Showing posts with label Psalm. Show all posts
Showing posts with label Psalm. Show all posts

Sunday, 19 July 2026

Oomblik van stilte: Psalm 102:18 - God sal jou hand vashou

"Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.”

Soms is dit baie moeilik om te bid. In sulke tye val jy maklik neerslagtigheid ten prooi, want selfs dit wat jou nog altyd staande gehou het, die teenwoordigheid van God, voel nie meer vir jou so werklik nie.
Dit voel asof God jou nie meer hoor nie, asof jou hulpgeroep en smeekgebede op dowe ore val. God is meteens ‘n afsydige vreemdeling – Hy wat altyd so naby aan jou was!

Wanneer ‘n mens só voel, skrik jy en glo jy vas dat jy teen God sondig. Maar wat jy as Christen nie besef nie, is dat ook hierdie tye, hoe vreemd dit ook al vir jou mag klink, baie vir jou geestelike vlak kan beteken. Jy dink verkeerdelik dat God Sy aangesig van jou af weggedraai het, nie meer vir jou omgee nie en dat jy nou verlore is!

In hierdie oomblikke moet ‘n mens altyd onthou dat jy net in geloof kan vashou aan die sekerheid van die teenwoordigheid van God in jou lewe. Jy moet leer om God ten alle tye te vertrou, sodat jy in die lig, maar ook in donker tye, God se hand kan vashou.

Geloof berus nie op emosies en gevoelens nie! Wanneer jy vas glo en God vertrou, word Sy teenwoordigheid vir jou ‘n vreugdevolle en gerusstellende werklikheid. Dan kan die donker tye maar kom en jy sal steeds weet dat God jou in Sy hand hou – tot in alle ewigheid!

Heilige Vader, help ons asseblief om wanneer die lewe donker word rondom ons, weg te kyk van onsself en ons probleme, en dat ons eerder na U wil vir ons lewe sal soek.
Amen

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 5 July 2026

Oomblik van stilte: 'n Wag voor my mond

"Here, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.
" Psalm 141:3

Praterigheid is uiters noodlottig vir geestelike diepte. Die wesenlike lewe van ons gees vloei uit in ons spraak, en gevolglik is alle onnodige gepraat 'n verspilling van die lewenskragtigheid van die siel.

In vrugtekwekerye gebeur dit dikwels dat te veel bloeisels 'n goeie oes belemmer en selfs vrugte heeltemal uitskakel. Op dieselfde wyse maak praterigheid 'n siel vol bloeisels wat geen vrugte voortbring nie. Die ware aksie van die hart, in 'n paar goed gekose woorde in die Gees van God, sal in die gedagtes insink om vir altyd daar te bly; maar as dit verkwis word in 'n voortrammelende gesprek, lewer dit geen wins op nie. Dit is een van die grootste struikelblokke op weg na 'n dieper blywende gemeenskap met God.

Let op hoe mense dieselfde ding oor en oor kan vertel:
* hoe nietige gevalle vergroot en opgehelder word deur 'n wêreld van woord; 
* hoe dinge wat begrawe behoort te bly, uitgesleep word vir skinderdoeleindes;  
* hoe 'n waardelose onbenulligheid beredeneer en betwis word;
* hoe oor plegtige, diep dinge van die Heilige Gees op lughartige en oppervlakkige wyse gepraat word;
totdat iemand wat die doop van ware stilte in sy hart ontvang het, voel dat hy na 'n eensame hoekie moet vlug om die flarde van sy gemoed weer bymekaar te maak en sy rus in God terug te vind.

As ons al die tyd wat ons aan nuttelose geselskap bestee, liewer gebuik om Bybelstudie te doen of aan afgesonderde gebed te wy, sal ons spoedig 'n diepe sielerus en innerlike vrede ondervind.

Ons het nie net 'n reiniging van sonde nodig nie, maar 'n radikale sterwe aan ons eie lawaai, grootpraterigheid en praatsug.

Die genesing van praatsug kom van binne. Bid dat God 'n wag voor jou mond sal plaas en ervaar 'n geestelike verdieping in die stilte rondom jou.

[Die Kruisgesant]   

Monday, 22 June 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Psalm 71

Nou dat ek oud geword het
By U, Here, skuil ek,
laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!
Red my en bevry my, want U is getrou.
Luister tog na my en help my!
Wees vir my 'n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.
My God, bevry my uit die hand van goddeloses,
uit die greep van skurke en verdrukkers,
want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af vertrou.
U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.
U loof ek gedurigdeur.
Ek is vir baie 'n wonder,
want U is my veilige toevlug.
Ek besing u lof en u roem gedurigdeur.
Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie,
moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie.
My vyande sweer saam teen my,
dié wat my lewe soek, smee 'n komplot teen my.
Hulle sê: “God het hom alleen gelaat!
Agtervolg hom en gryp hom,
want daar is niemand om hom te red nie!”
Moet tog nie ver van my af bly nie, o God,
kom my tog gou te hulp, my God!
Laat dié wat my vals beskuldig,
self in die ellende beland en vernietig word.
Laat oor dié wat my ondergang soek,
net skande en mislukking kom.
Ek, ek sal gedurigdeur bly hoop,
ek sal U altyd weer loof.
Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk,
van u reddingsdade bly praat,
want hulle is meer as wat ek kan tel.
Ek kom om u magtige dade te prys, Here my God,
die verlossingswerk wat net U kan doen.
U het my van jongs af onderrig, o God,
en ek getuig nou nog van u kragtige dade.
Nou dat ek oud en grys geword het,
moet U my tog nie alleen laat nie, o God,
dat ek nog aan die geslagte wat kom,
kan vertel van u werk en u mag.
U verlossingswerk, o God, is oneindig groot;
groot is die dinge wat U gedoen het!
Wie is soos U, o God?
U het talle benoude ervaringe oor my gebring,
maar elke keer weer my lewe gered,
my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood.
Herstel my tog in my eer, gee tog uitkoms!
Dan sal ek U met die harp loof vir u getrouheid, my God,
saam met die lier sal ek sing tot u eer, Heilige van Israel.
Ek sal jubel as ek tot u eer sing,
omdat U my gered het.
Ek sal die hele dag deur praat van u verlossingswerk,
want dié wat my ondergang soek,
staan teleurgestel in hulle verwagting;
hulle beland self in die ellende.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992.

Sunday, 3 May 2026

Oomblik van stilte: Ps. 111:5 Jod

Hy dink vir ewig aan sy verbond.

Die Here wat van ewigheid was en sal wees, maak nie verbonde en dan verbreek Hy dit weer later nie.
Hy het 'n vaste verbond met die mens, sy maaksel gemaak.
Hy het Homself uit sy hoogheid neergebuig vir jou en sy goedheid het jou aangeraak.
Hy het met sy dood vir die mens 'n ewige blyplek gemaak in sy eie koninkryk.
Hy het al jou sonde weggeneem en daarvoor met sy lewe betaal en jou gereinig, sodat jy voor Die Vader mag staan en nie sal sterf nie.
Glo in Jesus as die Seun van God en jy sal gered word.

O Here, goeie God en Vader, dankie vir u genadegawe van my verlossing van die voëlvanger se web. Dankie dat ek u voorhowe mag betree en in U Allerheiligste mag ingaan en saam met U maaltyd mag hou, ja, waarlik in u teenwoordigheid mag kom. Pe. U het aan U volk verlossing gestuur; Sade. U het u verbond vir ewig ingestel. Kaf. sy Naam is heilig en vreeslik (vers 9). Vers 10 Resj. Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen het 'n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 19 April 2026

Oomblik van stilte: Ps. 139:7-10

Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

Hierdie is 'n baie kosbare Psalm. Baie mense probeer vlug van God, wanneer iemand die Woord spreek verander hul die onderwerp. Soms vloek hul erger, want hulle skop teen die prikkels. Selfs Jona het probeer vlug, maar heellaas verniet! Jy kan nooit van God wegvlug nie. Hy ken jou gedagtes nog voor jy daaraan dink. Die grootste wonderwerk is ek en jy ... ja, selfs die asem het God in jou neus geblaas. Volgende keer as jy minderwaardig voel, gaan lees hierdie Psalm en dank God jou Vormeerder.

Gebed: Abba Vader, dankie vir U liefde. Dankie dat U my so wonderbaar gemaak het, die kroon van U skepping. Help ons om dit te besef. Seën en bewaar ons vandag in Jesus se naam. Amen!

Sunday, 8 February 2026

Oomblik van stilte: Ps. 27:1

Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe vir wie sou ek vervaard wees
?

Wanneer angs of vrees of onsekerheid jou gedagtes oorneem, gaan sit by God en raak stil om sy wysheid te bekom.
Moenie oorhaastig wees nie. Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here! (vers 14)
Ps. 37:3a Vertou op die Here en doen wat goed is.
Vers 4a en verlustig jou in die Here.
Vers 5 Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom.
Vers 7 Swyg voor die Here en verwag Hom.
Heb. 13:6 Daarom kan ons met alle vrymoedig sê: Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?
Ps. 50:15 Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet my eer.

Dankie, God en my Heer, ek eer U. Amen!

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 1 February 2026

Oomblik van stilte: Ps. 34:2+3a

Ek wil die Here loof ja altyd loof; Sy lof sal altyddeur in my mond wees. My siel sal hom beroem in Here;


Vanoggend staan die Here gereed om jou te seën deur sy genade en in sy guns toe te draai. Wees bly en verheug jou in die goedheid van die Here.
As jy wakker word loof die Here; laat die eerste woorde uit jou mond woorde van lof wees vir God.
Wees dankbaar vir alles wat God vir jou gedoen en gegee het.

Here, ek is so opgewonde om vanoggend weer wakker te word deur u genade. Ek wil U loof met my mond van vroegoggend tot laataand. Ek weet vandag sal ek weer deur U geseën word en u guns beleef. Ek staan in blydskap op en lig my hande op na U, met die wete dat U my gereinig en geheilig het tot heerlikheid van u grote Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 4 January 2026

Oomblik van stilte: Ps. 148:5

Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en dit het ontstaan. 

In alles wat jy vandag doen, prys die Here. 
Alles wat geskape is, prys die Here, die engele, die heelal, en alles wat op aarde is, elke stilte en elke storm, diepte en hoogte.
Prys die Here solank jy lewe en bring Hom lof terwyl jy nog daar is. (Ps. 14:2)
Vind jou genesing, krag en vreugde in die lof wat jy aan God bring.

Here, ek loof U vir wie U is. Heilige Gees bly by my en lei my in aanbidding en lofprysing aan die Vader. Jesus, U is my krag en my sterkte. Laat u Naam groot gemaak word onder die lofsange van u skepping, in die hemele en op aarde. Laat my die lof en aanbidding hoor van U skepping. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 5 October 2025

Oomblik van stilte: Ps. 38:16

want op U, Here; wag ek; Ú sal verhoor, Here my God!

Hoekom wag jý op die Here; verwag jy straf vir jou ongeregtigheid? Of verwag jy hulp van God?
Jesus het vir al jou ongeregtigheid betaal en jou gereinig. 
Laat jou nie ophou met leuens van die wêreld en van Satan nie.
Die Here het jou sy eiendom gemaak en sal jou nie begewe nie.
Laat jou hart gedurig juig in die Here jou Redder.

Here, U is my Verlossing van die dood. U genade dra my dag vir dag. Ek wag op U, U versterk my en lei my in geregtigheid, om u Naam ontwil. Hierdie dag sal ek weereens U goedheid ervaar en sien hoe U die antwoord op al my probleme is. Van U is my verwagting, u barmhartigheid red en genees my. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 1 June 2025

Oomblik van stilte: Ps. 13:6

Maar ek, op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil. Ek wil sing tot eer van Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Die vraag was al baie keer gevra: Het jy al ooit aan al die goeie dinge gedink wat God vir jou gedoen het? Onthou jy al die goeie dinge wat God vir jou, jou kinders en familie en vriende gedoen het? Onthou jy hoe goed God vir jou was by jou werk en besigheid en hoe Hy jou geseën het met sy voorsiening?
Miskien is dit nou die tyd om Hom te dank, eerstens vir sy bloed wat jou genees, gereinig en geheilig het.
Sê vir God dankie vir jou daaglikse brood en ander aardse rykdomme waarmee Hy jou seën. 
Sê ook dankie vir jou genesing in jou siel en liggaam. 

Here, ek prys U vir u goedheid en barmhartigheid oor my. Op mense kan ek nie vertrou nie selfs nie op prinse nie. Oor U juig my hart en sal ek van U goedertierenheid vertel. U het aan my goed gedoen en ek sal u Naam besing en lof bring. Amen.

Sunday, 25 May 2025

Oomblik van stilte: Ps. 100

Juig voor die Here. o ganse aarde! 

Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, die volk en die skape van sy weide. 
Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.
Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.

O Here, U alleen is die ware Allerhoogste God. Ek wil u Naam verheerlik en groot maak, ooral waar ek gaan. Almagtige God, U is die God, van al die Gode en HERE, van al die here. U alleen is Heilig en U is Koning, vir ewig. U bly altyd getrou en sal my nooit verlaat of alleen los nie. U genade wys U in u goedheid en barmhartigheid, elke dag aan my. U wysheid en geregtigheid lei my elke dag. U plaas my op 'n ewige Rots en u krag laat my voete nooit wankel nie. Amen.

Monday, 26 August 2024

Bybelleesprogram: Lees vir 'n 100 dae - week 9 dag 1


Wees deel van hierdie Bybellees-UITDAGING:
- Miskien is dit nie toevallig dat hierdie uitdaging juis op hierdie tydstip van jou lewe kom nie.
- ⁠Ervaar die verryking van gereelde Bybellees.
- ⁠Hoor opnuut weer die Gees van die Here met jou persoonlik praat deur sy Woord.
- ⁠100 Bybelgedeeltes wat jou ‘n goeie oorsig oor Bybel as geheel bied.
- ⁠Lees 5 dae per week.
- ⁠20 weke, dus 100 dae van lees.
- ⁠Indien jy nog nie begin lees het nie, begin nóú deelneem aan die uitdaging. Aan die einde kan jy gedeeltes in haal wat jy gemis het.
- 100 ESSENSIËLE SKRIFGEDEELTES!  

Sunday, 18 August 2024

Oomblik van stilte: Ps. 16:5

Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot.


Daar is duidelik net een erfenis en dit is die een van God af. Hy vul jou beker waaruit jy sy goedheid sal drink. Hy het die beker van dood en bitterheid gedrink namens jou. Jou toekoms en alles wat met jou gebeur is in sy hande.

Dankie my Vader, U is met heerlikheid, eer en glorie gevul en U deel is my erfdeel, my lot. U gee aan my lewenskrag en barmhartigheid om te drink in my beker. My beker loop oor van u goedheid en guns. U vul my beker na die rykdom van u heerlikheid. (Vers 7) Ek sal die Here loof wat aan my raad gegee het, selfs in die nag vermaan my niere my. (Vers 9) My hart is bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon. U sal ek voor my stel en u Naam altyd verheerlik. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Thursday, 1 August 2024

Vrouemaand

 Augustusmaand is Vrouemaand - daarom deel ek graag hierdie pragtige verwerking van Ps. 23 vir ons  vroue 

''Die Here is my Herder, ek sal géén hartseer vrees nie. 
Hy droog my trane af, ja, ek is ewig Sy dogter-kind!
Wanneer ek, as vrou, die gevoel van 'alleen wees' ervaar, hou SY hande myne stewig vas.
Hy vertroetel en Hy vertroos my; met 'n oneindige Liefde wat net Hy vir my kan skenk.
Wanneer familie en vriende té ver is vir net gou-'n-drukkie-gee, sal Hy gereed staan, want wie is daar wat beter van my vrouwees weet?
En al gaan my lewe, of verhoudings, deur donker dae, sal Hy my altyd teen Sy boesem hou en daaraan herinner: 
ek is EKSTRA spesiaal, want ek, EK is 'n vrou!'' 

Mag Ps. 23 vir jou vandag opnuut laat besef, God het ONS SO BAIE BAIE LIEF!

[Dankie, Rosetta, dat jy hierdie Psalm met ons deel.]

Wednesday, 24 July 2024

Die tydglas loop uit ...

Goeiedag Almal

Ek bring geensins nuwe nuus as ek sou beweer dat elkeen van ons op hierdie liewe aarde aan die worstel was-is-sal wees ...

Ons geboorte het gepaardgegaan met 'n worsteling! Vra jou Ma!

En dan was ons grootword en oudword ook ook gevul met Lief en leed!

Hier in die Hexvallei het ek oor meer as 10 jaar geleer dat Tafeldruiwe-boerdery nie vir sissies is nie! Swaarkry, swaar werk, swaartrek, skades en seëninge almal in 'n ry soos 'n lekker Karoo-lam-sosatie!

Lees gerus Ps. 73 en 37 saam met Liedboek 200:1,2,3 asook Rom. 2:4 net om 'n paar te noem.

Seënwense
Brahm

Ek is van oortuiging dat die Here met my en met ons in hierdie tyd praat oor die tyd wat God aan ons gee om te 'Ora et Labora' (Bid en Werk) want die 'tydglas' loop uit!

Sunday, 7 July 2024

Oomblik van stilte: Rom. 8:2-5

Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Want God het - wat vir die vlees onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees - deur sy eie Seun in gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg vervul kan word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Die vlees en die Gees is vyande van mekaar, die een bedink dood en die ander bedink lewe en vrede. (vers 6). God gee jou dieselfde Gees van lewe wat Jesus Christus uit die dood opgewek het (vers 11). Almal wat deur die Gees gelei word, die is kinders van God. (vers 14). Die Gees getuig ook saam met ons Gees, dat ons kinders van God is, en erfgename en mede-erfgename saam van Christus, as ons saam met Hom gelei het. (vers 16&17)

Here, ons sug saam met die hele skepping in afwagting van die aanneming tot die kinders, naamlik die verlossing van die liggaam (vers 23). Maar net so kom die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat om te bid nie, maar die Gees tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge (vers 26). Wie sal my skei van die liefde van Christus - verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard (vers 35). Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het (vers 37). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 30 June 2024

Oomblik van stilte: Psalm 40:29

Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.

God sien die moeite en ure wat jy insit elke dag, maar alles wat jy so sorgvuldig beplan, werk nie altyd uit nie en werk negatief op jou in. Weet verseker jy is nie die enigste een met wie dit gebeur nie. Dink daaraan dat al daardie probleme tot die eer van God uitwerk.

Die dissipels moes twee keer in storms vaar in die pikdonkerte van die nag. Dan het Jesus met die storms gepraat en die storms het gehoor gegee en het stil geword. Die dissipels het verwonderd aan Jesus eer gegee. Siekes en krankes het Hy genees al was hulle vir baie jare in die toestande, net sodat God verheerlik kon word. Dit is 'n uitgemaakte saak dat God jou wil versterk as jy vermoeid is, sodat die Vader verheerlik kan word.

Noudat jy dink dat jou reg, by God, verbygegaan het, toe jy gedink het jou weg is vir die Here verborge (sien vers 27), vra Hy jou: Weet jy dit nie en het jy nie gehoor ... Hy word nie moeg of mat nie. (vers 28).

O Here my God, U is 'n ewige God, die Skepper van die eindes van die aarde. Ek weet dit en ek het dit gehoor. As ek nie meer kragte oor het nie, vermenigvuldig U my sterkte. Ek sal nie moeg, of mat word as ek hardloop nie. Ek wag op U en vaar op met vleuels soos die arende oor my probleme. U, is my redding en krag en sterkte. My weg is nie vir U verborge nie en my reg gaan by U nie verby nie. Alles gebeur tot U heerlikheid en eer. Amen

(Lees gerus Jes. 40:27-31)

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]