Showing posts with label Ouerliefde. Show all posts
Showing posts with label Ouerliefde. Show all posts

Sunday, 11 May 2025

Moedersdag: Martie beskryf die plek van 'n ma

"Nie almal is sekerlik so bevoorreg soos ek om 'n besonderse ma te hê nie. So aweregs, spitsvondig en positief soos sy, kry jy nie aldag nie.Sy't altyd 'n plan, sien nie probleme nie, maar oplossings. En sy het my so baie geleer van dinge doen en baasraak, en uitdagings aanvaar. Of dis dalk juis waaroor dit gaan: Elke ma is uitsonderlik.

Die ding van 'n ma is, sy pas so presies in daardie ruimte in jou lewe. Ma, mamma, moeder, moeks, mams - in elkeen se lewe is daar 'n pasgrootte ma-vormige plek wat net deur een mens gevul kan word. En as daardie ruimte eers leeg is, bly daar 'n leemte, beskryf dié wat nie meer ma's het nie, die gemis.

Die belangrikheid van daardie gevulde ruimte word eers waarlik duidelik wanneer jý die dag 'n ma is; daardie dag as jy jou mond oopmaak om vir jou kind iets te sê en daar hoor jy jou ma! Jy skrik eintlik, so onverwags is dit, die dag as jy jou ma word ...

Dis ma's met wie 'n mens spesiale reuke en smake verbind soos dié uit die kombuis van jou kinderdae. Resepte wat jou inspireer. En ek sien weer my dogter se gesig toe sy nou die dag haar ouma se kosbare resepteboek, weliswaar verweerd en opgebruik, in ontvangs neem: Die verlede word oorgedra in die hande van die toekoms, en dis 'n soort geskiedenisoordrag, 'n toekomsopdrag ... en dit is kosbaar ..."

[Martie Pansegrouw - redakteur van Rooi Rose, 6 Mei 2006]

Saturday, 11 May 2024

Môre is dit Moedersdag ...

Môre is dit Moedersdag wat regoor die wêreld gevier word. 'n Dag waar alle kinders, jonk en oud tot stilstand kom om spesiaal aandag te gee aan hulle moeders. 

Ons lewe in 'n tyd waar dit 'n gejaag is teen tyd om elke dag kos op die tafel te kan hê. Daardeur raak jy so gestres dat jy skoon vergeet dat jy 'n ma het om 'n drukkie te gee en vir haar te sê dat jy haar liefhet. 

Daar kom 'n tyd in elkeen van ons se lewens dat jou ma nie meer daar gaan wees nie ... dis dan wanneer spyt inskop: het ek maar ... maar dan is dit te laat. Die huis is leeg en die stoof is koud ... dit sal net nie meer dieselfde wees nie.

Mamma het jou in die wêreld gebring, nagte omgesit wanneer jy siek was ... wanneer daar miskien nie genoeg geld was, het sy honger gebly sodat jy kon eet ... onvoorwaardelike liefde van 'n ma ... die meeste van die tyd het haar bord kos koud geword omdat jy eerste in haar lewe was ...

My boodskap aan elke mens is: terwyl jy 'n ma het wat nog leef  ... RESPEKTEER haar en gee haar al jou LIEFDE ... al is haar vingers krom van die rumatiek en haar gesiggie beplooid ... sy verdien dit en GOD VERWAG DIT VAN JOU! (Efes 6:1,2) en daarmee saam 'n belofte dat jy 'n lang lewe sal hê op aarde. Onthou: 'n jong mamma kan ook sterf ... wees lief vir jou ma!

Van 'n mamma

Ns. Tel die foon op en bel haar gerus.

[Van 'n ander mamma wat dit op internet raakgelees het en ingestuur het.]

Sunday, 29 May 2022

ELKE MA SE SEER ...

Ek sit vandag en my gedagtes dwaal terug na 7 maande gelede. Die telefoon lui: "Môre my skat, ek wou net hoor of dit goed gaan met jou?" 
"Ja dankie, maar Mammie moet my verskoon ek is baie besig" 
"Jammer, ek wil ... Reg so my kind, ek verstaan, ons praat dan weer later, wil net gou-gou byvoeg, ek is lief vir jou en verlang na jou." 
"Ja dankie, ek ook," hoor ek myself sê net om so gou moontlik van haar ontslae te raak. 

Die assistente in kantoor lig 'n wenkbrou en kyk na my: "Is alles reg met jou moeder?" 
"Ja wat, sy is maar net verveeld, soos elke ander keer, dit is waarom sy skakel." 
En met 'n haastige: "Ek gaan gou uit om vir my iets te ete te koop!" was sy vergete. 

Moeder het nooit weer geskakel nie! Met pyn en verlange in my hart, hunker ek om net een keer weer haar stem hoor wat my tot 7 maande gelede so geïrriteer het, of om net een keer weer 'n drukkie wat ek so afstootlik gevind het, van haar te kry.

Trane rol oor my wange as ek kyk na die Checkers-strokie waarvan die ink al plek-plek verdwyn het, met R17.00 daarop geplaas. 

Ek onthou, ek moes vir haar brood en melk bring van die dorp en was uiters verontwaardig dat ek my kosbare tyd moes inspan vir haar. Kon sy dit dan nie self doen nie, besef sy dan nie ek het my eie lewe nie? Nee wat haar vermetelheid staan my nie aan nie, het ek onvergenoegd gedink. 

Ek het haar geskakel met die bedrag en nors versoek dat sy buite in die straat moes wag. Ek het slegs die pakkie deur die motorvenster voor die deur in haar hand gestop en die R17.00 wat sy na my uitgehou het, by die venster laat uitval in my haas om weg te kom voor sy my dalk iets wou aanbied om te eet of te drink. 

In die truspieëltjie het dit my opgeval hoe pateties sy gelyk het toe sy die geld in die pad opgetel het en my agterna gestaar het. Ek het my sommer opnuut weer vir haar vererg. 

Nee wat, regtig my ma is darem baie selfsugtig om te verwag ek my vrye tyd so vir haar moet opoffer. Sy moet besef ek werk ses dae van die week en ek is ook moeg. Terwyl ek nou terugdink ...

Ek moet erken, sy het nogal daardie dag baie bleek gelyk. Toe haar buurvrou my skakel en vra ek moet dadelik na Mammie se huis kom, want sy voel nie lekker nie, moes sy eers die simptome aan my verduidelik en ek sou besluit of dit ernstig genoeg klink. 

Nee regtig, was ek dan nie net 8 maande of is dit nou 9 maande gelede daar nie!

Dink sy ek het niks beter om te doen met my tyd nie? Hulle kan wag tot die naweek en as ek lus voel sal ek daar om ry. 

Maar helaas, die naweek was te laat. Die 10 minute se ry na Mammie se huis het vir my soos 'n leeftyd gevoel. Op haar kombuiskas langs die Checkers-strokie met die R17.00 was 'n bruin koevert aan my gerig. 

Ek het dit oopgemaak en die volgende gelees: 

"My liefste kind, hiermee 'n faktuur vir jou:
 
 1. Vir tye wat ek dit kon regkry om jou om te koop met petrolgeld, sodat ek jou kan sien vir miskien 15 minute - NO CHARGE
 
 2. Vir tye wat ek verneder was voor ander personeel by my werk, wanneer ek foute begaan het as gevolg van moegheid, omrede ek wakker gebly het deur die nag wanneer jy siek was - NO CHARGE 

 3. Vir nagte wat ek wakker gelê met jou op my bors, omrede dit al was waar jy wou slaap as jy siek was - NO CHARGE 

 4. Vir tye wat ek deur die nag aan jou skoolprojek gewerk het dat jy goeie punte kon behaal - NO CHARGE 

 5. Vir 18 jaar plus wat ek jou moes rondry na skoolaktiwiteite of net om jou giere te bevredig, terwyl ek soms siek was - NO CHARGE 

 6. Vir al die kere wat ek my kosgeldjie vir die werk gebruik het om jou gelukkig te maak met 'n geskenkie - NO CHARGE 

 7. Vir tye wat ek in my kamer gehuil het as ek na jou snikke moes luister na jou pakslae en ek mag jou nie getroos het nie - NO CHARGE 

 8. Vir tye wat jy my beskuldig het dat ek die oorsaak van rusie in ons huis was, terwyl ek slegs tussenbeide getree het om jou te beskerm as jy stout was - NO CHARGE 

 9. Die kere wat ek saam met jou gehuil het as jou hartjie gebreek was - NO CHARGE 

 10. Al die jare wat ek jou hare uitgeborsel het en jou net die beste gegee het en net die mooiste aangetrek het - NO CHARGE
 
 11. Al die nagte wat ek op jou klein bedjie by jou geslaap het, koud gekry het en vir jou deur die nag gesing het as jy bang was - NO CHARGE 

 12. Al die jare wat ek jou buie moes verduur het as iemand in die huis jou ongelukkig gemaak het - NO CHARGE 

 13. En wanneer jy terugdink aan nog ander insidente wanneer jy jou eie kindjie het - NO CHARGE 

Jammer ek het nie genoeg papier om verder te skrywe, dus ... die finale bedrag: Die voorreg om jou in my lewe te kon hê, dit was my betaling! 

Al my liefde
Mamma xxx

NB. My ontelbare, onmeetbare liefde vir jou wat jy nie meer van my wil hê nie - NO CHARGE !!!