Showing posts with label Winter. Show all posts
Showing posts with label Winter. Show all posts

Friday, 3 July 2026

Gedig: Die Hantam

As ouderdom, wat alles breek, sy volmag oor my kry,
Dan gaan ek na die Hantam waar ek hoort
En dra demoedig wat ‘n mens van ouderdom moet ly,
Voordat hy aanklop by die hemelspoort.
Dit lyk vir my die Hantam is die vredevolste plek
Hieronder op die wêreld wat ons het
Hoe lank die somersdae daar hul warm goud sonskyn rek,
Hoe jubel daar die vinke in hul pret,
Hoe skitter daar die voorjaarsprag in kleure honderdtal,
Hoe verf die najaarberge met sy bruin,
En in die koue winterstyd hoe raas die waterval
En blink kapok op elke berg se kruin.
Die wilde bok wat voel sy krag verminder as hy stry
Soek rustyd in die skuiltes van sy soort.
As ouderdom, wat alles breek, ‘n houvas oor my kry,
Dan vlug ek na die Hantam waar ek hoort.

[C. Louis Leipoldt]

Friday, 12 June 2026

Gedig: As kind al het jy in jou gemoed ...

[Kom maak 'n draai by die webwerf van dr. Jacques du Plessis en geniet die gedigte en verse wat ryk aan herinneringe is. Klik HIER en kuier sommer 'n hele naweek hier rond. Stuur gerus die adres vir jou kinders en kleinkinders oorsee.]

As kind al het jy in jou gemoed ...

beleggings gemaak
dat jou oudag oukei sal wees,
dat jy 'n lekker lang somer sal hê,
opgevolg deur 'n pragtige kleurryke en rustige herfs
gevolg deur 'n skielike winterryp
(want dis mos onvermydelik)
wat jou kwansuis kortstondig sou plattrek
en dan daai winterbries jou liggie doof.

Die oumanspad is soms 'n lang, lang winter
wat jou nie wil vergewe of laat gaan nie
of 'n herfs sonder blare, maar veldbrande
of 'n somer van sweet en droogte
of 'n lente sonder bloeisels en bye

ag, en sommigetjies sien nie eens die lente deur nie,
gekome en gegane sonder herinneringe; ontslape sade

"Luister, gee maar my kierie en pyne terug,
... kom, kom, laat ons aanstap."

Friday, 5 June 2026

Gedig: Winter

Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?

* N P van Wyk Louw

[Bron: HIER]

Thursday, 7 May 2026

Die stille Mei

Mei het stil-stil ingesluip ... soos daai eerste koue oggend waar jy dink dis nog herfs, maar jou tone weet dis al winter. 

En daar sit ons - hare in krullers, ’n warm koppie koffie in die hand, ’n warmwatersak wat sy eie persoonlikheid ontwikkel het - en ons besef: dis nie die ouderdom wat pla nie ... dis die “side effects!”

Daai knars in die knieë wat soos ’n ou houtvloer klink, die bril wat jy elke vyf minute soek terwyl hy al die tyd op jou kop sit, en die oomblik wanneer jy opstaan en vergeet hoekom jy opgestaan het! 

Maar weet jy wat?

Selfs met al hierdie “bywerkings,” is daar iets besonders aan hierdie seisoen van ons lewens.

Ons lag harder.
Ons waardeer die klein dinge meer.
Ons weet nou dat ’n koppie koffie nie net ’n drankie is nie - dis ’n oomblik van genade. 

Mei is hier - ’n nuwe maand, ’n nuwe kans om weer lig te bring, al voel ons soms soos daai hen met die krullers en die yssakkie!

Kom ons stap hierdie maand in met humor in ons harte, dankbaarheid in ons gees en ’n warm kombers naby genoeg vir noodgevalle. 

Mag Mei vir jou wees:
✨ vol lag
✨ vol vrede
✨ en net genoeg energie om elke dag met moed aan te pak

Onthou:
Ons raak nie oud nie ... ons raak net meer interessant! 

[Dankie, Valerie!]

Tuesday, 30 July 2024

Projek Winterhoop 2024

Die ACVV se projek in Leratopark se sukses is te danke aan elkeen se bydrae - sonder julle kon daar nie 'n Projek Winterhoop 2024 gewees het nie. Sommer 'n GROOT uit die hart DANKIE vir elkeen van julle. Julle bydrae maak die winter vir baie 'n bietjie draagliker. 

Friday, 1 March 2024

Seisoene

Daar is verskillende seisoene in die lewe - lente, somer, herfs en winter. So kom daar in elke mens se lewe ook 'n sekere seisoen waarvan 'n mens dalk nie baie hou nie - dit kan herfs wees of winter - jy het jou redes. Slegte ervaringe en herinneringe speel 'n rol in jou houding teenoor die bepaalde seisoen.

Soms wanneer jy 'n herfsseisoen beleef, word jy beroof van jou werk, gesondheid of geliefde - dis soos die blare van die bome wat verkleur en dan afval. Dit laat 'n gevoel van verlies en somberheid in die gemoed - maar het ook sy eie mooi. Die gekleurde blaremat onder die boom vertel van 'n eens gesonde boom wat koelte verskaf het en 'n lus vir die oog was. 

Soms is dit nodig dat ons deur hierdie twee seisoene in ons lewens gaan, om gestroop te word van onsself om weer 'n nuwe begin te maak. Gestroop te raak van die eie ek en die goeie wat ons het, om die waarde daarvan te kan waardeer, te kan sien en voel wat ander mense deurgaan en ervaar, terwyl ek en jy ryk en verryk is. 

Daar is hoop na 'n winterseisoen - al lyk dit asof alles dood en koud is - daar is lewe en dit sien ons wanneer die lente aanbreek, wanneer nuwe blaartjies hul verskyning maak. 

As jy tans in 'n winterseisoen van jou lewe is, hou moed, daar sal weer 'n lentetyd met nuwe bloeisels en blaartjies aanbreek. 'n Seisoen waar jy weer die vreugdes sal ervaar van die somerson op jou gesig.

Hou jou oë gevestig op Jesus, die Voleinder, die Begin en die Einde - die Son van Geregtigheid.

[Dankie, Estelle, dat jy hierdie internetboodskap met almal deel.] 

Tuesday, 22 March 2022

Dinsdag-denke: TOE IS DIT WINTER ...

Ek het dit eers vinnig gelees, tot ek by die derde sin gekom het ... Ek het opgehou en weer voor begin lees, maar dié keer stadiger - dit laat jou regtig stop en dink ...

Jy weet ... tyd het n manier om vinnig te loop en jou onverhoeds te betrap sonder dat jy aan die verbygaande jare dink. Dit voel soos gister dat ek jonk was. Tog, op n manier, voel dit soos n leeftyd gelede en ek wonder waar al die jare heen is. Ek weet dat ek almal geleef het, ek kry terugflitse van hoe dit tóé was, en ook van al my hoop en drome.

Maar hier is dit ... die winter van my lewe, en ek is verras ... hoe het ek so gou hier gekom? Waar is die jare heen, en wat het van my jeug geword? Ek onthou so goed hoe ek deur die jare na ouer mense gekyk en gedink het dat ek baie jare agter daardie ouer mense is, ... en dat die winter so ver weg was ... dat ek myself nie kon indink hoe dit moes wees nie.

Maar ... hier is dit ... my vriende word grys, en tree af ... hulle beweeg stadiger ... en ek sien nou ouer mense. Sommige lyk beter en ander slegter as ek ... maar, ek sien die groot verandering. Nie meer dié wat ek onthou wat jonk en lewenslustig was nie ... maar, soos ek, begin hulle ouderdom wys en óns is nou daardie ouer mense wat ek gesien, maar nooit gedink het ek ook sal word nie. Nou vind ek dat net om in die stort te klim, 'n regte prestasie vir die dag is. En 'n middagslapie is nie meer 'n bederfie nie, maar 'n vereiste! Want as ek dit nie uit my eie vrye wil doen nie ... raak ek bloot aan die slaap net daar waar ek sit!

En so betree ek 'n nuwe seisoen van my lewe ... onvoorbereid op al die skete en kwale, en die verlies van krag en die vermoë om te gaan doen wat ek nog altyd wou, maar nooit het nie! Maar ten minste weet ek, hoewel my winter gekom het, en ek nie seker is hoe lank dit sal duur nie ... weet ek dat, wanneer dit hier op aarde verby is, is dit verby ... 'n nuwe avontuur sal begin!

Ja, ek het verwyte, en ek is jammer oor dinge wat ek wens ek nie gedoen het nie, dinge wat ek moes gedoen het, en baie dinge wat ek gedoen het waaroor ek bly is. Dit is alles deel van 'n leeftyd.

So, as jy nog nie in die winter van jou lewe is nie, laat ek jou herinner dat dit vinniger hier sal wees as wat jy dink. So, wat jy ookal graag in jou lewe wil bereik, doen dit asseblief gou! Moenie dinge te lank uitstel nie! Die lewe gaan gou verby. Doen vandag wat jy kan, want jy kan nooit seker wees of hierdie jou winter is of nie! Jy het geen belofte dat jy al die seisoene van jou lewe gaan sien nie, só, leef vir vandag en sê vir jou geliefdes al die dinge wat jy wil hê hulle moet onthou ... en hoop dat hulle jou waardeer en liefhet vir al die dinge wat jy vir hulle in jou leeftyd gedoen het!

Die lewe is 'n geskenk aan jou, en die manier waarop jy jou lewe leef, is 'n geskenk aan dié met wie jy dit deel. 
  • Leef goed! 
  • Leef voluit! 
  • Geniet vandag, élke dag! 
  • Doen iets wat jy geniet! 
  • Wees lief vir ander! 
  • Déél wat jy het, moenie net daarmee "brag" nie.
Goeie gesóndheid is ware rykdom, nie goud en silwer nie.

Vriendskap met familie en vriende is rykdom. As julle om watter rede ookal uitmekaar gedryf het, vergewe en vergeet ... leef vorentoe en nie in die verlede nie, want môre mag dalk nooit aanbreek nie!

Vandag is die oudste wat jy nóg was en tog ook die jongste wat jy ooit sal wees - so, geniet hierdie dag vir solank dit duur!

Jou kinders is goed ... maar jou kleinkinders is volmaak!

Om uit te gaan is goed, maar om by die huis terug te kom is beter!

Jy vergeet name ... maar dis okay want daar is mense wat vergeet dat hulle jou ooit geken het!

Die dinge wat jy altyd graag gedoen het, doen jy nie meer nie, maar jy dink nogal daaraan dat jy nie regtig meer omgee dat jy dit nie meer doen nie ...

Jy slaap beter in n leunstoel voor die lawaaierige TV as in jou bed ...

Jy mis daardie dae toe alles met net 'n AAN- of AF-skakelaar gewerk het ...

Jy is geneig om meer kort woordsinne te gebruik soos "Waar?" "Hoesê?" ...

Noudat jy duur juwele kan bekostig, is dit nie veilig om dit êrens heen te dra nie ...

Jy merk dat alles wat in winkels verkoop word, is "mouloos" ...

Wat altyd sproetjies was, is nou "lewervlekke" ...

Jy het 3 groottes klere in jou hangkas ... 2 waarvan jy nooit sal dra nie ...

Maar OUD is goed in sommige dinge: OU liedjies, OU flieks, en beste van alles ... OU VRIENDE!!!

Mooi bly, my OU VRIEND!

Stuur hierdie aan OU VRIENDE ... dit is nie dit wat jy bymekaarmaak nie, maar dit wat jy uitdeel wat vertel van die soort lewe wat jy geleef het!

[Lees nog Dinsdag-denke HIER]

Sunday, 6 June 2021

As jou blare afval ...

Dit raak winter en ons sien daagliks hoe kaal die bome begin raak. Alles wat eers groen was se blare begin verkleur na geel, ander rooi en dan sien jy hoe die grond daarmee ingekleur word. Dan een oggend as jy opstaan is alles dood en kaal. Ons dink dalk dit is kaal en dood, maar eintlik gaan alles net in 'n rusperiode. Dieselfde gras wat doodgeryp het, of die boom, sal oor 'n paar maande nuwe blare begin uitstoot. Die gras sal weer groei. Bome sal begin vrugte dra en die wêreld sal van vaal na groen verander. Die wegkruip in jou huis, sal plek maak vir uitgaan en in jou tuin gaan wandel. Of die wat gelukkig is, sal langs die strand gaan stap. Die donker tye wat verby gaan en plek maak vir opgewondheid en lag.

Jou lewe kan dalk nou in somer wees, maar ongelukkig kan koue enige tyd intree. 

Tye wat sy tol op jou lewe eis. Dalk is dit tye van hartseer, of tye van alleen wees. Ons almal is nie altyd so gelukkig om net somer te hê nie. Alles raak dalk vaal en al wat jy sien is die dooie takke en dor lande. Jy wil jou kop onder die komberse wegsteek en in jou kamer bly. Tog is hierdie nie die einde nie. Jy is in 'n rusperiode. 

Jy voel dalk dit sal nooit beter raak nie. Ons bid tog wanneer dit swaar gaan of wanneer dit nie reën nie. Dalk wag ons 6 maande of 7 jaar, God slaap nie. God sal die reën en groei bring, solank ons aan Hom vashou. Vertrou op Hom, Hy sal jou krag gee. Hy sal jou versterk. Eer en vertrou Hom.

Jes. 40: 29-31
"Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie."

Psalm 50: 15
"Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”
Jacques Barnard 15/05/2021

[Gaan besoek gerus hierdie FB vir inspirasie.]

Saturday, 5 June 2021

TOE IS DIT WINTER ...

Ek het dit eers vinnig gelees, tot ek by die derde sin gekom het ... Ek het opgehou en weer voor begin lees, maar dié keer stadiger - dit laat jou regtig stop en dink ... 

Jy weet ... tyd het 'n manier om vinnig te loop en jou onverhoeds te betrap sonder dat jy aan die verbygaande jare dink. Dit voel soos net gister wat ek jonk was. Tog, op 'n manier, voel dit soos 'n leeftyd gelede en ek wonder waar al die jare heen is. Ek weet dat ek almal geleef het, ek kry terugflitse van hoe dit tóé was, en ook van al my hoop en drome.

Maar hier is dit ... die winter van my lewe, en ek is verras ... hoe het ek so gou hier gekom? Waar is die jare heen, en wat het van my jeug geword? Ek onthou so goed hoe ek deur die jare na ouer mense gekyk en gedink het dat ek baie jare agter daardie ouer mense is, ... en dat die winter so ver weg was ... dat ek myself nie kon indink hoe dit moes wees nie.

Maar ... hier is dit ... my vriende word grys, en tree af ... hulle beweeg stadiger ... en ek sien nou ouer mense. Sommige lyk beter en ander slegter as ek ... maar, ek sien die groot verandering. Nie meer dié wat ek onthou wat jonk en lewenslustig was nie ... maar, soos ek, begin hulle ouderdom wys en óns is nou daardie ouer mense wat ek gesien, maar nooit gedink het ek ook sal word nie. Nou vind ek dat net om in die stort te klim 'n regte prestasie vir die dag is. En 'n middagslapie is nie meer 'n bederfie nie, maar 'n vereiste! Want as ek dit nie uit my eie vrye wil doen nie ... raak ek bloot aan die slaap net daar waar ek sit!

En so betree ek n nuwe seisoen van my lewe ... onvoorbereid op al die skete en kwale, en die verlies van krag en die vermoë om te gaan doen wat ek nog altyd wou, maar nooit het nie! Maar ten minste weet ek, hoewel my winter gekom het, ek nie seker is hoe lank dit sal duur nie ... weet ek dat, wanneer dit hier op aarde verby is, is dit verby ... 'n nuwe avontuur sal begin!

Ja, ek het verwyte, en ek is jammer oor dinge wat ek wens ek nie gedoen het nie, dinge wat ek moes gedoen het, en baie dinge wat ek gedoen het waaroor ek bly is. Dit is alles deel van 'n leeftyd.

So, as jy nog nie in die winter van jou lewe is nie, laat ek jou herinner dat dit vinniger hier sal wees as wat jy dink. So, wat jy ookal graag in jou lewe wil bereik, doen dit asseblief gou! Moenie dinge te lank uitstel nie! Die lewe gaan gou verby. Doen vandag wat jy kan, want jy kan nooit seker wees of hierdie jou winter is of nie! Jy het geen belofte dat jy al die seisoene van jou lewe gaan sien nie, so leef vir vandag en sê vir jou geliefdes al die dinge wat jy wil hê hulle moet onthou ... en hoop dat hulle jou waardeer en liefhet vir al die dinge wat jy vir hulle in jou leeftyd gedoen het!

Die lewe is 'n geskenk aan jou, en die manier waarop jy jou lewe leef, is 'n geskenk aan dié met wie jy dit deel. Leef goed! Leef voluit! Geniet vandag, élke dag! Doen iets wat jy geniet! Wees lief vir ander! Déél wat jy het, moenie net daarmee "brag" nie.

Goeie gesóndheid is ware rykdom, nie goud en silwer nie.

Vriendskap met familie en vriende is rykdom. As julle om watter rede ookal uitmekaar gedryf het, vergewe en vergeet ... leef vorentoe en nie in die verlede nie, want môre mag dalk nooit aanbreek nie!

Vandag is die oudste wat jy  nóg was en tog ook die jongste wat jy ooit sal wees - so, geniet hierdie dag vir solank dit duur!

Jou kinders is goed ... maar jou kleinkinders is volmaak!

Om uit te gaan is goed, maar om by die huis terug te kom is beter!

Jy vergeet name ... maar dis okay, want daar is mense wat vergeet dat hulle jou ooit geken het!

Die dinge wat jy altyd graag gedoen het, doen jy nie meer nie, maar jy dink nogal daaraan dat jy nie regtig meer omgee dat jy dit nie meer doen nie ...

Jy slaap beter in n leunstoel voor die blêrende TV as in jou bed ...

Jy mis daardie dae toe alles met net 'n AAN- of AF-skakelaar gewerk het ...

Jy is geneig om meer kort woordsinne te gebruik soos "waar?" "hoesê?" ...

Noudat jy duur juwele kan bekostig, is dit nie veilig om dit enigiewers te dra nie ...

Jy merk dat alles wat in winkels verkoop word, is "mouloos" ...

Wat altyd sproetjies was, is nou "lewervlekke" ...

Jy het 3 groottes klere in jou hangkas ... 2 waarvan jy nooit sal dra nie ...

Maar OUD is goed in sommige dinge: OU liedjies, OU flieks, en beste van alles ... OU VRIENDE!!!

Mooi bly, my OU VRIEND(IN)...!

Stuur hierdie aan OU VRIENDE ... dit is nie dit wat jy bymekaarmaak nie, maar dit wat jy uitdeel wat vertel van die soort lewe wat jy geleef het!

[Dankie, Babsie Swanepoel wat hierdie ongelooflike stukkie met ons deel.] 

Sunday, 1 September 2019

Saturday, 20 April 2019

Omgeeblomme ...

Herfs wat met sy knypluggie vroegsoggens aan ons deur kom
klop, en sy eiesoortige mooi in die tuin strooi, is dit belangrik
dat ons nog steeds blomme in ons hart saamdra om ons deur
die winter te dra.