die adres vir jou kinders en kleinkinders oorsee.]

As kind al het jy in jou gemoed ...

beleggings gemaak
dat jou oudag oukei sal wees,
dat jy 'n lekker lang somer sal hê,
opgevolg deur 'n pragtige kleurryke en rustige herfs
gevolg deur 'n skielike winterryp
(want dis mos onvermydelik)
wat jou kwansuis kortstondig sou plattrek
en dan daai winterbries jou liggie doof.

Die oumanspad is soms 'n lang, lang winter
wat jou nie wil vergewe of laat gaan nie
of 'n herfs sonder blare, maar veldbrande
of 'n somer van sweet en droogte
of 'n lente sonder bloeisels en bye

ag, en sommigetjies sien nie eens die lente deur nie,
gekome en gegane sonder herinneringe; ontslape sade

"Luister, gee maar my kierie en pyne terug,
... kom, kom, laat ons aanstap."

Friday, 1 March 2024

Seisoene

Daar is verskillende seisoene in die lewe - lente, somer, herfs en winter. So kom daar in elke mens se lewe ook 'n sekere seisoen waarvan 'n mens dalk nie baie hou nie - dit kan herfs wees of winter - jy het jou redes. Slegte ervaringe en herinneringe speel 'n rol in jou houding teenoor die bepaalde seisoen.

Soms wanneer jy 'n herfsseisoen beleef, word jy beroof van jou werk, gesondheid of geliefde - dis soos die blare van die bome wat verkleur en dan afval. Dit laat 'n gevoel van verlies en somberheid in die gemoed - maar het ook sy eie mooi. Die gekleurde blaremat onder die boom vertel van 'n eens gesonde boom wat koelte verskaf het en 'n lus vir die oog was. 

Soms is dit nodig dat ons deur hierdie twee seisoene in ons lewens gaan, om gestroop te word van onsself om weer 'n nuwe begin te maak. Gestroop te raak van die eie ek en die goeie wat ons het, om die waarde daarvan te kan waardeer, te kan sien en voel wat ander mense deurgaan en ervaar, terwyl ek en jy ryk en verryk is. 

Daar is hoop na 'n winterseisoen - al lyk dit asof alles dood en koud is - daar is lewe en dit sien ons wanneer die lente aanbreek, wanneer nuwe blaartjies hul verskyning maak. 

As jy tans in 'n winterseisoen van jou lewe is, hou moed, daar sal weer 'n lentetyd met nuwe bloeisels en blaartjies aanbreek. 'n Seisoen waar jy weer die vreugdes sal ervaar van die somerson op jou gesig.

Hou jou oë gevestig op Jesus, die Voleinder, die Begin en die Einde - die Son van Geregtigheid.

[Dankie, Estelle, dat jy hierdie internetboodskap met almal deel.] 

Saturday, 20 April 2019

Omgeeblomme ...

Herfs wat met sy knypluggie vroegsoggens aan ons deur kom
klop, en sy eiesoortige mooi in die tuin strooi, is dit belangrik
dat ons nog steeds blomme in ons hart saamdra om ons deur
die winter te dra.